Garrick & Chandré se Fees van Kleur Troudag in Stellenbosch

Garrick en Chandré se fees van kleur troudag in Stellenbosch is ʼn fees vir die oog wat baie trou inspirasie bied vir paartjies wat besig is om hul troue te beplan.  Garrick en Chandré het hul kleurvolle troue in die Kaapse Wynlande vanaf die VSA beplan met hulp van ʼn trou koördineerder.

Hul troudekor was ongelooflik stylvol gedoen met eenvoudige tafel doeke, wit geverfde rottang stoele en tafel dekor wat nie oorbodig is nie.  Die gebruik van verskillende teksture en kleur het in die troudekor gekom met vrolike blom ontwerpe en pragtige kerse in verskillende vorm en kleur.   Die trou venue is opgehelder met blom ontwerpe wat van die dak hang en om die hele styl af te rond is die gebruik van baie gloeilampe.

Hul seremonie area is ook vol inspirasie met die trougang wat bedek is met ʼn blink spieëlagtige vloer oppervlak wat die kleurvolle blom ontwerpe reflekteer.

Chandré het soos ʼn prinses gelyk in ʼn noupassende trourok van blink en interessante materiaal met ʼn romanties oorrok wat beweging aan die trourok gegee het vir hul seremonie.  Haar trourok het sy in Scotsdale, VSA gekoop.

Ons by Mooi Troues het deur die jare betroubare diensverskaffers opgeteken by ons aanlyn trougids om paartjies wat hul troue beplan te help om hul droomdag te bewaarheid, klik hier om Mooi Troues se aanlyn trougids te besoek.

Rol af om geïnspireer te word deur Garrick en Chandré se fees van kleur troudag in Stellenbosch vir jul eie troue.  Ons hoop jul geniet die pragtige fotos en die paartjie se liefdes storie.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek en Garrick was in verskillende laerskole, maar ek het deur sport baie van die meisies in sy laerskool geken.  Ek was by Vrydagmiddag tennis na ʼn vriend se verjaarsdag toe genooi waar ek toe vir Garrick ontmoet het.  Ons was altyd deel van dieselfde vriendekring en het altyd kontak.  Ons was niks meer as vriende nie tot in Matriek nie.  In Matriek het ons het al meer en meer begin praat en het in die middel van my eindeksamen het Garrick my een aand na my vraestel uitgevra.

Ons verlowing was baie spesiaal.  Ons het die besluit saam bespreek, so ek het geweet die groot vraag kom, maar ek het geen idee gehad wanneer nie.  Garrick se broer, Michael het vir my en Garrick gevra of ons nie wil mooi aantrek en gaan middagete kry in die Kaap nie.  Ek love sulke goed, so ek het dit nie eers bevraagteken nie en gaan klaar maak.  Ek het niks daarvan gedink die omdat sy broer dit voorgestel het.

Min wetende het Garrick reeds alles beplan en onthou om ʼn fotograaf te reël vir die groot vraag soos ek geskimp het van die begin af.  Sy broer was toe ook daar om foto’s te neem sodat ons die spesiale oomblik kon vasvang.  Daarna het Garrick en ons al twee se families gereël dat ons almal by een van my gunsteling wyn plase na die tyd bymekaar kom om saam fees te vier.  Dit was perfek!

Trourok:


Ek het nie presies geweet wat ek wil hê nie, maar ek het geweet wat ek nie wil hê nie.  Ek het geweet niks wyd of lomp nie, niks te eenvoudig nie, en niks wat ek al baie van tevore gesien het nie.  Soos ek begin aanpas het, het ek meer geweet wat ek wil hê; iets nou-passend maar ʼn romantiese overskirt vir die aisle sodat ek nogsteeds daai prinses effek kan hê.  Ek wou iets gehad het wat blink, iets met 3D-Appliqué, interessante materiaal/lap en iets wat baie gemaklik sit- en dis presies wat ek gekry het.

Ek was saam met Garrick in Scottsdale, Arizona vir ʼn golf toernooi en het die dag voor die toernooi begin het ʼn afspraak gemaak by Schaffers Bridal.  Een van die eerste rokke wat ek aangepas het was die rok wat ek gekies het.  Ek het dadelik foto’s gestuur vir my ouers, en hulle het ook daarvan gehou.  Die assistent by die winkel het vir my die overskirt gebring wat sy gedink het daarby sal pas, asook ʼn veil.  Ek het beide die veil en die overskirt aangetrek en my ouers video call.  Ons het almal dadelik geweet dis perfek.

Details van die trourok

My trourok, overskirt en veil is gemaak deur Eddie K Bridal.  My rok se onderkant is room kleurig met ʼn blink deurskynende laag materiaal bo oor wat ook tekstuur by bring.  Die blink laag het ook 3D Appliqué blomme en ander fyn details soos die pêrels op wat my gunsteling deel is.  Die plasing van die 3D Appliqué is vreeslik goed gedoen en is baie verslanking.  Fyn krale op die rok se bandjies maak die bandjies baie mooi asook gemaklik.  Die rug met die “tatoo” effek van die 3D Appliqué agter en onder die arms maak die rok sexy sonder om te veel te wys.

My gunsteling deel van die overskirt is die horse hair trim by die soom van die rok.  Dit laat die romp mooi vloei tot op die vloer en bring beweging in die romp en laat dit nie net val tot op die vloer nie.  Dis iets wat ek oorspronklik in my rok wou gehad het, maar omdat dit bitter skaars is was dit nie ʼn opsie nie.

Ek het die rok by Schaffers Bridal Boutique gekoop.

Verloof- en Trouringe:


Garrick se ring is sy oorlede Pa se ring en beteken onbeskryflik baie vir hom.  Sy ma het voorgestel dat ons dit kan kry/gebruik sou ons wou en dit was ʼn baie maklike JA van ons al twee se kant af. Ons is baie sentimentele mense en het die voorstel gelove.

My verloof ring is ʼn Brown’s ring wat deel is van hulle Protea reeks.  Dit was vir ons al twee spesiaal omdat ons so min in Suid Afrika is, is die nasionale blom op my verloof ring baie betekenis vol vir ons.  Dis iets van Suid Afrika wat ons altyd by ons sal hê.

My troupant het baie vinnig gebeur.  ʼn Vriendin in Amerika het my gevra wat ek beplan het vir my troupant.  Ek lag toe en sê ek het nog niks gedoen of beplan nie.  Sy het ʼn vuur onder my aangesteek en my aan haar juwelier voorgestel.  Hulle albei het my toe gehelp om my pant te kry.  My pant is ʼn Ashoka cut, gepatenteer deur Kwiat, dis ʼn speling op die emerald snit diamant, behalwe dat die Ashoka se fasette kleiner gesny is as die emerald s’n sodat die lig nie in die middel kan deur val.  Hierdie juwelier Alicia Stuard, het ʼn affiliasie met Kwiat en sy het my pant binne ʼn week by my gekry.  My pant is ʼn East-West Ashoka cut eternity band.

Trou Dekor en Styl:


Ek het van kleins af geweet ek soek iets met helder kleure.  ʼn Troue is vir my ʼn feesviering van ons liefde en van God se goedheid dat Hy daardie twee mense saam gebring het.  Ek het geweet ek wil hê die kleur skema, dekor en stel van die troue moet dié boodskap oordra.  Jessica het ongelooflike werk gedoen en dit is presies hoe ons troue gevoel het.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Definitief hoe lekker almal die hele aand gedans het, niemand het ooit gaan sit nie.  Die kos, mense vra my nog steeds vrae oor die kos.  Hoe lekker dit was om almal bymekaar te wees – vriende en familie van oor die wêreld.  Hoe goed alles verloop het.  Alles was perfek en daar’s nie ʼn enkele ding wat enigeen van ons twee sal wil verander nie.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


  • Jessica ons koördineerder het alles perfek gemaak.  Sy is die vriendelikste, warmste mens en niks is ooit te veel moeite vir haar nie.  Daar straal ʼn warm dierbare lig van haar af en haar sagtheid en hoe goed sy alles gereël het gemaak dat ek die troue net kon geniet.
  • Sjef Ollie, hy is ʼn fees en sy kos proe soos een.
  • Die roomys stalletjie was ʼn wenner.
  • Die platejoggie het ongelooflike goeie werk gedoen en liedjie na liedjie wou niemand “dare to miss” nie- ek dink nie enige iemand het die hele aand gesit nie.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Moenie teveel raad vra nie en doen wat jy en jou verloofde wil doen.  Praat met jou koördineerder en hou dit tussen julle 3, anders raak mens vinnig deurmekaar.

Moenie te rigiede idees hê van hoe hulle alles moet wees nie, maar eerder ʼn algehele “vibe”.  Jy set jouself op vir teleurstelling as jy te presies wil wees, dis onnodige stres.  What will be will be – onthou waaroor dit eintlik gaan.

Om stres van jou eerste dans af te haal laat almal rondom die dans vloer staan, op hierdie manier is almal reg om in te val sodra julle klaar gedans het en almal sit nie net en staar vir jou dans nie, maar voel hulle geniet dit saam met julle.  Hierdie raad het ons ontvang by John Murray toe ons by sy dans skool vir lesse was.

Trou Venue:


Ons wou al twee ʼn venue gehad het wat Stellenbosch in al sy glorie vasvang omdat dit die plek is waar ons ontmoet het en groot geword het – en baie spesiaal is vir ons al twee.

Ek het Molenvliet gesien in Junie 2022 saam met my gesin.  Op die stadium het ons nog glad nie begin dink aan wanneer die troue sal wees nie.  Maar ek het dadelik verlief geraak op Molenvliet en het foto’s geneem van alles om vir Garrick te wys.

In Februarie 2023 het ek en Garrick begin kyk na datums wat sal in pas by die golf skedule en toe ons finaal op ʼn datum besluit toe wys ek hom die foto’s van Molenvliet en se ek hoop rêrig hierdie venue het ons datum oop.  Garrick raak toe ook verlief op die venue na hy die foto’s gesien het en sê ek moet hulle dadelik bel en hoor of hulle dit oop het.  En soos dit toe werk het hulle net daai naweek oop gehad vir daai maand.

Meer oor Wilgenhof Estate:


Wilgenhof Estate is gebaseer in Suider-Paarl en is ʼn trou dekor verhurings maatskappy wat spesialiseer in ʼn groot verskeidenheid tafels, stoele, dansvloer en vele meer.

Eerste Dans:


Michael Bublé – Everything

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie se trou koördineerder het 6 en ʼn half maande aan hul troue beplan.  Hulle het ongeveer 130 gaste met ʼn begroting van R1,100 000 spandeer.  Die koste het so R8 400 per persoon uitgewerk.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: