Johan & Alisun se Boekwinkel Verlowing Fotosessie

Opsoek na inspirasie vir ʼn buitengewone verlowing fotosessie? Johan en Alisun se Boekwinkel Verlowing Fotosessie is definitief ʼn fotosessie propvol inspirasie vir paartjie wat iets anders as die norm wil doen.  Die paartjie het besluit om hul verlowing foto’s te laat neem in ʼn boekwinkel in ʼn populêre winkelsentrum in Kaapstad. Ons dink dit is só ʼn oulike en unieke idee vir ʼn verlowing fotosessie.

Daar is egter ʼn storie agter die storie. Alisun wou graag ʼn klein elopement-troue hê, maar Johan wou niks weet hiervan nie.  As ʼn idee sê Alisun sy wil dan ʼn verlowing fotosessie hê wat lyk soos ʼn elopement-troue. Wat ʼn briljante idee.

Die talentvolle trou fotograwe van Boland Weddings het die paartjie se visie vir hul verlowing fotosessie laat bewaarheid.  Boland Weddings het die mooiste foto’s geneem van Alisun en Johan in die boekwinkel omring deur rakke en rakke vol boeke.   Dit gee ʼn pret voorkoms aan die verlowing foto’s.

Johan en Alisun het die foto’s gebruik vir hul trou webtuiste en ook hul trou koerant.  Daar is soveel redes hoekom ons by Mooi Troues dink ʼn verlowing fotosessie is ʼn móét.  Een van die redes is om meer gemaklik te raak voor die kamera, sodat jul minder stres het op jul troudag.  ʼn Ander rede is om jul trou fotograwe beter te leer ken en so meer gemaklik te wees op jul troudag.

Rol af om meer te lees oor Johan en Alisun se boekwinkel verlowing fotosessie.

Meer oor Boland Weddings:


By Boland Weddings is die ʼnaam van die speletjie’ gerig daarop om goed eenvoudig te hou. Boland Weddings is ʼn groot span van fotograwe en videograwe wat nie net met mekaar saamwerk as of ons ʼn groot familie is nie, maar wat ook saam werk om die stres van julle troue te verminder.

Boland Weddings is opgebou deur fotograwe en videograwe wat almal persoonlik uitgekies was deur die besigheid se eienaars, om seker te wees dat hulle inpas by die formaat waarvoor Boland Weddings bekend is.  Daar sal nooit iemand by julle troue wees wat nie ʼn amptelike deel is van die Boland Weddings familie nie.  Die foto en video redigering, selfs na 13 jaar, word steeds net gedoen deur die eienaars self, om seker te wees dat hulle styl kan oordra na al die spanne.

Voor julle troue is Boland Weddings ook meer as gewillig om te help met tydlyne, advies, en selfs om ander tipe verskaffers vir julle voor te stel wat gepas sal wees vir julle droom en begroting.  Algehele, om Boland Weddings deel te maak van julle groot dag is nie net ʼn praktiese keuse nie, maar ook ʼn keuse wat julle troudag meer pret en spesiaal sal maak.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het 17 Mei 2019 op Johan se ouers se stoep ontmoet in Jacobsbaai. ʼn Braai was gereël en my suster het my vriendelik verplig om saam te gaan. Johan se Oskava-pantoffels en mooi blou oë het natuurlik my aandag eerste gevang. Terwyl Johan dadelik vir my spontaniteit en sin vir humor geval het.

Ons kon nie in die volgende paar weke van mekaar wegbly nie en het ons eerste soen gehad terwyl ek tjips gebak het by vriende se huis partytjie. Weke het in maande verander en maande in jare.

11 Desember 2022, na 3 jaar en 7 maande van uitgaan, het Johan uiteindelik op een knie gesak en ek het deur die trane baie entoesiasties JA gesê!

Die groot vraag:


Ons het op 11 Desember 2022 by Webersburg in die wynkelder verloof geraak.  Johan se niggie het ʼn wynproe gereël.

Die dag was warm.  Johan het gesê ons moet netjies aantrek, maar hy is ʼn man wat in ʼn “swembroek” lewe. Dit was vir my vreemd dat hy in daardie hitte gesit het met ʼn chino en ʼn netjiese hemp.

Dié verlowing was ʼn verassing, maar ek het my vermoede gehad. Die vrou wat ons die wyn laat proe het, het kom vra of ons ʼn toer deur die kelder wil hê en ek het natuurlik sonder twyfel ja gesê.

Dit was só interessant.  Ons het by die punt gekom waar ons tussen die wynvate geloop het. Daardeur het ek kersies en wit roosblare op die grond aan my linkerkant gesien. My eerste woorde was “O jinne” toe ek omdraai en ons oogkontak maak het ons dadelik begin huil.

Johan kon skaars die woorde uitkry om my te vra en ek het só gehuil dat ek hom nie kon sien nie. Uiteindelik, na wat soos ʼn ewigheid gevoel het, het ek Ja gesê!

Ek kon my oë oopmaak en Johan kon weer probeer om met my te deel wat op sy hart lê. Johan se niggie en nefie met hul wederhelftes was daar om ons geluk te wens na die verlowing.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Johan: Alisun se omgee hart, geduldigheid (meeste van die tyd) en behulpsaamheid, sy plaas ander se behoeftes bo haar eie.

Alisun: Johan se liefde vir sy familie en gewilligheid om altyd almal te help. Hy lyk dalk nie altyd vir almal benaderbaar is nie, maar wanneer jy hom leer kén sal jy sien hy het die sagste hart.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons wou nie te lank verloof wees nie. Ek voel die doel is tog om te trou so ons was 9 maande verloof. Langer as wat ek graag wou, maar ek wou nog altyd ʼn September troue hê. Ons trou datum was 22 September 2023.

Die verloofring:


Die verloofring is ʼn interessante storie.

Ons het ons eerste erf in 2021 gekoop en beplan om in 2022 te begin bou. Soos meeste paartjies, het ons oor verskeie onderwerpe gesels. Johan het vir my gevra: “Huis of Ring?” en my keuse was huis.

Soos die tyd aan gaan en ons die proses volg om ons erf te koop het ek op Instagram gesien Ring Artisan het ‘n kompetisie aan die gang saam met Jessica van Heerden du Plessis.

Ek het dit vir 2 weke ignoreer, maar toe ek dit weer sien het ek vir Johan gevra of ek kan inskryf.  Hy sê toe ja, ek moet kyk of ek kan wen!  Ek het my alles gegee vir die kompetisie, maar ek het toe eers nie gewen nie. Soos verwag was ek baie teleurgesteld, maar aanvaar dit was seker nie bedoel nie.

Na ʼn dag of twee het Jessica my gekontak om te laat wéét die wenner het die prys verbeur en ek was tweede! Ek was in die wolke. Dit is die eerste keer wat ek iets wen. Ek het voortgegaan om ʼn afspraak te maak en kon my eie ring ontwerp en deel wees van die proses soos ek nog altyd wou wees.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ek wou nie ʼn groot troue hê nie, sou eerder graag wou elope, maar Johan wou niks weet van my voorstel nie. So om ʼn kompromie aan te gaan, het ek gevra om verlowing foto’s te laat neem en dat dit moet lyk of ons elope.

Die foto’s het ek ook vir ons webtuiste en trou koerant gebruik.  Ek het ook gevoel dit is belangrik om ons fotograaf te leer ken en in aksie te sien voor ons troue.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ek wou hê ons foto’s moet uniek wees, iets wat jy nie gereeld sien nie.

Pinterest was my beste vriend.  Ek het my inspirasie daarvandaan gekry en rondgekyk vir venues.

Ons is nie groot lesers nie, maar ek het gehou van die idee van ʼn boekwinkel fotosessie. So ons het met Exclusive Books in Canal Walk gereël om ons foto’s daar te neem.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk:


Ek het van die begin af geweet ek wil nie ‘n troue reël nie, want my vrees was dat ek nie die proses gaan geniet nie.

Dit was ook vir my baie belangrik dat ons verhouding steeds die prioriteit was.

Dit is so maklik om vasgevang te word in die beplanning en die idee van trou dat baie mense vergeet dat hulle daarna ʼn huwelik het wat ʼn groot verantwoordelikheid is en prioriteit moet wees.

Johan se verwagting was dat alles natuurlik so goedkoop moontlik moes wees, dit was ʼn uitdaging, maar ons het saam gesit en vasgestel wat belangrik is en wat nie.

Visie vir droomtroue:


Ons het 2 trou datums, die 1ste datum is 17 Mei 2023, presies 4 jaar van die dag wat ons ontmoet het. Die dominee het ons by Johan se ouers se huis in Jacobsbaai laat teken. Vier maande later was ons troue op 22 September 2023 by Delsma Farm, Riebeek-Kasteel.

Ons wou steeds die troue klein hou. Albei van ons het groot gesinne, so ons wou nie meer as 60 gaste nooi nie. Ons troue was ʼn viering van liefde, maar ook die bymekaarkom van gesinne.

Ons troue het soveel vir verskillende mense beteken. Die Here het ons absoluut geseën. Hoe snaaks dit ook al mag klink, ek het die weer bestel. Die Here het na elke versoek geluister en die dag was perfek! ʼn Paar dae daarna was daar ʼn vloed.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: