JP & Anrike se Hollywood Glans Troue

JP en Anrike se Hollywood glans troue met ʼn industriële kinkel is ʼn wen kombinasie. Hulle het by ʼn gewilde industriële styl trou venue in Wellington getrou. Ons is heeltemal versot op die paartjie se trou styl. Die glans gemeng met die rustieke aardse voorkoms is besonder mooi en skep ʼn ietwat eksentrieke stylvolle voorkoms.

Anrike se pragtige trourok het ons verstom. Dit was letterlik ʼn vier-in-een trourok. Die bruid sê sy het vier uitrustings vir die troue gehad, en het elke keer net iets bygevoeg of verwyder. Beslis iets wat anders is as die gewone trourok en dit pas hul trou styl soos ʼn handskoen. JP se dapper swart pak het daardie formele gevoel ingebring.

Hul trou dekor het die paartjie se persoonlikhede weerspieël so eenvoudig en klassiek, maar terselfdertyd só elegant en stylvol. Dit het daardie perfekte balans tussen aardse en moderne elemente gekombineer. Industriële elemente soos klippe, bakstene en droë takke kan as deel van die tafeldekor gesien word. Ligte, disco balle en silwer pilare was ingebring vir die futuristies elemente.

Lampe op die tafels tesame met die dun kerse skep ʼn romantiese en warm voorkoms aan die gaste tafels. Die swart stoele saam met die ander swart elemente soos die lampe se skerms bring weer daardie perfekte kontras tot die dekor styl.

DJ Wico was die egpaar se platejoggie en het beslis die voete op die dansvloer gehou met goeie musiek. Dit was ʼn aand van goeie geselskap, lekker musiek en feesviering.

Rol af om meer van JP en Anrike se Hollywood glans troue te sien en om meer te lees oor hul reis van liefde.

 

Paartjie se Liefdesreis:


Ek het JP in my eerste jaar op Stellenbosch ontmoet. Hy was in Helderberg Manskoshuis en ek in Isa Dameskoshuis, geleë reg oorkant mekaar. Ons het albei op die koshuise se huiskomitees (HK) gedien. Een Sondag het ons vlugweg ontmoet by ʼn koshuis skakel waar ons 30 Seconds gespeel het. Ons het ʼn paar weke later mekaar weer raakgeloop waar ek gevra het vir hulle HK-lid van Sport se nommer omdat ek wou reël dat die koshuise eerstejaars-atletiek saam doen. Hy het toe sy eie nommer vir my gegee in plaas van hul HK van Sport. Van daardie dag het ons nog nie ophou gesels nie.

Ons was ses jaar saam toe ons verloof geraak het, waarvan vier jaar langafstand was. Ek was in die Kaap en JP moes na Port Elizabeth verhuis vir werk. In die sesde jaar het ek besluit om PE toe te trek, min wetend dat JP reeds beplan het om die groot vraag te vra. Ek het vir myself ʼn “koebaai-partytjie” gereël en sommer op dieselfde dag ʼn verjaarsdagpartytjie vir JP, wat die vorige dag verjaar het. Die volgende dag sou ons saam deur ry PE toe.

Daardie Saterdagoggend voor die verrigtinge begin sou ek en JP gaan paraglide. Op pad daarheen vat JP ʼn ander afdraai en sê die maatskappy het aangedui mens kan nie in die reen paraglide nie en het vir ons iets anders gereël. Ons kom toe by die V&A Waterfront waar ʼn helikopter-rit gereël is. En daar in die lug raak ons verloof. Toe het ek al die tyd vir myself ʼn verlowingspartytjie gereël. Nog een van die hoogtepunte was dat almal wat genooi was ook gedink het hulle kom sê totsiens vir my of veels geluk met JP se verjaarsdag. Almal was net só verras sóós ek.

Trourok:


Aan die begin het ek geen idee gehad wat ek soek nie. Ek het by 3 verskillende trou boetieks rokke gepas en elke keer meer van ʼn idee gekry waarvan ek hou.

Ek het vir Mercia du Toit genader om my droomrok te maak. Dit was ʼn ongelooflike spesiale tyd omdat sy ook bly in die dorp waarin ek groot geword het, Rawsonville. Tannie Mercia was met elke stap so opgewonde saam my en sy het my só mooi gehelp met al my idees wat ek gehad het.

Vir die troue het ek het 4 uitrustings  gehad en ek het by elkeen net ietsie afgehaal of ietsie bygesit. Ek het by die seremonie my “bodysuit” en romp aangehad wat saam gelyk het as ʼn rok. Ek het ook handskoene aangehad met my sluier. By “predrinks” het ek die handskoene afgehaal en ʼn veer “boa” om my lyf gedra. Na die toesprake en eerste danse het ek die “bodysuit” aangehou, romp uitgetrek en die blink broek wat Tannie Mercia vir my gemaak het aangetrek met ʼn blink silwer baadjie. Ons het linte wat van dieselfde materiaal as my rok was gemaak en om my enkels gedraai om my skoene te kan sien. Later die aand toe ons lekker begin dans en my voete moeg was vir die hakskoene, het ek die skoene vir tekkies verruil. Die rok was ongelooflik gemaklik en my soos ʼn perfek gepas.

Verloof- en Trouringe:


My verloofring is goud met ʼn emerald-snit diamant. Ek het iets simplisties gesoek want ek wou kreatief wees met die troupand. My pa het sy trouring vir my gegee omdat hy slegs ʼn silikonring dra (hy het ʼn ongeluk gehad met sy ring waar dit onder sy vel beland het). Ek het daardie goud gebruik vir my pandjie en die res vir JP se ring. My ma het haar trouring ook vir my gegee omdat sy nie veel sentimentele waarde daaraan geheg het nie (haar oorspronklike ring is gesteel). Ek het haar ring se diamante gevat om ʼn tipe kroon te maak (Gatspy-geinspireerd). Ons moes 3 baquette diamante byvoeg om dit die effek te gee wat ek beplan het. Die witgoud van my ma se ring het ek laat smelt om twee klein ringetjies te maak vir my en my ma en binne in is “Forever Besties” gegraveer.

In JP se ring is ons troudatum en “Love You Most Most” in gegraveer.

Trou Venue:


Ons het na 3 venues gaan kyk. Die laaste een was Old Tannery en toe ons die plek binne stap het ons net vir mekaar gekyk en gesê “Ja, dis die een!”. Ons het vir ʼn venue gesoek wat bietjie anders is en was mal oor die rou elemente van die venue en wou nie in ʼn skuur of ʼn wynplaas trou nie. Ons het rou strukture gesoek en wou dit op-“zoosh” met moderne elemente.


Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:

Sjoe! Dit is ʼn moeilike een. Elke liewe gebeurtenis was perfek en dis moeilik om ʼn gunsteling te kies. Die hoogtepunt was wel dat my broer ons uit Nieu-Seeland kom verras het om die troue by te woon.

Trou Dekor en Styl:


Die konsep van ons troue het “rustic meets the future” uitgebeeld. JP is ʼn strukturele ingenieur en is mal oor rou elemente, strukture en industriële geboue. Ek is mal oor enigiets kreatief en hou daarvan om dinge anders te doen.

Ons troubeplanner het beide my en my man se style ingebring in die kleurskema en dekor. Hulle het seker gemaak daar is rou en industriële elemente soos klippe, bakstene en droë takke as dekor elemente waarvan my man hou en my styl inkorporeer deur ʼn paar futuristiese elemente by die troue te voeg soos moderne lig installasies, disco balle en silwer pilare.

Gaste moes formeel aantrek omdat ons tema vir die troue “Old Hollywood Love Festival” was. Old Hollywood verwys na om formeel, klassiek en elegant te lyk. Love Festival verwys weer na glansryke bykomstighede soos glitter rokke, sprankelende oorbelle of “bejewelled clutch bags”. Gaste kon groot gaan met bykomstighede en ons gaste het presies dit gedoen!

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Concept Foods se disse was uit hierdie wêreld uit! Ons wou seker maak ons gaste eet lekker, dans lekker en die kroeg moes nie duur wees nie. Ons het al drie gehad en só baie mense het vir ons gesê hoe lekker hul geëet het. Die kosse was nie net lekker nie, hulle het dit só mooi en uniek bedien. Hulle het uit hul pad gegaan om ook by ons tema aan te sluit. Die canapes was bedien met droë ys wat ons futuristiese element deurgebring het. Hulle het ook buite waar canapes bedien was die vleis gebraai wat die industriële element deurgebring het. Hulle het ook ʼn “live cooking show” gedoen waar almal kon sien hoe hulle die hoofgereg voorberei.

In and Out Events het uit hul pad gegaan om vir ons die mooiste moderne liginstallasies te maak. Dit was bo die dansvloer en was net die kersie op die koek wat die hele prentjie bymekaar gebring het. Hulle het die futuristiese element ook mooi ingebring deur die pilare en die DJ booth silwer te maak.

En dan, laaste maar nie die minste nie, Alon. Sjoe, nie net een van my gunsteling mense op aarde nie, maar die beste troubeplanner. Misha en Bianca is ongelooflik. Hulle passie vir hul werk en mense maak dit só lekker om saam hulle te werk en dan nie eers gepraat van hul kreatiwiteit nie. Hulle maak dit só maklik en ek kon nie die dag sonder hulle indink nie.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Dis dalk nie die beste raad nie, maar spandeer die geld! Gaan “ALL OUT”, want dit is ʼn ongelooflike spesiale dag en jy vier dit net een keer. Moenie dink jy is ooit te ekstra nie, dit gaan die moeite werd wees en vier elke liewe klein dingetjie! Vier die 100 dae voor die troue. Vier die ons-verskaffers-is-klaar-betaal-kom-ons-drink-vonkelwyn! Neem elke oomblik in en as dinge nie gaan soos jy beplan nie, niemand behalwe jy gaan weet nie. Vat alles soos dit kom. Dit is die beste dag van jou lewe… so ver. 😉

Eerste Dans:


Niks en Nêrens – Die Heuwels Fanstasties


Trou Begroting en Beplanning:

JP en Anrike het 6 maande met hulp van ʼn trou beplanner aan hul troue beplan.  Met ʼn koste van ongeveer R2 700 per kop het hul 111 gaste onthaal.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: