Christiaan & Lauren se Prentjie Mooi Verlowing

Ons is baie opgewonde om Christiaan en Lauren se prentjie mooi verlowing fotosessie met Mooi Troues se lesers te deel.  Dié paartjie het die mooiste verlowing fotosessie by die pragtige trou venue, The Lakeside gehad.  Die venue is geleë in die pragtige platteland, oos van Pretoria.

The Lakeside bied prentjie mooi uitsigte oor die meer en hulle versorgde grasperke.  Daar is ook wilde diere te sien op die prag plaas, nie te ver vanaf die trou venue nie.  The Lakeside is ʼn idilliese stukkie paradys wat wag om enige geleentheid ʼn onvergeetlike een te maak.

Hulle wou graag ʼn verlowing fotosessie doen sodat hulle die spesiale tydperk kan vasvang in mooi herinneringe.  Dit het hulle ook die geleedheid gegee om hulle fotograaf beter te leer ken, sodat hulle meer gemaklik is op hulle troudag.  Verlowing fotosessie is altyd ʼn lekker informele fotosessie wat paartjies help om ʼn stresvrye fotosessie ervaring op hul troudag te hê.

Sien ʼn verlowing fotosessie as ʼn pret tyd waar jy kan oefen sonder die druk van julle troudag op jul skouers.  Dit is ook die perfekte tyd om mooi foto’s as ʼn verloofde paartjie te kry.  Julle kan dit gebruik vir jul trou uitnodigings of julle spesiale album van herinneringe.

Rol af om meer te lees oor Lauren en Christiaan se baie oulike verlowing en hulle Mooi Verlowing fotosessie by die luukse trou venue, The Lakeside.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het oorspronklik aanlyn ontmoet.  Na ons ʼn rukkie gesels het, het hy my uitgeneem na ʼn restaurant naby my huis.  Met die eerste oogopslag het ons albei geweet dat ons met mekaar gaan trou. Ek was só senuweeagtig dat ek my handsak in die huis vergeet het.  Ek klim toe in die kar, groet hom, en hardloop toe terug in die huis in om my handsak te gryp.

Dit was ʼn Sondagmiddag so dit was nie lank voor die restaurant begin deure toemaak en stoele op tafels pak het nie. Ons het so lekker gesels en ons wou nie hê die kuier moet verby wees nie, so hy stel toe voor dat ons gaan roomys eet. Ons het die wêreld rond gekry opsoek na roomys, maar kon nêrens ʼn plekkie kry wat nog oop is nie.  Dit het ons darem baie tyd in die kar gegee om verder te gesels.

Van daai dag af wou ons mekaar net soveel as moontlik sien.

Ons was ʼn jaar en nege maande gekys voor hy my gevra het om te trou.

Die groot vraag:


Die verlowing was ʼn totale verassing.  Christiaan het skelmpies met my werkgewer gereël vir twee verlofdae sodat hy my kon wegneem op ʼn verlowings-wegbreek.

Hy het ʼn klomp planne gemaak om my van sy spoor af te hou.  Een van dié planne was om die indruk by my te skep dat hy my op ʼn dag in Desember sou vra en ek vas vas oortuig daarvan.

Wegbreek verrassing

Sondagoggend 13 November, na ontbyt, sê Christiaan vir my om vir my ʼn oornagtas te pak.  Ons het beplan om daai naweek te gaan kamp, maar ons planne het uitgereën. Ek het aangeneem hy vat my na ʼn oornag plekkie om op te maak vir die kamp planne wat deur die mat geval het.  Hy neem my toe na ʼn vyfster plek in die Dinokeng Wildreservaat, waar ek uitvind dat ons twee nagte oornag.

Christiaan vertel my toe van die verlof wat hy vir my gereël het, maar ek was steeds nie bewus wat aan die gebeur is nie. Na ons afgepak het, neem hy my op ʼn privaat-begeleide-wildsrit wat hy vooraf gereël het.  Met skemer stop ons toe by ʼn piekniek plekkie waar die wildbewaarder vir ons ʼn tafel dek met vonkelwyn en eetgoed.  Na die tafel gedek was, stap die wildbewaarder toe die veld in en ons gaan sit by die tafel.

Christiaan sit toe sy hand op my been en sê: “My skatjie” en toe besef ek eers wat aan die gebeur is.  Hy gaan toe op sy knie, haal die ring uit sy broeksak en vra my om sy vrou te wees.  Later die aand het ons ʼn privaat ete by ons wooneenheid geniet met kerse, liggies, rose en vonkelwyn wat Christiaan ook vooraf gereël het.  Ons het toe die res van die vakansie geniet voor ons teruggekeer het huis toe.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Christiaan is lief vir my liefdevolle geaardheid, my humorsin en my lighartige jong gees.  Hy hou ook van my dryf en ambisie en dat ek werk vir wat ek graag wil hê.  Hy is ook lief vir my goeie hart en die feit dat ek altyd omgee. Ek hou van sy sagte en liefdevolle geaardheid, sy humorsin, en die feit dat hy altyd gee sonder om iets terug te verwag. Ek hou ook van sy geduldige natuur. Ons is mekaar se beste vriend en lewensmaat.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons trou hierdie jaar die 17de September.  Ons het nie eintlik beplan om ‘n sekere hoeveelheid maande te wag nie.  September voel net soos ‘n ideale maand om te trou.

Die verloofring:


Ek en Christiaan het gesels oor die styl waarvan ek hou en ek het hom ʼn paar voorbeelde gewys van ringe wat vir my mooi is, maar die ring wat hy vir my gegee het was ʼn verrassing.  Christiaan het vir my die ring ontwerp en laat maak deur Cape Diamonds.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons wou graag ʼn verlowingsfotosessie doen sodat ons die herinnering kon vasvang.  Ons wil graag van die fotos laat druk en raam om in ons kamer op te hang sodat ons altyd die oomblik kan herdenk wanneer ons daarna kyk.  Dit was ook ʼn gulde geleentheid om die fotograaf te leer ken sodat ons gemakliker met haar is op die troudag en om te sien hoe die fotos uitkom.  Ons is baie gelukkig.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: