Niel en Jeanne-Lee se kleurvolle troue in die Vrystaat was ʼn droom wat waar geword het vir enige kleur liefhebber. Die paartjie se sprankelende persoonlikhede straal uit elke foto van hul groot dag.
Jeanne-Lee se trourok was iets besonders, met ʼn baie mooi storie daar agter. Versier met fyn pienk blomme, het dit perfek ingepas by die kleurvolle tema van die dag. Niel het weer bekoor in ʼn wynrooi onderbaadjie en pak baadjie, wat pragtig by die kleurvolle troudag gepas het.
Onder die skaduryke bome op ʼn mooi versorgde grasperk het hulle ʼn rustige buitelug seremonie gehou. ʼn Pragtige blom bedekte boog het die seremonie area met ʼn ekstra tikseltjie kleur versier en die paartjie se liefde in die kollig geplaas.
Ons is absoluut versot op kleurvolle blomme, en die kombinasie van kleure het ʼn ware kleur ontploffing en ʼn feestelike gevoel geskep. Die paartjie het op die mooiste plek getrou, omring deur groenigheid en asemrowende natuurskoon.
Die onthaal was gehou in ʼn groot markiestent met lang houttafels, oorlaai met kleurvolle blom ontwerpe, pragtige kandelare en goue aksente wat die feestelike atmosfeer verhoog het. Selfs hul troukoek was ʼn kleurryke meesterstuk, versier met skakerings van oranje, pienk, pers en rooi blomme, wat die vreugde van die dag perfek gevang het.
Die pragtige landskappe het gesorg vir ʼn fotosessie wat soos ʼn sprokies verhaal gelyk het, met verskillende agtergronde wat die skoonheid van die bestemming beklemtoon het.
Dit was ʼn dag vol liefde, kleur en feesviering saam met familie en vriende, wat Niel en Jeanne-Lee se liefdesverhaal magies gemaak het. Rol af om meer te lees oor Niel en Jeanne-Lee se kleurvolle troue en hul spesiale liefdesreis as paartjie.
Paartjie se Liefdesreis:
Ek (Jeanne-Lee) was ʼn eerste jaar BCom student en Niel ʼn finale jaar BEng student. Beide aan die universiteit van Pretoria. Ek besef nou dat my ouers dalk eers gekant kon wees teen ons verhouding, maar vir ons het ons ouderdomsverskil nie saak gemaak nie. Ons het later besef dat die fase verskille meer van ʼn uitdaging sou wees as wat ons verwag het. Ek is die pad heel byster.
NG Universiteitsoord het jaarliks ʼn winter fietstoer uitreik wat ry van Pretoria na Gaborone in Botswana. Niel was in 2015 saam op hierdie uitreik, maar ek nie. Op hierdie oomblik het ek en hy nog nie eers van mekaar geweet nie. Soos Niel die storie sal vertel was dat hy ʼn ruk voor hierdie uitreik gevoel het dat hy nie weer in ʼn verhouding wil wees as dit nie met sy eendag vrou is nie. Tussen die 20 mense in hulle groep, was daar ʼn meisie wat vir Niel erg uitgestaan het. Iets aan haar was anders… diep… dit was wel nie ek nie, hahaha.
Een aand deel hy en ʼn ander man op die uitreik weerloos hulle harte met mekaar en Niel maak die opmerking dat hy dink die meisie dalk sy eendag vrou is, want hy het nog nooit iemand soos sy gesien nie. Op hierdie stelling vertel die ander man vir hom dat daar definitief nog sulke meisies op die aarde is en dat hulle in sy vriendekring is. Net daar maak hulle ʼn afspraak vir wanneer die uitreik verby is dat hy Niel aan hierdie meisies sal voorstel, net om sy punt te bewys. In tussen het Niel uitgevind dat die meisie wat saam op die uitreik was, op trou staan…
Ons ontmoeting:
Terug in Pretoria, reël die manne ʼn braai en net een meisie word formeel uitgenooi. Hierdie was steeds nie ek nie. Dit was my baie goeie vriendin. Sy nader my toe om saam met haar na die braai toe te kom, want daar gaan net mans wees, en sy. En dis hier, by ʼn lukrake braai, waar ek en Niel mekaar ontmoet het. Die idee was nie om hom aan my voor te stel nie, ek sou aanvanklik nie eers daar gewees het nie. In Niel se woorde het hy daai aand geweet ek is sy vir altyd meisie. Ek het nie sulke definitiewe gevoelens gehad nie, alhoewel hy beslis my aandag gevang het.
Die stereotipies ingenieur is hy nou nie. Hy het nie my nommer gevra nie, maar ons het mekaar in ʼn baie kort tyd daarna by vyf kuiers raakgeloop wat glad nie beplan was nie. Steeds het ons nie nommers uitgeruil nie, tot een aand wat ek ʼn bonfire worship aand in my ma se tuin gereël het en hom saam wou nooi. Toe moes ek maar een van ons gemene vriende vir sy nommer vra. En tot vandag toe vertel hy graag die storie dat ek hom eerste gebel het…
Verloof- en Trouringe:
Niel het altyd gevoel dat dit onregverdig is dat net die vrou ʼn verloofring mag dra, so het ek besluit om vir hom ʼn verloofring te laat maak. Dit het op die einde ook sy trouring geword. Ons beursies het bietjie leeg geraak soos ons groot dag nader gekom het… Sy ring is gemaak uit geel goud. Op dit is, uiters fyn, in swart, ʼn boom gegraveer met twee piep klein voëltjies in. Daar is ook ʼn ronde diamant, off center in sy ring. Die boom verteenwoordig groei en die voëltjies, ek en hy. Die diamant is die maan. ʼn Baie tasbare simbool van ons, vir ons.
Niel se weergawe:
Ek het Niel gevra om self hierdie deel te skryf… Ek is ʼn uiters besluitelose mens en kan myself vir ure eintlik maande besig hou met die kleinste en eintlik onnodige details. Met hierdie in gedagte en die feit dat ek in amper 7 jaar nog nooit vir Jeanne-Lee gevra het van watse tipe ringe sy hou nie en beslis ook nie beplan het om dit nou te doen nie, het ek besluit om eerder vir haar ʼn ring te koop as om een te laat ontwerp.
Tydens ʼn vreeslik uitmergelende soektog het ek 3 ringe gesien wat my aan haar laat dink het. Weens my besluitnemings probleem moes my suster, want ek het nie geld gehad nie, vir my twee van hierdie 3 ringe koop sodat ek dit in die winkel waar die 3de moontlikheid gewag het, kon vergelyk. Na ʼn uur of wat se staar na die 3 opsies het ek besluit dat die ring wat ek bitter graag vir haar wil gee, nie iets is wat sy vry aan haar vinger sal dra nie. Hierdie besef het toe die keuse eenvoudig gemaak, en ek het besluit op die kleiner diamant ring in roos goud wat my aan ʼn pienk blom laat dink. ʼn Baie goeie voorstelling van my Jeanne-Lee in my hart.
Trourok:
Die trourok:
Anders, tog nie sonder tradisie. Something old, foto’s van my (Jeanne-Lee) oorlede oumas en oupas was deel van my handruiker. Something new, my klein dogtertjie droom rok, maar definitief groter. Wit, afgerond met honderde pienk blomme aangewerk met die hand. Something borrowed, kant blommetjies geknip uit die soom van my ma se trourok. Something blue, my sussie in haar blou strooimeisie rok.
Ek het geweet ek wil soos ʼn prinses voel as ek na my amper man toe stap vir die heel eerste keer, maar ek het ook geweet ek wou kan dans tot die sonsopkoms sonder om met my rok te sukkel, so toe Engel (my rok ontwerper) twee rokke ineen voorstel, het ek geweet sy is my eie fairygodmother.
Die troupak
ʼn Wêreldklas ontwerper, wat kon lewend maak dit wat ek (Niel) wou voel. Sonder enige idee of verwysing was die beskrywing van my emosie sy enigste patroon. Sy taak, om die konserwatiewe plattelandse seuntjie en die somtyds kunssinnige man, te laat tuis voel in ʼn tydlose pak afgerond tot die fynste detail. Die materiaal se tekstuur en kleur, die voering se motief, die spasiëring en detail van die knope, die versteekte blomme materiaal. Selfs die belt se lissies wat lukraak, tog spesifiek geplaas moes word. Die wêreld sê, mooi dinge kom nie maklik nie en met die eindeloos en somtyds uitputtende keuses wat gemaak moes word, weet ek nou dat dit wel die waarheid is.
Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:
Toe ons tussen twee lyne, gemaak uit al ons hartsmense, op die grondpad deur dans as Mnr en Mev Cloete. Ook toe ons na ons fotosessie in die tent in stap op Hold my hand en daar skiet konfetti-kanonne en almal juig saam in ons vreugde. Alles van hierdie dag was ʼn sprokie wat ek hoop vir altyd kleurvol en tasbaar in ons harte sal leef.
Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:
Droom fotograwe, is nie ʼn generiese beskrywing nie, nee, dit was verdien. Nie net het Lizeen Leo (Lilac Photography) hulle 1700km afgelê en vier aande oorgeslaap nie, maar ook het hulle voorgestel dat ons die Sondag oggend ʼn sonsopkoms fotosessie doen op hierdie spesiale plek van ons. Dit was ook die rede dat ons letterlik nie ʼn minuut geslaap het nie, want ons moes nog stort en die son wen op pad soontoe. Ons harte was vol, lig en vol lag. Dit saam met die ongelooflike natuur het vir absoluut heel foto’s gesorg wat amper vir ons meer spesiaal is as die foto’s op die dag.
Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:
Praat met mekaar. Glo mekaar. Deel weerloos wat elke een van julle wil hê sonder om die ander een te probeer tevrede stel. Besluit dan saam op die beste, wat dit ook al mag wees. ʼn Troue is nie net vir julle as paartjie nie, maar ook vir julle ouers. Dis baie groot en soms moeilik vir hulle wanneer kinders in hierdie fase van hulle lewens in gaan. So wees sag met hulle en luister na hulle raad. Dit beteken wel nie dat julle alles moet doen wat hulle sê nie. In teen deel, hulle het reeds hulle troues gehad en julle nog nie, maar wees sag met hulle. ʼn Troudag gaan nie net oor lekker kuier en die belofte aan mekaar nie, maar is ʼn daadwerklike lyn van begin en einde van wonderlike fases.
Trou Venue:
ʼn Droom wat al van klein tyd in Niel se hart lê is dat hy graag in sy ma se tuin wou trou. Ek was nie teen die idee nie, want daar is ʼn pragtige trou venue ʼn klipgooi van hulle plaas af. Ons het wel met die finalisering van die gastelys besef dat hierdie venue, waarop 90% van ons besluite baseer was, heeltemal te klein gaan wees. Ons besluit toe sommer om alles in sy ma se tuin te hou. Dit, weet ons nou baie beter as toe, sou vreeslike harde werk wees.
Trou Dekor en Styl:
Ek het aanvanklik ʼn troue met donker diep kleure in gedagte gehad. Niel was redelik neutraal hieroor en het net gevra dat daar maroon sal wees. Albei van ons se harte was wel om heeltemal te veel blomme te hê. Hierdie wens was op die einde die katalis van ʼn bont troue. Met bont blomme kon ons alles koop wat in Februarie in seisoen is en so baie meer blomme vir dieselfde geld koop.
Ek dink as ek ʼn kleurskema aan ons troue moet koppel sal dit vrolik wees. Die enigste vaste kleur was die tafellopers wat ʼn vuilerige donker pienk was. Ons is baie lief vir fyn borde en glase en dit was ook ons wens. Goue eetgerei het al die bont baie mooi afgerond. Lang blomme ruikers en hemel hoë glas kandelare was die kersie op die koek.
Eerste Dans:
Won’t look back (Josh Groban). Vir hierdie geleentheid spesiaal opgeneem deur my man homself.
Trou Begroting en Beplanning:
Die paartjie het omtrent ʼn jaar aan hul troue beplan. Hulle het 196 trou gaste gehad met ʼn begroting van min of meer R 1,326 per persoon.
- Fotograaf: Lilac Photography (Lize & Leo) | Kontak
- Venue: Die plaas tuin op Lebanon in Vrede
- Blomme: Self gedoen
- Bruidegom-pak: Bondesio Couture (Peter Bondesio) | Kontak
- Dekor: Hernel Wedding and Party Hire| Kontak
- Grimering: Bianca Pelser
- Hare: Marchelle Scheun
- Huwelik kontrak: Couzyn Hertzog en Horak
- Huurdienste: Hernel Wedding and Party Hire| Kontak
- Huweliksbevestiger: Ds. Jana de Lange
- Juweliersware: Seiko
- Musiek: Christopher Branders
- Platejoggie: For real Sounds (Preenash Pillay)| Kontak
- Paartjie se verblyf: Mambakloof Country Estate
- Skoene: Steve Madden + Fynbos Wedding Shop| Kontak
- Tente: DBS Funeral, Marquee & Catering Services
- Trourok: Lily Fields Dressmaking (Engela)| Kontak
- Videograaf: Kreative Pictures and Co
- Wittebrood Plek: Pearle Beach Resort & Spa, Mauritius