André & Yasmine se Karoo Troue in Prince Albert

Dit is met groot opwinding wat ons André en Yasmine se karoo troue in Prince Albert met Mooi Troues se lesers deel.  Dié paartjie het van hul eerste besoek geweet Prince Albert is waar hulle die knoop sal deurhak.  Dit is uiters spesiaal vir ʼn paartjie as hul droom ʼn realiteit word!

Ons is mal oor die bruid se trourok.  Die boheemse styl het haar soos ʼn prinses uit ‘n sprokiesverhaal laat lyk.  Sy het eenvoudig net so elegant gelyk!  Die bruidegom het net so deftig gelyk in sy unieke pak, dit het só goed by die natuur kleurskema en boheemse styl gepas.

Die seremonie het plaasgevind by die voet van ʼn krans.  Om die natuurlike skoonheid van die Swartbergbergpas en die krans te vier, was die  kleurskema baie neutraal wat ongelooflik asemrowend gelyk het.

Die minimalisties seremonie dekor het ook bygedra tot ʼn regte karoo troue gevoel.  Dit het deel gevorm van die Karoo-omgewing, wat gelei het tot ʼn rustiek en ingetoë voorkoms.  Die onthaal was te pragtig, met die tafel dekor wat moeiteloos die tema van die troue beklemtoon het.

Die ontsagwekkende Karoo agtergrond het poskaart mooi fotos gebied wat hulle vir ewig sal bewonder.  Maryke Albertyn, het die paartjie se troue in elke raam perfek vasgevang.  Ons is absoluut so verlief op elke aspek van die spontane en gemaklike fotosessie in die aller mooiste instelling.

Big Day Symphony Wedding Films het die paartjie se troue en hul liefde vir mekaar van begin tot einde perfek vasgevang op video. Hul sal dit vir ewig kan koester en onthou. Klik hier om die onmiskenbare talent van Big Day Symphony Wedding Films te bewonder

Rol af om meer te lees oor hierdie André en Yasmine se karoo troue en ook oor die paartjie se liefdesreis.

Paartjie se Liefdesreis:


André en Yasmine het in 2019 deur sosiale media ontmoet.  André het vir Yasmine ʼn boodskap gestuur nadat sy ʼn foto opgelaai het waarin sy haar nuwe haarstyl wys nadat sy haar hare aan CANSA geskenk het.  Die geselsies op sosiale media het gelei na hulle eerste date by Charlie’s Pizza en Pasta.  Die afspraak was gevul met lag, stories en moeitelose gesprekke.  Voor hulle dit besef het, het hulle mekaar daagliks begin sien.  Na 3 maande het André vir Yasmine gevra om sy meisie te wees.

Twee maande nadat hulle begin uit gaan moes Yasmine haar gemeenskapsdiensjaar in De Aar begin, wat die jong verhouding vinnig in ʼn langafstand verhouding verander het.  Die langafstand het sy eie uitdagings gehad, maar André en Yasmine het besluit om die beste van die situasie te maak deur die Karoo elke naweek te verken.  Dis gedurende een van hierdie Karoo naweke waar hulle Prins Albert ontdek het, en heeltemal verlief geraak het op die klein dorpie.

André en Yasmine het sedertdien die uitdaging van oor die land trek al twee keer oorkom, en verskeie nuwe werke en uitdagings saam aangepak.  Hulle het mekaar ondersteun en genot gevind in hulle wedersydse liefde vir avontuur en hul positiewe uitkyk op die lewe.  Na drie jaar van uitgaan het André vir Yasmine gevra om te trou op 12 November 2022.  Dit was Yasmine se maklikste “ja” van haar lewe.

Trourok:


My beste vriendin Kayleigh het Kaap toe gevlieg van PE af om saam met my trourokke te soek by La Bell Mariee.  Ons was stom geslaan deur die ongelooflike mooi rokke waaruit ons kon kies.  Die kwaliteit van die rokke was asemrowend en elkeen wat ek aangepas het was mooier as die vorige een.  Ons was ongelooflik deurmekaar na al die verskillende rokke aanpas en het besluit om huis toe te gaan en daaroor te dink, toe die eienaar van La Bell Mariee gevra het of ek nog een laaste een sal aanpas.

Ek was nie oortuig nie, op die hanger het dit gelyk of dit meer details en versierings gehad as wat ek in gedagte gehad het.  Dit was die wildcard van die dag, maar die oomblik wat ek dit aangetrek het, het ek geweet dis my rok.  Dit het gepas soos ʼn handskoen en die detail op die lyf en sleep was voortreflik.  La Bell Mariee het gehelp om driekwart moue by te werk sodat dit beter by my visie sou pas.  Die rok het my soos ʼn bruid laat voel in elke sin van die woord.

Verloof- en Trouringe:


André het die verloofring op sy eie gekies.  Hy het geweet ek is nie die tipe meisie wat ʼn spesifieke ring styl wou hê nie, maar eerder een wou hê wat spesifiek vir my uitgekies is.  André het die ring laat maak deur Ring Artisan in Stellenbosch.  Dit is gebaseer op een van haar vorige ontwerpe, maar aangepas om meer delikaat te lyk. Die fyner details van die ring het hom laat dink aan fynbos, wat simbolies was vir waar ons ons getroude lewe saam begin, aangesien ons Kaapstad toe getrek het aan die begin van 2023).  Die ring was alles waarvoor ek kon hoop, en trek nog steeds elke nou en dan my aandag af.

André se ring is ʼn platinum troupand van Browns Jewellers.  André het iets tydloos en gemaklik gesoek, so die Ergofit platinum pand was perfek vir hom.  Van vroeg af in die verhouding het André die frase “I love you more than you know” gebruik om vir my te sê hy is lief vir my. Hy het tydens die verlowing vir my verduidelik dat elke keer wat hy dit gesê het, hy in daai oomblik reeds geweet het dat ons eendag gaan trou.  Hierdie woorde beteken so baie vir my, en het my inspireer om dit in sy troupand te graveer: “More than you know”.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Probeer om die proses te geniet.  Alhoewel dit baie beplanning en spanning is, is dit ook ʼn tyd wat met verwagting en opwinding gevul moet wees.  As julle ʼn troubeplanner het, leun op hulle om die spanning te help verlig.  Moet ook nie skaam wees om jou familie en jou bruidsmeisies te vra om jou te help nie.  Hulle waardeer dit dikwels om by die beplanning ingesluit te word en sal graag die geleentheid aangryp om jou te ondersteun.

Meer Oor Maryke Albertyn Photography:


Maryke Albertyn is ʼn Kaapstad gebaseerde trou fotograaf met ʼn groot liefde vir reis en nuwe avonture.  Sy spesialiseer in troues en verlowingsessies, maar bied ook familie en boudoir sessies aan.  Met meer as 10 jaar se ondervinding en verskeie internasionale trou bestemmings agter haar naam, bly dit steeds haar grootste voorreg om in en om die Kaap troues te kan afneem.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Daar is soveel spesiale oomblikke van daardie dag wat ons nooit sal vergeet nie.  Sommige hoogtepunte het die seremonie ingesluit, wat pragtig deur ʼn dierbare vriend van ons gelei is.  Ons het ook geniet om ons paartjies fotosessie te doen; ons ongelooflike fotograaf het die fotosessie laat voel asof dit pret en opwindend was!  Bo alles het ons die spesiale oomblikke geniet wat ons met ons gaste gedeel het.  Om ʼn maaltyd met ons familie te deel, te dans asof niemand daar was nie saam met my skoonsus, en daarna sterre te kyk saam met my beste vriende.

Trou Venue:


Ons het vroeg in ons verhouding Prince Albert besoek, aangesien dit ʼn middelpunt was tussen Port Elizabeth (waar André gewoon het) en De Aar (waar Yasmine haar gemeenskapsdiensjaar as ʼn apteker gedoen het).  Ons het ons eerste Valentynsdag saam deurgebring terwyl ons die dorp verken het, en ons het verlief geraak op die pragtige bergpasse en stil bekoring.

Toe ons verloof geraak het, het ons geweet ons wil ʼn intieme troue hê met ons naaste vriende en familie, en dat ons dit wil hou op ʼn plek wat vir ons spesiaal is.  Prince Albert het dadelik na vore gekom.  Dit was ʼn droom om by die basis van die Swartbergpas te trou!

Trou Dekor en Styl:


Aangesien ons die natuurlike skoonheid van die Swartbergbergpas wou vier, het ons besluit om ons kleurskema baie neutraal te hou.  Dit het ook bygedra tot ʼn regte karoo troue gevoel.  Ons wou hê dat ons dekor ʼn deel van die Karoo-omgewing moes wees.  Wat gelei het tot ʼn ‘rustic’ en ingetoë voorkoms wat ons baie van gehou het.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


René van PopUp Weddings was ons ongelooflike troubeplanner.  Sy het ons visie tot lewe gebring en het meer ondersteuning gebied as wat ek ooit sou voor wens.  Sonder haar dink ek nie ek sou die troupad so baie geniet het nie.

Maryke Albertyn was ons ongelooflike fotograaf.  Ons is albei gewoonlik skaam voor die kamera, maar Maryke het ons so gemaklik laat voel en was so entoesiasties oor die omgewing en die foto’s dat ons die fotosessie baie meer geniet het as wat ons verwag het.

Kevin van Big Day Symphonies was ons videograaf.  Sy stil teenwoordigheid deur die dag het gehelp om ons dag vas te vang sonder dat ons ongemaklik gevoel het of asof ons ʼn vertoning optree. Sy passie vir videografie was duidelik, want hy is dikwels gesien terwyl hy van die een kant van die saal na die ander gehardloop het om ʼn spesiale oomblik in tyd vas te vang!

Mareli van African Relish het die kos en die dekor voorsien, en beide was uitstekend!

Eerste Dans:


Just the way you look tonight – Frank Sinatra

Meer Oor Big Day Symphony Wedding Films:


Big Day Symphony Wedding Films skep troufilms met ʼn passie vir storie vertelling en sorgvuldig vervaardigde beeld materiaal.  Die span is goed gevestig met meer as 15 jaar van die skep van onvergeetlike storie-gedrewe films agter die rug.  Hulle is mal oor die avontuur om na nuwe plekke te reis, nuwe mense regoor Suid-Afrika en selfs in die buiteland te ontmoet.

Troues is ʼn hoogtepunt van soveel lewe en liefde, en met ʼn sterk waardering vir hoe spesiaal hierdie dag in mense se lewens is, ʼn viering vir jou storie en liefde.  So met die krag van film en ʼn oog vir detail, wil hulle rolprente lewer wat hierdie viering op die beste moontlike manier weerklink vir baie jare wat kom!

Trou Begroting en Beplanning:


Daar was 30 gaste by André’ en Yasmine se troue en die koste per persoon was ongeveer R8 000 per persoon. Hulle het vir om en by 8 maande aan die troue beplan.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

      Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

      Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

      Artikel Diensverskaffers:

      Addisionele Diensverskaffers: