Met baie opgewondenheid deel ons Coenraad en Theunise se elegante troue in Johannesburg met Mooi Troue se lesers. As julle liefhebbers is van prentjie mooi argitektuur en pragtige versorgde tuine, dan is Coenraad en Theunise se troudag een wat julle nie moet mis nie. Boekmerk sommer nou die paartjie se troue. Dié paartjie het by ʼn populêre en bekroonde trou venue in Johannesburg getrou.
Hulle het ʼn lieflike buitelug seremonie gehad in die pragtige versorgde tuine van die trou venue. Ons is totaal en al verlief op die hoeveelheid blomme wat deel was van hulle seremonie. Daardie pragtige blom boog het onmiddellik ons aandag gekry en dit is ook die pragtige agtergrond van die paartjie se seremonie gewees.
Ons is totaal en al versot op die paartjie se trou dekor. Hulle het twee lang trou tafels gehad toegevou in wit met tafeldoeke en ʼn klomp kerse van Purplebell Event Planning op die tafels gehad. Die kerse was die middelpunt van die paartjie se trou tafels. Dit skep ʼn absolute romantiese en warm atmosfeer wat perfek werk by die prentjie mooi trou bestemming.
Met die fokus op ʼn meer simplistiese tafel uitleg, skep dit die perfekte kontras geskep. Pragtige blom ontwerpe het teen die mure en pilare van die trou lokaal opgekruip wat besonders mooi was. Hulle het die oulikste gaste geskenke gekry wat Theunise se ouers gemaak het. Elke gas het ʼn handgemaakte coaster gekry, gemaak van loodglas en fyn blommetjies binne die glas.
Wat is ʼn troue sonder ʼn jolige partytjie? Zoom DJ’s het seker gemaak dat Coenraad en Theunise se troue nie net fantastiese klank het nie, maar ook goeie beligting en lekker musiek. Hulle gaste het die aand om gedans en die partytjie baie geniet.
Rol af om meer te lees oor Coenraad en Theunise se troue.
Paartjie se Liefdesreis:
Ons het op skool ontmoet, maar ons was net vriende gewees totdat ek universiteit toe gegaan het en ons paadjies geskei het. Ses jaar later het Coenraad vir my ʼn boodskap op Instagram gestuur waarna ons weer herenig is en so het ons liefdesreis begin.
Coenie het vier jaar later my gevra om te trou. Hy het die Bioscope fliek teater uitgeboek by 44 Stanley en toe die fliek veronderstel was om te begin speel, het ʼn kort film van ONS liefde storie op die skerm afgespeel. Hy het na die kort film van ons verhaal op sy knieg gegaan en my gevra om te trou. Dit was ʼn sprokie!
Die Verlowing Tydperk:
Ons was net vir agt maande verloof. Omdat my droom venue slegs twee datums vir die jaar oorgehad het, was die tyd beperk om ons sprokiesdag te rel. Gelukkig met die hulp van my ongelooflike Ma, wat self ook blomme en troues doen, het ons die perfekte troue gehad. Ek en Coenie tesame met ons Ma’s en Pa’s was ʼn wenspan. Elkeen het iets gedoen om die dag onvergeetlik te maak en elke detail was noukeurig beplan en ek sou dit nie sonder hul hulp kon doen nie.
Trou Begroting:
Ons begroting was R250 000, maar ons het verseker nie daarby gehou nie. Ek en Coenie het ekstra geld ook ingesit en gelukkig het ek met ʼn man getrou wat enige iets sou doen om al my drome waar te maak.
Ons het beplan om slegs 90 gaste te nooi, maar het op die ou einde 115 gaste gehad.
Ons advies aan ander paartjies is dat hierdie groot geleentheid net eens ʼn leeftyd gebeur en dat jy moet doen wat jou gelukkig gaan maak. Mens wil terugkyk op die dag en weet jy het alles gehad wat jou hart begeer het en nie wens dat mens meer kon doen nie. So wag dalk eerder ʼn jaar of twee langer en spaar jou geld vir die ekstras en vir die details om jou droom dag ʼn realiteit te kan maak.
Merkwaardigste Oomblikke:
Theunise:
Dit is moeilik om een oomblik uit te sonder, want die dag was gevul met soveel spesiale oomblikke. Maar as ek moet kies sal dit wees toe my Pa my in die kerk ingeloop het en my oorgegee het aan Coenie. Om langs my Pa te loop en Coenie vir my te sien wag was onvergeetlik en ek sal nooit daardie kalmte wat oor my gespoel het vergeet nie. Ek het geweet dit is die begin van vir altyd.
Coenie:
Vir my, toevallig ook, was die merkwaardigste oomblik to Theunise by die kerk ingestap het. Sy het op ʼn baie spesiale liedjie ingestap wat groot betekenis vir ons inhou en ek was so oorweldig in die oomblik dat ek skoon vergeet het om haar te gaan haal by haar Pa. Sy moes my roep en sê “kom haal my”.
Die Besluitnemingsproses:
Ons het raad en leiding geneem van ons ouers en vriende, maar ek en Coenie het die finale besluite met als geneem en seker gemaak dat ons twee gemaklik is. Ons ouers was ongelooflik regdeur die proses en het niks op ons afgedwing nie, ons is so gelukkig om hulle te hê.
Paartjie se styl:
Ek sou ons styl as klassiek beskryf. Ons wou albei tydloos lyk op ons troudag.
Omdat al die kleure van ons troue so sag was, het Coenie ʼn grys pak gedra en ons het vir hom, in plaas van die tradisionele blomme op sy lapel, ʼn klein “tuintjie” gemaak om in die voorste sak van sy baadjie te sit. Coenie is ook bekend vir sy “happy socks” en daarom moes ons dit inkorporeer op die dag.
Ek het my rok al baie jare terug gesien en geweet dit is wat ek wil dra. Dit was sag en vloeiend met ʼn baie gedetailleerde korset wat my ontwerper baie ure aan gewerk het. My rok het baie detail gehad wat nie opvallend is nie. Soos die satyn knopies op my moue en die val onderaan die rok.
Ons trouringe is ook baie klassiek. Coenie het ʼn eenvoudige witgoud ring gekies en ek het ʼn pand laat maak met fyn diamante om by my verloofring te pas.
Gunsteling Diensverskaffers:
Ons fotograaf was ongelooflik spesiaal en het ons só gemaklik laat voel. Sy het net ʼn fantastiese “vibe” en ons sal haar vir enige iemand aanbeveel. Haar foto’s is topklas.
Ons blomme-span was ook uitsonderlik. Jill en haar span, tesame met my ma en haar hartsvriendin, het my visie ʼn realiteit gemaak. Hulle het so hard gewerk en ek was nie vir een oomblik bekommerd oor enige iets nie.
Georgetown, wat gespeel het by ons troue was onbeskryflik. Hulle het so ʼn wonderlike atmosfeer geskep wat al ons gaste gereed gemaak het om die aand weg te dans. Ek sal enige iemand aanbeveel om hulle te huur as vermaak vir hul troue.
Maar my heel gunsteling diensverskaffers was my Ma en Pa wat nie net ons gaste se geskenke self gemaak het nie, maar ook die mees unieke troukoek gebak en versier het vir ons. Hulle sal nou wel dit nie sommer vir iemand anders doen nie, maar vir my was hulle die beste diensverskaffers tydens ons troue.
Vermaak:
Ons het Georgetown gehad om te speel terwyl die gaste canape’s geniet het. Hulle is die ongelooflikste orkes met die mees unieke instrumente en klank. Ons gaste praat tot vandag toe nog oor hulle. Ek het reeds op hulle besluit om by ons troue te speel toe ek en Coenie net drie maande uitgegaan het en ek is so bly dat daardie droom kon realiseer te danke aan my baie spesiale skoonma!
Later die aand het ons die venue se platejoggie gehad wat seker gemaak het dat ons tot in die oggendure op die dansvloer was.
Venue & Dekor:
Ek en my Pa het elke dag verby Shepstone Gardens gery as hy my by die skool kom haal het, en ek het altyd vir hom gesê ek gaan eendag daar trou. Toe die tyd kom om ʼn venue te kies het niks kers opgesteek by Shepstone Gardens nie. Toe ons daar aangekom het vir ons afspraak om na die venue te kyk, het ek geweet dit is dié een. Gelukkig het Coenie ook sy hart op die venue verloor en ons het dieselfde dag die deposito betaal.
Ons inspirasie agter die dekor was verseker die venue. Omdat die natuurskoon by die venue só ongelooflik is wou ons dit inkorporeer in ons dag en die idee was om die venue se skoonheid net deur te trek met ons blomme en dekor. Ons wou ʼn baie romantiese atmosfeer skep.
Ons het honderde kerse gehad op die tafels met geen blomme op die tafels self nie. Die blomme het teen die mure opgekruip en van die dak afgehang soos wat dit sou in die natuur. Aan die hooftafel waar ek en Coenie gesit het, het dit gelyk asof die blomme uit die tuin gerank het tot op ons tafel. Jill Manson, wat ons blomme gedoen het, het haarself oortref. My Ma en Pa het ook vir elke gas ʼn loodglas “coaster” gemaak met die fynste gedrukte blommetjies in.
Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:
Ons het baie hard gewerk aan die beplanning van ons troue om dié te vermy en ek kan eerlik se daar is niks wat ons sou verander, behalwe om die dag nog ʼn paar ure langer te kon hê. Ons wou nie hê dit moet eindig nie!
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Bruid:
Beplan alles in fyn detail en maak lysies wat jy kan afmerk soos jy dit voltooi. Maak seker alles is afgehandel ten minste twee weke voor die troue sodat jy kan ontspan in die tyd wat dan oor is voor die groot dag. Onthou net, jy moet dit ook geniet en nie uitbrand van stres nie. Baie belangrik is dat jou gaste nie gaan weet as iets verkeerd loop of iets uit plek is nie. Net jy weet daarvan, so laat dit gaan en geniet jou dag. Dit gaan regtig in ʼn oogwink verby. Bly ook eg aan jouself, moet nie iets nuuts probeer wat jy nie normaalweg sou nie.
Bruidegom:
Moet nie te hard op jou toekomstige vrou wees oor die begroting nie. Dit is reeds verskriklik spanningsvol om 90-plus mense te onthaal. Help waar jy kan en knyp maar jou oë toe en gee daardie ekstra geldjie om die dag onvergeetlik te maak. Mens kan later finansieel herstel as ʼn span.
Meer oor Purplebell Event Planning:
Purplebell Event Planning is ʼn funksie beplannings maatskappy met ʼn verskil. As julle opsoek is na funksies, konferensies of produk bekendstellings met karakter, innoverende ontwerpe, pasgemaakte tema en dekor, vermaak – alles gedoen met professionele flair, dan is Purplebell beslis vir julle.
Purplebell Event Planning bied ʼn groot verskeidenheid dienste, afhangende van die kliënt se behoeftes. Hul dienste sluit in die verhuring van dekor en kerse, asook die verkoop van kerse.
Purplebell doen ook blomversierings en -installasies. Hul bied ook ʼn funksie opstelling diens. Elke geleentheid en funksie is uniek en die dienste wat Purplebell bied is gepersonaliseer om by elke kliënt se behoeftes te pas.
Wittebrood:
Coenie het ons wittebrood op sy eie beplan. Ek het van niks geweet nie en dit was ʼn baie groot verrassing toe ons op die vliegtuig klim na Mauritius die Maandag na ons troue. Ons was vir ʼn week in Mauritius by ʼn “all inclusive resort” wat ʼn absolute droom was. Daar het ons het te veel geëet en al die cocktails gedrink. Ons het gesnorkel, geslaap, geswem, gedans en net mekaar ingeneem voordat ons teruggekeer het huis toe.
Ons het in die tyd wat ons daar was as ʼn reël nie ons fone gebruik behalwe om foto’s te neem nie. Dit was ons tyd om alleen saam te wees as man en vrou en te ontspan na die opwinding van die troue. Dit is werklik die beste besluit wat ons kon neem en beveel dit vir alle paartjies aan. Sit jou foon af en verwyder jouself van realiteit vir die klein rukkie wat jy op jou wittebrood is.
Ons het toe ʼn verdere week af gehad na die wittebrood waar ons net by die huis was en tyd gehad het om trougeskenke oop te maak en ons dankies te sê en foto’s en stories te deel met al ons lief mense.
Meer oor Zoom DJs:
Verbeter jul trou vermaak met Zoom DJs, die perfekte keuse vir jul musikale behoeftes. Met 15+ jaar van bemeestering in die industrie, waarborg Zoom DJs ʼn eindelose partytjie atmosfeer. Hul kundigheid strek oor alle musiek genres, gevul met ʼn uitgebreide verskeidenheid musiek wat vir elke smaak en generasie voorsiening maak.
Met die nuutste klank- en beligtings toerusting skep Zoom DJs die ideale atmosfeer, van intieme byeenkomste tot groot korporatiewe galas. Zoom DJs se pasgemaakte musiek lyste verseker onophoudelike dans en vermaak.
Vir professionaliteit en betroubaarheid is Zoom DJs julle perfekte keuse. Bespreek nou julle datum en maak gereed vir ʼn onvergeetlike partytjie!
Eerste Dans:
Ons eerste dans was een van die spesiaalste oomblikke van die dag. Ons het op Ed Sheeran se Joker & the Queen gedans en het by Shablam Dance Academy gegaan vir lesse. Allan en Cat by Shablam is toevallig ook vriende van ons wat die proses soveel meer spesiaal gemaak het. Ons het ʼn baie ingewikkelde roetine gedoen en het baie hard daaraan geoefen. Wat eintlik meer spesiaal was, was die tyd wat ons daaraan geoefen het. Ek en Coenie het in die aande, na werk, in ons tuin dit geoefen en dit is oomblikke wat ek altyd sal koester.
- Kerse: Purplebell Event Planning
- Klank, Beligting + Platejoggie: Zoom DJ’s
- Fotograaf: Insane Photography
- Venue: Shepstone Gardens
- Blomme: Jill Manson
- Bruidegom-pak + Strooijonkers bykomstighede: Eurosuit
- Gaste Geskenke: Bruid se Ouers
- Grimering: Makeup by Dominiq
- Hare: Nikki Booysen
- Huwelik kontrak: AJ Scholtz Prokureurs
- Huweliksbevestiger: Dominee Jaco Schoeman
- Juweliersware: Jeanne & Co
- Koördineerder: Jessica Gaisford (Shepstone Gardens)
- Musiek: Georgetown
- Paartjie se verblyf: Shepstone Gardens
- Skoene: Family Shoe Centre
- Skryfbehoeftes: Kiss n Bliss
- Spyseniering: Howie Gourmet
- Trourok + Strooimeisie-rokke:: Lizan Zondagh Couture
- Trouring: Chocolate Jewellery Design
- Troukoek: Ouers van die Bruid
- Vermaak: Georgetown
- Wittebrood plek: Canonnier Beachcomber Golf Resort & Spa