Jaco & Linné se Romantiese Troue in Franschhoek Vallei

Met groot opgewondenheid deel ons Jaco en Linné se romantiese troue op La Roche.  Dit is vir ons uiters spesiaal om die paartjie se liefdesverhaal met Mooi Troues se lesers te deel.  Na ʼn verhouding van 8 jaar, waarvan 6 van die jare langafstand was, kon die paartjie uiteindelik die knoop deurhak op die betowerende La Roche Estate.

Die seremonie in die kapel was ongelooflik mooi.  Omring deur water en gekomplimenteer met onvergeetlike landskappe, het dit soos ʼn regte sprokiesverhaal gelyk.  Dit is baie spesiaal om so ʼn intieme oomblik in só ʼn betowerende bestemming te beleef.

Die romantiese paartjie foto’s op die uitnemende La Roche kon nie beter vasgevang word nie.  Ons is mal oor elke agtergrond in die fotosessie.  Dit het al te fraai uitgekom!  Met panoramiese uitsigte oor hul versorgde tuine en wingerde, omring deur majestueuse berge, spog La Roche Estate met die beste wat die gasvryheid bedryf kan bied.

Die dekor in die onthaal lokaal het só elegant gelyk.  Wit kerse en wit rose was die hoof dekor elemente.  Met die tradisionele wit kleurskema en die liggies wat algeheel moeiteloos alles komplimenteer, het dit baie pragtig gelyk.

Die troue is beslis ʼn goeie voorbeeld van hoe minder meer kan doen.  Die minimalistiese en elegante benadering tot trou dekor sal jou nooit in die steek laat nie.  Mens kan nie help om verlief te wees op die algehele gevoel en voorkoms van ʼn tradisionele wit troue nie.

Rol af om meer te lees oor Jaco en Linné se troue en om meer te lees oor die paartjie se liefdesreis.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het die eerste dag van graad 1 ontmoet maar eintlik eers vriende in Graad 10 begin raak en einde graad 10 begin uitgaan.  Ek en my ouers het einde matriek van Gauteng af Stellenbosch toe getrek.  Ons het dus van einde 2016 tot middel 2022 ʼn langafstand verhouding gehad.  Die verhouding was dus nie alles sonskyn en rose nie.

Vir 6 jaar lank moes ons ʼn verhouding oor die foon laat werk het.  Ons het mekaar eenkeer elke 3 tot 6 maande gesien en soms was dit net vir ʼn naweek lank.  Na baie aande se bid het Jaco se werk ʼn tak in die Kaap oop gemaak.  Jaco het kort daarna Kaap toe verhuis en drie maande later het hy my gevra om te trou.

Die Verlowing

Sy familie het my laat dink dat hulle hom gaan kom verras vir ʼn naweek in die Kaap.  My skoonsussie het my laat dink dat sy ʼn fotograaf gereël het vir ʼn fotosessie, by Klein Roosboom Boutique Winery.  Dié fotosessie het omtrent vir ʼn uur aangegaan waar daar foto’s van my swaer en sy vrou geneem is, asook van ek en Jaco en van ons almal saam.

Die fotograaf het aangekondig dat ons sessie amper klaar is.  Ek en Jaco het in ʼn wingerd omgestap, vir ons laaste paar foto’s, waar hy op sy knieg gegaan het en my gevra het om sy vrou te wees.  Toe hy my gevra het om sy vrou te wees het hy Rut 1:16-17 vir my voorgedra waar hy gesê het “where you go, I’ll go and where you stay, I stay”.  Die versie dra soveel betekenis aangesien hy regtig my kilometers ver Kaap toe gevolg het.

Nadat hy my gevra het en ons mekaar omhels het, het ons kant toe gekyk na die fotograaf waar beide van ons families gestaan het, om ons geluk te wens.  Daar was nog ʼn fotosessie met net my en Jaco en daarna het ons aan gesluit by ons vriende en familie vir ʼn piekniek.

Trourok:


Ek het van die begin af geweet ek wil ʼn trourok sonder frilletjies en fralletjies hê.  Alhoewel ek presies geweet het wat ek wou hê, moes ek steeds 30 rokke aanpas en na ʼn verskeidenheid van trourok winkels toe gaan voor ek die regte rok gevind het.  Ek het op die ou-end die rok gevind by Blanco Bridal Couture.  Ek het toevallig my hart op ʼn voorbeeld rok verloor, ons was dus in staat om die rok teen ʼn baie billike prys te koop.  Die rok was ongelukkig ʼn paar nommers te groot, maar Blanco het dit vir my verstel totdat dit perfek gepas het.

Die rok is spier wit sonder enige frilletjies en fralletjies.  Dit rok was ʼn ball gown met ʼn lang sleep.  Daar was knopies al die pad van my rug tot op die sleep.  Die rok was off the shoulder met ʼn deep v-neck.  Daar was ook verskeie abstrakte uitknipsels aan die bo-kont met bowning wat wys. D ie rok was alles wat ek wou gehad het, dit was groot en eenvoudig maar ter selfde tyd iets heeltemal anders.

My beste vriendin, Janita van Zyl, het die oggend van die troue my ou Barbie poppe se trou rok vasgewerk aan die binnekant van my trourok. Dit was my something old en dit was baie sentimenteel vir my.

Verloof- en Trouringe:


Ek het altyd gedink ek wil ʼn geel goud ring hê met ʼn solitaire diamant, aangesien dit is hoe my ma se ring lyk.  Jaco het my op die dag wat ons 8 jaar saam was gevat om ringe te gaan pas.  Ek het die pink ring in die winkel gesien en vir die verkoopsdame gevra om dit saam met die goue diamant ringe te bring.  Die vrou wat ons gehelp het, het ʼn paar ringe gebring en ek het outomaties eerste vir die unieke ring gegaan.  Dit was liefde met die eerste oogopslag.

Die styl is deur prinses Diana se ring geïnspireer.  Dit het ʼn roosgoud band met ʼn groot pink, ovaal, morginiet in die middel omring met klein diamantjies. Dit was die heel eerste ring wat ek aangepas het, geen ander ring, het ooit weer dieselfde indruk gemaak nie.

Jaco het ook die selfde Bybel versie wat hy vir my voorgedra het die dag toe hy my vra om te trou in die binnekant gegraveer.  Ons het besluit om nie ʼn troupant te doen nie aangesien die ring klaar groot en uitspattig is, ons wou nie afbreek aan die ring doen nie.

Jaco se ring het baie sentimentele waarde, dit was sy oorlede Oupa se trouring wat hy geërf het.  Dit is ʼn geelgoud band wat ons laat skoon maak het.  Die woorde “Ek’t my toekoms aan jou belowe.” het ek aan die binnekant laat graveer.  Die woorde kom uit die bekende Spoegwolf liedjie “Erika Ways”.  Jaco is ʼn groot aanhanger van Spoegwolf en die spesifieke lirieke het baie gepas gevoel.  Dit was ook die laaste sin van die persoonlike geloftes wat ek in die kerk aan hom gemaak het.

Trou Venue:


Toe ek as ʼn student uitgehelp het by my pa se Besigheid, Wineland Solar, twee jaar vantevore het my pa eendag ʼn logger gaan insit by La Roche.  Later daai dag het my pa terug by die kantoor gekom en vir my foto’s van die asemrowende mooi trou venue gewys.  Twee weke later het een van die werknemers terug gekom nadat hulle die logger gaan uithaal, en vir my foto’s gewys van die mooi venue.  Dit was vir my opvallend dat twee mans foto’s geneem het en vir my kom vertel het hoe mooi dit is.  Ek en Jaco het al van daai tyd af die venue in ons agterkoppe gehad.

Die kapel wat weggesteek is tussen die Franschhoek berge en omring is met water, was ʼn groot rede hoekom ons La Roche gekies het.  Jaco wou spesifiek in ʼn kapel trou veral omdat ons ʼn winters troue sou hê.  Bo-en-behalwe die mooi kapel het die onthaal ons ook aangestaan.  Dit was lieflik groot, maar nie te groot sodat dit onpersoonlik voel nie. Die venue verskaf nie enige stoel tafels of dienste behalwe vir die kroeg nie.  Dit mag dalk ʼn faktor wees wat party mense afsit, maar ons het daarvan gehou dat dit ʼn blank canvas was.

Ons het volle carte blanche gehad, ons kon die verskaffers, dekor en uitleg kies wat ons wou gehad het.  Die ligging en verskeidenheid van uitsigte het ook ons aandag getrek aangesien mens enige plek op die plaas besonderse mooi foto’s kan neem.  Daar is ook akkommodasie om die perseel wat ons aangestaan het.  Ons het toevallig in November na venues begin kyk en dus ʼn Black Friday afslag ontvang wat nog ʼn bonus was, en die finale deurslag gegee het.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


My gunsteling herinnering was toe ons foto’s buite die onthaal geneem het.  Ons het op die nat gras gesit en foto’s met die sjampanje geneem. Ons sou net vinnig sit, die foto neem en dan opstaan aangesien die gras effens nat was.  Vir die onthaal het ons ʼn pasta bar gehad waaroor ek spesifiek baie opgewonde was.  Ongelukkig het ons tot in met daai oomblik nie tyd gehad om die pasta te geniet nie.

Die kok van Concept Foods het op daai oomblik toevallig vir my en Jaco elkeen ʼn bakkie pasta gebring.  Ek en Jaco het net daar bly sit, in stilte en ons pasta geëet.  Ons het op daai oomblik net rustig geraak en alles ingeneem.  Ons was nie eens in die oomblik bewus van die feit dat ons fotograaf ons afneem, of dat van die gaste saamgedrom het en vir ons kyk nie.  In daai oomblik was dit net ek en my man wat vir die eerste keer as getroudes saam eet.  Van die hele troue is dit dié oomblik wat ek die helderste onthou.  Die hele troue het verby gevlieg maar daai oomblik was in slow motion.

Jaco se gunsteling oomblik was toe ons, ons persoonlike geloftes aan mekaar gemaak het.  Hy verduidelik dat dit in daai oomblik gevoel het of dit net ek en hy is wat in die kerk staan en of daar niemand anders is nie.  Volgens hom kon alles anders in daai oomblik vergaan en hy sou dit nie eers agtergekom het nie.  Hy sê die kapel sou kon afbrand en hy sou dit nie eens weet nie want dit was so ʼn intieme oomblik waar ons, ons harte met mekaar gedeel het.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Maak seker om op die dag van julle troue saam ʼn oomblik te vat.  Neem in wat die laaste paar maande se harde werk gelewer het.

Maak seker om sneesdoekies by jou te hê.  Dis ʼn baie emosionele dag en selfs al dink jy nie jy gaan huil nie – jy gaan huil.

DIY werk nie altyd goedkoper uit nie.  Moet my nie verkeerd verstaan nie, ons het ook ʼn paar goed self gedoen.  Daar is net sekere ding wat beter is om oor te laat aan die professionele mense.

Daar gaan baie dinge anders uitwerk as wat julle beplan het.  Op die ou-end van die dag gaan alles steeds uitwerk soos wat dit moet.  En selfs die dinge wat skeef geloop gaan by dra by tot die wonderlike dag.

 

Meer oor La Roche Estate:


La Roche Estate se trou venue is geleë in die Franschhoek Vallei, 35km vanaf Stellenbosch.  La Roche Estate bied vir julle die geleentheid om ʼn unieke troue te hê met jul eie styl en visie.

Met panoramiese uitsigte oor hul versorgde tuine en wingerde, omring deur majestueuse berge, spog La Roche Estate met die beste wat die gasvryheid bedryf kan bied.  Gebou op ʼn eiland in die middel van ʼn dam, bied The Sanctuary ʼn heeltemal unieke ervaring vir paartjies.

Vir eindelose foto geleenthede en ʼn sprokiesverhaal van ʼn troue besoek La Roche Estate.

Trou Dekor en Styl:


Ek en Jaco het die verantwoordelikhede opgedeel volgens ons belangstellings.  My verantwoordelikhede was dus meer kleurskema en dekor. Ek wou ʼn spier wit troue gehad het met ʼn minimalistiese moderne gevoel.  So alles was wit van die blomme tot die strooimeisies se rokke. Daar was ook deurlopend ʼn goue ondertoon soos die eet gery, juwele en strooimeisies se gordels.

Trou Seremonie

Aangesien La Roche ʼn rustieke gevoel het, het ons besluit om hout stoele by die tafels en in die kapel te plaas om die wit dekor by die rustieke gevoel van die venue te laat pas.  Ons het minimale dekor in die kapel gedoen.  La Roche se kapel het die mooiste uitsig en ons wou nie weg vat van die uitsig deur teveel dekor in die kapel te plaas nie.  Ons het dus slegs hout stoele gehad en op elke stoel was daar ʼn DIY pamflet met inligting van die bruidspaar en die dag.  Dieselfde rose en kerse wat op die tafels in die onthaal was, het op die tafel voor in die kapel gehad. My trou koördineerder het die blomme en kerse na die diens na die onthaal geskuif.

Trou Onthaal

Vir die onthaal area was daar lang hout en wit bar tafels met wit bar stoele.  Op die tafels was daar ook ʼn paar enkel stem rose in glas silinders.  Vir die tafel plasing het ons ʼn groot moderne wit spieël by Mr. Price gekoop en my sussie, Lize du Preez, het vir ons met ʼn wit pen die name op die spieël geskryf.

Daar was twee lang tafels in die saal en ʼn sweatheart tafel in die middel.  Die tafels het tafeldoeke oorgehad om die saal effens meer snoesig te laat voel en te help met die vertrek wat weergalm.

Ek wou baie graag enkel stem rose in glas silinders op die tafels gehad het, dit moes die effek van ʼn drapering tafeldoek skep.  As deel van die moderne gevoel het ons besluit om nie onderborde op die tafels te plaas nie.  Daar was geen dankie sê geskenkies op die tafel nie, ons het liewers aan die einde van die aand vir die gaste gesê hulle kan ʼn roos huis toe vat om dankie te sê.

Die volgende items was op die tafel, goue messe en vurke, wynglase, sjampanje glase, water glase, costa nova borde waarop geknoopte wit lap servette geplaas was.  Links-bo elke bord het daar ʼn eenvoudige naam kaartjie gelê.  In die middel van die tafel was daar enkel stem rose in glas silinders saam met kerse.  Waterval fairy lights het uit die dak gehang, dit het sprokies mooi gelyk, dit het ook gehelp om die saal effens kleiner te laat voel deur die illusie te skep dat die dak laer is as wat hy was.

 

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Sjoe waar begin ons al die diensverskaffers het ons verwagtinge oortref.

Trou Fotograaf:

Ray Photography het ons asem weggeslaan met die mooi foto’s wat sy geneem het.  Wat ons die meeste van die foto’s hou is hoe haar foto’s emosie op spesifieke oomblikke vas gevang het.  Sy het perfek ingepas by die strooimeisies en strooijonkers.  Dit het gevoel of sy al een van my jare lange vriendinne is.

Bruid Hare + Grimering:

Sanmarie Botha Hair and Makeup het my asem weggeslaan met die besonderse mooi grimering en haar styl wat sy vir my gedoen het.  Oor die algemeen is ek vol nonsens as dit by my hare kom aangesien ek self mooi hare kan doen, maar sy het ʼn besonders goeie werk gedoen en kwaliteit diens verskaf.  Een van die komplimente wat ek tot vandag ontvang oor ons troue, is dat my hare verskriklik mooi gelyk het en dit is alles te danke aan Sanmarie.

Trou Dekor Huurdienste:

N-concept and designs het my visie met die dekor, blomme en fairy lights een 100% uitgebeeld soos in my kop.  Dis só moeilik wanneer ʼn mens ʼn troue beplan ʼn mens het eintlik geen idee hoe die prentjie bymekaar gaan kom en hoe al die verskillende idees saam gaan lyk nie.  Maar hulle het dit presies bymekaar gesit soos wat ek dit in my kop voorgestel het.  Concept Foods het ʼn fantastiese diens gebied van die eerste oomblik wat ons in kontak met hulle gekom het.  Hulle het altyd ons vrae en boodskappe vinnig beantwoord.  Die span het ʼn personalized menu en pasta bar bymekaar gesit wat ons behoeftes en begeertes bevredig het.

Trou Koördinering:

New Creation Events was gebruik vir op die dag trou koördinering.  Sharné Geel het twee weke voor die trou met al die verskillende diens verskaffers in kontak gekom.  Sy’t ʼn tydlyn opgestel en op die dag seker gemaak alles verloop seepglad.  Sonder haar sou daar nie ʼn troue gewees het nie.  Sy het alles wat skeef geloop het op die dag uitgesorteer en ons het van niks geweet tot na die troue nie.  Ons was besonders beïndruk met die kwaliteit diens wat verskaf was.

Trou Platejoggie:

DJ Brendt Wayne en DJ Pepe het ons heel aand vermaak met hulle musiek keuses.  Ons is verskriklik beïndruk met die musiek wat heel aand gespeel het.  Hulle het die gehoor heel aand gelees en akkurate musiek gespeel soos wat die aand verloop het.  Die DJ stasie het ook baie netjies gelyk en mooi by die wit moderne gevoel van die troue gepas.

Eerste Dans:


“Willow” Jasmine Thompson

Trou Begroting en Beplanning:


Jaco en Linné het ʼn aantal gaste van 98 gehad.  Hulle het vir om-en-by 6 maande self aan die troue beplan.  Die kostes was ongeveer R2 500 per persoon.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

      Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

      Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

      Artikel Diensverskaffers: