Johan & Juané se Elegante Wit Troue

Johan en Juané se elegante wit troue in die Muldersdrift-omgewing in Gauteng is besonder mooi en een wat jy nie moet miskyk nie. As jy inspirasie soek vir ʼn klassieke-styl troue met tonne elegante elemente, dan is Juané en Johan se troue die perfekte voorbeeld.

Hierdie paartjie se troue het soveel elemente waarop ons absoluut verlief is. Die wit kleurskema is só mooi en gee nie ʼn baie luukse voorkoms aan hul troue nie. Juané se trourok is eenvoudig en so stylvol. Johan het ʼn tweekleurpak, swart broek en wit baadjie met ʼn strikdas gedra wat Juané se voorkoms pragtig gekomplimenteer het.

Hul seremonie was in die troulokaal se prentjie mooi kapel en was versier met die mooiste wit blom ontwerpe met sweempies ligpers as deel van die blom ontwerpe. Die kerse het ook ʼn romantiese gevoel geskep wat so gepas was vir hierdie geleentheid. Ná hul seremonie het hulle die dag afgeskop met ’n sjampanje toring en hul pragtige troukoek gesny.

Sjoe! Ons is heeltemal verlief op hul onthaal se dekor. Wit op wit met stukkies swart soos die servette, kersstaanders en die dansvloer. Hulle blom ontwerpe was prentjie mooi met verskeie wit blomme en groenigheid wat oral gesien kon word, wat van die dak af gehang het tot hoog bo van die tafels staan. Ander tafels het weer pragtige blom ontwerpe in die middel van die formeel gedekte tafels gehad. Die wit stoele pas ook in by die deftige voorkoms en saam met die pragtige kandelare is dit ʼn pragtige prentjie.

Nicolene Meyer het die egpaar se troudag vasgevang in die mooiste foto herinneringe wat ons nou in staat stel om die egpaar se troudag te beleef. Rol af om meer te lees.

Paartjie se Liefdesreis:


Johan het in Nelspruit gaan werk, op ʼn makadamia plaas, vir ʼn jaar, na hy klaar studeer het op Elsenburg. Juané was ook klaar met haar Honneurs jaar op die PUK en het by haar pa gaan werk, ook in Nelspruit. Johan se buurman op die plaas waar hy gewerk het, het ʼn oesafdans gehou en dié buurman se meisie was toevallig Juané se beste vriendin, wat haar toe nooi na dieselfde dans toe. So het Johan en Juané heel aand lank gesels. Paar dae later het die buurman en vriendin ʼn double date gereël vir Johan en Juané, toe was die koeël deur die kerk!

Johan en Juané was binne 6 maande verloof. Aangesien dit só vinnig gegaan het, het Juané nog nooit gesien waar Johan bly nie en ook nog niemand van sy familie ontmoet buiten sy ouers nie. Johan noem toe dat Juané begin Desember 2022 saam hom moet af vlieg en dat hy haar wil voorstel aan sy susters. Sak-en-pak is hulle toe Kaap toe en die Vrydag na hulle geland het, 2 Desember 2022, was Juané uit gevat vir ete, ʼn entjie se stap op die strand. Sonder dat sy weet, alles om haar aandag af te trek terwyl haar ouers en broer af vlieg Kaap toe van Nelspruit af om haar te verras.

Die groot vraag:

Om en by 5 uur die middag het Johan haar toe die “braai spot” gaan wys by die rivier, op die plaas wat hulle blyplek sou word na hulle getroud is, en haar daar op die vlot, so bo op die water, gevra om te trou. Hy het haar toe ook vertel dat hulle 15 April 2023 sou trou omdat hy en Juané se ma, Belinda reeds die venue bespreek het. Nes Juané die trane van blydskap afvee, kom haar hele gesin, en toekomstig aangetroud na haar toe aan gestap en die dag was net perfek.

Trourok:


My trourok het ek letterlik per toeval gekry. Ons het by 3 verskillende plekke in Pretoria passings gehad een naweek, en het toe by Lynwood iets gaan eet en ʼn kans gevat om by Bridal Waredrobe in te gaan. Hulle het toe plek vir my en na my verduideliking waarna ek soek het die tweede rok wat ek aangepas het presies gevoel soos dit waarna ek soek; tydloos, elegant, en “less is more”.

Verloof- en Trouringe:


Juané se ring was een waaroor sy nog altyd gedroom het, elegant en tydloos. Iets waarvoor mens nooit sou moeg kon raak nie. Johan het homself oortref met sy luister vermoë wanneer Juané gesê het waarvan sy hou. Johan se ring was ontwerp deur Juané, Johan was ʼn spesiale man en het daarom ʼn spesiale ring verdien. Sy het Johan se gesinslede gevra om elkeen ʼn eienskap te noem wat hulle tans in Johan se karakter sien of wat hulle vir hom wens in die huwelik. Juané het toe die simbole gaan soek wat die eienskap verteenwoordig en op die ring se ontwerp laat plaas.

Die eienskap wat Juané sien in haar man en vir hom nog lank wens was; Wysheid – Uit die res van Johan se familie het die volgende genoem.

  • Leeu – Braafheid
  • Weegskaal – Eerlikheid
  • Vlerk – Beskermer
  • Anker – Standvastig
  • Kruis – Barmhartig
  • Deursettingsvermoë in Hebreeus word onder op die embleem aangedui.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Daar is net teveel. Die rustigheid van die oggend toe ons wakker word en die opwinding van weet ek gaan nou in die kapel instap. Al ons geliefde mense daar om ons. Die herinneringe wat uitstaan vir ons is die pa dogter en seun ma dans wat ons saam gedoen het. Die ongetroude jong mans se kompetisie dans. Dat almal die troue so geniet het en saam ons as ʼn bruidspaar gedans het tot die volgende oggend toe. Natuurlik ook al die boodskappe van almal die volgende dag wat sê dit was die mooiste en lekkerste troue waarby hulle al was.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Vir al die vriende en vriendinne van ons wat nou trou of na ons getrou het sê ons, as jy stres oor jou troue mors jy letterlik jou energie. Op die trou dag maak so min saak en al die professionele mense doen hulle werk só uitstekend dat jy letterlik by jouself sal dink “ek was so onnodig bekommerd”. Geniet elke stap van trou beplanning en probeer elke stadium daarvan vir jouself lekker maak. Moet nie alles ernstig opneem nie en lag vir jouself as iets fout gaan.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Verseker die venue self, Avianto. Hulle diens was puik en hulle strukture so glad soos ʼn stoomtrein. Die geleentheid beplanners – Event Inspirations het my wildste drome laat waar word en hulle luister na elke detail. Die platejoggie was ook puik.

Trou Venue:


My man en ma het agter my rug gekonkel. 🙂 Gelukkig is my ma my beste vriendin en ken my soos die palm van haar hand. Ons venue was ʼn gevoel van oud Italië. Die venue het karakter, is elegant, en al die mense is bitter vriendelik.

Trou Dekor en Styl:


Ons kleurskema was beskryf deur ons troubeplanner as “Clean Timeless Elegance” maar dit het steeds ʼn element van rustiek natuurlikheid gehad. Die kleur skema was wit, groen en swart met elemente van kristal en silwer.

Eerste Dans:


Soen my op my mond – Bernice West

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het met behulp van ʼn troubeplanner vier maande aan hul troue beplan.  Die koste het sowat R3 300 per kop beloop en hul het 150 gaste onthaal.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: