Dit is met baie opwinding wat ons Jolene en Stefan se Herfs troue in Gauteng met Mooi Troues se lesers deel. Hul pragtige troue is bewys dat mens met min klaar kan kom om steeds die mooiste dag moontlik te kan hê. Die dag gaan oor soveel meer as net die mooi blomme, dekor en uitrustings, maar oor die verhoudings, lekker-lag oomblikke saam met geliefdes en om verewig saam met mekaar in te tree.
Sagte kleur skakerings van pienk en oranje met titseltjies wit skep ʼn elegante atmosfeer vir die troue. Die bruid se ruiker het só mooi gelyk en het perfek by die tema gepas. Trou dekor was minimalisties en was gekomplimenteer deur liggies en kerse as ook die impak vol voorkoms van onthaal lokaal. Die swart stoele kontras perfek met die sagte kleurskema van die dekor. Dit skep ʼn moderne, maar nogsteeds baie klassieke voorkoms aan die onthaal lokaal.
Jolene het asemrowend mooi gelyk in haar unieke trou rok. Haar elegante trou rok was die toonbeeld van skoonheid en het verder bygedra tot die tydlose atmosfeer van die troue. Die bruidegom het aantreklik gelyk in sy swart pak met die lig pienk das wat so perfek gepas het by die algehele tema van die troue.
Die paartjie se fotosessie het só ʼn romantiese gevoel met die lieflike tuin agtergrond. Alle aspekte van die fotosessie het so mooi uitgedraai met die pragtige natuur van die trou venue wat hulle omring.
Alles is moontlik met ʼn span professionele trou diensverskaffers. Mooi Troues se trougids is toekomstige bruide se bron van betroubare trou diensverskaffers.
Stefan en Jolene het ʼn lieflike wittebrood gehad in Mauritius, ʼn droom wittebrood bestemming. Rol af om meer te lees oor Stefan en Jolene se pragtige troue en hul liefdesreis as paartjie.
Paartjie se Liefdesreis:
Ons het op skool ontmoet op hoërskool. Ons is hoërskool-lieflinge en is hierdie jaar (2023) al 10 jaar in mekaar se lewens en beste maats! Soos die Engelse sal sê – ”The rest is history”.
Stefan het my heeltemal onkant gevang en vir my op ‘n Vrydag middag verras met ʼn tuis piekniek in ons meenthuis se tuintjie. Stefaans wou my aanvanklik op 2 verskillende geleenthede gevra het om sy vrou te wees, maar ek het hom op beide geleenthede nie die kans gegun om my te vra nie. (Dit het ek eers na die tyd gehoor, ek was glad nie bewus dat hy my wou vra nie! Ek het ongelukkig die hele verlowings proses omtrent met 6 maande verleng omdat ek net nie vir die man geleentheid gegun het nie!)
Stefan het self my ring ontwerp en die hele proses agter my rug beplan. Dit was op die ou einde die mees perfekte verlowing en ek sou dit nie anders wou gehad het nie, want hy het my heeltemal verras! Ek het ‘n reeks briefies in ons huis gekry wat my gelei het na ons tuin waar hy en ons geliefde worshondjie Pippa, vir my gewag het en Ed Sheeran (ons gunsteling) se ”First Time” die mees romantiese en ”eie aan ons”- atmosfeer geskep het.
Trourok:
Anders as meeste bruide wat in die trou beplanning heel moontlik heel eerste hulle trourok kies, was my trourok die heel laaste item op my troulysie wat ek moes aftik. Die enigste vereistes wat ek gehad het vir my trourok was dat ek gemaklik moes voel en dat my droom om soos ‘n prinses te voel en ethereal te lyk sonder enige fieterjasies. Ek het by my heel eerste rok-passing reg gekom en by Bridal Manor my droom rok gevind. Die oomblik toe ek my rok aangetrek het, het ek gemaklik en op my mooiste gevoel wat ek nog ooit gevoel het. Ek wens ek kan haar sommer weer dra …
Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:
Ons gunsteling herinnering was om in die kerk voor ons geliefdes trou aan mekaar te beloof voor God. Dit was vir ons die belangrikste hoogtepunt en die spesiaalste oomblik van die hele dag.
Ons tweede gunsteling herinnering was ook om mekaar voor die troue te sien toe ons, ons first-look gehad het. Dit was net só spesiaal soos wat dit was om by die kansel af te stap. Ek was skepties oor die idee voor ons getrou het maar weens tyd en beplanning rondom ons onkonvensionele dag, moes ons foto’s voor die seremonie inpas, dus het ons besluit om ‘n first-look te hê. Dit was die beste besluit, die trane het natuurlik nie opgehou loop nie.
Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:
Uit-en-uit ons fotograaf en ons bloemis.
Nyoka van Wildleaves Floral het my visie en droom van die begin af verstaan en ek het al my vertroue in haar hande geplaas op die dag. Sy het elke blom, inspirasie-foto en elke woord wat gedeel was verstaan en perfek uitgevoer.
Ek en Stefan stap al ʼn paar jaar ʼn pad saam met Miranda van Him & Her Pictures, Stefan was nog nooit so gemaklik voor enige lens, soos wat hy voor haar lens is nie! My introvert man het altyd soveel pret saam met Miranda as ons saam met haar foto’s neem. Ek het geweet dat ek die dag net in haar hande kon oorlaat en dat sy presies sou weet wat om te doen en hoe om die dag vas te vang vir ons. Ons foto’s is vir ons uiters spesiaal.
Verloof- en Trouringe:
My styl is tydloos en klassiek en Stefan het nog altyd geweet dat ek graag ‘n goue ring wil hê, oor die jare soos wat ons meer oor trou begin praat het, het Stefan nog altyd geweet dat ek graag ʼn solitaire snit wil hê.
Vir Stefan het ons ʼn Tungsten Carbide grys ring gekies wat baie mooi by hom en sy horlosie pas. Weereens ʼn besluit om ons ringe by ons individuele persoonlikhede en style te laat pas.
Trou Venue:
My oupa (my 2de gunsteling mens naas my man) is ‘n Dominee en ek het groot geword langs die kerk in die Pastorie. Ons troue was in dié einste kerk waar ek gedoop is en waar ek as klein dogtertjie groot geword het. Ons wou nie baie geld uitgee op ons troudag nie, maar die kerk het vir ons en veral vir my ʼn sentimentele en spesiale konnotasie. Ek kon in die gemak van my grootword-huis (die pastorie) regmaak vir my groot dag en dit was basies soos om by die huis te trou! Dit was op die ou end ʼn no brainer. Ek en my man het baie tyd op die plot by die Pastorie tyd spandeer terwyl ons uitgegaan het en die kerk en die Pastorie is vir ons albei baie spesiaal.
Ons onthaal was by die Shed & Silo restaurant net ‘n entjie se ry van die kerk af, wat ‘n pragtige en warm ruimte geskep het vir ons om saam met ons gunsteling mense die dag af te sluit en lekker te kon eet.
Trou Dekor & Styl:
Ek wou nog altyd in die Herfs getrou het. Dit was ʼn groot vereiste vir my. Die Herfs is my (en my oupie) se gunsteling seisoen! Ons kleurskema was deur die Herfs seisoen geïnspireer, maar my gunsteling kleur is pienk dus wou ek graag blush ook inkorporeer. My trou ruiker was pragtig met koffie kleur rose, gekomplimenteer met ‘n kombinasie sagte pienk/blush blomme.
Omdat ons onthaal ʼn bietjie buitengewoon was het ons gekies om ook nie ‘n bruids-tafel te hê nie. Ons wou net 2 lang tafels gedek gehad het om saam met ons gunsteling mense aan die tafel te sit. Ons bloemis het my prentjie perfek verstaan en alles was sag en elegant, gekomplimenteer met baie kerse om by te dra tot ons warm en cozy atmosfeer wat ons graag vir die Herfs-aand wou skep. Al my drome was bewaar met haar stilering van ons blomme en dekor.
Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:
Geniet elke oomblik van die verlowings-seisoen. Dit gaan in ‘n oogwink verby. Moet nie fokus op hoe jou dag gaan ‘lyk’ nie maar hoe dit gaan VOEL vir julle en die gaste wat genooi word. Vra julself die vraag af – weerspieël ons planne vir die dag, wie ons as mense is? Moet nie enigsins dink aan wat ander mense gaan dink nie, dink net aan julle. Die dag gaan perfek wees vir julle, moet asseblief nie teveel stres nie. Dit is ‘n joyful seisoen maar dit kan ook moeilik wees, moet nie die troue oordink nie en fokus op dit wat die belangrikste is van daardie dag – julle gelofte aan mekaar vir die res van jul lewens.
Trou Begroting en Beplanning:
Stefan en Jolene het 10 maande self aan hul troue beplan en die kostes was ongeveer R1 200 per kop.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
- Fotograaf: Him & Her Pictures | Kontak
- Venue: The Silo and Shed| Kontak
- Blomme: Wildleaves Floral Design | Kontak
- Bruidegom-pak: Coquis Men’s Outfitters
- Dekor: Wildleaves Floral Design| Kontak
- Grimering: Brushed Makeup-Lashes- Brows by Louise| Kontak
- Hare: 24/7 Hair Design| Kontak
- Huwelik kontrak: Jeanmari Höll Prokureurs| Kontak
- Huweliksbevestiger: Dr. Christo van der Merwe| Kontak
- Juweliersware: Eden & Co| Kontak
- Kerse: Candle-lite | Kontak
- Skoene: Vonve Bridal| Kontak
- Trourok: Bridal Manor| Kontak
- Bruid se Trouring: Poggenpoel Jewellers| Kontak
- Bruidegom se Trouring: Poggenpoel Jewellers| Kontak
- Troukoek: Skoonma het gebak.
- Wittebrood Bestemming: Mauritius – Grand Gaube
- Wittebrood Plek: Veranda Paul et Virginie Resort| Kontak