Robert & Carla se Verlowing Fotosessie met hul Troeteldiere

Robert en Carla se verlowing fotosessie met hul troeteldiere is te oulik vir woorde.  Dié paartjie se verlowing fotosessie is een van daardie wat julle nie moet mis nie.  Met die mooiste foto’s, sagte sonlig en die pragtige groen agtergrond is dit só na aan perfek as wat mens kan kry.

Ons is totaal en al versot op die paartjie se verlowing fotosessie.  Dink jou self in. Drie honde en vlieg duiwe almal deel van dié paartjie se verlowing foto’s.

Carla het ʼn pragtige helder mosterd geel rokkie aangehad wat só mooi uitgestaan het teen die groen agtergrond.  Robert se ligter kleur hemp en donker broek met sy ligbruin skoene het die paartjie se voorkoms so mooi afgerond.

Mens kan sien die paartjie het die fotosessie baie geniet en ons dink die diere het dit net so baie geniet!  Dit is altyd ʼn baie oulike idee om julle geliefde troeteldiere deel te maak van jul verlowing fotosessie.  Hulle is tog familie en verdien om ook opgetoë te word met ʼn oulike doekie om die nek vir ʼn tikseltjie sjarme.

Die ligging van Robert en Carla se verlowing fotosessie is besonders.  Die groenigheid van die natuurskoon omvou met die mooi berge in die agtergrond is regtig prentjiemooi.  Carle en Robert hak die knoop deur die maand, so was hard aan die beplan vir hulle troudag.

Mooi Troues se Trougids bied ʼn bron van professionele trou diensverskaffers vir paartjies wat besig is om hul troue te beplan.  So kan paartjies ʼn stresvrye trou beplanning ervaring geniet.

Rol af om meer te lees oor Robert & Carla se Verlowing Fotosessie met hul troeteldiere en hul liefdesreis as paartjie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons storie begin al 12 jaar gelede op hoërskool. Ek was ʼn Graad 10 meisie en Robert ʼn Graad 11 outjie. Ons was toe al mal oor mekaar en het uitgegaan op skool. Hoërskool liefdes! Ons paaie het egter geskei na Robert universiteit toe is in Potchefstroom en ek nog op skool was, daarna was ek Pretoria toe.

Na die afloop van my studies was ek geplaas om my gemeenskap jaar te kom doen in Bethlehem, die plek waar ons liefde begin het. Robert was nog besig om sy studies te voltooi, maar het een aand in Bethlehem kom kuier. Toe ons mekaar sien was dit asof daar geen tyd verby gegaan het nie. Ons het albei geweet ons moet saam wees, maar het eers ʼn paar draaie gevat voor ons daar gekom het.

In 2020 het hy kom werk in Bethlehem en ons het dadelik besef dit is “bedoel om te wees”! Ons het weer begin uitgaan en dit was soos ʼn droom wat waar geword het!

Geen verhouding is sonder uitdagings nie. Die lewe loop sy draaie met ʼn mens, maar ons het saam deur ʼn hele paar dinge gekom, elke keer sterker as ooit! Ek wou al lankal trou, maar Robert het sy eie tydlyn gehad. Ek is só bly dat hy my gevra het na amper 4 jaar, want dit is presies die regte tyd en alles het presies uitgewerk soos dit moet!

Die groot vraag:


Robert het dit baie lank beplan.  Ons het die 26ste Desember na Kersfees saam met sy gesin na my ouers se plaas gegaan om die dag daar deur te bring saam met my familie.

Ons wou swem, braai en ʼn heerlike somersdag geniet, maar die weer het ander planne gehad. Dit het die HELE dag kliphard gereën! Hy het ʼn hele plan gehad om my op die koppie met sonsondergang te vra met ʼn romantiese opstel en elke ding.  Maar dit het nie uitgewerk nie, so die man moes vinnig dink.

Ek was salig onbewus van die plan om verloof te raak en het sommer ʼn jean aangehad. My sussies het rokkies aangehad en het gesê hulle wil ʼn paar foto’s saam met my neem, ek moet ook my rokkie aantrek.

Ons staan op die stoep en neem familie foto’s en Robert sê toe hy wil graag ook ʼn foto saam my neem! Hy vat my hand en ons staan in die reën vir ons foto’s. Daar gaan hy op sy een knie en haal die mooiste ring wat ek al ooit gesien het uit!

My hele gesin en my Ouma en een van my beste vriendinne was daar om dit saam met ons te deel. Dit was die beste dag van my lewe! Glad nie wat hy beplan het nie, maar ongelooflik! Ons het papnat gereën en ons kon nie minder omgee nie. Ons glo dit was seën wat uit die hemel op ons geval het!

Hoekom ons mekaar liefhet:


Carla sê:

My gunsteling eienskappe van Robert is sy geduld, sy mooi hart en die kalmte wat hy oor my bring. Ons balanseer mekaar perfek uit en ek kon nie vir ʼn beter spanmaat vir die lewe vra nie!

Niks is ooit te veel gevra nie. Hy is die lojaalste mens wat jy sal ontmoet, altyd bereid om te help met enige iets! Hy het die mooiste liefde vir diere en kinders, die sagste en mees opregte liefde en hy straal dit uit orals waar hy gaan. Almal wat met hom te doen het kan dit voel.

Robert het so positiewe uitkyk op die lewe en hy glo altyd dat alles sal uitwerk. Wanneer ek ongeduldig en moedeloos oor iets voel sal hy my altyd optel en weer laat glo dat God ʼn plan het vir ons! Robert is my veilige hawe en hy dra my deur die lewe se moeilike tye sonder om ooit te kla. Hy is nog vreeslik snaaks daarby en altyd reg met ʼn grappie, wat ʼn bonus!

Robert sê:

Carla is die opregste persoon wat mens ooit sal ontmoet. Sy is altyd bereid om te help en gee altyd haar heel beste om dit vir almal die lewe makliker te maak.

Carla hou my voete op die grond en saam maak ons die beste span. Sy straal net liefde uit en daar is niks vals aan haar nie. Sy het die grootste hart en gee om vir almal om haar. Daar is niks wat sy nie kan doen nie!

Ek sweer as mens vir Carla sê sy gaan moet leer om Chinees te praat sal sy binne ses maande vir jou suhsi in Chinees kan bestel sonder Google Translate.

Sy is regtig die rots in my lewe en gee só baie om vir my en doen regtig vir my meer as wat sy moet.

Die ding wat van Carla wat vir my die meeste uitstaan is haar lus vir die lewe. Niks is te groot of te klein nie en sy gee altyd meer as haar beste.

My toekomstige vrou se sin vir humor is wat haar laat uit staan van enige ander vrou.

Ek hou van grappies maak en ek sou nie ʼn vrou kon kies wat nie my grappies vang nie. Die kort en lank van alles is, is dat ek die gelukkigste man op aarde is met só ongelooflike vrou soos Carla.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons was só opgewonde om te trou dat ons sommer besluit het om voor die winter te trou.

Ek het dadelik begin bel om ʼn venue te kry en dit was nogal ʼn gesukkel! Ons kry toe ʼn venue wat 18 Mei beskikbaar is en bespreek dit dadelik!

So ons is min of meer vyf maande verloof. Dit is ʼn vol skedule vir al die trou reëlings, maar dit is die lekkerste tyd van ons lewe!

Die verloofring:


Ek wou altyd een of ander alternatiewe ring hê en Robert het geglo mens se verloofring moet klassiek wees. Ek het baie foto’s altyd gestuur en gewys, maar dit het nooit baie aftrek gekry nie.

Eendag het ek die ontwerp op sosiale media gesien en was dadelik verlief. Ek het hom gewys en weereens was daar nie regtig ʼn vreeslike reaksie nie, maar hy het dadelik geweet dit is die ring wat hy vir my gaan kry.

Ek was heeltemal verras en ek is só bly dat die ring iets is wat vir ons albei mooi is, dit is só spesiaal!

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons wou graag ons honde en Robert se wit vlieg duiwe op ʼn manier deel maak van ons troue.  Hulle gaan ongelukkig nie die dag saam met ons kan deel nie, so toe maak ons ʼn plan!

Die verlowing fotosessie was basies ʼn gesin fotosessie met ons drie brakkies en die duiwe wat vlieg het dit net vervolmaak. Ons het die foto’s ook op ons uitnodiging gebruik, maar die sessie was definitief nodig om ons vas te vang in die tyd van ons lewe!

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons wou nie iets formeel hê nie en ons is bevoorreg genoeg om naby die mooie Clarens te bly. Daarom het ons besluit om lekker gemaklike sessie in die natuur te doen waar ons net lekker kan lag en onsself kan wees saam met ons honde!

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons verwagting is om dit te geniet en elke oomblik in te neem. Geen tydperk is sonder uitdagings nie. Om ʼn troue te reël is ʼn groot verantwoordelikheid wat soms bietjie wrywing kan veroorsaak. Ons voel dit is ʼn lekker eerste groot ding om aan te pak voor die huwelik en ons kan baie van mekaar leer ook in die tyd! Ons wil dit regtig net aangryp en die beste van alles maak!

Visie vir droomtroue:


Ons wil net ʼn heerlike dag hê wat oor ons liefde vir mekaar gaan, saam met almal vir wie ons lief is! Daar is nie iets baie formeel aan die troue nie, dit is minimalisties en stylvol, maar ons stempel is daarop. Ons wil lekker kuier, lekker dans, lekker eet en memories maak wat ons altyd sal kan koester!

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: