Anru & Tanika se Betowerende Verlowing Fotosessie

Oh, ons is so opgewonde om Anru en Tanika se betowerende verlowing fotosessie met Mooi Troues se lesers te deel.  Vir die paartjie het ʼn noukeurige uit beplande Scrabble speletjie gelei tot ʼn verlowing en lewenslange pad saam.

Ons is absoluut verlief op Anru en Tanika se fotosessie.  Met die berge in al hul glorie as die agtergrond kon die paartjie nie ʼn beter bestemming vir hul fotos kies nie.  Die fotos is ongelooflik mooi in die oomblik vasgevang.  Dit het ʼn spontane, rou en natuurlike voorkoms.

Die paartjie het die Franschhoek koue gebraaf vir hul skouspelagtige fotosessie in die mis.  Mens kan steeds duidelik sien hoe die paartjie elke oomblik van hul spesiale fotosessie geniet.  Tanika se pragtige skitterende rokkie het verder die fotos se magiese voorkoms komplimenteer.

ʼn Verlowing fotosessie hoef nie ʼn stresvolle ervaring te wees nie.  Kies ʼn ligging waarvan julle hou en reël met julle fotograaf vir ʼn lekker pret verlowing fotosessie.  Indien julle nog nie ʼn trou fotograaf bespreek het nie, kyk na Mooi Troue se Trougids vir fantastiese trou fotograwe.

ʼn Informele verlowing fotosessie is die perfekte tyd om julle trou fotograaf beter te leer ken.  As julle nog nie ʼn trou fotograaf het nie en dalk klaar ʼn kortlys het, kies sover jul gunsteling fotograaf en bespreek slegs ʼn verlowing fotosessie by dié fotograaf.  So kan julle die fotograaf vir ʼn proeflopie neem, plus julle kry oulike verlowing foto’s.  Indien die fotograaf julle laat gemaklik voel en julle hou van die foto’s, dan kan julle hom of haar bespreek vir jul troue en meer gerus voel.

Rol af om meer te lees oor Anru en Tanika se verlowing fotosessie en ook om meer te lees oor die paartjie se liefdesreis.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het mekaar ontmoet op die Tinder app in Oktober 2018, maar het kontak verloor vir 6 maande.  In Mei 2019 het ons weer kontak gemaak waar ek ʼn simpel boodskappie “Hi 🙂” gestuur het waartoe hy geantwoord het “Het jy jou charger verloor?” (LOL).  Kort daarna het ons ons eerste date gehad by Brian Lara’s in Linden, onmiddelik verlief geraak op mekaar en die res is geskiedenis.

Ons was in ‘n verhouding vir 3 jaar voor ons verloof geraak het en is nou al saam vir 4 jaar.

Die groot vraag:


Ons verlowing het plaasgevind gedurende ʼn verras naweek vakansie in Magoebaskloof by AfriCamps.  Ek het geen idee gehad waarheen Anru my wou vat nie, maar ek het my suspisie gehad dat hy my wou vra om te trou.  Ons was daar in die Lente van September 2022.  Dit was die perfekte tyd met asemrowende, kleurvolle bloeisels oral waar jy kyk!  Hy was baie senuweeagtig toe hy noem ons moet bietjie Scrabble speel – so het hy als vooruit beplan om my te vra om te trou met die letter blokkies op die Scrabble bord wat lees “Marry me”.  Dit was te oulik en ek het natuurlik uitgebars in trane van verras en blydskap.  My familie en vriende het natuurlik al lankal geweet van die verlowing en almal het die ring gesien nog voor ek het!

Hoekom ons mekaar liefhet:


Anru se gunsteling eienskappe vir my is hoe passievol hy is oor die lewe en wat hy doen, dit motiveer my om ook altyd my beste te wees en doen.  Ek waardeer hoe hy altyd vir my klein goedjies sal doen in ons daaglikse lewe sonder dat ek dit verwag.  Hy is die rots in my lewe wanneer dit moeilik raak en die rede hoekom ek glimlag elke dag.

Tanika se beste eienskap is haar ongelooflike kreatiwiteit en ambisie om besonderse dinge te waag!  Sy sê nooit nee vir ‘n avontuur nie en soek altyd die volgende groot projek om aan te pak.  Natuurlike altyd met ‘n “choccie” in die hand!  Sy is altyd positief en motiveer my om die beste man te wees wat ek kan!

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


2 Jaar.  Ons troue is voorlopig beplan vir September 2024.

Die verloofring:


Ek is ʼn baie kunstige persoon so ek wou graag ʼn unieke ring gehad het wat ons verhouding verder definieer.  Ons het saam gekyk na ringe lank voor ons verloofd geraak het.  Dit het ons gelei na ‘n ongelooflike ontwerper wat presies die styl ring waarna ons gesoek het vir ons kon ontwerp.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Die fotograaf het dit aangebied op sy foto pakette en ons het dit gesien as die perfekte verskoning om ‘n naweek Kaapstad toe te gaan.  Ons wou graag ʼn gevoel gekry het oor sy foto styl en hoe dit sou werk op ons trou dag.  Ons is baie dankbaar dat ons die verlowing fotosessie in Franschhoek kon bywoon, dit was die perfekste tyd en die fotos het asemrowend uit gekom (behalwe dat dit ongelooflik koud was en ons amper vas gesit het in ‘n massiewe storm in die Kaap).

Visie vir droomtroue:


Soos meeste paartjies is ons blind met betrekking tot wat dit vat om ‘n troue te beplan, maar ons weet presies wat ons wil hê.  Ons wil spontaan wees, in die oomblik lewe en die tyd geniet saam ons familie en vriende.  Ons mik vir ‘n baie laid back market styl troue waar almal hulself kan geniet.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons fotograaf se werk was afklaar inspirasie genoeg vir ons!  Ons is baie spontaan in die styl waarvan ons hou.  Die fotograaf se fotos was presies wat ons in gedagte gehad het vir ons verlowing en troue.  Dit is in die oomblik en spontaan, rou en natuurlik.

Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: