Peter & Franziska se Luukse Troue langs ʼn strandmeer

Peter en Franziska se luukse troue langs ʼn strandmeer is besonder mooi. Die egpaar het getrou by ʼn luukse wynlandgoed wat reg langs die strandmeer geleë is met die mooiste berg- en see-uitsigte, ʼn prentjie mooi ligging, perfek vir ʼn huweliksviering.

Sjoe! Franziska se trourok is soos iets uit ʼn modetydskrif. Die detail op die trourok is baie mooi. Om haar voorkoms te komplimenteer het sy ook ʼn pragtige handruiker gehad met skakerings van sagte pienk en pers blomme. Peter se koningsblou pak met ʼn groot strikdas het perfek by die elegante styl van die egpaar se troue gepas.

Die egpaar het ʼn pragtige buitelug-seremonie gehad met die mooiste uitsigte omring deur familie en vriende. Hul trou-altaar was bedek met pragtige sagte kleure blom ontwerpe wat hul buitelug seremonie net daardie ekstra tikkie detail gegee het.

Toe dit by hul onthaal kom, was dit ʼn deftige affêre. ʼn Kombinasie van lang en ronde tafels bedek met wit tafeldoeke en ʼn sagte perskekleurige loper het die tafel se basis geskep. Blom ontwerpe het die middel van die tafel in skakerings van blou, pienk en wit versier. Glas onderborde met ʼn goue rand het die tema bymekaar gebring en daardie ekstra tikkie elegansie gegee.

Dun kerse in goue kandelaars het uitgestaan ​​onder die pragtige blom ontwerpe. Dit het ʼn romantiese, warm en knus gevoel aan die trou venue verskaf. Die troulokaal se groot glasvensters het die prentjie mooi uitsigte omraam en was die mooiste agtergrond vir die egpaar se huweliksviering.

As jy verloof is, besoek Mooi Troue se Trougids vir talentvolle trou diensverskaffers. Blaai om meer te lees oor Peter en Franziska se troue en hul reis van liefde.

Paartjie se Liefdesreis:


Bruidegom – Ons is gelukkig dat my beste vriend my goed ken en geweet het dat ons bedoel is vir mekaar. Hy het my laat weet dat hy my trouvrou ontmoet het, en die dag toe ek haar ontmoet het, het ek net geweet hy is reg. Ek het van die Kaap af in Johannesburg gekuier vir sy verjaarsdag, en Franziska het opgedaag, en van daai oomblik af het ek begin toekomsplanne in my kop maak.

Ons deel ʼn liefde vir reis, en toe ek vir Franziska vra wat bo aan haar lys is om te sien en sy Kroasië gekies het, het ek geweet dat ons in die mooiste plek op aarde verloof kan raak; Dubrovnik. Ek het vir Franziska gesê ons gaan na ʼn deftige restaurant toe en sy het mooi aangetrek, en voor die ete het ons eers op die rotse in Dubrovnic gaan sit en skemerkelkies drink. Ek het toe op een knie afgegaan en haar gevra om te trou met die verloofring wat sy onwetend in die rugsak rondgedra het. Dit was bitter romanties, met net een toeskouer, wat ons moes vertrou vir ons enigste verlowings foto.

Trourok:


Bruid – Ek het by Werner Dey ingestap die dag met net ʼn idee van ʼn mooi rug en ietsie met pêrels. Kalib het my verwelkom en wou met my gesit het om te gehoor het waarvan ek hou. Ek het toe vir Kalib gesê, ek het na hulle toe gekom met ʼn rede en ek wil hê hy moet vir my sê wat by my lyf sal pas en wat hy dink sal mooi lyk. Ek het na die aanpas kamer toe gegaan en Kalib het 5 rokke ingebring.

Hy het gesê die eerste rok wat ek gaan pas, is die een wat hy voorstel en was dit nie stunning nie. Dit het al my wildste drome oorskry. Die rok het soos die mooiste rug gehad en die rok was vol klein pêreltjies, alles wat ek wou gehad het. Die ander 4 rokke was ook stunning maar was net nie so spesiaal soos die eerste een nie.

Kalib het mooi verduidelik wat die verskillende kleure op my vel maak en dit het net my keuse soveel maklik gemaak om te weet, daai rok, is die een. Die rok het soos ʼn handskoen gepas en die vloeiende materiaal het só mooi beweeg wanneer ek geloop het. Ek het só mooi gevoel in my trourok. Die trourok was só spesiaal vir my en Peter dat ons tot die volgende dag weer ons trouklere aangetrek het om ons hondjie te gewys het hoe mooi ons gelyk het.

 

Verloof- en Trouringe:


Bruidegom – Franziska se verloofring was ʼn groot verrassing en ek het ʼn kans gevat om die ring te koop voordat sy enige idees met my kon deel, juis sodat die verlowing haar kon verras. Ek is verwys na Mark Solomon Jewellers in Kaapstad met ʼn idee wat ek gedink het sou werk, maar toe ek die spesifieke verloofring sien het ek dadelik geweet dit is die een wat gaan werk, en ek het nooit enige twyfel gehad nie, nie omdat ek geweet het wat Franziska se voorkeur was nie, maar omdat ek haar hart ken en geweet het hoe baie die ring vir haar sal beteken. Om jou lewensmaat met ʼn verlowing te verras was een van die lekkerste gebeurtenisse van ons pad saam.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Bruidegom – Die kalmte wat ek gekry het toe Franziska langs my voor die kansel staan en my hand vashou, met die wete dat ek die persoon gevind het wat vir ewig langs my gaan staan en my hand altyd gaan vashou, maak nie saak wat vir ons wag nie. Daardie prentjie en gevoel is in my geheue vasgemessel as my gunsteling herinnering van my lewe.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Bruid – Die dag gaan oor jou en jou aanstaande. Dis ʼn groot voorreg om die liefde van jou lewe te ontmoet en ʼn groter voorreg om trou aan mekaar te beloof. Sien dit as jou duurste date waarop jy ooit sal gaan. Kommunikasie is belangrik. Maak seker dat jy en jou maat gereeld praat oor albei se verwagtinge en die begroting van die troue. Beplan spesiale tye saam waar julle net gesels oor die reelings van die troue. Sien hierdie as ʼn geleentheid om saam te werk. Geniet die beplanning saam en onthou om mekaar lief te hê en te ondersteun. Wanneer jy eendag terug dink aan julle trou dag moet dit ʼn lekker gevoel wees. Wees julle self en leef julle unieke style uit.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Bruid – Almal het hulle plekkie gevul om die dag spesiaal te gemaak het.

Pluk Weddings (Lizelle Fourie) het seker gemaak dat alles perfek loop.

Lizelle Lotter en Motion Craft het só goed saam gewerk om spesiale oomblikke vas te gevang het in die fotos en die video. Dit was heerlik om te kom sien hoe almal die troue geniet het en om weer na die toesprake te kon luister. Hoe hulle die liefde tussen ons vasgevang het op fotos en die video is ongelooflik. Dit is ʼn wonderlike herinnering om te sien hoe jou familie en vriende deel in jou blydskap en liefde.

DJ Manny het gesorg dat die dansvloer nooit leeg was nie. Ek en Peter was letterlik die heeltyd op die dansvloer. Die musiek was ʼn fees.

Cadillac Music het die mooiste troumars gespeel en Gerard Vilon het gesorg dat die gaste se voete al begin jeuk het by die pre-drinks.

Trou Venue:


Bruidegom – Franziska het in die Kaap vir my kom kuier van Johannesburg af, en ons het gesê ons wil ʼn venue kry voor sy na die naweek terugvlieg. Ons wou graag ʼn naweek troue hê en het verkies dat familie en vriende op die venue bly, en toe ons Benguela Cove sien was dit die mooiste venue met perfekte akkommodasie vir ʼn lekker naweek troue!

Trou Dekor en Styl:


Die algehele styl was fyn en elegant.

Trou Begroting en Beplanning:


Peter en Franziska het met behulp van ‘n troubeplanner 6 maande aan hul troue beplan. Hulle het 100 gaste onthaal en die hele troue se koste het ongeveer R7 500 per kop uitgewerk.

Eerste Dans:


I love you baby (remix van DJ)

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: