De Klerk & Tylo se Verrassings Verlowing in Montagu

De Klerk en Tylo se verrassings verlowing in Montagu was soos iets uit ʼn sprokies verhaal.  Die pragtige uitsigte oor die berge vanaf die pas buite Montagu is só mooi en die perfekte agtergrond vir ʼn verrassings verlowing.

De Klerk het Tylo verras met ʼn piekniek styl verlowing waar baie moeite ingesit was om oulike dekor elemente te inkorporeer en ʼn gesellige en romantiese hoekie te skep wat perfek is vir die groot vraag.

Tylo, wat die volgende week ʼn vraestel moes skryf moes omtrent oorreed word om wel saam te ry na die pas toe.  Verskillende planne moes beraam word om Tylo weg te kry vanaf haar boeke.  Hierdie is só ʼn oulike storie en julle sal meer moet lees hieroor in die paartjie se antwoorde hieronder.

Daar was ʼn fotograaf gereël om die spesiale oomblik vas te vang in die mooiste foto’s.   Dit is só belangrik om ʼn professionele fotograaf te huur indien jy beplan om jou meisie of outjie te vra om te trou.   Herinneringe soos dit verdien om vasgevang te word in pragtige foto’s.

Is julle onlangs verloof en besig om jul troue te beplan?  Besoek Mooi Troues se Trougids vir oulike trou diensverskaffers vir julle troue.

Die paartjie trou in Mei maand by Sweetfontein in die hartjie van die Karoo en ons kan nie wag om hulle troue te sien nie.  Rol af om meer te lees oor die paartjie se padjie saam.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het ontmoet aan die einde van ons eerstejaar by ʼn vriende Kersete en dit was nie eers tot ʼn paar maande na dit waar ons eintlik eers begin het nie.  Ons het 2 jaar uitgegaan toe ons besluit het om verloof te raak.

Die groot vraag:


Waar:

Montagu pas.

Wanneer:

13 September 2023, die laatmiddag.

Hoe:

De Klerk het met La Luna Events and Celebrations gereël om alles op te stel en deur hulle vir Shavaune (fotograaf) ook.  Hulle het ons in gewag op die pas en alles op kamera vasgevang.
Ek was besig om te leer, want ek het die volgende week ʼn vraestel geskryf.  Met die hoop om my te laat mooi aantrek het my ma die oggend vir my gesê dat ek later die dag as ʼn studie-breuk saam met haar moet winkelsentrum toe gaan.  Die plan het nie gewerk nie en ek het een van my lelikste studie pakkies aangehad. Na die vinnigste winkelsentrum uitstappie van my lewe het ek weer aan die leer gekom.

My ma het vir De Klerk gebel terwyl hy in my kamer was en ek kon die hele gesprek hoor.  Sy het vir hom gesê dat haar vriendin met haar fiets ʼn pap wiel gekry het en dat ons met De Klerk se bakkie moes gaan help.  Ek wou glad nie saam ry nie, want ek wou leer … Na baie gesmeek om saam te ry was ek in die kar.  Ek dink nie ek was die maklikste passasier nie, want ek het heeltyd net vir De Klerk vertel hoe ek nie eintlik dit nou kan bekostig nie en moet leer.

Die plan:

Hy het later begin lag en met trane in sy oë vir my gesê dat oor 4 minute gaan ons arriveer by die plek en dat ek agter my sitplek moet kyk … Daar was klere en grimmering om myself gou in 4 minute reg te kry.  Ek het oor geklim na die agterste sitplek en vinnig probeer red wat te redde was.  Ons het op die mooiste plek gekom en hy het op een knie gegaan en met die mooiste ring my hand gevra.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Tylo sal nooit laat ʼn kamer bepaal wie sy is nie.  Sy staan sterk in haar waardes en haar fondasie, wat God is.

De Klerk laat almal in ʼn vertrek ewe belangrik en gehoor voel.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons trou 4 Mei 2024, so ons gaan altesaam so bietjie meer as 7 maande verloof wees.

Die verloofring:


Ek het lank terug vir hom gewys waarvan ek hou, byvoorbeeld vorm diamant, en hy het alles verder gereël.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Dit is een van die grootste oomblikke van jou lewe, die dag wat jy en jou lewensmaat die besluit maak om ʼn verbond te sluit.  Hoe kan mens nou nie die oomblik op kamera wil vasvang nie en jare later sal ons weer kan terug kyk na die oomblik.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ek wou al lankal een oggend gaan koffie drink op Montagu pas, so De Klerk het geweet ek dink dit is baie mooi.  La Luna het vir Shavaune Photography gereël, maar ons kon dit nie self beter kies nie, haar foto’s is só mooi.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Verwagtinge:

Om net nader aan mekaar en God te groei, om mekaar op nog meer vlakke te leer ken en om voor te berei vir ‘n suksesvolle huwelik. Ons verwagtinge is definitief om te sien hoe God net weer in hierdie seisoen ons gaan leer en voorsien.

Vrese:

Ek sal nie sê ons het vrese nie, want ons plaas die hele proses in God se hande.

Visie vir droomtroue:


Ons droom troue behels al ons naaste vriende en familie op een baie mooi plek waar ons saam fees kan vier en waar daar baie gelag en gedans word.  Ons wil ‘n troue het waar in elke deel God se teenwoordigheid gevoel sal word.  Fisies gewys sal ek sê oorbodige blomme en kerse, asook oorgenoeg kos.  Sweetfontein, ons trou venue, bevat en bied elke liewe een van die aspekte en ons kan nie wag om fees te vier in die hart van die Karoo nie.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: