Karl & Heidi se Deftige Swart & Wit Troue

Met groot opwinding deel ons Karl en Heidi se deftige swart en wit troue met Mooi Troues se lesers. As jy ʼn aanhanger is van moderne en sjiek troues, is hierdie troue een wat jy nie kan mis nie!

In die asemrowende platteland, oos van Pretoria geleë, net 30 minute se ry van die middestad af, het die paartjie die knoop deurgehak by The Lakeside.  Die trou venue bied onvergeetlike uitsigte oor die meer en versorgde grasperke, terwyl jy kan toekyk hoe die wild net ʼn hanetreetjie weg wei.  Dit is die perfekte ligging vir eensoortige troues, unieke vieringe en onvergeetlike konferensies.

Oh, ons is absoluut dolverlief op hierdie paartjie se troue!  Die swart en wit kleurskema kan maklik smaakloos lyk, maar hierdie troue is die perfekte voorbeeld van hoe ongelooflik mooi dit kan lyk as mens dit reg doen. Elke aspek, van die seremonie tot die onthaal was perfek uitgevoer.

Die bruid se trourok het verder die elegansie van die troue beklemtoon.  Haar halter-nek trourok het só mooi gelyk, en ons is mal oor die diamant detail om die nek en die middellyf, só stylvol!  Die bruidegom het haar perfek gekomplimenteer met sy wit pak en swart strikdas wat absoluut klassiek en pragtig lyk.

Die swart en wit dekor met kristal elemente bied ʼn moderne en deftige gevoel.  Elke element van die tema het só goed saamgewerk en bymekaar gekom.

Met ʼn asemrowende veld agtergrond, goue ligging en selfs wilde diere kon die paartjie foto’s nie mooier uitkom nie.  Ons hou veral van die foto’s by die water, dit is eenvoudig pragtig!  Dit is beslis unieke foto’s en is só spesiaal vir die paartjie om na terug te kyk.

Rol af om meer te lees oor Karl en Heidi se troue en ook die paartjie se liefdesreis.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek en Karl het saam grootgeword, was saam in matriek en in dieselfde straat in Ladysmith gebly, maar nooit uitgegaan nie.  Na skool het ons mekaar vir amper 30 jaar laas gesien …

‘n Jaar terug het Karl my uit die bloute ‘n boodskap gestuur en gevra om te gaan koffie drink.  Ek was huiwerig aangesien ek ‘n weduwee was vir 4, amper 5 jaar … (my man Francois Els is geskiet tydens ‘n rooftog op 43 jarige ouderdom ) en daar letterlik nie tyd vir enige romanse in my lewe was nie en ek verseker nie reg was om iemand te sien nie.  Dit was ek en my 3 kinders, Kaylee, Craigan, en Cullen – 17;12 en 11.

So… na ‘n paar uitnodigings het ek en die kinders saam Karl gaan uiteet… en ek en Karl het so lekker gesels asof ons mekaar gister laas gesien het.  Kinders was ook van die eerste oomblik mal oor hom.  Hy was ‘n profesionele jagter en het tans ‘n suksesvolle taxidermis saam sy broer.  So het hy saam ons kerk toe gegaan en kom kuier en dit was dit.

Ek het nooit geweet dat hy my net na my man oorlede is in die kerk gesien het nie.  Hy sê hy’t so groot geskrik dat hy nie eers kom groet het nie en van daai Sondag kon hy nie van my vergeet het nie. Eers amper 4 jaar later het hy die moed gehad om my te kontak.

Verlowing

17 Maart het hy met die hulp van die kinders my gevra om te trou … dit was ‘n groot verrassing.  Hy en hulle 3 met fairy lights en liggies oral … op sy knieë.  Ek het altyd gesê as iemand vra … of ek ooit weer sal trou? “Nee net as Liewe Jesus iemand vir my stuur.”  Ek gaan nie soek nie en wraggies ek/ons is geseën met ‘n engel van bo. ‘n Wonderlike Pa vir my/ons kinders en man vir my.  Hoe geseënd kan ‘n mens nie wees nie en wat ‘n wonderlike tweede kans na al die hartseer en alleen wees.

 

Trourok:


Ek het by die tweede trou boutique ingestap, 4 rokke aangepas en toe ek my halter-nek rok aantrek, geweet dis só ek.

Verloof- en Trouringe:


Ons was 4 maande saam toe ons ringe laat maak het.  Ons het net geweet ons is bedoel vir mekaar.

Meer oor The  Lakeside:


The Lakeside is ʼn idilliese stukkie paradys wat wag om enige geleentheid ʼn onvergeetlike een te maak.  Dit is omskep in ʼn asemrowende venue wat ideaal is vir troues, doopfeeste, spanbou geleenthede, sportgeleenthede, jaareindfunksies, verjaarsdae, om die waarheid te sê, enige geleentheid waaraan jy kan dink.

Die venue is is waarlik ‘n leë doek wanneer dit by gebeure kom.  Die ruimtes is buigsaam en gee jou idees en kreatiwiteit die perfekte geleentheid om lewe te kry.  As jy op soek is na ʼn spesiale verjaardag, ʼn stap roete, korporatiewe byeenkomste, spanbou, … eintlik enige geleentheid onder die son – die Lakeside-span kan jou help om dit niks minder as opspraakwekkend te maak nie.

Die lokaal leen hom vir alle tipe funksies en geleenthede.  Jy het absolute vrye teuels oor tema, ontwerp, uitleg, spyskaart, formaat, ens.

Daar is geen perke aan die potensiaal wat hul ruimte toelaat nie.  Vertrou The Lakeside se span om die perfekte unieke geleentheid te skep waarvan jy nog altyd gedroom het.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Toe ons oë mekaar vir die eerste keer sien.  Kry sommer weer hoendervleis.  Sal sy sagte tranerige oë nooit vergeet nie.

Ons het só lekker gekuier en gedans tot heel laaste, was baie spesiaal.

Trou Dekor en Styl:


Swart en wit stylvol en elegant.  Ons gaste het almal swart aangetrek.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Trou Venue:


Die eerste venue wat ek besoek het terwyl Karl gejag het, het ek geweet dis dié een.  Stylvol en elegant (pas by my) en bos en diere (waarvan Karl hou) perfek vir ons.

Trou Begroting en Beplanning:


Karl en Heidi het met behulp van die venue 2 maande aan hul troue beplan en die koste was ongeveer R1 000 per kop.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Jy het nie baie tyd nodig om jou spesiale dag te reël nie.  Hou dit eenvoudig en nooi net die mense wat vir julle spesiaal is, na aan jou hart is.  Hulle wil regtig jul spesiale dag met julle deel.  Besluit wat jy wil hê en doen dit net.  Moenie geld mors op onnodige tierlantyntjies of geskenke nie.  Julle kan dit eerder op jul huis of wittebrood spandeer.

Eerste Dans:


Heaven – Calum Scott

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

      Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

      Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

      Artikel Diensverskaffers: