Michael & Nicola se Stylvolle Buitelug Troue

Met opgewondenheid deel ons Michael en Nicola se stylvolle buitelug troue met Mooi Troues se lesers.  Hierdie aantreklike paartjie het by ʼn prentjie mooi wynlandgoed getrou in die Stellenbosch Wynroete.  Hul trou kan opgesom word as stylvol en klassiek, ʼn troue wat vir altyd in die mode sal wees.

Ray Photography was die paartjie se trou fotograaf en het elke oomblik van die paartjie se troudag só mooi vasgevang in die mooiste foto’s.  Die paartjie vertel dat Ray Photography ook een van hul gunsteling diensverskaffers was. Haar pragtige foto’s vertel ʼn storie van Nicola en Michael se troue van begin tot die einde van die paartjie se troudag.

Trunk Events was verantwoordelik vir die paartjie se trou koördinering, wat die stres van die trou beplanning proses vir die paartjie verminder het.  ʼn Professionele trou koördineerder soos Trunk Events is altyd ʼn goeie belegging, veral as julle nie onnodige stres wil hê tydens julle trou beplanning nie.

Hulle onthaal was onder die sterre in die pragtige versorgde tuin van die trou venue.  Dit was ʼn gesellige somers troue onder die sterre saam met familie, vriende, heerlike kos en goeie musiek.  ʼn Aand waar gaste hulself kan geniet en die aand om dans onder die sterre.  Ons is totaal en al verlief op hulle buitelug troue se dekor elemente.  Dit was eenvoudig, maar nogsteeds so stylvol gewees.  Ronde tafels met ʼn neutrale kleur tafeldoek en alles wit dekor elemente op die tafels asook die stoele is so elegant.  In die middel van die tafels was daar ʼn mooi blom ontwerp om die dekor elemente af te eindig.   Teen skemer het die hele onthaal opgehelder deur ligte wat bo oor die tafels gehang het.

Rol af om meer te lees oor Michael en Nicola se stylvolle buitelug troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het op Tinder ontmoet!  Al twéé van ons was aanvanklik skepties daaroor, maar na ʼn paar etes, uitstappies en kuiers het ons besef dat ons besig was om verlief te raak.  Ons het vir twee jaar lang afstand deur die pandemie gedoen terwyl ek in Italië studeer het.  Kort nadat ek permanent terug in Suid-Afrika was, het Michael my gevra om te trou.  Ons is die oggend om 5vm in ons pajamas, met die sonsopkoms in Plettenbergbaai verloof.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was vir 14 maande verloof.  Dit het ons genoeg tyd gegee om die verlowings tydperk goed te geniet voordat ons ernstig begin het met die troubeplanning.

Die troue se sukses kan hoofsaaklik toegeskryf word aan my ma, wat gehelp het met al die beplanning van die begin tot einde.  Ons het dit saam beplan.

Ons het wel op die troudag gebruik gemaak van ʼn koördineerder, Trunk Events, sodat ons almal die dag kon geniet het!  Hulle het vir ons baie goeie wenke gegee oor hoe om ons tydlyn te organiseer en het vir ons kos en drankies gebring gedurende die predrinks, sodat ons wel van die voorgereg kon eet terwyl ons almal gegroet het.

Trou Begroting:


Ons het die troukostes gedeel met ons ouers, wat ʼn groot geskenk en voorreg was.

Aangesien ons al ons geliefdes saam met ons op ons groot dag wou hê (156), moes ons staatmaak op ons gemeenskap en hulle talente.  Michael se oom het ons troukoek gemaak en my ma het van die blomme rangskikkings bymekaar gesit.  Ons het Michael se nefie gevra om ons huweliksbevestiger te wees.  Ek en my vriendin het saam die grafiese ontwerp gedoen vir die uitnodigings en seremonie.

Ons het ook probeer om verskaffers te gebruik wat (nog nie) so bekend is nie – talentvolle meisies wat saam met my op skool was het my hare, grimering en videografie gedoen.  Dit was ʼn bonus om te werk met mense wat ons liefhet en waarmee ons lekker kon gesels het deur die hele proses.

Merkwaardigste Oomblikke:


Michael:

Die eerste oomblik wat ek vir Nicola gesien het.  Ek het glad nie verwag om emosioneel te wees nie, maar daar was ʼn traantjie in my oë!  Verder definitief al die tyd op die dansvloer.

Nicola:

Ons het vriende en familie van regoor die wêreld gehad wat gekom het om te sien hoe ek en Michael ons liefde en trouheid aan mekaar belowe.  Om so ʼn aand met my sielsgenoot en gunsteling mense op die dansvloer te spandeer was onskatbaar!  Alles het só mooi uitgedraai en die kos was fantasties.  Ons het ook vir die laaste uur van die aand ʼn ‘afterparty’ in die kelder gehad wat onvergeetlik was.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het saam die finale besluite gemaak oor meeste aspekte soos die kos, venue en gastelys, maar ons het wel ander goed verdeel om die beplanning makliker te maak.  Ek sou sê dat ek meer in terme van die dekor, skryfbehoeftes en blomme besluit het, terwyl Michael die musiek, alkohol en wittebrood georganiseer het.

Soos ek genoem het, was my ma ʼn engel deur hierdie hele proses.  Sy en my sussie het baie gehelp met die organisering en besluitnemingsproses.

Gunsteling Diensverskaffers:


Al ons verskaffers was ongelooflik, maar my twee gunsteling verskaffers was definitief ons fotograaf, Megan van Ray Photography en ons platejoggie/musikant Werner van ‘Man with Music‘. Hulle het in elke opsig die ekstra myl gegaan en het bygedra na ʼn onvergeetlike aand waaroor ons gaste nie uitgepraat kan raak nie.

Paartjie se styl:


Op ons 50ste huweliksherdenking wou ons terugkyk en nogsteeds lief wees vir ons uitrustings.  Hoe kan jy verkeerd gaan met ʼn groot wit trourok met pêrels en swart tuxedo?

Michael het my verlowingsring saam met my sussie uitgekies, en ons het eenvoudige goue trouringe gekies as troupand.

Vir ons gaste het ons aanbeveel dat hulle kleurvol aantrek, (basies enigiets behalwe swart)!  Ons sien ʼn troue as ʼn dag van feesviering en wou dit in ons fotos sien deurkom.

Meer oor Ray Photography:


Megan Ray van Ray Photography is ʼn trou fotograaf, gebaseer in Stellenbosch, maar neem troues af regoor Suid-Afrika.  Haar liefde vir fotografie het begin op ʼn baie jong ouderdom toe haar ouers haar eerste pienk mik-en-druk kamera vir Kersfees gekoop toe sy twaalf jaar oud was.  Vandag is sy ʼn fantastiese trou fotograaf wat paartjies troudag herinneringe verewig vasvang in die mooiste foto’s.

Ray Photography se foto’s van daardie spesiale oomblikke vas in foto’s wat ʼn storie vertel.  Haar joernalistieke fotografie styl maak haar foto’s spontaan en ekstra spesiaal.  Dit is nie ʼn klomp poseerde foto’s nie, maar dit vertel meer ʼn storie van die paartjie se troudag.  Daardie oomblikke tussen in is wat Ray Photography só goed vasvang en dit is wat haar fotografie werk só spesiaal en uniek maak.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Daar was nie ʼn enkele ding wat verkeerd geloop het nie.  Ons was ongelooflik gelukkig met die weer – ʼn warm wind stille aand.  Ons spot altyd met my ouers dat hulle duur moes betaal het om die weer so mooi te laat saamspeel het.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Nicola:

Prakties gesproke – Trou webtuistes help só baie om tred te hou met jou gastelys se R.S.V.P en diëet vereistes op een plek.  Ons beste wenk was om ons toesprake kort te hou en om ons hoof fotosessie te hê gedurende die gaste se etenstyd – so kon ons ‘golden hour’ fotos hê en baie tyd oor los vir kuier met jou gaste!

Probeer 5min afknyp om alleen met jou maat te spandeer.  Dit is julle groot dag en gaan op die ou einde oor julle twee wat saam die oomblikke inneem.

Michael:

Verdeel julle verantwoordelikhede en stel sperdatums op sodat daar goeie kommunikasie oor die beplanning is.  En onthou, jou eerste en enigste prioriteit behoort altyd jou maat te wees.

Venue & Dekor:


Ons wou ʼn somerstroue onder die sterre hê waar ons families onder die bome saam kon sit en kuier om die etenstafel.  Niks te spoggerig nie, net lekker kos, goeie musiek en geselskap.

Met ʼn groot gastelys en Nooitgedacht het daardie prentjie perfek uitgevoer.  Hulle tuine was so mooi dat ons minimale dekor en eenvoudige blommerangskikkings gebruik het om ʼn sprokies-effek te kry.

Vermaak:


Werner Denner van Man with Music het ons die hele aand lank bederf met fantastiese musiek, en ʼn regstreekse musikale optrede gedurende aandete.  Daar was nie ʼn oomblik waar die dansvloer nie vol mense was nie.  Ons het tot in die laat ure van die aand gedans met ons geliefdes en dit sou nie dieselfde gewees het sonder Werner en al sy talente nie.  100% die moeite werd.

Meer oor Trunk Events:


Tracy Branford het Trunk Events gestig omdat sy lief is vir mense, en ʼn reputasie het vir die organisering van groot geleenthede.  Almal wat haar ken noem haar die beste gasvrou.  Tracy is trots op haar aandag aan detail; terwyl sy altyd sensitief is vir haar kliënte se totale begroting.  Tracy lê klem op ʼn goeie georganiseerde geleentheid en voeg haar toorkuns ook by die stilering en trou dekor. Voordat u dit weet, hou u een ongelooflike sjiek troue of geleentheid.

Vanaf die trou beplanning en konseptualisering van die ontwerp en styl van u geleentheid; bied Tracy ʼn uiters praktiese diens aan al haar kliënte, tot by die baie noodsaaklike verwerking van syfers om binne die trou begroting te bly. Tracy en haar span is waar u wil hê hul moet wees – of dit nou die trou lokaal opstel en stileer, die groot dag koördineer of die kelners en kroegmanne bestuur. Tracy en haar span het alles gedek.

Wittebrood:


Michael het vir ons Thailand toe geneem vir ons wittebrood.  Dit was ʼn absolute droom om vir twee weke lank net in mekaar se geselskap te wees in een van die mooiste omgewings in die wêreld – veral na die dolheid van die troue.

Een goeie wenk wat ons gekry het was om nie die dag na die troue al te vertrek nie.  Ons het ʼn dag lank ontspan by die huis, ons geskenke oopgemaak en rustig gepak voordat ons vertrek het die dag daarna.

Eerste Dans:


So 2 maande voor die troue het ons na ʼn konsert van ‘The Lumineers’ gaan kyk waar hulle ʼn omslag van The Cure se ‘Just Like Heaven‘ gespeel het.  Ons het dadelik daarop besluit vir ons eerste dans.

Ons het maar in die kombuis ons dans gekoreografeer en gehoop vir die beste!

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

      Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

      Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

      Artikel Diensverskaffers: