Rikus & Erin se Beeldskone Bosveld Verlowing Fotosessie

Met opgewondenheid deel ons Rikus en Erin se beeldskone bosveld verlowing fotosessie met Mooi Troues se lesers.  Geleë teen Suid-Afrika se kus dien die Oos-Kaap se riviere en wilde bosveld asemrowende landskappe vir dié paartjie se fotosessie. 

Ons is absoluut so verlief op alle aspekte van die fotosessie.  Dit is beslis ʼn perfekte voorbeeld van stylvol en klassiek. Die foto’s het ʼn hartlike en gemaklike voorkoms wat liefde uitbeeld.

ʼn Verlowing fotosessie is die perfekte tyd om julle trou fotograaf beter te leer ken.  Jul trou fotograaf is een van die mense op jul troue wat die meeste tyd saam met julle sal spandeer.  Dit is belangrik dat julle weet hoe jul trou fotograaf sal werk, sodat julle op jul gemak is op jul troudag.

Nie net is dit belangrik om jul fotograaf te leer ken nie, maar dit help ook sodat julle meer gemaklik raak voor die kamera.  Nie alle paartjies is natuurlik ontspanne voor die kamera nie.  Die verlowing fotosessie help om julle meer gemaklik te maak dit gee julle die geleentheid om enige vrae te vra wat julle mag hê.

Met die fotosessie kon Rikus en Erin die area gaan verken met die safari voertuie, en het gestop soos hul die geleentheid gesien het vir ʼn mooi foto.  Die paartjie het lekker gelag en dit alles so geniet.  Klink soos soveel pret!

Erin het ʼn glansende groen rok gedra wat só mooi gelyk het op die foto’s.  Dit het die skoonheid kleurskema en die landskappe verder komplimenteer.  Die paartjie het albei net eenvoudig pragtig en stylvol gelyk.

Rol af om meer te lees oor Rikus en Erin se liefdesreis en om meer foto’s te sien van hulle onvergeetlike bosveld verlowing fotosessie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het mekaar die 8ste September 2018 ontmoet by ʼn kaas en wyn aand wat gemeenskaplike vriende van ons gehou het.  Ek onthou nog dat ek daardie volgende dag huis toe gegaan het en my ouers wou weet hoekom ek eweskielik sulke huppel in my stap het.  Ek het kortliks verduidelik dat ek die vorige aand my trouman ontmoet het.  Van daar af het ons sprokiesverhaal begin en het Rikus my die 28ste Oktober 2018 gevra om sy meisie te wees.  Hy het my die 7 Oktober 2022 gevra om met hom te trou, so ons was min of meer vir 4 jaar in ʼn verhouding voordat ons verloof geraak het.

Die groot vraag:


Ek het nie presies geweet wanneer dit gaan gebeur nie, maar het min of meer ʼn idee gehad want ons het gevoel die tyd is reg om verloof te raak.

Ons werk oorsee, op superyachts, en ons al twee het vakansie gehad nadat ons vir 6 maande moes lang afstand omdat ons op daardie tyd op 2 verskillende seiljagte gewerk het. In die begin van die vakansie het Rikus vir ons twee ʼn roadtrip Kaap toe beplan en ons het die eerste aand in Knysna geslaap by Pezula Golf Estate.  Hy het my uitgevat vir aandete en toe ons terug kom by die hotel het hy met die personeel gereël om ons kamer spesiaal op te doen.  Ek onthou nog hoe vinnig my hart begin klop het toe hy die deur oopmaak en ek besef “hy gaan my nou vra om te trou”.  Dit was beurtkrag toe ons teruggekom het by die hotel, maar die kaggel, kerse, roosblare en sjampanje het die perfekte atmosfeer geskep. Dit was eenvoudig, maar perfek en baie romanties.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Rikus:

“Erin het ʼn positiewe uitkyk op die lewe en dis aansteeklik.  Sy leer my om die beste weergawe van myself te wees.  Sy is doelgerig en gedissiplineerd en so bereik ons baie hoogtes saam.  Beste van alles sy laat my toe om vis te vang en golf te speel net wanneer ek wil.”

Erin:

“Die manier hoe Rikus my familie en vriende hanteer het van die begin af vir my uitgestaan.  Hy het ʼn klein hartjie, maar het ʼn groot liefde vir my en sy mense.  Hy sal nooit nee sê nie.  As ek hom vir ʼn guns vra sal hy altyd uit sy pad gaan om dit vir my te doen.  Niks is ooit vir hom te veel nie.”

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons trou die 11de November 2023 by die asemrowende St Francis Links in die Oos-Kaap.

Die verloofring:


Rikus het my so paar maande voor die verlowing gevat om ringe te gaan aanpas.  So kon ek min of meer sien waarvan ek hou en watter tipe ring mooi lyk by my hand.  Hy het, sonder dat ek weet, ʼn ring laat maak en dit het al my verwagtinge oortref!

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons het nog altyd geweet dit is iets wat ons sal wil doen wanneer ons verloof is.  Sommer net as ʼn viering van ons verlowing/liefde en om ʼn altyd ʼn mooi herinnering daarvan te hê.  Ons verlowingsfoto’s word ook gebruik op ons trou webblad.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons wou iets stylvol en klassiek doen wat by ons trou tema sal pas en het geweet Intlé Boutique Hotel sou die perfekte ligging hiervoor wees.  Ek, Rikus en Shaula, ons fotograaf, het die area gaan verken met die safari voertuig en gestop soos ons die geleentheid gesien het vir ʼn mooi foto.  Ons het lekker gelag en dit alles so geniet!

Visie vir droomtroue:


Ons trou by een van ons gunsteling plekke in Suid-Afrika, St Francis Baai.  Klassiek, stylvol en eenvoudig is waartoe ons beplan en hoop om dit so uit te voer.  Ons doelwit is om ons liefde vir mekaar te vier met al ons naaste mense.

Klik hier vir meer diensverskaffers


    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: