Theo & Brigitte se Romantiese Verlowing Fotosessie

Theo en Brigitte se romantiese verlowing fotosessie in Pretoria-Oos het ʼn plattelandse voorkoms, maar met ʼn kinkel.  Daar het baie moeite ingegaan om hierdie fotosessie prentjie mooi te laat lyk. Hierdie paartjie se verlowing fotosessie lyk soos ʼn gestileerde trou inspirasie.  Dit is baie meer as net ʼn normale verlowing fotosessie.

Brigitte en Theo se verlowing fotosessie het ʼn industriële, tog elegante voorkoms gehad.  Die ligging te same met die dekor elemente was ʼn wen kombinasie.  Een lang tafel in die middel van die rou baksteen mure van die gebou met groot fabriek vensters skep ʼn die stylvolle voorkoms.  Kleurvolle blom ontwerpe gemeng met die meer neutrale kleurskema skep ʼn romantiese kontras.  Die paartjie het beeldskoon gelyk en het gegaan vir ʼn meer formele voorkoms vir hul uitrustings.  Brigitte het beeldskoon gelyk in ʼn vrolike kort wit rokkie wat sy by LOCA Bridal gekoop het.  Die rokkie het perfek inpas by die hele tema van hul verlowing fotosessie.

Verlowing fotosessies is die perfekte tyd om julle trou fotograaf beter te leer ken, soos in die geval van Theo en Brigitte.  Dit is die perfekte oefenlopie voor jul troudag en so sal julle baie minder gestres voel op julle troue.  Omdat julle meer gemaklik is met die fotograaf en voor die kamera, sal dit julle help om baie meer op jul gemak te wees op jul troudag.

Indien julle besig is om ʼn troue te beplan, besoek Mooi Troues se Trougids vir professionele trou diensverskaffers.  Daar is trou diensverskaffers van regoor Suid Afrika.

Ons is baie opgewonde vir die paartjie se troue in die mooie Karoo dorp van Graaff-Reinet.  Rol af om meer te sien van die romantiese verlowing fotosessie en lees meer oor Theo en Brigitte se liefdesreis as paartjie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Dit was in die dieptes van die pandemie waar almal óf met hulle ex’e gechat het of hulle vingers vol atritis geswipe het op dating apps.  Enige iets vir die dopamien.  Ek en Brigitte het toe wragtig op beide Tinder en Bumble gematch, maar toe nooit mekaar ʼn boodskap gestuur nie.  So paar weke later na ʼn motiverings-video of drie en ʼn bietjie vloeibare moed het ek uiteindelik ʼn dood eenvoudige boodskap via Instagram gestuur: “Koffie?”

Ons het toe rondom die pandemie se “inkomtyd” die koffie opgegradeer na pizza en wyn wat toe so goed gegaan het dat die aandklokreël totaal en al relevansie verloor het.  Ons het tot 1 uur die oggend sterre gekyk, wyn gedrink en die wêreld se probleme opgelos.  Na so paar maande se heen-en-weer kuier het ons begin uitgaan.  Ons het so twee en ʼn half jaar uitgegaan voor ons uiteindelik verloof is.  Hierdie besluit is wel al baie vroeër gemaak en geskimp deur die ratse optom, maar die berekende aktuaris wou wag vir die regte tyd. Die regte tyd is toe sonder enige grappe op die 1ste April 2023.

Die groot vraag:


Ons het verloof geword by Kwafubesi in die Mbula Privaat Wildresevaat op 1 April 2023.  Brigitte het my die dood voor oë gesweer dat sy baie sleg is met verassings.  Dít is bevestig deur vele voorbeelde wat familie en vriende my verskaf het.  Tog wou ek steeds dit só veel van ʼn verassing moontlik hou.  Nietemin, die feit dat ek toe ʼn naweek weg reël vir die eerste keer en nog boonop vir alles betaal was ʼn blatante leidraad dat daar ʼn gons in die lug is.  Ek het ten minste die plek, die ring en hoe ek gaan vra gehou as ʼn verassing vir haar wat toe net die balans tussen afwagting en onverwags in ewewig plaas.

Die Storie …

As ʼn man wat hou van so bietjie drama en ʼn vertoning het ek toe gereël met die personeel by Kwafubesi dat ons daardie oggend die sonsopkoms safari gaan misloop weens Brigitte wat “verslaap” net vir haar om toe die eerste keer in maande dou voor dag opgestaan het.  Ek het toe egter werklik min geslaap as gevolg van die stres vir die groot dag dat ek toe sê ek gaan nog bietjie lê.  Ek het toe skynbaar die personeel “uitgetrap” dat hulle ons nie kom haal het nie en toe ʼn “jammer-sê” safari organiseer.

Ons gids het ons na ʼn uitkykpunt gery en daar ʼn tafeltjie opgestel met vonkelwyn en ander verversings.  Dit was my eerste keer by hierdie uitkykpunt so ek moes improviseer oor my tydsberekening.  Terwyl ons toe die landskap waardeer merk Brigitte op dat daar naamplaatjies van gedenkstene is waar mense se as gestrooi is – ons was nou knie-diep in ʼn begraafplaas.  Brigitte wil toe omdraai terwyl die gids regmaak vir die groot foto en ek stort toe neer, en raak toe my draad kwyt.  Met al die woorde wat ek heel nag voorberei het in my keel het ek toe doodeenvoudig my beste maatjie gevra om my vrou te wees, dit was tog al wat nodig was in daardie oomblik.

Ons besluit toe sommer saam dat dit egter spesiaal is dat ons ons lewens saam kan begin waar so baie mense graag hulle finale rusplek wou hê.  Dit was net ons twee daardie naweek, maar in ons verlowings oomblik was daar generasies van mense wat gegiggel en geglimlag het.

Hoekom ons mekaar liefhet:


My gunsteling eienskappe van Theo is sy onbaatsugtigheid, opregtheid, lojaliteit, integriteit – en my heel gunsteling- sy saggeaardheid.  Om iemand lief te hê was nog nooit só maklik en moeiteloos nie.  Theo volhard tot die einde met alles wat hy aanpak, óf dit nou ʼn werks projek is óf ʼn verlowings naweek beplan, sy hande staan reg vir alles.  Alhoewel Theo soos ʼn tipiese Dagbreek-onderprim lyk, het sy deernis en simpatie geen perke nie.  Hy is my tuiste.

My gunsteling eienskap van Brigitte is haar eerlikheid en haar onverskrokkenheid.  Sy is outentiek en het die hart van ʼn engel.  Sy sal uit haar pad uit gaan om iemand gelukkig te maak en lief te hê. Dit was nog altyd ʼn karaktereienskap wat ek in my ma waardeer het.  Mense wat my goed ken weet ek kan maar vreeslik hardkoppig wees, maar ek waardeer hoe Brigitte my op my plek kan sit en nog boonop uit my maag uit kan laat lag.  Ons is beste maatjies en sy is die eerste persoon vir wie ek ʼn storie wil vertel of ʼn oomblik wil deel.  Ek kon nie vir ʼn beter lewensmaat vra nie.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons troudag is geskeduleer vir die 12de Oktober 2024.  Die karoo klimaat en verskaffers se beskikbaarheid het ʼn groter invloed gehad op die datum as ʼn spesifieke verlowings tydperk.

Die verloofring:


Theo het in Desember van 2022 ʼn breedvoerige powerpoint presentation ontvang met inspirasie foto’s, die ring grootte en juweliers se kontak besonderhede.

Die eindproduk was wel ʼn verrassing.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Dit was ʼn fantastiese geleentheid om vir Nina (van Nina Buys Photography) en Alfred (van Booi Creative) in-persoon te ontmoet.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Die inspirasie vir die fotosessie was oorgelaat aan Alfred. Sy inspirasie vir die tema was Franse romanse.  Campagne Living het die visie só mooi gekomplimenteer en Nina Buys se foto’s bring alles so mooi saam.  Ons kon nie vir ʼn beter trou-span vra nie.  Nina en Alfred se afsonderlike werk styl is merkwaardig met ʼn “Je ne sais quaoi” kwaliteit.

Visie vir droomtroue:


Ons trou in die mooie Graaff-Reinet (waar Theo groot geword het).  Met dié sprokiesmooi landskap is ons droom troue alreeds ʼn realiteit.

Ons inspirasie is: romanties, dramaties en intiem.

Visie vir droomtroue:


Ons trou in die mooie Graaff-Reinet (waar Theo groot geword het).  Met dié sprokiesmooi landskap is ons droom troue alreeds ʼn realiteit.

Ons inspirasie is: romanties, dramaties en intiem.

Meer oor LOCA Bridal:


LOCA Bridal spesialiseer in moderne trourokke vir die stylvolle bruid. Hul liefde vir SA ontwerpers en begeerte om die perfekte droom rok vir ons LOCA bruide te skep, het gelei tot ʼn reeks wat beide grasieus, hewig uniek en werklik pragtig is.

Geleë in die pragtige Port Elizabeth (Gqeberha, Oos-Kaap) is LOCA BRIDAL gebore met die sentimente van alles wat uniek en mooi is in die trou bedryf, en geromantiseer deur die verhale van “Happily Ever After”.

​By LOCA word dinge anders gedoen deur bruide toe te laat om hul gunsteling komponente uit LOCA se ontwerpers reeks te meng en pas om hul eie unieke rok te skep.  LOCA se bruids-inkopie-ervaring is geïnspireerd deur n meer moderne, nie-tradisionele trourok passing.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: