Alles wat julle moet weet voor jul ʼn Trou Fotograaf huur

In dié advies artikel bespreek ons alles wat julle moet weet voor jul ʼn trou fotograaf huur. Dit is nie speletjies 0m die regte trou fotograaf te vind nie en is ‘n baie groot belegging. Dit verg ordentlike navorsing om ʼn trou fotograaf te vind wat vir julle as ʼn paartjie sal werk. Julle trou fotograaf is een van dié mees belangrikste elemente van julle troudag. Daar sal nie weer ʼn geleentheid wees om jul trou foto’s oor te doen indien dit nie reg is nie.  Klik hier om ons trougids te besoek met betroubare trou fotograwe wat ons aanbeveel.

Daar is ʼn baie groot verskil tussen ʼn professionele fotograaf en iemand met ʼn professionele kamera. Die beste lense en kamera beteken nie dat hulle kan fantastiese foto’s neem nie.  Moet nie laat jou oom/tannie/niggie/nefie jou troue afneem as geskenk nie. Maak seker julle weet wie julle kies om jul troue af te neem, is in staat om die beste foto’s vir jul kan gee. Foto’s wat professioneel en van ʼn hoë kwaliteit is met die nodige kreatiwiteit.

Hierdie artikel is ʼn lang artikel, maar julle kry baie detail en bestaan uit drie hoof dele.
  1. Die keuring proses.
  2. Stappe nadat julle besluit het op ʼn fotograaf.
  3. Dan wat om te doen op die dag van julle troue.

Geniet dit en deel dit asseblief met jul familie en vriende as julle weet van iemand wat opsoek is na ʼn trou fotograaf.

Waar om te begin?


Maak ʼn kortlys van trou fotograwe:

Die heel eerste stap is om jul trou fotograaf te vind. Waar vind mens ʼn trou fotograaf?  Daar is baie plekke om trou fotograwe te vind.  Klik hier om na Mooi Troues se Trougids te gaan waar ons professionele trou fotograwe lys van regoor Suid-Afrika.  ʼn Ander manier is om jul vriende wat getrou het te vra vir verwysings. Julle kan ook op sosiale media kyk vir trou fotograwe.

Sodra julle trou fotograwe gevind het wat julle van hou, sit hulle op ʼn kortlys om te kontak vir kostes ensovoorts.

Lees resensies en soek die trou fotograwe aanlyn:

Hierdie is dié mees belangrikste punt van alles, daar is baie swendelaars daar buite. Net soos julle nie net geld sal betaal na enige iemand nie, net so moet julle nie net besluit op die eerste beste trou fotograaf nie.  Soek die fotograaf se besigheid se naam op sosiale media, asook op plekke soos Google en resensie platvorms.  Moet nie net die trou fotograaf se besigheid naam soek nie, soek ook die fotograaf se persoonlike naam en van aanlyn.

As die persoon ʼn bekroonde trou fotograaf is en gelys is as die beste, beteken nie noodwendig dat dit wel die beste keuse vir julle is nie. Julle moet seker wees julle lees oor enige negatiewe ervarings wat paartjies gehad het en nie net die positiewe nie. Trou foto’s is ʼn baie groot belegging en soos met enige belegging moet julle seker maak jul belegging is veilig.

As die trou fotograaf baie negatiewe terugvoering het of voorkom as ʼn swendelaar, vermy eerder die persoon en beweeg aan na die volgende opsie.

Begin met die keuring proses soos hieronder:

Nadat julle die boonste twee stappe gevolg het en gelukkig is, nou kan julle met die keuring proses begin wat ons hieronder in detail verduidelik. Rol af na die keuring proses verduideliking in die artikel.

Die keuring proses:


Portefeulje:

Kyk na die fotograaf se portefeulje aanlyn. As julle van die fotograaf se fotografie styl en kwaliteit van werk hou, maak ʼn afspraak met die fotograaf, indien die fotograaf wel binne jul begroting is. Lees meer oor die begroting deel hieronder.  Kyk deeglik na die fotograaf se gedrukte portefeulje.

Dit help nie die fotograaf se werk aanlyn is buite die wêreld nie, maar hy/sy gedrukte portefeulje val uit mekaar nie.  Ons weet tye het verander en dat meeste trou fotograwe deesdae net aanlyn portefeuljes het.

Probeer dan meer kyk na ʼn volledige troue.  Vra die fotograaf vir ʼn paar volledige troues, van begin tot einde. Dit gee julle ʼn idee hoe die fotograaf se algehele styl en werk is. Dit help nie die fotograaf se natuurlike paartjie foto’s buite in die son is prentjie mooi nie, maar die donker onthaal saal foto’s is nie op dieselfde vlak nie.

Verskillende fotograwe het verskillende redigeer style, so maak seker die fotograaf wat julle kies is die tipe styl waarna julle opsoek is.  Dit help nie die prys is in jou begroting, maar julle hou nie van die spesifieke fotograaf se styl van neem en redigeer nie.

Begroting:

Trou fotograwe is nie goedkoop nie.  Dit is ʼn belegging en hulle vang jou troudag vas in foto’s wat julle vir die res van jou lewe sal hou.  Maak seker julle hou tussen R 16,000 en R 50,000 uit vir ʼn goeie trou fotograaf. Die heel ervare trou fotograwe kan soveel as R 120,000 kos.

Daar is verskillende vlakke waarin trou fotograwe kan verdeel word vanaf beginners, deeltydse professioneel, professioneel en dan top professioneel. Fotograwe is nie net duur omdat hulle die pryse uit hulle duim suig nie. As julle ʼn luukse motor wil ry, gaan julle ʼn duurder prys moet betaal en dit is dieselfde met fotograwe.  Professionele fotograwe het baie uitgawes soos professionele kameras, beligting, toerusting, bemarking-, webtuiste-, personeel-, rekenaar, reis onkostes, versekering en vele meer. Die lys gaan aan en dit is alles net besigheid onkostes.  Ons het nog nie by winste en persoonlike uitgawes gekom nie.

Baie mense verstaan nie hoe ʼn trou fotograaf hulle drie maande se salaris in een dag kan maak nie. Dit is nie heeltemal waar nie, want die dag van jou troue is slegs ʼn klein deel van die fotograaf se werk. Trou fotograwe is vry-skutters en is nie altyd gewaarborg van ʼn maandelikse inkomste nie.  Daar is nog baie stappe waardeur die foto’s moet gaan voordat dit by jul afgelewer word.

Ondervinding:

Maak seker die trou fotograaf het genoeg ondervinding en doen dit al lank genoeg as hoof fotograaf voordat hy/sy jou troue kom afneem. As julle nie ʼn groot begroting het nie, dan sal die fotograaf se ondervinding ook nie baie goed wees nie. Om ʼn troue af te neem is nie kinderspeletjies nie! Dit verg baie tegniese en ook praktiese aspekte om die perfekte oomblik vas te vang sonder enige probleme. Klein dinge soos ʼn fotograaf se ekstra toerusting wat professionele fotograwe gewoonlik gebruik, indien iets fout gaan op jou troudag soos ʼn kamera wat val.

Vrae wat julle die fotograaf kan vra:

  • Hoe lank is hy/sy in die trou bedryf?
  • Het hy/sy enige bewys van hoe lank hy/sy in die bedryf is?
  • Kliënte resensies met foto’s van die kliënte se troue, kontak besonderhede vir verwysings doeleindes.
  • As die portefeulje nie ooreenstem met die persoon se ondervinding nie, vra of hy/sy ouer troues het waarna julle kan kyk.
Fotograaf se kontrak:

Dit is belangrik dat julle die inhoud van die fotograaf se kontrak verstaan. Indien julle iets nie verstaan nie, vra die fotograaf om dit te verduidelik per e-pos. Moet asseblief nie kontrak vrae en besonderhede per telefoon doen nie, hou dit by skriftelik.

Kyk na die fotograaf se kopiereg klousule – Of die fotograaf die eienaar bly van die foto’s se kopiereg en watter regte oorgedra word na jou as die kliënt.

Lees ook oor die deposito klousule en wat presies die fotograaf benodig om die datum vir jul te bevestig sonder enige probleme.

Maak seker dat die fotograaf wel self hom/haar werk afneem en nie iemand anders onder die fotograaf se naam laat skiet nie.

Indien die fotograaf nie ʼn kontrak het nie, vra die fotograaf vir een. Dit is belangrik om ʼn ooreenkoms te hê vir enige besigheids transaksie.

Verstaan wat julle voor betaal:
  • Maak seker julle verstaan presies wat die fotograaf se pakket insluit. Lees dit weer en as julle nogsteeds nie seker is nie, vra die fotograaf per e-pos om die pakket te verduidelik.
  • Kyk hoeveel ure die pakket wat julle bespreek insluit.
  • Vra of die fotograaf met of sonder ʼn assistent werk?
  • Sluit die pakket een of twee fotograwe in?  Indien twee, vra wie is die ander fotograaf en wat hy/sy sal afneem?
  • Hoeveel foto’s sluit die pakket in?
  • Wat is die onkostes indien die fotograaf langer moet bly op die dag van jou troue?
  • Kan julle die fotograaf op die dag in kennis stel dat hy/sy langer moet bly by die troue?
  • Hoeveel reis kostes is ingesluit in die pakket? Wat kos addisionele reis kostes?
Julle moet gemaklik voel met jou trou fotograaf:

Die fotograaf is seker die enigste persoon wat die heeldag in jou teenwoordigheid gaan wees. Julle moet goed oor die weg kan kom met jou keuse van fotograaf.  Maak seker julle en die fotograaf kan praat en met mekaar kommunikeer. Moet nooit ʼn “ek is die baas” houding teenoor ʼn fotograaf hê nie.  Dit maak dit baie moeilik vir die fotograaf om met jou te kan werk.

Wees eerlik en wees jouself by julle ontmoeting. So kan julle as paartjie en die fotograaf weet of julle vir mekaar bedoel is en oor die weg sal kom. Onthou julle spandeer seker 90 persent van jou trou dag met jou man/vrou en dan die fotograaf.

Maak seker dat julle soveel tyd saam met die persoon wat julle kies kan spandeer sonder om geïrriteerd te word, want dit sal jou foto’s beïnvloed.

Nadat julle besluit het op ʼn fotograaf:


Stuur ʼn lys van spesifieke foto’s wat julle benodig:

Fotograwe hou daarvan om te weet watter groepe mense op gefokus te word by jou troudag. Stuur ʼn lys van groep foto’s aan jou fotograaf. Maak seker julle kry iemand wat almal ken wat in beheer van die lys is op die dag van die troue.  Die fotograaf ken nie jou gaste nie en dit is ook nie die fotograaf se verantwoordelikheid om jou gaste te bestuur nie.

Lig jou fotograaf onmiddellik in as daar enige iets verander:

As daar enige iets verander aan die uitleg van die dag of ʼn fisiese verandering soos venue, onthaal, plek waar julle aantrek ens. Laat weet die fotograaf onmiddellik!  Dit help die fotograaf om sy/haar skedule vir die dag ook so aan te pas.

Stuur alle adresse en telefoonnommers aan jou fotograaf:

Dit is baie belangrik dat die fotograaf jou op die dag van jou troue in die hande kan kry. Maak seker julle gee telefoon nommers van mense wat by jou sal wees op die dag, indien die fotograaf jou dringend in die hande moet kry.

Vra advies vanaf jou fotograaf voor julle jou tydlyn bevestig met ander diensverskaffers:

Fotograwe weet watter tipe sonlig hulle benodig vir die beste foto’s. Maak die fotograaf deel van jou tydlyn beplanning. Jou fotograaf sal sê indien die lig te skerp of te flou gaan wees vir die fotosessie.

Stuur die finale tydlyn aan jou fotograaf:

Maak seker as julle die tydlyn gefinaliseer het, dat julle dit aan die fotograaf stuur. Tyd is ʼn baie belangrike faktor vir ʼn trou fotograaf.

Op die dag van jou troue:


Vra gaste om die fotograaf spasie te gee:

Maak seker die priester/dominee kondig af tydens die begin van die kerkdiens nog voor die bruid inloop dat alle selfone, iPad’s en ander kamera’s uit die fotograaf se pad moet wees. Dit beteken geen foto’s in die gangetjie nie! Dit kan rerig jou spesiale dag en die mooiste foto’s bederf.

Reël kos vir die fotograaf:

Probeer die fotograaf en sy/haar assistent se kos na aan eerste te bedien indien moontlik, anders gaan hy/sy nog eet terwyl julle begin met toesprake of dans.  Laat die fotograaf in die onthaal lokaal sit by ʼn tafel. Moet nie dat jou fotograaf iewers in ʼn donker gang sit waar hy/sy niks kan sien wat aangaan nie.

Asseblief laat die venue vir jou fotograaf en sy/haar assistent die selfde kos bedien as vir jou gaste. Daar is niks so lelik as julle nie genoeg respek het vir jou diensverskaffers nie.  Jou fotograaf kan nie juis vinnig na ʼn restaurant gaan om iets self te koop nie.  Hy/Sy is daar om jul troue af te neem.

Vermaak gaste terwyl julle besig is met jou fotosessie:

Kry iets vir jou gaste om te doen gedurende julle fotosessie.  Gaste raak moeg en geïrriteerd as hulle moet wag.  Moet nie die fotograaf aanjaag nie, dit sal hom/haar stres en dan gaan julle ʼn af gejaagde produk kry.

Reël iemand vir jou handsak en om goedjies vas te hou gedurende die fotosessie:

Die fotograaf se assistent is daar om die fotograaf te assisteer. Hy/Sy is nie die bruidspaar se assistent om handsakke, grimering, skoene, sonbrille en wat ookal anders vas te hou nie. Maak seker julle neem een persoon saam wat dit kan doen.

Maak seker die onthaal het genoeg lig.

Kerse is mooi, maar dit is nie lig nie. Dit lyk baie oulik op foto’s.

Ons praat van genoeg lig sodat die fotograaf ʼn mooi foto kan kry. Sonder dat dit lyk asof die fotograaf slegs ʼn kamera-flits moes gebruik. Hoe meer lig daar is, hoe meer natuurlik kom jou foto’s uit.

In Kort:


Om dié advies op te som in kort:

  • Begin deur ʼn kortlys van trou fotograwe te maak.
  • Lees resensies en soek die trou fotograwe aanlyn.
  • Begin met die keuring proses, soos bo in die artikel verduidelik.

ʼn Professionele trou fotograaf is een van die duurder uitgawes in jul trou begroting, so wees seker julle maak die regte besluit. Julle trou foto’s is herinneringe van jul troudag vasgevang in foto’s wat julle ʼn leefstyl sal by bly. Boekmerk dié artikel, sodat julle altyd vinnig kan terug keur vir advies.

Artikel Krediet:

  • Artikel:  Mooi Troues
  • Fotografie:  Pexels