Dijon & René se gesellige Plaastroue in Noordwes

Met opgewondenheid deel ons Dijon en René se gesellige plaastroue in Noordwes met Mooi Troue se lesers.  Dié paartjie se troue was nie net mooi nie, maar ook ʼn lekker gesellige kuier saam met hul familie en vriende.

René se trourok is besonders mooi met soveel fyn detail op.  Ons is totaal en al verlief op die arm gedeelte van die trourok, dit gee ʼn baie stylvolle en ook eksentrieke gevoel aan haar trourok.  Haar pragtige lang hare wat so mooi los gestileer was, is net só mooi en komplimenteer haar hele voorkoms so mooi.  ʼn Meer neutrale voorkoms met tikseltjies oranje van die rose wat ook deel vorm van die handruiker.

Alles het perfek ingepas by die paartjie se plaastroue tema.  Die agtergrond van die prentjie mooi plaas landskappe was só mooi en het gesorg vir die mooiste trou foto’s.

Wanneer dit kom by die trou dekor was dit ʼn kombinasie van moderne en vintage elemente.  Die stoele het die vintage gevoel gegee, waar die res van die dekor elemente weer die moderne voorkoms behou het.  Ons is mal oor die ombré kerse wat saam met die ander kerse gebruik was op die tafels, dit skep ʼn pragtige voorkoms.  Die tikseltjies gebrande oranje is pragtig en trek onmiddellik mens se aandag.

Alle is moontlik met ʼn professionele span trou diensverskaffers wat mens kan vertrou.  Vir oulike trou diensverskaffers vir julle troue, besoek Mooi Troues se Trougids.

Rol af om meer te lees oor Dijon en René se liefdesreis en hulle gesellige plaastroue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons ken mekaar al van skool af, maar ons het nooit regtig met mekaar gepraat of in dieselfde vriendekring beweeg nie.  Ons het mekaar regtig eers leer ken vier jaar later toe my beste vriendin, Carla, en Dijon se broer, Anton begin kuier het.  Ek en Dijon het dadelik van mekaar gehou en was van daar af onskeibaar. Ons het regtig so baie ingemeen en het dieselfde siening oor so baie goed in die lewe. Ons is regtig mekaar se beste vriende en geniet elke oomblik wat ons saam kan wees.

Dijon het gesê hy het van die begin af geweet ons is gemaak vir mekaar en daarom het hy drie jaar later besluit om op 17 Julie 2021 die groot vraag te “pop”.  Ek was só opgewonde en was seker een van die beste dae in my lewe.  Hy het só baie moeite in sy hele plan gesit, wat dit net nog meer spesiaal gemaak het.  Hy het my op ʼn skattejag gevat wat toe op die einde gelei het na hom wat op een knie gaan en die groot vraag vrae. Almal het dit so mooi geheim gehou, ek het dit glad nié verwag nie.  Ons het daardie aand so lekker saam baie spesiale vriende ons verlowing gevier en almal het dit só spesiaal gemaak vir ons.

Trourok:


Ek het van die begin af geweet dat ek ʼn rok soek by Bridal Emporium.  Hulle het vir my die mooiste rokke en boonop dit word jy so lekker bederf en hulle laat jou so spesiaal voel.  Die oomblik toe ek daar instap het hulle my so welkom laat voel en die hele ervaring was so lekker en opwindend.  Ek het een van my strooimeisies saam gevat en sy het my so ondersteun en alles so spesiaal gemaak vir my.

Ek het met die tweede rok wat ek aangepas het klaar geweet dat dit die een was vir my.  Die idee wat ek gehad het van dit wat ek soek in my trourok en dit waarmee ek uitgestap het is seker die teenoorgestelde van mekaar.  Ek het glad nie gedink dat ek van so tipe styl rok by my gaan van hou nie, maar ek het regtig my hart op die rok verloor.

Verloof- en Trouringe:


Ek was baie onseker oor die tipe ring wat ek wou hê, maar een ding wat ek wel van seker was, is waar hy gemaak moet word.  Ring Artisan, is een van my gunsteling juweel plekke.  Hulle is ongelooflik goed in dit wat hulle doen, die diens is altyd fantasties.

Dijon het met die ontwerper gesels en vir haar ontwerpe gestuur van die ring wat hy ingedagte gehad het.  Hulle het hom so mooi gehelp en die perfekte ring ontwerp vir my.  My verloofring was vir my klaar so mooi dat ek besluit het om geen troupand by te sit nie.  Ek is so bly ek het die keuse van my ring in Dijon se hande gelaat, want hy het verseker nie teleurgestel nie.

Dijon het net een voorwaarde gehad toe dit kom by sy trouring en dit is dat dit duursaam moet wees.  Dit was nie baie moeilik om so iets in die hande te kry nie en het sommer met ʼn juwelier aanlyn gesels wat vir my Dijon se ring ontwerp het.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Vir ons albei is dit verseker om so ʼn spesiale oomblik in ons lewens te kon deel met mense wat vir ons so baie beteken en vir wie ons lief is.  Dit was vir ons só spesiaal om ons groot dag te kon deel met ons harts mense.  Ons hele ervaring was klaar so spesiaal, maar net om dit alles te kon deel met ons familie en vriende het dit net nog meer spesiaal gemaak.

Almal het ons so baie ondersteun en bygestaan met die hele proses tot en met die troudag self.  Dit was regtig só spesiaal vir ons om te sien hoe almal net wil help en seker maak ons het nie iets nodig nie.  Dit het ons net weer laat besef hoe belangrik ons familie en ons vriende vir ons is.  Ons sal beslis nooit hierdie spesiale oomblikke vergeet nie.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Al ons verskaffers was wonderlik gewees, maar as ek een moet uitlig sal dit verseker ons bloemis wees.  Sy het só baie moeite gedoen en seker gemaak ons is gelukkig.  Sy het regtig uit haar pad gegaan om die hele prentjie bymekaar te bring en seker te maak dat ons, ons droom troue kry.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Neem elke oomblik in en geniet die hele proses van troue beplan tot die troudag self.  Dit gaan só vinnig verby en op die einde het jy net die herinneringe wat oor bly.

Trou Venue:


Ons besluit om 19 April 2023 te trou was eintlik baie impulsief, omdat ons net 6 maande gehad het om te beplan.  Gelukkig het ons klaar geweet waar ons graag wil trou.  Ons wou graag ʼn plaas troue gehad het, buite in die natuur en dit was ons venue beslis.  Ons ken ook die eienaars van die venue baie goed en kom al ʼn lang pad saam hulle.  Dié venue is ook nie baie vêr van waar ons bly nie, wat dit baie gerieflik gemaak het vir ons.

Ek is so bly ons het besluit op die Oewerkuier Venue, want ons het dit so geniet om te sien hoe alles op die einde bymekaar gekom het.  Dit was alles en meer waarvoor ons gehoop het.  Hulle het so baie moeite gedoen met alles en voldoen aan al ons vereistes.

Trou Dekor & Styl:


Die algehele styl waarvoor ons gegaan het was om in te skakel met die seisoen, maar ook die plaas tema.  Ek is ook mal oor die idee om ʼn “pop of colour” in my kleurskema te bring wat alles bietjie op helder en nie te vaal laat lyk nie, daarom het ek besluit op ʼn terracotta kleur blom en roos.

My bloemis het regtig haarself oortref in die beste moontlike manier.  Sy het so mooi geluister en verstaan wat presies ons in gedagte gehad het.  Op die einde het die kleurskema alles bymekaar gebring en so mooi ingepas by ons plaas tema.

Eerste Dans:


Lee Brice – Soul

Trou Begroting & Beplanning:


Dijon en René se troubegroting het beloop R1,450 per kop.  Hul plaas troue was beplan in ses maande met behulp van ʼn koördineerder.

Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: