Pierre-Jacques & Yolandi se Prentjie Mooi Winter Troue

Met opgewondenheid deel ons Pierre-Jacques en Yolandi prentjie mooi winter troue met ons lesers.  Hierdie pragtige paartjie se troue by ʼn prag plaas in Pniel, Stellenbosch omgewing is een wat jy nie moet mis nie.

Ons is totaal en al verlief op Yolandi se trourok, en so ook haar strooimeisies se goud kleurige rokke.  Dit is net vir ons vreeslik mooi.  Yolandi se trourok het ʼn elegante, klassieke gevoel tot dit.  Pierre-Jacques se vlootblou pak het net dapper gelyk en ook die uitrustings van sy strooijonkers wat goed ingepas het.

Tydens die paartjie se fotosessie het die paartjie se trou gaste vingerhappies en drankies geniet in die trou venue se versorgde tuine, omring deur die pragtige berg uitsigte en mooi Kaapse-Wynlande.

Die bruid se Pa en bruidegom boer met graan, so dit was net gepas om dit deel te maak van hul trou dekor en blom ontwerpe.  Hulle trou onthaal lokaal se dekor elemente was só mooi.  Die majestueuse berge in die agtergrond tydens sonsak is soos ʼn skildery.

Die tafels was bedek met ʼn neutrale tafeldoek en klomp kerse en eenvoudige blom ontwerpe wat bestaan het uit wit vars blomme en koring tussen dit.  Hulle trou lokaal se dak was bedek met koring wat van hoog uit die dak hang tussen deur die warm lig wat so ʼn romantiese gevoel gee aan die onthaal.

DJ Wico het seker gemaak dat Yolandi en Pierre-Jacques se trou gaste omtrent ʼn lekker makietie het en die aand weg dans op goeie musiek.  As julle in die Wes-Kaap trou en opsoek is na ʼn fantastiese platejoggie vir julle troue, dan moet julle definitief DJ Wico op jul kortlys hê.

Rol af om meer te lees.

Paartjie se Liefdesreis:


” Vreemdelinge is net vriende wat mekaar nog nie ken nie” – dit was die eerste boodskap wat ek van Pierre-Jacques in Augustus 2015 gekry het na ʼn gemeenskaplike vriendin eerste die potensiaal raak gesien het en ʼn blinde afspraak gereël het.  ʼn Paar Kaap en Stellenbosch afsprake later, het hy my in Februarie 2016 gevra om sy meisie te wees.

Honderde kilometers tussen Protem en die Kaap en Worcester, baie lugtyd vir laataand oproepe, ʼn paar sakke sout en die beste ses jaar later, het ons Augustus 2021 verloof geraak.

Pierre-Jacques het vir ons ʼn naweek weg gereël, die Saterdagaand het hy voorgestel dat ons gaan sonsak drankies drink in ʼn droë rivierloop, en daar het hy die groot vraag gevra.  Dit was só ʼn spesiale aand vol geluk en feesvieringe!

Die Verlowing Tydperk:


Ons was nege maande verloof.  Ek en  Pierre-Jacques het vir Nikki Du Plessis van Bride Sidekick gebruik om ons te help beplan.  Sy is ongelooflik, en het gehelp om ons drome ʼn werklikheid te maak.  Nikki het ook op die dag gesorg dat alles seepglad verloop, en nie ek of Pierre-Jacques het enige bekommernisse gehad oor enige iets op die dag nie.

Verder sou die hele proses verseker moeiliker gewees het sonder my Ma.  Ek is só dankbaar vir al haar insette tydens die hele beplanningsproses.

Trou Begroting:


Ons was bevoorreg dat al twéé ons ouer pare bygedra het tot die troubegroting, en ons het self ook bygedra.

Om by ʼn begroting te hou is maar uitdagend, mens wil so graag hê alles moet mooi en perfek reg wees op jou troudag dat mens vinnig vergeet van al die kostes daaraan verbonde.

Ek dink dit is belangrik om ʼn begroting op te stel aan die begin van die beplanningsproses (Nikki het ons hiermee gehelp).  Wanneer dit opgestel word moet jy dink aan wat is vir jou belangrik en waarin wil jy meer geld spandeer en by watse aspekte is jy bereid om geld te spaar.  Volgens dit verdeel jy dan die geld in jou begroting.

Wanneer trou diensverskaffers dan hulle kwotasies stuur kan jy terug verwys na jou begroting en besluit wat pas jou sak die beste.

As ek nou terug kyk was elke sent wat spandeer is die moeite werd, en ons is oor niks spyt nie.

Ons het 130 gaste gehad.

Merkwaardigste Oomblikke:


Dit is vir ons moeilik om net een oomblik uit te sonder.  Die dag in sy geheel was merkwaardig. Dit was die mooiste Winterdag met al ons naaste mense wat saam ons liefde vier.  Dit was besonders om te sien hoe maande se beplanning bymekaar kom.

As ons terug kyk is een van die hoogtepunte verseker hoe lekker al ons gaste saam gekuier het en die aand saam met ons geniet het.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het saam oor meeste van die belangrike goed besluit.  Pierre-Jacques se opinie is altyd eerlik en opreg.  Dit was vir my belangrik om hom deel te maak van al die groot besluite aangesien dit ʼn groot dag in sy lewe ook is.

Verder was my ma ook baie betrokke met die reël van die troudag, sy was ʼn goeie klankbord wat kon help met klein en groot besluite.  Sou dit nie sonder haar kon doen nie.

Gunsteling Diensverskaffers:


Dit is so moeilik om te kies, want elke trou diensverskaffer het ʼn groot rol daarin gespeel om ons dag spesiaal te maak.

As ek een moet uitsonder sal dit Liezl Kotze wees wat ons trou blomme en trou dekor gedoen het – sy is so talentvol en het ons wildste verwagtinge oortref.

Die res wat verseker ook genoem moet word is:

– Fotograaf wat elke detail en emosie perfek vasgevang het.
– Platejoggie wat die partytjie aan die gang gehou het
Annelize Catering vir die lekkerste kos.

Paartjie se styl:


Ek sal my trourok as elegant en klassiek beskryf.  Het ʼn prentjie van ʼn soortgelyke trourok ʼn paar maande voor die troue op Pinterest gekry en was mal oor die nek-lyn.  Ek het dadelik geweet dat ek wou hê my trourok moet so lyk.

Tog wou ek graag iets unieks ook gehad het, daarom het ons die asimmetriese strik bygesit.  Dit is vir die onthaal vervang met ʼn middel-band wat met die hand geborduur is.  Ek was mal oor my trourok!

Dieselfde beskrywing geld vir my verloofring, Wiekus Viljoen het hom vir ons gemaak.  As troupand het ek pand van Kolmio Jewellery besluit wat ons sommer aanlyn bestel het.

Pierre-Jacques se enigste vereiste was dat hy ʼn vlootblou pak wil dra en wil netjies lyk.  Hy het die eerste pak wat hy aangepas het gekoop.

Venue & Dekor:


Ek het na honderde venues gekyk op die internet.

Op die ou einde het ons besluit om na twee trou venues in persoon te gaan kyk en geen ander venue kon met Johannesdal vergelyk nie. Dié groot glasvensters met uitsigte oor die berge, die mooi tuine en die algehele styl van die trou venue het ons gehelp om ons keuse te maak.

My Pa en Pierre-Jacques boer met graan.  Ons wou graag hê die trou dekor moet ʼn storie vertel en iets uniek aan ons wees.  Na heelwat navorsing het die idee van koring wat uit die dak hang ontstaan.

Pierre-Jacques het in die oestyd (Oktober/November 2021) rye en rye koring met die hand opgetel en veilig bewaar in tot ons troudag in Junie 2022.

Liezl het die ongelooflikste installasie van koring en blomme uit die dak gemaak!

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Die belangrikste advies sal wees om saam al die besluite te maak en mekaar se besluite en opinies te respekteer.

Wanneer die groot dag kom geniet elke oomblik en moenie stres oor die klein dingetjies wat elk geval buite jou beheer is nie.  Neem elke oomblik in, dit gaan so vinnig verby.

Vermaak:


Ons het geen ander vermaak as die platejoggie, DJ Wico, gehad nie.  Hy het verseker die partytjie aan die gang gehou!!

Wittebrood:


Pierre-Jacques het ons wittebrood beplan, en dit was ʼn verrassing vir my.  Albei van ons is baie lief vir die natuur, en wou graag meer van Afrika beleef.  Ons is vir ʼn week Botswana toe, dit was ʼn week van ontspan, lekker eet en die natuur geniet.  Een van die hoogtepunte vir ons al twéé was verseker toe ons oor ʼn gedeelte van die Okavango Delta gevlieg het met ʼn helikopter.

Eerste Dans:


Die eerste dans was op Theuns Jordaan se By Jou.  Ons het geen danslesse voor die tyd gehad nie, en het sommer die week voor die troue so paar keer in gang by die huis op en af gedans om te oefen.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: