Ruan & Lené se Pragtige Troue in die Paarl

Met opgewondenheid deel ons Ruan en Lené se pragtige troue in die Paarl met Mooi Troues se lesers.  Die paartjie se troue is só mooi gewees by ʼn pragtige landgoed omring met die mooiste landskappe en versorgde tuine van die trou venue.   Mooi Troues se Trougids is propvol pragtige trou venues as julle op trou staan en opsoek is na ʼn oulike trou venue vir julle groot dag.

Lené het ʼn besonderse mooi trourok aangehad, met fyn detail en ʼn baie mooi pofferige, maar steeds vloeiende onderstuk.  Ruan, asook sy gevolg en die bruid se strooimeisies het almal sagte aardse kleurskema uitrustings aangehad wat só mooi gepas het by die troue se gevoel.

Hulle seremonie het ʼn baie romantiese gevoel gehad in die trou venue se trou kapel met die donker hout dak en rou baksteen mure en die klomp kerse en die mooi blom ontwerpe.  Dit is belangrik dat paartjies onthou om hul seremonie gedeelte ook mooi te laat lyk, want dit is só ʼn groot deel van ʼn paartjie se troudag.

Ruan en Lené se trou dekor het nie net ʼn baie romantiese gevoel gehad nie,  maar ook so mooi ingepas by die trou venue se hele gevoel.  Die rou mure met die glas elemente op die tafels en moderne deurskynende stoele, skep die perfekte kontras.  Groenigheid met pragtige wit blom ontwerpe kan gesien word reg deur die onthaal lokaal se tafels asook bosse groenigheid wat bo die trou tafels hang.  Die ligte wat tussen die deur die bosse kom vanuit die dak bo die tafels, bring weer daardie moderne element in.

Rol af om meer te lees oor Ruan & Lené se Pragtige Troue in die Paarl en ook om meer te lees oor hul liefdesreis as paartjie.

Inspirasie gevind op Mooi Troues:


Ek het gereeld op Mooi Troues se webtuiste rond kom snuffel vir idees en inspirasie.  Dit het my so baie gehelp om uiteindelik my eie droom troudag te kon beplan.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons liefdesverhaal het op hoërskool begin, toe Ruan besef het dat hy dringend Lené se Afrikaanse klasnotas in die hande moes kry.  Ek en Ruan het saam matriekafskeid toe gegaan. Op Matieland het ons paaie weer in die ekonomie klas gekruis.

Op Stellenbosch het ons net meer-en-meer lief geraak vir mekaar.  Na 20 koshuis danse en 10,000 koppies koffie by die Neelsie het ons die studentelewe in 2019 saam gegroet.  Nie die pandemie of die wêreld van werk kon ons uit mekaar uithou nie en op 13 Desember 2020 het Ruan die ja-woord op ons gunsteling strand in Bakoven gevra.

Die Verlowing Tydperk:


Dit was altyd ons droom om ʼn Somer troue in die Paarlvallei gebied te geniet.  Aangesien daar gans te min tyd was om vroeg 2021 die troue te beplan, na ʼn Desember 2020 verlowing, het ons besluit om eerder binne daardie 15 maande ons raad eksamens agter die rug te kry en rustig aan elke detail van ons droomdag te beplan.

My Ma (Helena van Wyk), het vir ons omtrent 15 lêers informasie bymekaar gesit.  Van die dekor, tot die canapés, tot die kos.  Wat ookal jy aan kan dink.  Sy het dit alles gedoen!. Sy was my rots en kwalifiseer definitief in my oë as ʼn professionele troubeplanner.  Ek sou dit geen ander manier wou hê nie en ek sal haar ewig dankbaar wees.

Trou Begroting:


Aanvanklik het ek glad nie besef dat ʼn troue in die Boland ons minstens R 300,000 uit die sak sou jaag nie.  Ons het ons gastelys omtrent elke maand probeer verkort voor ons die uitnodigings uitgestuur het, maar ons kon eenvoudig net nie ons dag sonder 120 van ons geliefdes indink nie.

Dit is definitief belangrik om ʼn begroting op te stel, maar om daarby te hou is ʼn ander saak.  Wat my gehelp het was my ‘nie-onderhandelbaar nie’ en ‘oulik om te hê’ lysies. Daar is natuurlik eenhonderdduisend dinge wat mens kan inhuur, bykoop of aandurf wat ʼn ‘Pinterest-prentjie’ troue kan laat realiseer, maar dit is so belangrik om nie kop te verloor en te vergeet waaroor die dag eintlik gaan nie.

Die Besluitnemingsproses:


Ek het vir Ruan by al die besluite betrek.  Maar, dit was vir my so mooi hoe hy elke keer genoem het: “Lené, wat ookal jou gelukkig maak- ek vertrou jou oordeel”.  Hy het wel seker gemaak die ‘onversierde troukoek’ is nie té kaal nie, want ʼn koek sonder versiersuiker is dan nie lekker nie.

My bruidsmeisies (veral my sussie) het ook baie gehelp met insae oor die dag en soos voorheen genoem, het ek my ma vertrou met bykans al die beplanning.

ʼn Goeie ondersteuningstelsel was vir my só belangrik.

Merkwaardigste Oomblikke:


DIE. HELE. DAG.

Hierdie is ʼn baie moeilike vraag.  Ek sou sê dit het al die aand voor die troue begin.  Ons het ʼn familie braai gehou by Diamant Estate waar ons net lekker gesellig met ons naastes kon wees.

Ek en Ruan het ook voor die seremonie mekaar (geblinddoek natuurlik) om ʼn hoekie ontmoet om saam te bid.  Dit was ongelooflik spesiaal en het ons albei gehelp om na al die hare, grimering en fotosessies rustig te raak in die teenwoordigheid van ons Skepper.

Ons het ook besluit om na die confetti-gooi, ons troukoek te sny sodat die gaste heerlik daaraan kon smul tussen die canapés deur.  Ons het ander nageregte gereed gehad vir die onthaal en dus was dit vir ons belangrik dat die troukoek nie ‘wegraak’ deur die aand nie.

Spesiale Tradisies:


Ek en Ruan het besluit om ons eie trou geloftes aan mekaar te maak in die die Kerk.  Dit was ʼn baie spesiale proses om dit saam hom te kon skryf.  Ek sal daardie woorde vir ewig in my hart gegraveer hou.

Ons het ook grap-grap aan mekaar beloof om hard te werk sodat ons Woolworths vrugte kan bekostig,  Mekaar lief te hê, selfs al verloor (Ruan) se sokkerspan in die Premier League.

Ek en my Pa het die tradisionele ‘Pa en Dogter Dans’ aangepak met ʼn kinkel.  Nadat ons vir ‘n paar minute op ʼn baie spesiale lied saam gedans het en die oomblik net ingeneem het, het ons losgeruk met sonbrille op die oë en op ʼn lekker pop treffer toe ons beste, lafste dans ritmes gedoen.

Ons was van die eerste van ons vriende wat getrou het en het dus ʼn lekker klomp jongmense daar gehad.  Die manne het behoorlik gesorg dat daar ʼn gesang, gefluit en “streamers” op Ruan beland het tydens sy toespraak.  Dit was darem alles baie respekvol en glad nie oorbodig nie.

Die kousband-aftrek en blomme-gooi het ook goed afgegaan tot almal se vermaak.

Gunsteling Diensverskaffers:


Oemf!  Nee dit sal onmoontlik wees om een uit te sonder.  Lee-Anne het met haar tower staffie my in ʼn bruid omskep.

Dirk Hanekom het gesorg dat die lekkerste sokkie musiek, goue oues en nuutste treffers almal tot oggendure op die dansvloer gehou het.

Die liefste Migneon het alles op haar kamera SO BITTER MOOI vasgevang.

Ek kry tot vandag toe komplimente oor die ongelooflike smullekker kos wat Dawid van Red Pepper Catering voorberei het. Dan ook die dekor wat alles soos ʼn sprokie bymekaar gebring het.

Ons is al langer as ʼn jaar getroud en kyk nogsteeds WEEKLIKS na ons trou video. Dit het die vermoë om ons alles te laat herbeleef en ek verruil die gevoel wat ek kry as ek daarna kyk vir niks in die wêreld nie.

Sonder uitsondering het elkeen van ons diensverskaffers bygedra daartoe dat ons dag so so spesiaal was.

Paartjie se styl:


Definitief ʼn goeie mengelmoes van romanties en klassiek.  Dit was nog altyd my droom om soos ʼn prinses op my troudag te lyk. Julle sal sien ek verwys die heeltyd na ons ‘sprokiesdag’.  Ek het al so baie stywe rokke gedra by al die koshuis danse (waar my man my metgesel was – haha).  So ek kon nie wag om hierdie dag in ʼn balrok-styl rok te beleef soos net ʼn bruid kan nie.

Ruan, sy gevolg, my gevolg en ons ouers was geklee in beige/skakerings van sagte bruine en dit het so verskriklik mooi by die hele venue en ons dekor gepas.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Advies van die bruid:

Geniet. Elke. Oomblik. Die beplannings tydperk gaan só vinnig verby en dit is sulke kosbare oomblikke om saam jou naastes te geniet.  Ek sal dit altyd koester!.  Moet ook nooit kop verloor en vergeet waarvoor hierdie dag gaan nie: jy, jou man en die Here.  As jy dit onthou, sal jou dag altyd die beste dag van jou lewe bly.

Advies van die bruidegom:

Maak altyd seker om meer as een toespraak te druk – daar is ʼn groot kans dan jy die een verloor of jou strooijonkers ‘hom laat wegraak’.

Moenie laat die dag weghardloop van jou af nie – neem alles in en wees teenwoordig in die oomblik.

Indien jy, soos ek, in die Paarl trou in Maart, maak seker daar is lugverkoeling (dit was dalk nie so slim om ʼn drie-stuk pak te dra nie).

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Daar het al baie mense vir my hierdie vraag gevra.  Ek sal eerlikwaar niks wil verander van 5 Maart 2022, of enige iets in die oploop proses nie.

As daar iets skeef geloop het, weet ek en Ruan beslis nie daarvan nie en dit is ook hoe ons die dag wil onthou.

Ek het ʼn kalmeer pilletjie onder my tong gesit die oggend, en het verder nie oor ʼn enkele ding bekommer nie (dit is ook net danksy die ongelooflike span by Diamant en my Ma wat alles onder beheer gehad het).

In die midde van my opgewondenheid het ek wel amper by die Kerk ingeloop sonder my sluier op my kop, maar gelukkig het my strooimeisies dit raakgesien en het hul vinnig na die regmaak lokaal toe gehardloop om dit te kry.

Vermaak:


Matthew John Duncun het vir al die gaste kom vermaak met sy asemrowende stem en kitaar speel talente op die grasperk by die canapés.  Sy pragtige persiese tapyt en akoestiese klanke het só goed afgegaan met die laatmiddag Paarlse son terwyl die gaste hul drankies en troukoek geniet het.

Daar was ook ʼn verskeidenheid van gras speletjies beskikbaar om almal lekker besig te hou.

Venue & Dekor:


Omdat ons beroepe ons verskriklik besig hou, het ons Mammas bykans 20 troues venues besoek in die Boland toe ons verloof geraak het.

Hulle het toe hul top 5 keuses gemaak waarna ek en Ruan self gaan kyk het.

Ons 4de venue van die dag was Diamant Estate.  Toe ek so vyf tree gestap het, het ek na Ruan gekyk net om te besef ons al twee is besig om ʼn traan te pik.  Ons het net daar en dan besluit ons MOET hier trou.  Die sprokies/romantiese/rustige gevoel wat ons hier gevoel het kan ek net nie in woorde omsit nie.

Omdat die trou venue met sy klipmuur-kapel en asemrowende onthaal lokaal reeds so baie karakter gehad het wou ons net genoeg dekor inkorporeer om dit juis so te beklemtoon.  Ons het vir ʼn neutrale kleurskema gegaan.  Die onthaal lokaal was vol kerse, sjampanje servette en betowerende installasies vanuit die dak.  Die installasies het bestaan uit bloekomboom blare en sagte wit Delphinium wat gesorg het dat almal na hulle asems gesnak het.

Ruan se Ouma het ons gehelp om ʼn altaar in die kapel te skep wat regtig ʼn ‘heilige’ gevoel ontlok het.

Wittebrood:


Ons het die pragtige Plettenbergbaai, Oubaai en Botlierskop besoek gedurende ons wittebrood.

Albei van ons is baie lief vir die Tuinroete, maar het nog nooit hierdie drie bestemmings saam beleef nie.  Dit was so ʼn spesiale tyd en ons het seker gemaak ons drink elke aand ʼn nuwe bottel wyn saam.

Die trou diëet was klaar so ons het ook seker gemaak daar staan mooi groot op ons motor “Pas Getroud”, want dit het gesorg vir ʼn hele paar gratis bederfies waar ons gestop het langs die pad.  Ek verruil hierdie tyd vir niks in my lewe nie.

Eerste Dans:


Dit was geen twyfel dat Theuns Jordaan se “By jou” ons eerste dans lied moet wees nie.  Hierdie liedjie was nog altyd vir ons baie spesiaal. Ruan was en sal vir altyd een van ‘ou Theuna’ se grootste aanhangers bly.

Ons het gelukkig oorgenoeg danse op die Matieland saam beleef dat dit nie nodig was vir danslesse nie.  Omdat ek geweet het my “balrok” trourok ʼn eerste sal wees vir ons, het ons egter ʼn hele paar dae geoefen om die perfekte ‘oplig’, ‘duike’ en draaie reg te kry vir die groot dag.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: