Ons deel graag Stefan en Annelou se betowerende verlowing fotosessie in die Vallei van Verlatenheid, Graaff-Reinet. Die vallei bied skouspelagtige uitsigte oor die Karoo vlaktes.
Hierdie paartjie het reeds in 2020 ʼn fotosessie hier gehad. Nou, terug van Londen, het hulle weer hierdie spesiale plek gekies. Dit is ʼn wonderlike storie om die volgende stap in hul verhouding te vier.
Annelou het pragtig gelyk in haar stylvolle swart rokkie. Stefan se swart hemp het perfek ingeskakel. Die kontraste tussen hul klere en die natuurlike agtergrond was betowerend.
ʼn Verlowing fotosessie vang die romanse van hierdie tydperk vas. Dit skep ewige herinneringe. Hierdie foto’s is ideaal vir hul trou uitnodigings of -webtuiste. Dit bied ook ʼn kans om gemaklik voor die kamera te raak.
As julle ʼn troue beplan, besoek Mooi Troues se trougids vir fantastiese diensverskaffers.
Rol af om meer te lees oor Stefan en Annelou se romantiese liefdesreis. Verkyk jou aan hul pragtige verlowing fotosessie.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons albei was eerste jaar studente by Stellenbosch Universiteit en het deur gemeenskaplike vriende ontmoet. Tussen ons vriend was ons die enigste Afrikaans sprekendes, en het net lekker met mekaar begin gesels maar niks regtig daarvan gedink nie. Ons het mekaar toe toevallig na ʼn paar dae weer in Stellenbosch raak geloop maar was net ʼn vinnige groet, weereens niks daarvan gedink nie. Ek het toe nie eers Stefan se naam en wie hy is onthou in daardie oomblik nie. Dit was eers op die derde keer wat ons mekaar buite die Ekonomiese fakulteit weer raakgeloop het, waar Stefan toe vir my nommer gevra het en ons toe begin gesels het. In ons geval was dit regtig ‘third time lucky’. Ons het toe vir 4.5 jaar uitgegaan voordat ons verloof geraak het.
Die groot vraag:
Ons het verloof geraak op 24 Junie 2023 in ʼn klein park (Leonardslee Gardens) net buite Londen. Stefan het altyd geweet ek wil ʼn intieme verlowing hê met geen mense rondom ons nie. Aangesien ons aan die begin van 2023 Londen toe getrek het, het ons gereeld op naweke die trein gevat om nuwe plekke te ontdek. So dit was nie vreemd toe Stefan sê ek moet aantrek ons gaan iewers heen die Saterdag oggend nie. Stefan is oor die algemeen nie iemand wat sommer net spontaan foto’s neem nie. So toe hy sy foon neersit om ʼn foto saam te neem, toe begin ek dink daar is miskien iets aan die gang. Toe ek weer sien, toe sak hy op een knie neer. Hy vergeet alles wat hy wou sê en vra net die groot vraag.
Hoekom ons mekaar liefhet:
My gunsteling eienskappe van Stefan is dat hy altyd so geduldig kan bly in enige situasie, dat hy altyd die mooi in alles en almal raak sien. Hy het die mooiste persoonlikheid vir my en het altyd ʼn manier om my te laat lag. Hy is hardwerkend, betroubaar en altyd daar vir my, in slegte en goeie tye. Stefan is werklik my heel beste vriend saam wie elke dag ʼn wonderlike avontuur is.
Een van my gunsteling eienskappe van Annelou is dat sy altyd omgee vir my en ander. Dis vir my ook só mooi dat familie vir haar so ʼn belangrike aspek is. Ek kan nie wag tot ons ook ʼn familie is nie. Haar kreatiwiteit is iets waarvan ek baie hou en dit is vir my so lekker as sy sit en verf/teken. My heel gunsteling eienskap van Annelou is die feit dat sy my altyd gemaklik kan laat voel. As ek rondom haar is voel dit vir my asof ek tuis is en asof ek die werêld kan aanpak omdat ek weet dat ek haar aan my kant het.
Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons trou die 4de Mei, so ons rondom 11 maande verloof gewees.
Die verloofring:
My verloofring is ʼn 3-steen diamant ring, ons het voor ons verloof geraak het daaroor gepraat, so Stefan het ʼn idee gehad waarvan ek gehou het, maar hy het die ontwerp en maak van die ring alles ʼn geheim gehou voor die tyd. My verloofring is verskriklik spesiaal vir my aangesien die middelste diamant van my ouma se verloofring was. Die kere wat ons gesels het het ons altyd gesê dat ek ʼn 3-steen ring wil hê. Dit verteenwoordig dat dit ons 2 en God in ons verhouding is en dat God altyd die middelpunt van ons huwelik sal wees.
Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons heel eerste fotosessie wat ons saam gehad het in 2020 was by Chevonne van Prinsloo Photography by die Vallei van Verlatenheid. Aangesien ons in Londen bly en Desember by die huis was, het ons besluit om ons verlowings fotosessie weer by Chevonne te bespreek en dit weer te doen by die Vallei van Verlatenheid aangesien ons gesien het met ons vorige fotosessie daar hoe mooi die Vallei is en dat Chevonne se fotos werklik bitter mooi is.
Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Omdat ons al voorheen by die Vallei fotos geneem het saam Chevonne het ons min or meer geweet hoe dit daarso lyk. Ons eerste fotosessie saam haar het ons besluit om ligte kleure te dra. Daarom het ons die keer besluit om liewer donker te gaan sodat ons totaal die teenoorgestelde kleure kon kry vir die fotos. Dit het so mooi simboliek vir ons gehad dat ons ons eerste sessie aan die begin van ons verhouding daarso kon neem en nou net voor ons die volgende tree in ons verhouding vat herdenk ons nóg ʼn mylpaal.
Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Die enigste vrees wat ek sou sê ons gehad het in hierdie tyd is dat ons alles betyds sal kan regkry. Dat dit alles sal uitwerk soos ons dit wou hê. Dit was veral moeilik vir ons gewees omdat ons in Engeland bly. Ons moes meeste van die reëlings oor die foon doen. Ons kon nie baie van die goed in persoon sien om besluite te neem nie. Maar anders as dit, het ons nie regtig enige vrese gehad nie. Ons het hierdie spesiale tydperk geniet en is baie rustig dat alles perfek sal uitdraai op ons troudag.
Visie vir droomtroue:
Ons het lank gepraat oor wat ons vir die troue wil doen. Albei van ons het saam gestem dat ons iets klein en intiem wil doen. Ons droom was om die seremonie in Graaff-Reinet se bekende kerk te hou. Die ontvangs in die Drostdy Hotel met natuurlike kleure vir die tafels. Nie een van ons wil buitensporige blomme hê nie, veral nie omdat die hotel self so mooi is nie. Vir ons is dit net belangrik om ons spesiale dag saam te vier met ons naaste familie en vriende.
- Fotograaf: Prinsloo Photography | Kontak
- Fotosessie Ligging: Vallei van Verlatenheid | Kontak
- Verloofring: Harmony Jewels| Kontak