Johan & Maricha se Stylvolle Swart & Wit Troue

Ons deel graag Johan en Maricha se stylvolle swart en wit troue met Mooi Troues se lesers.  Die paartjie het by ʼn pragtige trou bestemming in Mpumalanga getrou, omring die die mooiste natuur elemente en versorgde grasperke.  Ons is dol verlief op die hele wit en swart styl van hulle troudag.  Die kleurskema is een wat vir altyd in die mode sal wees en altyd ʼn baie elegante gevoel gee.

Maricha het ʼn besonderse mooi trourok aangehad en ons is mal oor die snit daarvan asook die fyn detail op die trourok.  Johan het net so dapper gelyk in ʼn volledige swart pak met ʼn swart das wat ʼn wit patroon op het, wat bietjie die donker kleur breek.  Hulle strooimeisies en -jonkers het ook almal swart uitrustings aangehad wat ʼn baie mooi formele voorkoms gee.

Die swart en wit tema het ook oorgespoel na hulle trou dekor.  Die tafels was almal bedek met wit tafeldoeke wat so mooi gelyk het saam met die wit Tiffany stoele in die onthaal lokaal.  Alles het net so deftig gelyk.  Swart eetgerei, kersstaanders, blompotte en ook die kershouers saam met die spierwit blomme en kerse is so mooi.

Alles is moontlik as jy ʼn span fantastiese trou diensverskaffers het.  Mooi Troues se Trougids is vol oulike trou diensverskaffers wat julle troue ʼn stresvrye ervaring sal maak.  Maricha en Johan het ʼn heerlike wittebrood geniet na Mauritius.  Mauritius is ʼn populêre wittebrood bestemming vir Suid Afrikaanse paartjies.

Rol af om meer te lees oor Maricha en Johan se liefdesreis as paartjie en om meer te sien van die paartjie se pragtige troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het ontmoet op skool toe ek 17 jaar oud was en hy nog 16.  In Desember 2014 het ons oor en weer begin kuier en van daar af het die liefde geblom.  Ons is nou 26 en 25 en in 2022 getrou.  Ons verlowing het 2021 by Kirstenbosch botaniese tuine plaasgevind, waar hy my gevra het om sy vrou te word.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was net bietjie langer as ʼn jaar verloof, en het self die troue beplan saam met die trou venue wat die dekor ek blomme gedoen het.

Trou Begroting:


Ons het nie ʼn spesifieke begroting gehad nie, maar steeds matigheid voor oë gehad en geen onnodige uitgawes aangegaan nie.  In totaal het ons ʼn 120 gaste gehad, waarvan die helfte vriende en helfte familie was.

Die beste raad wat ek kan gee is om geduld te hê met mekaar rakende die begroting, asook gaste en hoe julle twee se smaak verskil.  Dit is ʼn mooi dag wat gevul moet wees met geluk, en nie bederf moet word deur geld of verskille nie.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ek voel wat ookal moes gebeur, het gebeur.  Die musiek het effens vinnig begin en ek was nog nie reg vir af stap nie, maar my Pa het dit só goed hanteer.  Dit was steeds perfek en maak deel van ons aand.

Merkwaardigste Oomblikke:


Die praatjies met ons gaste was vir ons baie spesiaal.  Ons familie uit New-Zealand het stem boodskappe gestuur wat vir ons gespeel was.  Dit het almal in trane gehad en was vir ons baie spesiaal.

Paartjie se styl:


Ons hou van baie minimalistiese dekor.  Swart en wit was meestal ons kleure en ons het die minimum blomme en dekor probeer in bring en meer op ʼn fokus punt probeer werk, as ook kerse.  Dit het perfek uit gekom soos ons dit wou hê.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons fotograaf, The Tiemensmas, het alle verwagtinge oortref asook ons trou venue en die mense wat so mooi met alles gehelp het.

Venue & Dekor:


Ons was in 2020 by ʼn troue daar.  Dit het met oog op slag my aandag getrek en my hart gewen.  Ek het net daar besluit dat ek eendag daar sou wou trou.  Die dekor het ek probeer kies so dat dit nie uit die mode sal gaan nie, dus die swart en wit kleurskema, want die twee kleure is vir altyd tydloos.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het meeste besluite saam geneem.  Ek, die bruid het meer idees gehad, maar Johan was vol stoom agter my besluite.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Vir die bruid:

Wees rustig, neem alles in, kyk na alles, en onthou dit! Alles gebeur so bitter vinnig en voor jy kan sien, is tyd om.  Moet dit nie om wens nie, want as jy daar is, is dit net so gou verby.  Geniet die reis.

Vir die bruidegom:

ʼn Gelukkige vrou, is ʼn gelukkige lewe!  Dit is my 5 sent.

Wittebrood:


Ons was in Mauritius gewees en dit was vreeslik lekker.  Teveel kos, teveel skemerkelkies, maar absoluut ʼn droom.  Die kultuur en kos is iets om te beleef en dis nie te ver se vlieg nie.  Dit is die perfekte wittebrood bestemming.

Eerste Dans:


Johan het vir my van skool af so lekker gedans.  Ons het net ons ou tradisionele vas dans dansie gedoen en dit was so spesiaal vir ons. Die liedjie was “Soen my op my mond” van Bernice West.

Spesiale Tradisies:


Ons het ʼn geld aan die bruid en bruidegom steek tradisie wat by sy familie begin het.  In die middel van die aand kan kaste ʼn kans neem om ʼn geldjie aan een van ons te steek met ʼn speldjie en dit het ons gebruik op ons wittebrood.

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]