AB en Yocké se selfdoen troue in die Oos-Vrystaat is ʼn vrolike kleur ontploffing en bied buite die norm trou inspirasie vir paartjies. Die karooagtige landskappe waar die paartjie getrou het is kontrasterend met die plof van kleur van hul Lente troue. Ons lojale lesers sal die paartjie herken van hul Luukse trein verlowing fotosessie op die bekende Rovos Rail wat ons voorheen gepubliseer het.
Die paartjie het by The Rosendal Country Estate in die Oos-Vrystaat getrou. Yocké vertel die plek het baie betekenis vir hulle en daarom was dit perfek om die naweek van hul troue daar te spandeer. Die Vrydag aand voor hul troue was daar ʼn gesellige braai saam met vriende en familie. Van die gaste kon The Rosendal Country Estate se akkommodasie bly. Die venue het ook die spyseniering en kroeg behartig.
Yocké se trourok het sy self ontwerp met ʼn pofferige onderkant en ʼn korset gevul met diamante en pêrels wat deur haar moeder en vriendin gemaak is. Haar voorkoms is afgerond met ‘n groot wit hoed en skokpienk skoene wat dieselfde kleur is as haar strooimeisies se rokke. Die dames het almal groot handwaaiers gehad wat pragtige versier is met kleurvolle blomme en die kêrels het boutonnieres gehad uit dieselfde blomme.
Hierdie troue is absoluut selfdoen en ons by Mooi Troues is opgewonde dat ons lesers dié troue kan sien. Die tafel dekor is minimalisties, tog treffend met kleurvolle blomme en kaktusse om die karooagtige landskappe te komplimenteer. Veer bedekte ligte wat in die venue van die dak hang bied ‘n warm boheemse atmosfeer. Al die dekor se kleure is goed deurgedink. Sjoeh, die troukoek bedek met honderde skympies lyk te mooi om te eet!
Rol af en word geïnspireer deur AB en Yocké se vrolike kleur ontploffing selfdoen troue.
Paartjie se Liefdesreis:
Op ʼn skitterende dag in Bloemfontein, waar die lug met opwinding van ʼn nuwe universiteitsjaar sigbaar was, het ons lewensverhaal begin. Ons paaie het gekruis in ʼn koshuis tydens ons eerste jaar. Dit was ʼn toevallige ontmoeting, of miskien was dit bestem om so te wees. Dit was nie lank voordat ons ʼn gesamentlike liefde vir koffie en ʼn passie vir mekaar gedeel het nie. In daardie oomblikke van geselskap en glimlagte het ons hals oor kop verlief geraak. Van kleins af het ons gebid vir ons lewensmaat en ons het dadelik geweet dat die als van God af was.
Drie pragtige jare het verbygegaan terwyl ons ons universiteits toekomste saam bewandel het. Ons het saam geleer, gelag en mekaar lief gehê. Toe ons uiteindelik graad vang, het ons ʼn nuwe hoofstuk in ons verhaal geopen deur verloof te raak.
Ons verlowing was besonders spesiaal, dit het op my man se familieplaas in die asemrowende Drakensberge plaas gevind. Wat aanvanklik bedoel was om ʼn nuwejaar sonsondergang te wees met drankies op die berg, was in werklikheid ʼn deurlugte beplande verrassing – ʼn verlowing wat vir ons altyd in die sterre geskryf was.
Trourok:
My trourok was uitsonderlik spesiaal, want dit was ʼn unieke ontwerp wat deur my ma en haar vriendin ontwerp was. Ek het ʼn duidelike prentjie in my kop gehad van hoe my rok moes lyk. Dit moes ʼn afwyking wees van die gewone, met ʼn groot onderkant en ʼn korset wat pronk met ʼn rykdom van diamante en pêrels. My ma en haar vriendin het met ʼn onfeilbare begrip van my visie hul taak aangepak.
Verloof- en Trouringe:
Ek het van die begin af geweet hoe my ring moes lyk goud, fyn en klein. My ring was ontwerp deur HDL Jewellers , hulle werk was nog altyd pragtig en ek het geweet dit is waar ek hom wou laat maak. Omdat my diamant ovaal is wou ek graag ook my diamante in my troupant ovaal hê.
AB het net een voorwaarde gehad toe dit kom by sy trouring en dit is dat dit uit tungsten moet wees. Dit was nie baie moeilik om so iets in die hande te kry nie, maar omdat sy vingers so klein was moes ek by ʼn juwelier een laat maak.
Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:
Ons gunsteling herinneringe van die troue was die klein oomblikke. Dit was die onverwagte oomblikke, soos ʼn liefdevolle blik, ʼn snaakse voorval, of ʼn hartlike omhelsing, wat die mees onvergeetlike herinneringe gevorm het. Familie en vriende wat ons toevou in liefde, het daartoe bygedra om die dag besonders te maak.
Meer oor The Rosendal Country Retreat
The Rosendal Country Retreat, bied 2 unieke trou lokale. The Gallery wat 80 gaste kan akkommodeer, met ʼn pragtige uitsig oor die berge en The Ballroom wat plek het vir 120 gaste en ʼn meer oud-wêreldse gevoel het met groot sandsteen kaggel en magiese feetjie liggies.
Ons verskaf die kos en kroeg en basiese elemente soos, tafels, stoele, breekware en eetgerei ingesluit in die prys.
Die akkommodasie is 12 selfsorg eenhede moet goed toegeruste, moderne afwerkings.
Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:
Geniet elke oomblik van beplanning tot die trou dag, dit gaan in ʼn oogwink verby.
Trou Dekor en Styl:
Vanaf ʼn jong ouderdom het ek geweet dat my droomtroue nie ʼn gewone en alledaagse affêre sou wees nie.
Toe ons verloof geraak het, het ek, my ma en haar vriendin dadelik begin brainstorm oor hoe ons ʼn unieke twist aan ons troue kon gee. My man en ek deel ʼn liefde vir kleur, en ons was vasbeslote dat ons troue ʼn vrolike kleur ontploffing moes wees. Die res van die besonderhede was nog vaag, maar na maande se beplanning en dinkwerk, het ons besluit om ʼn tipe van ʼn Mexikaanse/Boho tema te kies.
Trou Venue:
Ek is afkomstig van die Oos-Vrystaat, en om daar te trou was altyd my droom. Hier het ek grootgeword, en hier lê my hart. Ek het ʼn helder prentjie gehad van hoe my droomtroue sou wees, en toe ek die venue sien, het ek dadelik geweet dat dit die perfekte plek is.
Die pragtige Oos-Vrystaatse venue het naatloos aangesluit by ons tema en het presies weergegee wat ons gesoek het. Dit was ʼn unieke en betekenisvolle plek vir ons, waar liefde en herinneringe saamgevleg het om ʼn onvergeetlike ervaring te skep.
Trou Begroting en Beplanning:
AB en Yocké het 8 maande self aan hul troue beplan en 130 gaste of hul troudag onthaal.
Eerste Dans:
Wanna Be That Song- Brett Eldredge
- Venue + koördineerder: The Rosendal Country Estate | Kontak
- Fotograaf + Videograaf: Foxline Productions | Kontak
- Blomme: Multiflora | Kontak
- Bruidegom-pak: Your Pal Men’s Boutique | Kontak
- Dekor + Fotohokkie: Marischal Barnard + Ina Van Jaarsveld
- Gaste Geskenke: Yocke Vermaak (Bruid)
- Grimering: Carisa Taljaart
- Hare: Hair by Angie
- Huwelik kontrak: Ben Klut
- Huweliksbevestiger: Petrus Van Rooyen
- Juweliersware: Lovisa
- Musiek: DJ Emissary
- Strooijonkers bykomstighede: Woolworths
- Skoene: Fochini
- Skryfbehoeftes: Yocke Vermaak (Bruid)
- Spyseniering: Yocke Vermaak (Bruid)
- Strooimeisie-rokke: VONGA
- Trourok: Marischal Barnard & Ina Van Jaarsveld
- Bruid se Trouring: HDL Jewellers | Kontak
- Bruidegom se Trouring: Aurora Gems| Kontak
- Troukoek: Yocke Vermaak (Bruid)
- Wittebrood Bestemming: Bali + Singapore
- Wittebrood Plek: The Royal Purnama