Jean & Sandra se Verlowing Fotosessie op die Hartbeespoort Damwal

Jean en Sandra se verlowing fotosessie op die Hartbeespoort Damwal is ʼn eerste vir ons by Mooi Troues.  In Suid Afrika is ons regtig baie bederf met pragtige liggings wat só mooi vertolk op foto’s.  Hierdie paartjie se fotosessie laat jou visuele verbeelding op ʼn reis gaan.  Die paartjie het omtrent pret gehad tydens die fotosessie en daar was baie groot glimlagte.   Ons hou van die paartjie se swart uitrustings wat ʼn meer formele voorkoms gee in kontras met die agtergrond.  Dit werk perfek vir die ligging en dit gee die foto’s ʼn klassieke gevoel.

Daar is baie redes hoekom dit belangrik is vir paartjies om ʼn verlowing fotosessie te doen.  Een van daardie redes is om meer gemaklik te word met julle trou fotograaf en die persoon beter te leer ken.  Julle trou fotograaf is seker die persoon wat die meeste tyd saam met julle sal deurbring op jul troudag.  So dit is belangrik om goed oor die weg te kom met jul trou fotograaf en gemaklik te voel in die persoon se teenwoordigheid.

Mooi Troues se aanlyn trougids lys talentvolle trou fotograwe van regoor Suid Afrika.  As julle nog nie gereed is om te besluit op ʼn trou fotograaf nie, bespreek solank verlowing fotosessies by julle kortlys fotograwe en voel met wie julle meer gemaklik is.  Dit gaan ook oor die fotograaf se styl en of julle van die resultaat hou.

Verlowing foto’s is ook sommer ʼn goeie oefenlopie vir jul troudag.  So is julle sommer op jul gemak wanneer die troudag kom en julle voor die kamera moet wees.  Rol af om meer te lees oor Jean en Sandra se verlowing fotosessie op die Hartbeespoort Damwal en geniet die foto’s.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Jean was graad 12 en ek (Sandra) graad 10 toe ons einde 2017 op die tennisbaan ontmoet het.  Jean het sy dae op die tennisbaan deurgebring, en ek wou net weer na ʼn paar jaar my tennisraket afstof.  Ons het ʼn paar maande later op 24 Maart 2018 begin uitgaan.  Ons het 4 jaar en 9 maande later verloof geraak.

Die groot vraag:


Die verlowing was op 24 Desember 2022 in Noordhoek.  Jean het ʼn “beach outride” vir ons gereël, omdat ek al van kleins af perd ry.  Dit was nog altyd ʼn droom was om op die strand perd te ry.  Ons het na die uit rit ʼn piekniek op die strand gehad, waarvolgens Jean toe op sy knieë gegaan het en die groot vraag gevra het.  En ek het natuurlik ja gesê!

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons beplan om minder as ʼn jaar verloof te wees.  Ons troue vind op 16 Desember 2023 plaas, ʼn paar dae voor ons verlowing in 2022.

Die verloofring:


Ek het saam met Jean my idees en wense bespreek, maar ek wou dit ʼn verrassing hou.  Jean het toe self die ring by Browns gekies.  Dit was ʼn groot verrassing vir my omdat hy ʼn mooier ring gekies het as wat ek ooit kon verwag.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons verlowings fotosessie was nie in ons pakket ingesluit nie, maar dit was vir ons baie belangrik om op so ʼn manier ons fotograaf te leer ken.  Dit is baie makliker om so die fotograaf “in aksie” te beleef en te kan besluit of jy gemaklik voor hulle kan wees (of nie).  Die grootste ding waarop ons ook moes besluit, is of ons van die fotograaf se styl hou.  Ek het baie gesukkel om op ʼn fotograaf te besluit, omdat ek voel dat dit een van die belangrikste dinge vir ʼn troue is – en foto’s een van die belangrikste herinneringe is wat na die troue agter bly.

Danny (Danielle) was baie professioneel en het ons baie gemaklik laat voel, en haar styl was vir ons altwee baie mooi.  Sy het ook baie aandag aan die “editing” van die foto’s gegee, en ons het aan die einde van die dag amper vyf keer meer foto’s gekry as wat ons eintlik moes kry!  Ons beplan om ʼn paar van die foto‘s in ons huis op te sit, maar dit is baie moeilik om op ʼn paar te besluit.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ek wou nog altyd op ʼn vriendin se plaas met hul kersiebloeisels foto’s neem.  Maar hierdie jaar was daar nie genoeg die bloeisels vir foto’s nie.  Ek het toe op ʼn fotograaf se Instagram-profiel gesien dat hulle foto’s by Hartbeespoort se damwal geneem het.  Ek het dadelik gedink dat ons ook daar foto’s kan neem omdat ons en Danny naby Harties bly.  Danny het goeie leiding in terme van “poses” gehad, en ons wou graag hê dat sy haar eie styl vir die foto’s moet gebruik sodat dit realisties vir ons troudag kan wees.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: