Herman & Natasha se Helderkleurige Troue

Herman en Natasha se helderkleurige troue is definitief ʼn bron van inspirasie vir paartjies opsoek na idees om pienk en helder kleure deel te maak van hul troue.

Die paartjie het by die populêre trou bestemming in Gansbaai, De Uijlenes se Nightjar Venue getrou.  Dit was ʼn gesellige naweek troue met baie pret en goeie herinneringe.  De Uijlenes is bekend vir hul naweek troues waar gaste oornag in hul verblyf opsies en sommer die hele naweek saam kuier.

Natasha se trourok is iets heeltemal buiten die gewone en ons is mal daaroor.  Haar trourok was ʼn kort broek met ʼn los hangende materiaal wat die vorm van ʼn trourok gee. Die troupakkie het baie detail gehad aan die bo kant en die oop rug is baie mooi.  Natasha se strooimeisies het elkeen ‘n pienk broek en baadjie pak gedra i.p.v. rokke.

Hulle het die mooiste buitelug trou seremonie gehad omring deur die natuurskoon en salige geluide van die natuur wat hul omring.  Die pienk kleure van die blom ontwerpe staan só mooi uit teen die groenigheid.

Natasha en Herman se trou dekor was ʼn ontploffing van helder pienk, dit het ʼn Retro-styl aan die dekor se voorkoms gegee.  Die pienk dekor skep ʼn fantastiese kontras teenoor die onthaal lokaal se meer rustieke voorkoms.  Dit werk perfek saam en die hout elemente gemeng met die helder pienk en groenigheid werk só mooi saam.  Hulle het ook hier en daar tropiese elemente ingebring.  Daar was byvoorbeeld vrugte deel gemaak van hul blom ontwerpe en ook gedroogde pampas gras wat gekeur was in skakerings van pienk. Agter die hooftafel was daar ook ʼn helder pienk neon lig wat ons voel die aandag na die paartjie se tafel getrek het.

Rol af om meer te lees oor Herman en Natasha se helderkleurige troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons sê “ontmoet” omdat Herman homself weer moes kom voorstel, want na vele bottels blush by die Robertson Wacky Wine Fees kon altwee net vaagweg ʼn lekker spontane gesprek onthou.

Herman het ʼn roos uit ʼn tuin gepluk met die plan om die aand die roos vir die mooiste meisie by die fees te gee.  Herman het ʼn oulike blonde meisie eenkant sien staan en haar gevra of sy ʼn maatjie soek.

Hy het kamstig nie sy foon by hom gehad nie.  Hy het sy nommer op Natasha se foon gestoor en vir homself boodskappe gestuur om seker te maak dat hul kontak behou.

Natasha het met die roos opgeëindig.  Herman kan met sekerheid sê dat Natasha wel sy maatjie wil wees en die res is geskiedenis!

Die verlowing:

Een van my top 3 gunsteling dae in my lewe. 💍

Top 1 gaan natuurlik aan ons troudag!  Ek verstaan nou waarom mense sê dit is werklik die beste dag van jou lewe!

Top 3 gaan aan die dag wat Herman my op ʼn eerste “official date” gevat het.  Rewind 6 jaar na ʼn classic kuier in @grandwestsa.  Herman het duisende Monopoly dollars gewen.  Net daar en dan met al sy dollars vir my ʼn regte, egte “rosegold” seekat ring gekoop, af gesak op een knie en my toe al gevra om met hom te trou.

Min het ek geweet, dat as Herman my vat, vat hy my nie net fliek toe nie … Hy vat my vir ʼn drive in movie, versier die bakkie met fairylights, direct & voice vir my ons eie fliek, met ʼn “mysterious twist”!

Die groot vraag:

Voordat die fliek begin speel het, het daar foto’s van ons op die groot skerm verskyn.  Ek het agtertoe gekyk na Herman en gedog hy het perongeluk sy foon se screen gecast na die grootskerm toe.  Ek wou hom waarsku om dit af te sit.  Hy het net vir my gesê: “Sjjjuut, kyk daar!” En toe begin Juan Boucher se liedjie, Ons Word Een, speel. Aan die einde van die video het die woorde “Will you marry me?” verskyn.  Herman was op een knie en ek was só verras, dat ek net “Ja, duhh!” kon sê.  Ek wou toe natuurlik nie die fliek klaar kyk nie.  Ons het na die tyd al ons familie gevideo call met die “nuus”, maar almal het reeds geweet.  (Herman het alles beplan, terwyl ek by my ouers in Vryburg gaan kuier het.  Anders sou ek dalk snuf in die neus gekry het).

… Baie lag, baie trane, baie kilometers, baie braai’s, baie katte, baie soene, baie liefies later – en hier is ons!  VERLOOF 💍 Ek is bly sy ego kon darem herstel sodat hy moed bymekaar kon skraap om my weer te vra. 😉

Trourok:


Ek het talle trourokke gepas, maar wou van die begin af iets heeltemal anders en onkonvensioneel hê.  Ek het vinnig besef dat ek nie ʼn tipiese trourok wou hê nie en wou iets hê wat my persoonlikheid uitbeeld.  ʼn Gedurfde idee het in my kop opgekom, en my ouers het voorgestel dat ons by Peter Bondesio uitkom, die ontwerper van ook my sussie se pragtige trourok.  Ek het na my ouers in die Noord-Wes gereis, en hulle het my na Bondesio geneem vir nog ʼn paar aanpas sessies.

Ek het hom toe vertel van die prentjie wat ek in my verbeelding gehad het, en hy was dadelik entoesiasties om vir my ʼn unieke “stoute broekie,” soos hy dit noem, te ontwerp en maak, vol glitter, bling, sequins, veertjies en diamantjie bandjies.  Dit was vir my besonders, en ek het baie tyd saam met my ouers deurgebring tydens die aanpas proses en hulle het elke afspraak saam met my bygewoon.

ʼn Maand voor die troue was my rok nog nie klaar nie.  Bondesio het voorgestel dat ons vir 2 dae na hom toe gaan in Derby sodat ek gereelde passings kon doen.  Hy het ons hartlik in sy huis ontvang, maar die rok was nog nie klaar toe ek terug Kaap toe moes gaan nie omdat al die fyn detail met die hand opgewerk moes word.  My ouers het later my rok gaan optel en saamgebring vir die troue.  Ek het die rok eers ʼn dag voor die troue gesien en was stomgeslaan.  Dit het my verwagtinge oortref.  Die oomblik toe ek die rok sien het, het ek geweet, dit is ek en het toe begin ontspan, en dit was net vlot seil van daar af.

Daar is ʼn grappige storie oor my trouskoene.

Ek het ʼn pragtige paar glitter rosegold blok-hakke by YDE gekoop, maar hulle was effens te groot vir my.  Ek het ʼn video aan my ma gestuur waarin ek die skoene dra en hoe ek daarin loop.  Teen die einde van die week, terwyl ons op pad was om by ons vriende te gaan braai het sy my ʼn stemnota gestuur, baie besorgd oor hoe ek daarin loop en dat ek dringend die skoene moet gaan omruil, want ek kan nie met hakke loop nie en ek gaan soos ʼn gesnyde kat loop. :D.

Die naweek voor die troue het ek en Herman besluit om die skoene te gaan ruil.  In die winkelsentrum het ons by Woolworths ingestap om ons gevolg se broeke te koop.  Terwyl ons by die toonbank was om te betaal, het Herman ʼn ander paar skoene gesien en dit was toe my uiteindelike trouskoene.

Herman het ʼn Milan Chalk pak by Mr. Suit Hire gehuur, en ek kan jou sê, hy het nog nooit so knap vir my gelyk nie!

Verloof- en Trouringe:


Ek het vir Herman verduidelik waarvan ek hou en hy het die ring in Istanbul laat vervaardig.  Ek het geweet dat hy die ring bestel het.  Paar weke later het hy vir my laat weet dat die ring nie Suid Afrika toe gestuur kan word nie en dat die juwelier hom terugbetaal het. Ek het gedink dit is orraait.  Ons het kamstig in die winkelsentrum na ringe gekyk elke keer as ons gaan inkopies doen. Intussen het die ring al vir maande oop en bloot agter in Herman se kas gelê.  Ek is mal oor my roosgoud ring!

Herman wou net ʼn silikoon ring hê, hy het ʼn hoë risiko beroep as “lift installer” en het gevoel ʼn trouring is onnodig.  Ek het ʼn “chocolate & rosegold” ring op ʼn webtuiste gesien, hom gevra of hy daarvan hou, en dit toe bestel.  Beide ons ringe het perfek gepas en het pragtig uitgedraai.

Ons het beide mekaar se ringe aan die binnekant laat graveer.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Natasha:

Die loop in die trougang af aan my Pa se arm, na Herman toe, omring deur soveel mense vir wie ons lief is.  Dit was ʼn ongelooflike ervaring.

Vroeg die oggend toe ons na die honeymoon suite toe gaan, het daar lekker warm stoom by ons hot tub uit getrek.  Dit was ʼn geleentheid wat ons nie kon misloop nie.  Ons het in die water geklim en oor die wonderlike dag gesels.  Herman het my styf vasgehou terwyl hy vir ons gebid het en ons huwelik aan die Here toegewy het, terwyl hy die Here se seën oor ons verhouding gevra het.  Dit is ʼn oomblik wat ek vir ewig sal koester.

Herman:

Om te kyk hoe Natasha in die trougang afstap na my toe met die wete dat dié vrou wat ek liefhet binnekort my vrou sal wees.  Die adrenalien en emosies was oorweldigend.

Meer oor De Uijlenes:


De Uijlenes is die perfekte trou bestemming.  Hulle het nie net een nie, maar twee ongelooflike troues venues vir paartjies om van te kies.  Die bekoorlike Nightjar Venue of die rustieke Old Barn & Forest Venue.

De Uijlenes spesialiseer in ʼn onvergeetlike drie-dag naweek troue met verblyf vir AL (of meeste) van julle geliefde trou gaste op hul eiendom.  Niemand hoef bekommerd te wees oor vervoer nie, want die partytjie is reg waar die hart is.

By De Uijlenes gaan alles daaroor om julle spesiale dag só uniek soos jul liefdesverhaal te maak.  Met hulle ontspanne en prettige atmosfeer, kan julle werklik elke detail pasmaak om julle troue ʼn unieke ervaring te maak.

Elke trou venue sluit ook ʼn gesellige toevlugsoord in, vir julle en jul gevolg om te ontspan en voor te berei vir die feesvieringe wat voorlê.  Dan na die drie dae van feesviering.  Nadat julle trou gaste vertrek het, kry julle ʼn ekstra nag vir net julle twee om te ontspan en al die herinneringe van die naweek in te neem.

By De Uijlenes gaan dit nie net oor die “I Do” nie.  Dit gaan daaroor om mense bymekaar te bring om drie dae lank fees te vier.  Hul het vreugdevure, canapés, vonkelwyn en meer, want liefde is die moeite werd om te vier, en De Uijlenes se span is daar om dit onvergeetlik te maak!

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Al ons diensverskaffers het werklik uitgestaan op ons troudag.  Elkeen het ʼn onmisbare rol gespeel in die skep van ʼn onvergeetlike ervaring.

Oom Christie van LaFlor Events was ʼn absolute plesier om mee saam te werk.  Hy het my idees volledig omhels en het my ʼn gevoel van gemoedsrus gegee in die verloop van die beplanning.

Lieben en Danielle van De Uijlenes was uitsonderlik.  Vanaf die oomblik wat ons die Vrydag oggend ʼn handover meeting met hulle gehad het, het hulle die hele proses oorgeneem en daarvolgens gehandel.  Die hele De Uijlenes-span het moeite gedoen om ons naweek onvergeetlik te maak.

Arline Photography het elke oomblik so mooi vas gevang en ons op ons gemak laat voel voor die kamera.

Elke diensverskaffer het werklik bo-en-behalwe gegaan om ons dag só spesiaal as moontlik te maak.  Ons kan met volle vertroue en dankbaarheid elkeen van hulle aanbeveel.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Ons beveel aan dat julle as ʼn paartjie mekaar volledig moet ondersteun gedurende hierdie proses.  Dit is essensieel om gesamentlik besluite te neem en tyd te maak vir gesprekke oor dinge wat vir julle van betekenis is en moenie alles oordink nie.  Verloor nooit die fokus op mekaar nie.  Onthou dat dit uiteindelik JOU dag is.  Die menings van ander mense behoort nie julle besluite te beïnvloed nie.

Die belangrikste advies wat ons kan gee, is om nooit te vergeet waaroor hierdie dag werklik gaan nie.  Dit is ʼn viering van julle liefde vir mekaar en die gelofte wat julle voor God maak!

Trou Venue:


Ná ʼn troue wat ons ʼn paar jaar gelede bygewoon het by De Uijlenes, het ons albei dadelik verlief geraak op die venue.  Van die begin af was ons beslis dat De Uijlenes die plek is waar ons wil trou. Alhoewel ons na ʼn paar ander venues gaan kyk het, het ons harte reeds beslis op die Nightjar venue by De Uijlenes.  Die feit dat die hele naweek se trouviering, met die verblyf van die helfte van ons gaste op die venue, moontlik was, was ʼn groot pluspunt vir ons.

En alhoewel die woud nie deel was van die Nightjar pakket nie, het ons vir maande gemanifest en bid dat ons in die woud kan trou. (Ons kon net in die woud trou as daar nie ʼn troue in die Old Barn op dieselfde naweek was nie).  Alles het perfek uitgewerk, en daar was ʼn ongelooflike betowerende element om in die buitelug, te midde van ʼn pragtige woud, te trou.  Die gerief van ʼn pragtige onthaal hout kajuit net ʼn paar tree weg het die ervaring nóg meer besonders gemaak.

Vanaf die begin het ek ons dekor-span laat weet dat ons in die woud wou trou en dat ons die paadjie wou versier met pienk pampasgrasse en roosblare.  Natasha se ouers, sussie, en swaer het vir ons ʼn aansienlike hoeveelheid pampasgrasse in die Noord-Wes gepluk langs die snelweg, gedroog, met ʼn haardroër geblaas, en dit na die Kaap vervoer.  Herman het naweek na naweek bestee aan die taak om die grasse pienk te spuit met sy kompressor.  Herman se ma het ook kilogramme roosblare gepluk en gedroog, wat ons in die paadjie gestrooi het. Dit het ʼn pragtige aanvulling tot die atmosfeer van die trou seremonie bygevoeg.

Trou Dekor en Styl:


Die voorkoms en gevoel was rustieke elegansie met ʼn toevoeging van tropiese elemente en fyn detail.

Die kleure was ‘hot pink’ met ʼn verskeidenheid pienk skakerings.  Saamgesnoer met ʼn verskeidenheid groenigheid en droë elemente, pienk pampas grasse, waarby pomelo’s en lemoene as deel van die dekor ingesluit was.  Die romantiese aankleding is aangevul deur ‘fairylights‘ en ‘naked bulbs‘.

Ek was in my element met die dekor besluite wat Herman aan my oorgelaat het. Hy stem ingestem met die pienk kleurskema, mits hy nie ʼn pienk pak, das, of onderbroek hoef te dra nie.  Hy het darem ingestem vir die pienk skouer ruiker. 😉

Oom Christie van LaFlor Events & Dekor het my idees ten volle verstaan en my verwagtinge in die dekor oortref.  Die tafel dekking was eenvoudig, met enkel blomme in glas potte, omring deur ʼn oorvloedige hoeveelheid groenigheid en sagte kerse.  Ons het ook hangende groenigheid gedoen, gekombineer met die pienk pampasgrasse vir ʼn unieke dekorasie.  Verskeie tafels het verskillende hoogtes gehad vir die dekor, wat die pienk skakerings pragtig in die hout saal laat pop het.

Dié meisie wou net ʼn neon lig agter haar laat hang het, en ons het ʼn pienk bord laat maak met die inskripsie “Lekker Bekkers”.  Die hooftafel was spesiaal met ʼn blommeloper vol pienk blomme, pomelo’s en lemoene. Die tafelnommers was ook verlig met LED-liggies.

Gaste geskenkies:

Vir sitplek aanwysers het ons vir elke gas ʼn karikatuur portret geskets, wat ook deel van die dankie geskenkies gevorm het.  My sussie (Maid of honour) het hierdie portrette en die bybehorende etikette ontwerp.  Dames het elkeen ʼn rabarber konfyt potjie gekry met ʼn etiket wat sê “Stroopsoet soos Natasha”, terwyl die mans chilli sous met etikette wat sê “Hardegat-SOUS Herman” ontvang het.  My sussie se skoonma (Uitspan kombuis) het hierdie geskenkies vir ons vervaardig.  Die idee vir dié etikette was Herman se idee.

My ouers en my sussie het ook my verwelkomingsbord droom laat realiseer deur ʼn week voordat hulle af gekom het Kaap toe bord skildery te laat sny, en viniel plakker te laat druk wat as verwelkomingsbord en sitplek aanwysers gedien het.

Trou Begroting en Beplanning:


Herman en Natasha het vir vyf maande aan hul troue beplan.  Hulle het 67 gaste onthaal en die koste van hul troue het ongeveer R2 700 per kop uitgewerk.

Eerste Dans:


Juan Boucher – Ons Word Een


    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: