In dié artikel deel ons Meyer en Rozanne se verlowing fotosessie in Pretoria se Kerkplein met Mooi Troues se lesers. Die paartjie het die mooiste winter verlowing fotosessie gehad omring deur die pragtige geskiedkundige geboue in Pretoria se bekende Kerkplein as hul agtergrond vir hul foto’s.
Ons kan sien dat Rozanne en Meyer tonne pret gehad het tydens hul verlowing fotosessie. ʼn Verlowing fotosessie is die perfekte tyd om julle trou fotograaf beter te leer ken. Dit is ook ʼn tyd waar julle meer gemaklik kan word voor die kamera, sodat julle ʼn stresvrye foto ervaring op jul troudag kan hê.
Rozanne en Meyer vertel dat hulle graag foto’s wou hê vir hul trou uitnodigings en -webtuiste. Ons is verseker dat hulle sommer baie pragtige foto’s gehad het om van te kies. Dit is een van die baie redes hoekom paartjies graag ʼn verlowing fotosessie wil hê.
Foto’s saam as ʼn paartjie is so belangrik. Dit is daardie herinneringe en terugflitse wat mens kry as mens na foto’s kyk wat foto’s só belangrik maak. Nie net is dit herinneringe nie, maar dit kan ook só mooi lyk as deel van jul trou uitnodigings, deel van jul trou skryfbehoeftes en julle trou webtuiste, indien julle een het.
Is julle besig om ʼn troue beplan? Besoek Mooi Troues se trougids vir al jul trou diensverskaffers. Met professionele trou diensverskaffers sal julle trou beplanning soveel minder stresvol wees.
Rol af om meer te lees oor Meyer en Rozanne se verlowing fotosessie in Pretoria se Kerkplein en ook hulle liefdesreis as paartjie.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons altwee was in ons eerstejaar by die Noord-Wes Universiteit en ons het by Jool ontmoet in 2017. Ons het saam shows gekyk en aan die einde van die aand nommers uit geruil. Daarna was daar baie koffie gedrink en tussen klasse gesels. Ons het ongeveer ʼn maand later begin uit gaan. Ons was vyf jaar en ses maande saam voordat ons verloof geraak het.
Die groot vraag:
Ons het verloof geraak op die 2de Oktober 2022 by familie se plot net buite Pretoria. Ons het gaan kuier by die familie, maar Rozanne het nie enige iets verwag nie. Familie en vriende het gehelp om die piekniek op te stel waar ons verloof geraak het. Ons het toe so bietjie rond geloop en toe kom ons by die piekniek area. Ek het dadelik op my knie gegaan, want ek kon nie meer spanning hanteer om haar te vra nie. Ons vriend wat fotos geneem het, het toe agter die boom uitgespring en ek het haar toe gevra. Sy het toe begin huil sy die Ja antwoord sê en daarna het ons saam familie en vriende dit gevier.
Hoekom ons mekaar liefhet:
Dat sy altyd die beste vir jou wil hê, omdat sy omgee vir die mense om haar. Sy sal jou altyd eerste stel in wat sy doen. Sy is hardwerkend en gee altyd 100% in wat sy doen.
My gunsteling eienskap van Meyer is verseker sy goedheid. Hy is altyd bereidwillig om almal te help met enige iets. Hy plaas ook altyd ander se behoeftes bo sy eie.
Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Net bietjie langer as ʼn jaar sodat mens al die reëlings mooi kan tref omdat ons in Graaff-Reinet trou.
Die verloofring:
Ons het saam gaan ringe gaan pas. Sy het min of meer vir my ʼn aanduiding gegee van watse tipe ring sy soek, maar sy het nie geweet wanneer die ring gemaak was of hoe die ring gaan lyk nie. Dit was die ring van haar keuse. Die verloofring is ʼn moissaniet steen wat vasgevang word in ʼn protea klou geset in platinum.
Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons is bevoorreg dat Liane al baie mylpale saam met ons gevier het. Ons het die fotosessie bespreek vir foto’s vir ons trou uitnodigings en webtuiste. Na afloop van die fotosessie het ons so baie van dit gehou dat daar definitief klaar ʼn paar hang in ons huis.
Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Ons het nog nie ʼn winter fotosessie gehad nie en ons wou graag dit vasvang met die geskiedenis van ons land. ʼn Winter fotosessie skep ook ʼn liefdevolle atmosfeer waar ons mekaar warm hou in ons arms. Die kleurskema van die fotosessie pas ook by ons troue se kleurskema in.
Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Verwagtinge:
Baie idees gekry het deur sosiale media, maar om nogsteeds ons eie persoonlikhede teen toon te stel die dag van die troue.
Vrese:
Ons trou venue is ver so om al die goed te onthou wat ons moet vat, want ons kan nie net vinnig omdraai om dit te gaan kry nie.
Visie vir droomtroue:
Ons wil die tyd saam met mekaar spandeer, want ons het gesien dat die tyd op troues vinnig verby gaan. Ons wil al ons vriende en familie by ons hê wat ons huwelik saam met ons kan vier. Daar moet lekker gekuier en gedans word op die troue sodat almal wat daar was dit nie sal vergeet nie.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
- Fotograaf: Just Jordan Photography
- Fotosessie Venue: Kerkplein, Pretoria
- Verloofring: Beaudell Jewellery