JP & Danel se Stylvolle Troue in Pretoria

Met opgewondenheid deel ons JP en Danel se stylvolle troue in Pretoria met Mooi Troues se lesers.  Die paartjie het by ʼn pragtige en baie stylvolle trou venue getrou wat geleë is in die Onderstepoort area, net buitekant Pretoria Noord.

Die bruid en haar strooimeisies en vriendinne het pragtig gelyk terwyl hul reggemaak het vir die troue.  Ons is gaande oor die nagrokkies.  Dit is belangrik om mooi uitrustings aan te hê tydens die regmaak, want dit is ook die tyd waar die fotograwe gewoonlik baie foto’s neem.

Danel se trourok sal jou asem wegslaan.  Ons is verlief op die vloei van haar trourok en die algemene voorkoms daarvan.  Dit is eenvoudig, maar tog so stylvol.  Haar handruiker wat bestaan uit spierwit orgideë pas soos ʼn handskoen by haar voorkoms.  JP het selfs baie mooi gelyk in sy trou uitrusting en ons hou van die blomme patroon das.

Wow!  Ons hou baie van hulle dekor styl van hul trou dag.  Dit is eenvoudig, maar so stylvol bymekaar gesit.  Die wit orgideë, soos in die bruid se handruiker kan weer gesien word op die gaste tafels.  ʼn Neutrale kleurpalet vloei reg deur die onthaal lokaal en pas perfek by die rou baksteen mure van die trou venue.

Groot dubbel volume ruite laat natuurlike lug in wat die tafels ophelder.  Die rottang plek matjies pas weer by die tikseltjies goue elemente soos die eetgerei en die kers staanders wat weer daardie elegante gevoel inbring.  Dit is die voorbeeld van ʼn pragtige romantiese onthaal.

Verloof?  Mooi Troues se Trougids is ʼn bron van professionele trou diensverskaffers vir julle troudag.  Rol af om meer te lees JP en Danel se liefdesreis en ook hul stylvolle troudag.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het eintlik ontmoet toe ek (bruid) in matriek was.  Dit het begin by ʼn Facebook boodskap wat toe opgeëindig het in ʼn melkskommel.  Die bruidegom het my verras uit Engeland waar hy krieket gespeel het en so het die liefde begin blom.  Ons verlowing was een vir die boeke!  Ek en JP op ʼn privaat wildrit gegaan. Die oggend van die verlowing het dit so gereën en ek (bruid) het ‘n ‘gemaklike warm jas’ aangehad met ʼn groot reënjas bo-oor.

Ons het sop nat gereën al die pad tot by een van die ‘seekoei poele’ waar ons afgeklim het.  Soos ek staar na die twee seekoeie wat baklei daar in die oorkant, staan die bruidegom op sy knie en bewe van die koue.   Toe ek na ‘n tydjie omdraai staan die bruidegom daar en vra die bruid om te trou.  Ek (bruid) kan nie een woord onthou wat gesê was nie behalwe “Ja, natuurlik”.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was verloof vir so amper drie jaar.  Dit was so bietjie uitgerek met Covid en ʼn meesters graad.  Maar, ons wou seker maak al ons familie en vriende kon ons spesiale dag saam met ons vier.  Ons het nie ‘n trou beplanner gehad nie, maar het alles self beplan en dit was só lekker, sowel as angsbevange om alles perfek te kry en te doen soos ons wou!

Trou Begroting:


Ons het besluit om te “oor begroot” so ons het begroot vir so ongeveer R 300,000.  Het ook ons self genoeg tyd gegee om te spaar.  Na al die trou beplanning het ons opgeëindig om ongeveer R250,000 te spandeer.  Dit was moeilik om te spaar, maar ons het geweet, Rome is nie in een dag gebou nie.  Die totale aantal gaste was ongeveer so 100 gewees.

Al advies wat ek (die bruid) het is om te doen wat jou hart begeer.  Ek het geweet ek wou ʼn sprokies troue hê soos elke klein dogtertjie van droom, daarom het ek dit my doelwit gemaak om te spaar soveel as wat ek kan vir iets wat ek graag wou gehad het.

Merkwaardigste Oomblikke:


Reën is vir ons albei ʼn seëning van God, so ons wou baie graag gehad het dit moes reën op ons trou dag al was dit net ʼn paar druppels.  So uur en ʼn half voor die seremonie begin het, het God ons geseën met ʼn groot storm wat gelukkig vir net so halfuur geduur het.  Ons het dadelik geweet dat God ons huwelik seën en daardie dag by ons was.  Natuurlik was die inloop by die kerk een van ons merkwaardigste oomblikke.  Ons het geweet ons trou met ons beste vriend!

Spesiale Tradisies:


Ons het geen familie/kulturele tradisies gehad nie, maar ons het wel een begin.  Ons het tydens die seremonie elkeen ons eie kers aangesteek en doodgeblaas en toe saam EEN kers aangesteek en laat brand omdat ons van twee af een geword het.

Vermaak:


Ons het ʼn sanggroep gehad by die canapé deel opgetree het, met die naam van Titus.  Hulle is absoluut wonderlike mense en het so lekker musiek gemaak vir ons trou gaste.

Paartjie se styl:


Ons het gegaan vir eenvoudig en stylvol.  Het besluit op orgidee as ons hoof blom met baie kerse.  Ons wou ʼn romantiese atmosfeer skep en het dit minimalisties gehou omdat ons trou venue alreeds so mooi was.

Ek (die bruid) wou graag ʼn trourok dra wat ek dra en nie my dra nie.  Ek het besluit op ʼn eenvoudige wit trourok, omdat ek net gemaklik wil wees en hierdie trourok het beslis ʼn indruk gemaak!. Dit was, en is nogsteeds my droom trourok.

Die bruidegom het ʼn groen tipe baadjie gedra met ʼn blomme patroon das net om bietjie kleur in te bring by ons trou tema. Ons albei is baie lief vir Groen en blomme en het so daarop besluit. Dit het ook die hele troue gekomplimenteer.

Die Besluitnemingsproses:


Definitief die bruid!  As dit van die bruidegom afgehang het, het hy in ʼn kortbroek en plakkies getrou!  My Ma en Skoonma het ook baie gehelp deur die hele proses en hulle hande was altyd beskikbaar vir knip en plak.

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


Al wat ek sou wou verander is om meer tyd saam ons familie en vriende te spandeer.  Die dag gaan so ongelooflik vinnig verby en mens hoor altyd mense se dit maar besef dit nie altyd nie.  Verder was alles perfek net soos ons dit wou gehad het.

Venue & Dekor:


Ons het gegaan op gevoel.  Was by een ander pragtige trou venue, maar dit het net nie by ons gepas nie.  Ons is mense wat hou daarvan om gesellig en gemaklik te wees en De Harte het perfek by ons gepas.  Die inspirasie vir ons trou dekor was gebaseer op iets wat net minimalisties en stylvol was.  Soos hulle sê, “minder is meer”.

Gunsteling Diensverskaffers:


Al ons trou diensverskaffers was uitsonderlik goed.  Die kos van De Harte was bitter lekker almal het na die tyd daaroor gegons.

Maar, as ek persoonlik iemand moes kies was dit Carlien, ons trou fotograaf van JcClick. Sy is die dierbaarste mens en het ons albei so gemaklik laat voel. Ons foto’s is net Wow! en dit is alles te danke aan haar en haar span.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruid:

Die enigste advies wat ek het is om dit te geniet en nie onnodig te stres oor die dag nie.  Alles werk of draai uit soos wat dit moet (beplanning en op die dag).  Asook om te doen wat jou hart begeer, moet nie na almal se kommentaar luister oor wat gedoen moet word nie, dit is julle dag en niemand anders sin nie.

Bruidegom:

Sê net ja en gee jou kaart!  Grappie.  Geniet elke oomblik, maak seker jou eerste troue is jou beste en laaste!

Eerste Dans:


Oh gits!  Hier is waar ons so bietjie uit die bus uit geval het.  Ons het só ʼn mooi liedjie gehad, “Till death do us part”.  Dit laat mens se hart sommer smelt as jy daarna luister.  Die rede vir die liedjie was oordat die bruidegom twee linker voete het, so ons het besluit op iets stadig.  Ons het toe besluit om nie vir dans klasse te gaan nie en het toe heeltemal vergeet om enige dans roetine uit te werk!  Net voor ons moes dans op ons troue, het ons vinnig gesels en sommer net ietsie opgemaak en dit uitgevoer.

Wittebrood:


Ons het besluit om Thailand te verken en het begin by Phang Nga, by ʼn eksotiese visvang oord.  Ons was ongeveer een week daar en het lekker baie eksotiese visse gevang ongeveer 40-60 kg. Daarna het ons na Patong Strand gegaan en lekker inkopies gedoen; saam die vissies gesnorkel en baie skemerkelkies gedrink!  Ons het besluit om Thailand toe te gaan omdat die bruid nog altyd gesê het sy wil vir wittebrood daarheen reis en saam die visse snorkel.

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]