Charl en Deidré se intieme troue in Graaff-Reinet was ʼn pragtige bruilofsfees, vol liefde en gedeel met hul geliefdes. Die paartjie het hul geloftes afgelê by ʼn gewilde trou bestemming in dié Karoo dorp, omring deur die warmte van familie en vriende, asook die betowerende argitektuur en natuurskoon van die hotel.
Deidré het soos ʼn droom gelyk in haar vloeiende trourok wat perfek by haar pas. Die rok se oop skouers en rug het ons betower. Die bolyf was versier met fyn detail, terwyl die rok self eenvoudig en verfynd was. Delikate detail het ook die onderkant van die rok versier en volmaak afgerond. Charl het ʼn ontspanne, stylvolle voorkoms gehad in ʼn donker, formele broek en ʼn wit knopies hemp met nonchalant opgerolde moue.
Die fotosessie in die hotel se groen tuine, omring deur pragtige argitektoniese elemente, het ons na ʼn sprokieswêreld vervoer. Graaff-Reinet, ʼn juweel van die Karoo, het hul troudag met sy skoonheid en die vriendelikheid van sy inwoners nog meer spesiaal gemaak.
Die onthaal se dekor was besonders. Donker hout tafels en gemaklike eetkamerstoele het die elegante, ou vertrek gevul. Helder, fyn blomme in klein glas potjies het kleur en lewenskrag aan die tafels gebring, wat pragtig teen die donker meubels uitgestaan het. Die vertrek se ouwêreldse, klassieke sjarme het die paartjie se minimalistiese dekor laat skitter.
Met die hulp van uitstekende troudiensverskaffers was alles moontlik. As jy jou eie droomtroue beplan en op soek is na die beste diensverskaffers, besoek gerus Mooi Troues se Trougids.
Rol af om meer te lees oor Charl en Deidré se intieme troue in Graaff-Reinet.
Paartjie se Liefdesreis:
Ons het ontmoet by die pragtige Keurboom Strand vakansie oord. Ons het in dieselfde area in die Karoo gewoon, hy op sy familie plaas Rocklyn, 70km vanaf Middelburg Oos-Kaap en ek in Middelburg self waar ek ʼn besigheid gehad het. Charl het vir my al genoem dat hy my al van tevore gesien het, maar ek nie vir hom nie.
Toe ons albei eers weet van mekaar toe was dit liefde met die eerste oogopslag. Kort na die ontmoeting was dit Covid en die inperkings het begin. Ek het plaas toe gegaan omdat my besigheid moes toe maak en wou net op die plaas bly net totdat Covid verby is. ʼn Maand het 3 jaar geword. Ons het toe ons pragtige seuntjie gekry in 2022.
In Junie 2023 het ek besluit ek gaan nie langer wag vir trou nie. Ons besluit toe die oggend vroeg om te gaan teiken skiet in die lande. Ek skryf toe op die teiken papier “Sal jy met my trou?”. Hy moes toe JA of NEE raakskiet, ek stel toe voor dat hy na ons seuntjie kyk terwyl ek die papier gaan opsit wat ons moet raakskiet. Ek skiet eerste en sê toe niks, hy skiet na my en met skok kyk hy na my en vra of ek ernstig is? Ek sê toe net “Ja, jy moet nou mooi mik!”. Hy skiet toe “JA”. Dit was só ʼn lekker verrassing vir hom en ek kon regtig sien hy was gelukkig.
Trourok:
My trourok is definitief nie iets wat ek gedink het ek gaan kies nie. Ek het ingestap en gesê ek wil asseblief geen rok aanpas sonder moue of bandjies nie. Ek het toe omtrent vyf rokke aangepas en toe die sesde rok was een sonder moue of bandjies en dit was ʼn WOW oomblik gewees!
Dié rok is van Bridal Emporium in Bloemfontein, dit is ʼn Stella York rok wat ons bietjie verander het, ons het van die skouer af gaas moue aangesit wat ek kan afhaal en opsit soos ek wil. Dit was perfek vir fotos, want dit het gelyk soos twee verskillende rokke. My sluier was my ma sʼn toe sy getrou het wat die rok mooi saam gebring het. My broer kon ongelukkig nie by die troue wees nie, omdat hy in Amerika woon. Toe ek die rok wou betaal, toe het my broer klaar die rok betaal. Dit was baie spesiaal gewees.
Verloof- en Trouringe:
Ons het voor ons verlowing na ringe gekyk en besluit hoe dit moet lyk. Ons het toe besluit dat Brenna Lou Jewellery my ringe gaan maak. Die verloofring is ons seuntjie se voorletter in morsekode met ʼn groot steen in middel van die morsekode, C: -.O-. Die ring is goud met 2x baguette diamante en twee ronde diamante en een groot ronde diamant in die middel. Ons het ook besluit op ʼn troupand. Hy is ook goud met detail gravering reg om die pand.
Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:
Ons fotograwe Gerber en Viljoen!!!! Ons blomme verskaffer Sophia van Sophia’s Roses en Lucanda wat ons koördineerder was.
Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:
Hou dit simpel en eenvoudig. Doen wat vir julle werk en lekker is, as julle almal anders gaan probeer gelukkig hou gaan julle op die einde van die dag nie gelukkig wees nie. MIN AS MOONTLIK MENSE uit te nooi!!
Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:
Toe ek en my pa afstap in die “Lover’s Lane”. Om my man te sien en hom die wêreld te belowe en te wees. Ons het ook besluit na ons ete om ons geloftes in privaat te lees vir mekaar in die Cigar Room, dit was vreeslik spesiaal, intiem en ons gunsteling herinnering.
Trou Venue:
Met my man se 39ste verjaarsdag het ek hom na Drostdy Hotel in Graaff-Reinet gevat vir die aand. Ons het deur die hotel se pragtige gronde gestap en vir mekaar gese, “As ons OOIT trou gaan ons hier trou!!”. Vier jaar later toe trou ons net daar waar ons gesê het.
Trou Dekor en Styl:
Ons troue was minimalisties. Ons wou graag ons blomme as fokus punt gebruik. Kleurvolle blomme wat in seisoen was. Ander kleure was wit, beige, bietjie goud en silwer. Maar verseker was ons blomme ʼn hoogtepunt. Ek het uit my eie tuin ook blomme verskaf vir ons troue wat dit nóg meer intiem en spesiaal gemaak het.
Trou Begroting en Beplanning:
Deidré en Charl het, met die ondersteuning van ʼn koördineerder, hul troue binne slegs vyf maande beplan. Die geleentheid was baie intiem, met slegs 25 gaste, en die koste per gas was ongeveer R2,000.
- Fotograaf: Gerber & Viljoen Wedding Photography | Kontak
- Venue: Drostdy Hotel | Kontak
- Blomme + Dekor: Sophia’s Roses | Kontak
- Grimering: Reve Beauty & Healthcare Salon| Kontak
- Hare: Salon Continental
- Huwelik kontrak: NolteSmit Attorneys| Kontak
- Juweliersware: Brenna Lou Jewellery| Kontak
- Koördineerder: Drostdy Hotel | Kontak
- Paartjie se verblyf: Drostdy Hotel | Kontak
- Skoene: Woolworths
- Spyseniering: Drostdy Hotel | Kontak
- Strooimeisie-rokke: Ackermans
- Trourok: Bridal Emporium Bloemfontein| Kontak
- Bruid se Trouring: Brenna Lou Jewellery| Kontak
- Bruidegom se Trouring: Cape Union