Shaun & Yolandé se Intieme Troue

Met opgewondenheid deel ons Shaun en Yolandé se intieme troue in Mpumalanga by ʼn pragtige industriële styl trou venue op ʼn pragtige plaas in die Lothair gebied.  Hierdie paartjie se trou foto’s bied soveel inspirasie vir paartjies opsoek na inspirasie vir hul eie troue.

Nicolene Meyer, ʼn talentvolle trou fotograaf het die paartjie se troudag afgeneem.  Yolandé se meermin styl trourok het haar só mooi gekomplimenteer en die detail op haar half oop rug van die trourok is pragtig.  Shaun  het ʼn stylvolle vlootblou pak aangehad met ʼn bruin belt en skoene. Die strooimeisies se vlootbou rokkies pas só goed in by die hele troue se gevoel.

Yolandé en Shaun se trou dekor was vir ons só pragtig gewees.  Helder kleure soos oranje, blou en geel kan gesien word in hul trou dekor.  Omrede die trou venue ʼn industriële voorkoms het met sy grys mure hoë dak staan die helder kleure van die trou tafel dekor so mooi uit.  Die dun kerse wat hoog bo die tafel uitstaan skep die illusie van hoogte op die trou tafel.

Tikseltjie goud soos die eetgerei bring weer die elegante en moderne voorkoms in en pas só mooi by die hele samevatting van die tafel dekor. Die skryfbehoeftes op die tafels is ook simplisties en baie modern.

Dit was omtrent ʼn lekker gesellige kuier saam met familie en vriende.  Hulle het ook ʼn orkes en sangers gehad wat regstreeks gesing het, om seker te maak hul trou gaste word vermaak met goeie musiek.

Hulle het ʼn lieflike plaaslike wittebrood gehad by een van ons gunsteling hotelle in KwaZulu-Natal.

Rol af om meer te lees oor Shaun en Yolandé se liefdesreis en hul intieme troue.

 

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het in 2015 op ʼn aanlyn webtuiste ontmoet.  Het ongeveer drie maande net op Whatsapp gekommunikeer voordat ons op ons eerste afspraak gegaan het in 2016.

Shaun het my gevra om te trou tydens ʼn wegbreeknaweek Kaapstad toe. Ek het geweet dit is ons verlowings naweek, maar het nie geweet wat Shaun alles beplan het nie.  Ek het net op die vliegtuig geklim en al die aktiwiteite geniet wat hy vir ons gereël het sonder om te weet hoe en waar dit gaan gebeur.  Ons het op 29 September 2018 by die 12 Apostels Hotel and Spa verloof geraak.  Shaun het ʼn piekniek laat opstel by Stanley’s Rock by die hotel.

Die Verlowing Tydperk:


Ons sou oorspronklik in 2019 getrou het, maar moes uitstel weens onvoorsiene omstandighede.  Na dit was daar natuurlik ook die Covid pandemie … Ons het uiteindelik in 2022 getrou – dus vier jaar later.  Ek en Shaun het nie van ʼn beplanner gebruik gemaak nie aangesien dit die kostes drasties sou verhoog.  Meeste van die beplanning het ek alles self gedoen, maar het deurlopend met Shaun gesels daaroor.

Trou Begroting:


Ons het R100,000 begroot, maar dit het nader aan R120,000 uitgewerk.

Shaun het die uitgawes deurlopend gemonitor op ʼn Excel sigblad om ons so na as moontlik daaraan te probeer hou.

Ons het ʼn klein troue gehad met 43 gaste, waarvan 5 verskaffers was.

Advies:

Ons het ʼn weeksdag troue gehad wat die trou venue huur baie goedkoper maak.  Trou venues vereis gewoonlik ʼn minimum aantal gaste oor naweke wat ook nie ʼn vereisde is op ʼn weeksdag nie.

Dit werk beter vir paartjies wat kleiner troues wil hê.   Ons het ʼn Donderdag gekies wat lekker naby aan die naweek is, so almal het ʼn lekker lang naweek daarvan gemaak.

Merkwaardigste Oomblikke:


Shaun:

Toe ons uit die kerk uitstap as getroudes.  Die wete dat ons uiteindelik tot hier gekom het na die lang wag en dat ons nou ons lewens saam kan begin as huweliksmaats.  Dit was baie spesiaal.

Yolandé:

Die oomblik toe ek buite die kerkdeure staan en wag om in te loop was vir my beslis die merkwaardigste.

Ons het ʼn sanger gehad wat ʼn akoestiese weergawe gesing het van Calum Scott se liedjie, You are the Reason.  Ek kon natuurlik na die eerste paar lyne van die liedjie staan en luister voor die deure oopgegaan het en net my gedagtes bymekaarkry.  So lank geneem om te dink oor die liedjie waarop ek wou inloop, want ek wou hê die liedjie se woorde moes reflekteer hoe ek voel.  Die gevoel van kalmte, gemeng met opgewondenheid om uiteindelik na my man toe te loop met die liedjie wat in die agtergrond speel sal my altyd bybly.

Paartjie se styl:


Shaun is ʼn absolute Polo handelsmerk fanatikus en blou is sy gunsteling kleur.  Dit was uiteraard ongetwyfeld die styl waarvoor hy gegaan het.

My trourok was ʼn Enzoani meermin styl rok in ʼn ivoor kleur met ʼn middel-rug kant agterkant, asook aan die kante van die rok.  Ek het nie gebruik gemaak van ʼn sluier nie.

Ek het my vintage styl verloofring en troupant self gekies en laat maak deur ʼn ontwerper.  Shaun se ring is van Tungsten met ʼn blou rif in die middel sodat dit natuurlik sy gunsteling kleur reflekteer.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het saam finale besluite geneem op meeste van die aspekte, behalwe die dekor – dit was meestal net ek wat daarby betrokke was.

Albei van ons het nie ons families of vriende betrek by enige besluitneming nie aangesien ons self vir alles betaal het.  Dit is ook immers ons dag en dus moes dit vir ons spesiaal wees.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ek kan nie tussen die twee kies nie, maar ons fotograaf, Nicolene Meyer en ons musiek verskaffer, The Morning After.

Nicolene is net in ʼn ander klas.  Ons ken haar al lank aangesien sy ons verlowing foto’s geneem het in 2018.  Ons was mal oor ons foto’s en het net geweet daar is niemand anders wat ons wil hê om ons troufoto’s te neem nie.

Die orkes het net ʼn ander gevoel geleen aan die onthaal en almal was gek oor hulle.  Hulle het soveel passie vir wat hulle doen en sing boonop pragtig ook.  Hulle liedjies is omslag weergawes van treffers wat ons almal ken en dus kan almal saamsing.  Jy kan nie anders as om op die dansvloer te wees as hulle aan die beurt is nie.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ai … die weer!

Die seremonie sou eintlik buite gewees het.  Ons het die mooiste dekor gehad met blomme wat aan stringe bo-oor die hele area sou hang waar ons sou trou, maar die weer was nie in ons guns nie.

Ek moes ʼn finale besluit maak so uur voor die troue om die seremonie na die kerk toe te skuif aangesien dit kort-kort liggies gereën het. Dit het veroorsaak dat ons nou nie die mooi stringe blomme kon hê wat so mooi gelyk het buite nie.

Ons kon darem die ander blomme oorskuif kerk toe.  Die kerk is ook natuurlik groot en kan baie mense akkommodeer so met ons min gaste het dit natuurlik bietjie leeg gelyk.  Ons dekor was immers beplan vir die buite area.

My trourok het ook onder vol modder gesmeer oppad kerk toe as gevolg van die reën, so dit was nie vir my lekker nie.

Ons trou fotograaf kon dit gelukkig uit die foto’s uit redigeer.

Venue & Dekor:


Ons het ʼn lys van die trou venues gemaak in Pretoria waarvan ons gehou het gebaseer op profiel foto’s en toe afsprake gemaak om te gaan kyk.

Dit was ʼn groot gesukkel aangesien daar elke keer iets was wat ons verhoed het om ʼn besluit te maak op ʼn spesifieke plek. Dit was of die geval dat een van ons van die venue hou en die ander een nie, of die ligging was nie lekker nie, of die styl was nie waarvan ons gehou het nie, of die pryse was net heeltemal te hoog, of die venue was net eenvoudig te groot om ons klein getal gaste te akkommodeer.

Ek was reeds bewus van die venue (Smitsfield) en het geweet ek is mal oor die industriële styl, maar dit was in Ermelo. Ons het dus nie reg van die begin af besluit om na die venue te gaan kyk nie.

Toe ons nie regkom in Pretoria nie het ek vir Shaun toe Smitsfield se foto’s gewys en hy het gesê ons moet gaan kyk.  Toe ons daar instap het ons net al twéé dadelik geweet – dít is dié een.

Dekor styl elemente:

Aangesien Shaun so baie van blou hou was al voorwaarde wat hy vir my gegee het om blou in te bring by die dekor.  Ek het dit by ons trou skryfbehoeftes en kerse ingewerk.

Ek het Pinterest gebruik om kleur palette te soek met blou in en die oranje het dadelik my oog gevang.  Het ook geweet ek wil baie graag pampas hê aangesien ek mal is oor die Boho styl.

Ek het nie gevoel dat die venue met sy industriële styl regtig sou werk met Boheems nie, maar die pampas het my darem toegelaat om steeds iets van die Boheemse styl in te bring.  Het toe eers heelwat later op foto’s afgekom van troues met die disko balle.

Ek was mal daaroor en het dit so bespreek met ons dekor diensverskaffer (Floral and Decor by Deo-Dané) en sy het alles bymekaargesit en dit maak werk.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruid:

Moet nie dat goed soos die weer of ʼn vuil rok soos wat met my gebeur het jou dag bederf nie.  Alhoewel mens altyd ʼn perfekte idee het in jou kop is dit 99% van die tyd nie hoe dinge uitwerk nie.  Maak vrede en kyk vorentoe.  As jy jou gaan ontstel oor sulke goed gaan jy jou hele dag bederf.  Die dag gaan só vinnig verby, neem net elke oomblik in en gaan net met die vloei.

As jy self baie van die reëlings hanteer (bv. skryfbehoeftes of dekor moet gaan oplaai) moenie alles tot op die laaste los nie.  Sulke goed vat meer tyd as wat mens besef. Beplan dus om ten minste drie dae voor die tyd al jou goedjies in jou hande te hê, sodat jy die twee dae voor die troue vir jouself het.  Dit is die tyd wat jy moet benut om jou naels te gaan doen en al die ander lekker bederfies wat daarmee gepaard gaan.

Bruidegom:

Maak seker dat jou diensverskaffers presies weet wat jy wil hê sodat daar geen verwarring is nie.  Vra vrae as jy onseker is en moet nie skaam wees om oor die finansiële aspekte te praat nie.

Begroot ook bietjie ekstra, want daar is altyd onvoorsiene uitgawes, veral as jy ʼn bestemmings troue beplan.

Dit is nie altyd moontlik om alternatiewe verskaffers op kleiner dorpe te kry nie en as jy spesifieke trou diensverskaffers het waarvan jy gebruik wil maak gaan daar addisionele kostes wees om hulle by jou venue te kry.  Dit is nie iets waaraan jy altyd dink nie.

Wittebrood:


Omdat ons in Desember getrou het was ons Desember vakansie ook reeds beplan en betaal.  Ons het dus besluit op ʼn kort wegbreek na die troue en om dan later eers ons groot wittebrood te beplan.  Ons het vir ʼn paar aande in die Oyster Box in Umhlanga gebly.  Dit was nog altyd op ons lys van dinge om te doen.

Die slegte weer het ons natuurlik gevolg tot in KwaZulu-Natal, so dit was die heeltyd bewolk.  Gelukkig met die humiditeit en die verhitte swembad kon ons nogsteeds lekker tyd buite spandeer en die hotel se geriewe geniet.

Vermaak:


The Morning After was ons vermaak op die dag.  Dirk, die hoofsanger van die groep het my inloop liedjie akoesties gesing in die kerk wat só mooi was en hulle het ook verskeie kere by die onthaal opgetree.

ʼn Lid van die orkes het sommer die rol van platejoggie ook vervul vir die tye wat die orkes nie aan die beurt was nie.

Eerste Dans:


Ons het die dansvloer oopgemaak op Liam Payne ft. Rita Ora se liedjie “For you“, uit die film Fifty Shades Freed.

Ek en Shaun het nie heeltamal dieselfde musieksmaak nie, maar ons is albei mal oor die liedjie so dit was vanselfsprekend dat ons hom sou kies.

Ons het vir so ses maande danslesse geneem by JP van De La Vida Dance Studio aangesien Shaun glad nie kon dans nie.  JP was wonderlik en het die onmoontlike reggekry met Shaun.  Ek was so verbaas (en baie dankbaar)!

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: