Trou Beplanning Advies Stap 4 van 12

Mooi Troues se lesers kan ons 12-stap trou beplanning advies reeks van artikels volg wat maandeliks op Mooi Troues gepubliseer sal word.  In hierdie advies artikels gee ons vir jou elke maand ʼn lys van items waaraan jy moet aandag gee.  Ons het die trou beplanning opgebreek in kleiner stukkies, sodat dit nie só oorweldigend is om alles op eenslag te lees nie.

Om ʼn troue te beplan is baie stresvol, veral as jy ʼn selfdoen troue wil hou.  Mooi Troues help jou om dit maklik en stresvry te doen met ons reeks opvolgende advies artikels. Klik hier vir meer advies artikels.

Ons het die vorige keer die derde van ons twaalf maande trou beplanning aftiklys gedeel.  Teen die tyd sal jul nou al ʼn beter idee hê van julle begroting en hoeveel julle op wat wil spandeer.  Maak seker julle kyk net na trou diensverskaffers binne julle begroting, sodat julle nie julself onnodig ontstel nie.

As julle nog nie die punte in ons vorige artikels gedoen het nie, moet nie stres nie, jul kan dit doen teen jul eie spoed.  Hierdie artikels is slegs ʼn riglyn vir jou om te gebruik om jou troue minder stresvol te maak deur ʼn jaar voor die tyd al met die beplanning proses te begin.  Daar is paartjies wat daarvan hou om hulle troue in korter tydperke te doen, met bietjie meer stres. Daar is niks fout daarmee nie.

Vir ons vierde artikel van ons 12-stap trou stap trou beplanning advies reeks, rol af.

Wat moes ons teen die tyd al gedoen het?


As julle nog nie begin beplan het aan jul troue nie, moet nie stres nie, daar is altyd genoeg tyd.  Dit beteken net dat julle meer moet doen oor ʼn korter tydperk.  Dit is nie onmoontlik nie, julle sal net meer moet fokus en aandag gee aan julle trou beplanning proses.

Onder is ʼn riglyn van min of meer wat jul teen nou al moes gedoen het as julle ons 12 stap reeks volg:

  • Die Begroting moet nou al gefinaliseer wees, sodat jy weet waarop jy wat kan spandeer.
  • Trou Datum van julle troue.  Dit moet definitief al gefinaliseer wees.  Sonder ʼn datum kan julle niks bespreek nie.
  • Venue vir jul troue moet teen die tyd al gefinaliseer wees.  Onthou om jou deposito te betaal en ook die kontrak baie noukeurig deur te lees voordat julle dit teken.
  • Bekende Trou Diensverskaffers ontmoet het en begin bespreek het.  Bekende diensverskaffers is lank voor die tyd bespreek, so om seker te maak julle kry hulle vir jul troue, sal julle hulle spoedig moontlik moet bespreek.
  • Fotograwe en Videograwe ontmoet het ons gekyk het na webtuistes of werk in persoon.  Begin dink om een te bespreek as julle nog nie iemand bespreek het nie.
  • Besluit het of dit ʼn Selfdoen Troue gaan wees en of julle ʼn Trou Koördineerder gaan huur.  Dit is nou die tyd om dit definitief te finaliseer.  Trou Koördineerders kort ook tyd om troues te beplan.  Julle sal nie hulle enigste kliënt wees nie, so bespreek een so gou moontlik.
  • Visie bord:  Daar is baie oulike programme wat jy kan gebruik vir ʼn visie bord, een van dit is Pinterest.  Mooi Troues se Pinterest profiel is propvol oulike trou inspirasie vir julle om te gebruik vir jul eie troudag.
  • ʼn Idee hê van die dekor styl waarvan julle hou, asook die algehele styl van die troue.
  • Kry versekering vir julle troue.
  • Begin dink het aan trou diensverskaffers wat jul moontlik wil gebruik.
  • Finaliseer die gastelys van buitelandse gaste.
  • Begin dink aan die bruid se trourok.

Finaliseer jou trourok keuses:


In ons vorige artikel het ons gesels oor die kies van trourokke.  Teen die tyd moet jy al ʼn bietjie meer weet oor die tipe styl, materiaal ensovoorts.  Onthou om notas te maak van jou gunsteling trourokke wat jy gesien en of moontlik al aangepas het.  Indien jy nog nie aan gaan pas het nie, is dit nou die perfekte tyd om te begin, om te verhoed dat jy nie jou perfekte trourok in tyd kry nie. 

Hoe vroeër hoe beter.  Dit is ook belangrik om in ag te neem dat daar baie elemente is soos die maak van die rok of die beskikbaarheid van die rok, indien jy gaan huur.  Miskien lyk die tipe rok wat jy gedink het gaan perfek lyk, nie so mooi aan jou liggaam bou nie.  Dit is okei, dit gebeur gereeld.  Dan het jy nog oorgenoeg om verlief te raak op ʼn nuwe snit.

Bruidegom Pak:


Toekomstige bruidegomme wil gewoonlik weg hardloop wanneer dit kom by die kies van die pak.  Met vandag se mooi bruidegom pak modes kan die bruidegom waarlik baie aantreklik lyk op die troue.  Kies ʼn pak wat hy weer kan dra na die troudag vir ʼn spesiale funksie. 

Pasgemaakte pakke is bietjie duurder, maar dit word spesiaal vir die  bruidegom gemaak en julle weet dit sal perfek sit.  Indien julle die perfekte pak wat klaar gemaak is gevind het, kan julle altyd verstellings na die tyd laat maak.

Bespreek julle klank, musiek en platejoggie:


Moet asseblief nie vir die eerste goedkoopste opsie gaan nie, of die vriendin se maatjie wat dink hy kan ʼn platejoggie wees omdat hy ʼn goeie klank sisteem het nie.  Dit is seker die mees irriterende ding wat kan gebeur by ʼn seremonie of onthaal as ʼn mikrofoon nie lekker werk nie.

Daar is baie platejoggies beskikbaar regoor Suid Afrika, so die keuse is moeiliker as wat mens dink.  Die heel eerste advies wat ons sou sê is om ʼn kortlys te maak van die platejoggies wat julle ingedagte het. Dink mooi voor jy jou vermaak en platejoggie kies.  Vrae vir verwysings en ook dat jy kan luister na die musiek wat hulle doen.  Miskien kan hulle vir jou ʼn demonstrasie gee van hulle musiek en toerusting.

Klik hier om meer te lees hoe om die perfekte platejoggie vir julle troue te huur.

Verblyf opsies:


Verblyf is gewoonlik iets wat vinnig en ver vooruit bespreek word, veral as jy in die middel van die besige seisoen trou, skool vakansie of vakansie tye in ʼn populêre bestemming. 

Julle moet dink aan verskillende verblyf opsies soos verblyf vir die bruid en bruidegom die aand voor die troue, asook op die aand van die troue.  Meeste bruide maak reg in die wittebrood suite naby of by die bestemming waar hulle trou.  Dit is gewoonlik ʼn groter spasie vir die bruid en die strooimeisies om reg te maak.

Die volgende verblyf opsie om aan te dink is vir julle trou gaste.  Indien julle ʼn groot groep gaste het wat ook verblyf sal benodig, dan is dit ʼn goeie idee om in kontak te kom met ʼn paar oulike verblyf opsies in die area.  Maak ʼn kortlys van oulike plekkies en stuur dit na julle trou gaste.  So help julle jul trou gaste om vinniger te besluit waar hulle wil oornag, indien hulle so verkies.  Dit is veral belangrik as julle ver van die area waar meeste van jul gaste af reis trou.

Dekor Huur vir Selfdoen Troues:


Selfdoen troues kan baie mooi lyk as dit reg gedoen word.  Maak seker julle kies ʼn professionele betroubare verhuring maatskappy om trou dekor items by te huur.  Begin lank voor die tyd dekor items bespreek by die verhuring maatskappye, indien die een verhuring maatskappy nie die items het waarna julle soek nie, het julle nog genoeg tyd om nog te soek vir ʼn alternatief.  Daar is baie oulike dekor verhuring maatskappye waar jy die mooiste dekor en meubels kan vind vir julle troue.  Begin deur ʼn lys van items op te stel van wat julle op elke trou tafel wil hê en so sal dit julle help om ʼn meer vollediger lys op te stel. 

Die alternatief is, is om ʼn dekorstilis te huur.  ʼn Dekorstilis is iemand wat spesialiseer daarin om troues se dekor te stileer en die onthaal lokaal spoggerig te laat lyk.  Dekorstiliste moet nog met jou sit en bespreek watter idees jy het en hulle idees voorlê aan jou.  Maak seker jy luister na jou professionele stilis as jy een gaan huur.  Onthou jy beplan een troue en ʼn stilis het seker al ʼn paar honderd beplan, so kan jou baie waardevolle advies gee.

Bestel julle troukoek:


ʼn Heerlike troukoek is altyd ʼn wenner.  As jy by ʼn bekende koekbakker gaan bestel sal julle nou al jul bestelling moet insit, omdat hulle baie vinnig vol bespreek word en verskriklik besig is gedurende seisoen tye.

Proe altyd trou koeke by verskillende koekbakkers voordat julle besluit.  Onthou, ʼn troukoek moet nie net mooi wees nie, maar ook heerlik proe en smaak.

Maak seker julle hou ingedagte die dekor vir die troukoek tafel.  Die troukoek speel só ʼn groot rol in die onthaal lokaal van die troue, so maak dit mooi en laat dit die middel punt van aandag wees vir jou gaste in die onthaal lokaal.  Die dae van die troukoek in die hoek in te druk is verby!  Laat dit uitstaan en dat al julle trou gaste dit raaksien en bewonder.

Bespreek jul trou fotograaf en videograaf:


As julle nog nie jul trou fotograaf en videograaf bespreek het nie, is dit nou die tyd om so te maak.  Julle moet definitief teen nou al weet wat julle opsies is.  Kyk weer deur die fotograwe wat julle op jul kortlys het en bespreek julle finale keuse vir jul troudag.

Meeste trou fotograwe en trou diensverskaffers benodig ʼn deposito van tussen 30% tot 50%.  Maak seker julle verstaan die verskille tussen ʼn deposito en ʼn nie terugbetaalbare besprekings fooi. Maak seker julle het die fondse beskikbaar onmiddellik as julle die fotograaf of videograaf wil bespreek, sodat julle die datum kan bevestig.

Beplan en bespreek jul wittebrood:


Om ʼn wittebrood te beplan is vreeslik opwindend.  Hoe vroeër julle bespreek, hoe beter, veral indien julle na ʼn populêre wittebrood bestemming wil reis.  Die eerste besluit is waarna julle wil reis.  Dan moet julle besluit of julle van ʼn reis agentskap wil gebruik maak of julle wittebrood self beplan.  By Mooi Troues wil ons julle wittebrood beplanning so gemaklik moontlik laat wees.  Klik hier vir wittebrood advies artikels op Mooi Troues.  Hoe vroeër julle begin beplan aan julle wittebrood hoe minder stres sal dit vir julle veroorsaak.  Neem ingedagte dat daar ander dinge soos visums ensovoort is wat ook gedoen moet word, veral as julle internasionaal gaan reis.

Bespreek jul repetisie aandete:


Indien julle nie ʼn formele repetisie aandete gaan hou by ʼn populêre fynproewer restaurant nie, is dit nie nodig om dit nou al te bespreek nie.  Julle kan ʼn restaurant so twee weke voor die tyd bespreek, indien julle groep nie te groot is nie.  

Repetisie aandetes is om die verskillende nabeie familielede aan mekaar bekend te stel voor die troudag.  Dit is ʼn oulike manier om mense te leer ken, dan is almal nie so vervreemd voor die troudag nie.  Dit is nog nie ʼn tendens wat baie gegroei het in Suid-Afrika nie, maar ons sal dit graag meer wil sien groei.

Artikel Krediet

  • Foto’s:  Pexels