Mark en Abigail se winter warm verlowing fotosessie straal romanse uit in elke foto. Hierdie lieflike paartjie se verlowing is verewig in ʼn sagte winterson wat ʼn magiese atmosfeer geskep het, iets wat eenvoudig nie misgeloop kan word nie.
Hulle het die perfekte agtergrond gekies – ʼn natuurreservaat in Johannesburg-Suid. Die pragtige berge en die son se goue strale wat deur die lang gras skyn, het ʼn onbeskryflike skoonheid tot die foto’s toegevoeg. Dis inderdaad asemrowend! Die keuse van die regte plek vir ʼn verlowing fotosessie is só belangrik, en Abigail en Mark het dit perfek reggekry.
Abigail en Mark het snoesig en stylvol gelyk in hul warm woltruie en swart broeke, ideaal vir ʼn winter fotosessie. Die sagte oranje lig het ʼn warm gloed oor die foto’s versprei, wat elke oomblik spesiaal gemaak het. Met ʼn bottel vonkelwyn wat geklink het om die verlowing te vier, was die fotosessie vol vreugde en liefde.
ʼn Verlowing fotosessie is veel meer as net ʼn reeks foto’s. Dis ʼn gulde geleentheid om voor die kamera gemaklik te raak en om jul trou fotograaf beter te leer ken. Elke fotograaf het sy/haar eie styl en tegnieke, en deur ʼn verlowing fotosessie te hou, kan julle hul benadering beter verstaan. Dit sal julle help om op jul troudag ontspanne en selfversekerd te voel.
Is julle besig om jul troue te beplan? Besoek Mooi Troues se Trougids vir talentvolle trou diensverskaffers regoor Suid-Afrika. Rol af en geniet Abigail en Mark se betowerende winterse verlowing fotosessie vir hope inspirasie vir jul eie spesiale dag.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Laat ek julle ʼn storie vertel. Een vir om ʼn kampvuur sit, met malvalekkers braai en die hemelruim wat bo jou geverf is.
Hoërskool liefdes is hoe ons storie begin. Verlief en verlore deur die lewe gewandel, maar net so perfek soos dit was, het ons tyd saam tot ʼn einde gekom.
ʼn Hele paar jaar later, op ons verjaarsdag, het ek vir Mark ʼn boodskap gestuur om hom geluk te wens … En vanaf daardie dag het ons liefdes vlammetjie weer begin brand.
Ses maande mettertyd, meer verlief en verlore as tevore, het Mark my gevra om my droom trouring aan hom te wys. Dis hier waar ek geweet het my hele lewe gaan verander.
365 Dae later, sak Mark af op een knie, met die mooiste ring in sy hand en vra my om sy vrou te word.
Die groot vraag:
Op 4 Junie 2023, met die idee op ons 1 jaar herdenking, het Mark ʼn fotosessie in Parys by Hidden Grace gereël. Hy het alles met my bespreek, maar wat hy nie gesê het nie, was die eintlike bedoeling van die dag. Met hulp van sy ouers, het hy beide van ons lewens verander met net een vraag. Pragtige piekniek in die winterson, welige groen tuine wat ons omvou, het die perfekte atmosfeer geskep vir só spesiale dag.
Ons fotosessie het begin en die opgewondenheid was groot. Mark vra my om in die piekniekmandjie ʼn lappie te verwyder. Soos ek dit lig, verskyn daar ʼn houtbordjie met die vraag op waarvoor ek al jare wag: “Sal jy met my trou?”
Ek draai my rug, en daar, met een knie gegrond, die pragtigste ring in sy hand en ʼn traan in sy oog, vra hy my om met hom te trou.
Hoekom ons mekaar liefhet:
My gunsteling eienskap van Mark is hoe hy die gawe het om my hart vinniger en stadiger te laat klop terselfdertyd. Hoe hy dit altyd regkry om ʼn glimlag op my gesig te sit. Hoe hy altyd by my staan, nie agter my nie, nie voor my nie, maar langs my.
My gunsteling eienskap van Abi is hoeveel sy bereid is om op te offer en te gee, nie net fisies nie, maar ook geestelik en emosioneel. Watse sterk vrou sy is vir my en eendag vir ons gesin.
Dis vir ons altwee belangrik om mekaar se emosionele houertjies te vul met liefde, omgee, vreugde, vrede en konstante “lafwees” sessies.
Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons verlowings tydperk strek oor 15 maande en 8 dae. Ons sien ons troudag as die nuwe begin van Lente. ʼn Nuwe seisoen in ons lewens.
Die verloofring:
Dit was ʼn totale verrassing vir die bruid. Die bruidegom en sy ouers het dit alles gereël.
Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons wou graag ʼn geleentheid hê om mooi winter fotos te neem saam met ons trou fotograaf. Ons sal dan ook heel moontlik die fotos gebruik vir trou uitnodigings.
Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Ons wou graag mooi winter warm fotos hê, so Kliprivier Nature Reserve in Johannesburg-Suid was perfek want hulle het pragtige berge, mooi winter son wat deur die gras skyn.
Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Ons verwagtinge was nog altyd om so onbeskryflike lewensreis te hê waar ons mekaar verder leer ken in hierdie nuwe fase van ons lewens.
Ons grootste vrees is dat daar struikelblokke op ons pad kom wat ons perfekte “Troudag prentjie” bederf.
Visie vir droomtroue:
Visualiseer hierdie sprokie:
ʼn Warm lentedag met ʼn koelerige briesie in die lug, idilliese groen woud wat jou om ruim. Tierlantyntjies wat elke padjie belig, die reuk van wit rose wat in die lug hang. ʼn Glaskapel met kers kandelare in die lig, waar ons voor al ons familie en vriende ʼn belofte aan God maak om vir die res van ons lewens mekaar te kies. ʼn Eetsaal met mooi gedekte tafels, vol kerse, feetjieliggies en die puikste blomme. ʼn Groot dansbaan vir ons om heerlik tot in die oggendure in te swaai.
Ja dit is ons droom. En Bell and Blossom Wedding Venue gaan ons droom ʼn realiteit maak. Met soveel mense aan ons sy, is daar oorgenoeg hulp gebied om ons droomdag ʼn realiteit te maak. Van bloemiste tot bakers, van fotograwe tot ons gevolge, almal gaan hulle hande vol hê. Wanneer jy soveel mense het vir wie jy lief is en voor omgee, kan jy nie anders as om ʼn groot troue te hê nie.
Dit is vir ons ʼn groot seëning om so bevoorreg te kan wees om so groot te droom en ons droom binnekort te kan uitleef.
-
- Fotograaf: The Prahl-Andresens Photo & Film | Kontak
- Fotosessie Ligging: Klipriever Nature Reserve
- Hare + Grimering: Belle Beauty| Kontak