Ons het ʼn groot liefde vir die Karoo landskappe en die saligheid wat die Karoo lewe bied. Ons is vreeslik opgewonde om die Karoo sjiek geïnspireerde trou inspirasie, beskryf as “Blomme van ʼn Mosterdsaad“ deur die koördineerders van die fotosessie, met ons lesers te deel.
Hierdie fotosessie bied tonne inspirasie vir paartjies opsoek na inspirasie vir hulle Karoo troue. Nie net is die ligging prentjie mooi nie, maar elke liewe detail van die gestileerde trou inspirasie fotosessie is pragtig.
ʼn Stylvolle, maar nogsteeds plat op die aarde tafel uitleg bied die basis van die trou styl. Gedroogte blomme hang bo die tafel wat die illusie van ekstra hoogte gee. Die kombinasie van aardse kleure en teksture werk perfek saam met die Karoo tema.
Moderne blom potte op die tafel en die mooiste wynglase bring die moderne elemente in op die tafel. Die gedroogde blomme bring weer die Karoo gevoel tevore en die vrugte op die tafel bring tekstuur aan die dekor elemente.
In die Karoo sal mens bevind dat daar nie net aardse kleure is nie, maar ook pragtige kleur skakerings van verskillende kleure.
Die modelle het beeldskoon gelyk in hul verskille styl trourokke. Hulle grimering, hare en alles het net perfek gepas by die hele styl van die fotosessie. Hierdie fotosessie bied soveel idees en toekomstige bruide sal totaal en al verlief wees op die kombinasie van trourokke wat gekies was vir die fotosessie.
Die ligging was perfek en was die perfekte agtergrond vir die prentjie mooi fotosessie en het gesorg vir die mooiste foto’s.
Rol af om meer te lees oor die inspirasie agter die fotosessie.
Wie het die fotosessie gereël?
Estée Viljoen van Eeve Photography in samewerking met Eco Karoo Lodge en Eden&Co.
Inspirasie agter die fotosessie:
Die inspirasie vir die fotosessie was die Karoo self, ʼn plek waar eenvoud en tydloosheid saamvloei. Spontane oomblikke tussen vriendinne wat hardop dagdroom. Om iets besonders uit eenvoud te skep. Die fotosessie het ontwikkel in ʼn dames oggend met die tema, “Blomme van ʼn mosterdsaad”. Hierdie titel het ʼn diep simboliese betekenis. Die beskeie klein mosterdsaadjie met sy onverwagse potensiaal.
Hierdie simboliek was die fokuspunt van die fotosessie. Dit was nie net ʼn fotosessie nie, maar ʼn viering van die onsigbare krag van begin. Die skoonheid van ontluikende potensiaal.
In elke foto is daar ʼn verhaal van eenvoud en diepte, ʼn herinnering aan die ware skoonheid wat gevind word in die mees beskeie dinge. Om die essensie van die tema vas te vang, was die Karoo perfek. Eenvoud, elegansie en die ontluikende belofte van groei.
Hoekom is die span diensverskaffers gekies om saam te werk?
Die keuse van ons diensverskaffers was nie bloot ʼn toevallige samevoeging van talente nie. Dit was ʼn proses gewortel in die dieper betekenis van ons tema, “Blomme van ʼn Mosterdsaad”.
Elke diensverskaffer wat ons gekies het om mee saam te werk, het haar unieke gawes en talente op ʼn besonderse manier aangewend in die uitbeelding van hierdie konsep.
Die vertroue wat ons grimeerkunstenaar, Ronel le Roux, en Bloemis Chané Moffat gestel het, was nie toevallig nie. Ons het in die verlede met hulle saamgewerk tydens intieme troues by Eco Karoo Lodge en het geweet dat hul kundigheid en kreatiwiteit ʼn perfekte aanvulling sou wees hierdie dag.
Petrie Ninham se vernuftige aanlyn styl ontledings algoritme was die roepstem van die individualiteit van elke vrou. Tesame met die keuse van uitrustings deur Elmerane van Ryneveld en Anel Botha van Calvers Bridal & Evening Wear. Eiesoortige sinergie wat ware self uitdrukking geskep het.
Die juweliersware reeks “Inspire” deur Eden&Co, geïnspireer deur Bybelse motiewe, was die perfekte detail. ʼn Verbindingstuk tussen die verlede en die hede, geloof en skepping.
Leona Kot se passie vir mooi kos en tafel dek, was aanvullend tot Chané se blomme rangskikking en tafel dekor. Coba se “lean on me” kunswerk was die finale afwerking om die stel af te rond.
Hierdie spesiale diensverskaffers was ook ons modelle, wat die tema van eenheid, eenvoud, egtheid en onopgesmukte skoonheid, bymekaar gebring het. Die style samevoeging, veral in samewerking met Calvers Bridal se trourokke het die konsep van ontkieming en groei na vore gebring. Van saad tot blom, ʼn simboliese reis wat die kern van ons boodskap uit Mattheüs 25 uitgebeeld het.
Mattheüs 25 vers 1: “Dan sal die Koninkryk van die hemel wees soos tien maagde wat hulle lampe gevat en uitgegaan het om die bruidegom en bruid te ontmoet.“
Merkwaardigste deel van die fotosessie:
Wat begin het as ʼn spontane gedagte het ontsluit tot ʼn Kairos oomblik. God se bestemde tyd vir aksie “Blomme van ʼn Mosterdsaad”. ʼn Dag wat omskryf kan word as wording – elke vrou, in die spieël van die Woord se ontdekking van haar ware identiteit in Sy beeld.
Dit was ʼn ongelooflike spesiale en kosbare dag. Net ons 6 dames saam. ʼn Dag van saam kuier, lag, luister en diep ervaar. Saadjies saai in voorbereide harte. Wat begin het as ʼn fotosessie het toe ontvou in ʼn Dames-oggend met meer as 30 vroue in die middel van die Karoo, in die middel van ʼn Maandag.
Dekor:
Die tafel wat ons geskep het, was meer as net ʼn samevoeging van dekor elemente. Dit was ʼn verhaal vertel deur elke item, elke tekstuur, en elke simboliese element. Ons wou nie net ʼn pragtige tafel skep nie; ons wou ʼn ervaring skep, ʼn reis van die hart na die siel.
Die dekor is diep geanker in Bybelse temas wat ons harte aangegryp het. Organiese elemente – rolbosse, gedroogde veldblommetjies, varings, en Krismis rose – het nie net die tafel versier nie, maar het die aarde self tot lewe gebring, ʼn uitnodiging tot die natuur se ewige dans van groei en verandering.
Vrugte elemente:
Die druiwe op die gesplete marmer skinkbord het nie net tekstuur bygevoeg nie, maar het ʼn dieper betekenis gedra van nuwe wyn wat kom. ʼn Herinnering aan die ewige siklus van vernuwing en verandering wat in die Bybel geskets word. Dit was ʼn simboliese uitbeelding van Lukas 5:37-39, ʼn herinnering aan die hoop wat voortvloei uit elke nuwe begin.
Die Turksvye, met hul skerp dorings en soet vleis, het ʼn metafoor geword vir die ware aard van die lewe. Die pyn en die vreugde, die droogte en die oorvloed. Maar tog, in die kern, is daar ʼn boodskap van blydskap, ʼn belofte van vreugde selfs te midde van die moeilikste tye, soos gesimboliseer in Nehemia 8:10.
Blomme:
Droë blomme, met hul delikate prag, was nie net ʼn visuele aanvulling nie, maar ʼn simboliese herinnering aan die vraag wat deur die dames se oggend tema gestel is. Kan God ʼn tafel voorberei in die woestyn? Kan daar lewe gevind word te midde van droogte? Die tafel self was ʼn antwoord op hierdie vraag, ʼn “ja” wat weerklink in elke blom blad en elke draai van die tak.
Tafel uitleg:
En op die soliede hout tafel het ons goue eetgerei gekies, ʼn simboliese verteenwoordiging van ʼn feesmaal, ʼn viering van oorwinning en hoop, soos beskryf in Job 23:10. ʼn Belofte van goud te midde van toetsing.
Alles het saggies saamgekom in ʼn prentjie van hoop en geloof in ʼn moeilike seisoen. Dit was meer as net ʼn tafel; dit was ʼn plek waar ons harte en lewens saamgekom het in gemeenskap en geloof.
En uiteindelik, in die middel van ons moeilikhede, het Hy ʼn tafel vir ons voorberei, ʼn belofte van voorsiening en vreugde, soos geskryf in Psalm 23:5.
Kleurskema:
Dit was nie net ʼn keuse van kleure nie. Dit was ʼn besluit om ʼn stukkie van die Karoo se siel na vore te bring. Om die kleure van die land te eer en te vier. Die unieke skoonheid van hierdie dorre land.
En so het ons kleurskema nie net ʼn dekoratiewe element geword nie; dit het ʼn viering van die Karoo self geword. ʼn Herinnering aan die ongelooflike rykdom en uniekheid van hierdie besondere stukkie van die wêreld. Daarbenewens het hierdie kleurskema perfek by die atmosfeer van die Eco Karoo Lodge gepas.
Die warm aardse kleure soos groen, goud en geel het nie net die natuurlike omgewing van die lodge aanvul nie, maar dit het ook ʼn eenvoudige, elegante gevoel geskep.
Venue en Ligging:
Eco Karoo Lodge was die ideale plek vir ons “karoo beeld”. Groen, goud, en geel. ʼn Ware fantasie – te verweeklik. Selfs in die droë, dorre landskap van die Karoo, is daar ʼn potensiaal vir skoonheid en groei, ʼn belofte van iets moois wat kan ontluik.
Eco Karoo Lodge se eenvoudige, dog unieke voorkoms het ʼn moderne, maar tog tydlose atmosfeer geskep wat ons visie in opregte eenvoud kon uitbeeld.
Trourokke:
Calvers Bridal & Evening Wear het ʼn besonderse verskeidenheid trourokke. Die uitsonderlike vakmanskap en couture styl benadering het vanselfsprekend by die Karoo Sjiek ingepas.
Ons kon kies en keur uit ʼn asemrowende verskeidenheid trourokke vir die span. Elke ontwerp het soos ʼn handskoen aan elke vrou gepas, sonder enige vooraf passing of bespreking is elke vrou beklee in iets asemrowend. ʼn Weerspieëling van haar ware identiteit.
Advies aan toekomstige paartjies wat troue beplan:
Laat toe dat jou inspirasie deur jou outentiekheid gedrewe word. Ons glo die styl wat ons gekies het is tydloos. Bly getrou aan jou en probeer iets doen waarvan jy hou sonder om teveel te fokus op die nuutste tendense.
- Fotograaf: Eeve Photography | Kontak
- Venue: Eco Karoo Lodge | Kontak
- Blomme: BLOM | Kontak
- Dekor: Eco Karoo Lodge| Kontak
- Grimering: Ronel le Roux| Kontak
- Juweliersware: Eden & Co| Kontak
- Koördineerder: Estee Viljoen| Kontak
- Trourok: Calvers Bridal & Evening wear| Kontak
- Trouring: Eden & Co| Kontak
- Stilering: Cheekitribe | Kontak
- Kuns: Coba Dormehl | Kontak
- Modelle: Leona Kot, Chané Moffat, Petrie Ninham, Ronel le Roux, Coba Dormehl