Martin & Deomari se Kleurvolle Troue in Swellendam

Martin en Deomari se kleurvolle troue in Swellendam was ʼn naweek viering saam met familie en vriende. Julle mag die paartjie erken van hulle pragtige verlowing fotosessie in Franschhoek wat ons voorheen gepubliseer het. Die paartjie het ʼn lieflike naweek troue gehad by die elegante Joubertsdal Country Estate omring deur die mooiste landskappe en prentjie mooi berg uitsigte. Dit was ʼn kleurvolle en gesellige kuier saam met vriende en familie.

Met ʼn kombinasie van ligte baie neutrale kleure en die helder blom ontwerpe is die paartjie se trou kleurskema vir ons verskriklik mooi. Tydens hul seremonie het hulle die mooiste blom inspirasies gehad met pers blom blare wat die grond bedek het. Dit is asemrowend mooi! Hulle het die seremonie geëindig met ʼn vonkelwyn toring. Definitief ʼn tikseltjie elegansie aan om die onthaal mee af te skop.

Deomari en Martin se trou dekor is ʼn kombinasie van ligte meer neutrale kleure die helder fokus punte as dekor items and blomme. Hul het die blomme op die tafels eenvoudig gehou en die blom ontwerpe vanuit die hout balke van die dubbel volume onthaal lokaal laat hang. Lang tafels bedek met ligte tafeldoeke en deurskynende stoele was die basis. Op die tafels het helder pienk en pers kerse en fyn blom ontwerpe die tafels versier. Hulle troukoek was ʼn Macaron toring wat vir ons ʼn groot wenner is.

Deomari se trourok is ʼn klassieke, simplistiese ontwerp styl met soveel elegansie en detail, veral aan die bokant met die oop rug kant. Die fyn detail van haar trourok en die fyn vere aan die agterkant van haar rok gee ʼn baie eksentrieke voorkoms aan haar trourok.

Rol af om meer te lees oor Martin en Deomari se kleurvolle troue in Swellendam en hul liefdesreis.

 

Paartjie se Liefdesreis:


Ons was vriende op skool, maar ʼn verhouding was nie vir ons toe beskore nie. Met universiteit het ons paadjies geskei en op ʼn dag in covid tydperk het ons mekaar weer raakgeloop en meer tyd saam begin spandeer. Ons besef toe dat ons al lankal saam behoort het, maar albei was net bang om ʼn kans te vat.

Na drie jaar in ʼn verhouding raak ons uiteindelik verloof en beplan ons die perfekte verlowings fotosessie in die pragtige Franschhoek. Ons het twee voorkomste gehad wat ons albei se persoonlikhede uitgebeeld het. Die eerste een wat stylvol, klassiek en modern was en die tweede een wat meer gemaklik, pret en sorgvry was nes Martin!

Trourok:


Ek het geweet van die begin af dat dit wat ek soek, ek nie sommer in enige winkel sou vind nie. Daarom was ek só bly toe Mercia du Toit (my trourok ontwerper) in gestem het om my droom trourok te maak. Sy het my visie van die begin af verstaan en het alles in haar vermoë gedoen om die prentjie vir my trourok bymekaar te sit. Ek het basies ʼn bostuk gehad met twee rompe. Een romp wat stylvol en nousluitend na onder was vir die seremonie, en ʼn kort rompie met kralewerk vir die onthaal om by my kopstuk en pink skoene te pas!

Verloof- en Trouringe:


Dit was vir ons belangrik dat albei ons ringe vir mekaar ʼn groot verassing moet wees. Ons het mekaar ten volle vertrou om die ander een se ring te beplan en maak soos wat hulle goed gedink het.

Ek het nie ʼn idee gehad hoe my verloofring gaan lyk nie en dit het my wildste drome oortref. Toe beplan Martin saam met die juwelier die perfekte troupand om by my verloofring te pas.

Ek het dieselfde met sy troupand gedoen. Alles van die begin af self beplan en laat maak. Ons het beide ons troupande vir die eerste keer gesien toe ons dit aan mekaar se vinger gesteek het in die kerk. Die was die beste gevoel en is nie eendag spyt dat ons dit so gedoen het nie!

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Die oomblik toe die kerk deure oop gaan en ek en Martin sien mekaar vir die eerste keer. Dit was ʼn baie groot en spesiale oomblik vir albei van ons.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Al ons diensverskaffers wat wonderlik, maar as ek iemand moet uitsonder sal ek sê ons video- en fotograaf. Ons videograaf was Hendrico Bekker en ons fotograaf was Marelize Bosman. Hulle het so lekker saam gewerk en het ons só gemaklik laat voel. Hulle het elke spesiale oomblik só mooi vasgevang en het ons grootste verwagtinge oortref! En dan is hulle nog sulke gawe mense ook.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Geniet net elke oomblik want dit gaan verskriklik vinnig verby. Betrek mekaar by die beplanning en moenie dat iets soos geld die spesiale herinneringe van die beplanning tydperk wegneem nie.
Daar is soveel opsies as dit kom by die beplanning van jou troue, moenie altyd die eerste en duurste opsie kies nie. Vat jou tyd vergelyk jou opsies en kyk hoeveel jy moontlik self kan doen om bietjie geld te spaar. Dit is baie meer spesiaal as jy weet daar is iets op jou troudag wat jy en jou verloofde moontlik selfgemaak het.

Trou Venue:


Ons wou van die begin af ʼn naweek troue hê waar al ons familie en vriende reeds van die Vrydag af saam ons kon feesvier. Toe ons na Joubertsdal Country Estate gaan besoek het was ek en Martin dadelik geweet dít is dié een! Ek was verlief op die kapel en hy was gaande oor die pragtige uitsig wat die venue op die Swellendam berge het en omdat my pa ook in Swellendam groot geword het was dit vir ons baie spesiaal. My Pa is ses maande voor ons troudag oorlede aan kanker en om in Swellendam te kon trou het gevoel of ons ʼn stukkie van hom op ons troudag gehad het.

Trou Dekor en Styl:


Die algehele gevoel van die venue was baie neutraal en ons wou dit skoon hou met net ʼn pop of colour. Omdat kleurvolle troues hoog mode was tydens die beplanning van ons troue het ons besluit op die kleur pallet van pienk, pers, neutraal en swart. Ons gaste het ook volgens hierdie kleure aangetrek wat die prentjie mooi bymekaar gebring het. Martin sal sê alles was pienk, maar ek sal stry!

Ons het minimaal blomme op die tafel gehad, maar ons gespuite varing balle wat uit die dag gehang het, asook ons kerse op die tafel en beligting het ons dekor hoofsaaklik opgemaak. Ons het ook ʼn swart sjampanje muur gehad wat ons sitplek aanwysings vir die gaste wat my pa nog vir my gemaak het. Dit was vir ons ʼn baie spesiale deel van ons dekor.

Eerste Dans:


Fall into me van Forest Blakk.

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het hul troue self beplan oor ʼn jaar periode. Hulle het in totaal 96 gaste onthaal teen ʼn begroting van min of meer R 3,645 per persoon.



    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: