Trou Beplanning Advies Stap 1 van 12

Mooi Troues se lesers kan ons 12-stap trou beplanning advies reeks van artikels volg wat maandeliks op Mooi Troues gepubliseer sal word.  In hierdie advies artikels gee ons vir jou elke maand ʼn lys van items waaraan jy moet aandag gee.  Ons het die trou beplanning opgebreek in kleiner stukkies, sodat dit nie só oorweldigend is om alles op eenslag te lees nie.

Om ʼn troue te beplan is baie stresvol, veral as jy ʼn selfdoen troue wil hou.  Mooi Troues help jou om dit maklik en stresvry te doen met ons reeks opvolgende advies artikels. Klik hier vir meer advies artikels.  Vir ons eerste artikel van ons 12-stap trou stap trou beplanning advies reeks, rol af.

Besluit op ʼn begroting:


Dit is nou die tyd om eerlik te wees met mekaar oor geldsake.  Julle is nou verloof en beplan om julle lewens saam te spandeer.  Wees eerlik oor julle inkomstes, uitgawes, en geldsake wanneer dit kom by die trou begroting.  Die ergste is om nie te weet wat die trou begroting is nie en na alles wat buite jou begroting is te kyk.  Julle sal dan net onnodige teleurstellings hê.  Wees net eerlik met mekaar en besluit wie gaan wat kan bylas vir die troue.

Besluit ook wie betaal vir wat en hoe kostes opgedeel sal word tussen die families, indien enige familie lede sal help betaal.  In die moderne wêreld betaal meeste paartjies maar hul troue self, so maak seker jy spaar genoeg geld vir deposito’s en die res van die betalings wat later gedoen moet word.  Klein kostes loop baie vinnig op as jy boekhou daarvan nie.

Moet nie stry oor ʼn begroting nie, dit is julle spesiale dag en almal verdien ʼn mooi troue.  Julle kan nogsteeds ʼn fantastiese en mooi troue hê al is julle begroting nie van die grootste nie.  Dit is net belangrik om vooraf te weet wat die begroting is.

Die begroting bepaal baie ander goed soos die area waar julle wil trou, die venue, die trou diensverskaffers, die dekor elemente en vele meer ander dinge.

Watter streek wil julle in trou?


Die streek waar jul in wil trou is seker die tweede belangrikste na begroting.  Maar wat van die troudatum?  Almal sê altyd die troudatum is die belangrikste.  Okei, dit is die rede hoekom ons hierdie reeks artikels skryf in die eerste plek.  Die troudatum is baie belangrik, maar die streek waar julle gaan trou nóg meer.  ʼn Trou venue se ligging is baie belangrik, vir al vir meer seisoenale troues.

Verskillende liggings het verskillende elemente waarna mens aan moet dink.  Party streke het meer somer reënval, waar ander meer normale winter reënval het.  Dalk wil die paartjie in ʼn meer groener tydperk trou, maar sekere gebiede is minder groen in seker seisoene wat mens nie sou verwag nie.  Party liggings mag dalk baie wind hê in ʼn seker tyd van die jaar, waar ander dalk geen wind het nie.  Sien, dit is die rede hoekom die area waarin jul wil trou so belangrik is.

Dink bietjie oor die troue as ʼn konsep as geheel.  Wat is julle visie vir julle droomtroue?  Wil julle ʼn buitelug troue hê?  Dalk ʼn winter gevoel troue ensovoorts.  Sodra julle daardie visie het, dan is dit maklik om julle ligging te kies.  As julle die ligging vasgestel het waarvan julle hou, doen jul navorsing oor die weer in daardie area oor die tydperk wat julle ingedagte het om te trou.

Besluit op ʼn troudatum:


Nou dat julle weet in watter area julle graag wil trou en watter tyd van die jaar, nou kan julle besluit op ʼn gepaste datum, of datums.  Dit is altyd ʼn goeie idee om twee of drie datums op jul kortlys te hê. Onthou nie almal sal julle troudatum kan maak nie, so moet nie ʼn troudatum kies om jul trou gaste gelukkig te hou nie.  Dit sal ʼn nagmerrie wees.  Probeer dan die datum reël om die belangrikste gaste as dit vir julle belangrik is dat die belangrike gaste jul troudag moet bywoon.

As julle jul trou gaste vroegtydig laat weet van jul troudatum, deur ʼn spaar-die-datum kaartjie uit te stuur, sal julle gaste genoeg tyd hê om reëlings te kan maak om julle troudag by te woon.  Maak seker jy kies ʼn datum wat gemaklik is vir julle as ʼn paartjie.  Onthou julle sal ook verlof moet in sit voor julle troue, vir die troue, en ook julle wittebrood.

Besluit of jul ʼn trou koördineerder wil gebruik of nie:


ʼn Trou Koördineerder is daar om julle te help met julle trou beplanning.  As julle te besig is om jul troue self te beplan of dit is eenvoudig net nie jul sterk punt nie, dan is dit beter om ʼn professionele trou koördineerder te huur.  Dit is nou die beste tyd om ʼn trou koördineerder te huur, voordat julle begin met jul trou beplanning en dan klaar deurmekaar is.

Professionele trou koördineerder, wat jy in ons trougids kan vind, sal trou beplanning stresvry maak.  Trou koördineerder het die regte konneksies om julle trou droom ʼn realiteit te maak.  Deur jare se ondervinding in die troue bedryf kan hulle ʼn troue beplan, sonder enige stres en onnodige rond hardloop.

Dink aan die grootte en formaliteit van julle troue:


As paartjie moet julle besluit of julle ʼn kleiner, intieme troue of ʼn groter troue wil hê.  Dit hang alles af van wat belangrik is vir julle as paartjie.  Die grootte van die troue het ook ʼn effek op jul trou begroting en trou venue kortlys, so julle moet dit ingedagte hou.  Dan moet julle ook dink aan die tipe trou styl.  Wil julle ʼn meer formele troudag of meer informele troudag hê.

As julle besluit het op ʼn getal vir julle troue, dan kan julle later begin dink aan ʼn gastelys.

Maak ʼn kortlys van trou venues:


Paartjies bespreek trou venues baie lank vooruit, daarom is dit belangrik om só gou moontlik ʼn kortlys van trou venues te maak.  Populêre trou venues, is letterlik ʼn jaar of twee vooruit bespreek.  Maak ʼn kortlys van die trou venues wat julle graag dink julle by sal wil trou.  Skryf ook kortliks langs die trou venue, wat vir julle uitstaan van die trou venue en hoekom julle hier sal wil trou.

Sodra julle die kortlys van die trou venues gemaak het, kan julle hulle een vir een begin kontak vir pakette.  Onthou om julle moontlike troudatums en min of meer gaste getal in te sluit.

Maak ʼn kortlys van die mees bekende trou diensverskaffers eerste:


As jy wil gebruik maak van enige bekende trou diensverskaffers in die trou industrie, maak seker jy bespreek hulle eerste nadat jy jou venue bevestig het.  Bekende trou diensverskaffers word baie vinnig vooruit bespreek, omdat hulle so in aanvraag is.

Maak ʼn kortlys van fotograwe en videograwe:


Trou fotograwe en -videograwe is een van daardie belangrike elemente van ʼn paartjie se troudag, so maak seker jy maak jou kortlys so spoedig moontlik.  Professionele trou fotograwe en videograwe wat al bekend is onder toekomstige bruidspare word baie vinnig vooruit bespreek.  Sodra julle weet in watter area julle wil trou, kontak die trou fotograwe en videograwe met julle moontlike troudatums en hoor of hul wel beskikbaar is.

So sal julle ook jul kortlys op datum kan hou.  Dit help nie julle droom dat ʼn spesifieke trou fotograaf jul foto’s neem nie, maar die persoon het nie een van jul troudatum opsies beskikbaar nie.  Dan sal julle moet af beweeg op jul kortlys.

Gesels oor julle gastelys:


Begin dink aan julle gastelys nadat jy besluit het op jou begroting en hoeveelheid gaste julle wil nooi.  Begin met die mense naaste aan julle eerste.  Dan julle vriende en kennisse.  Sit almal op ʼn lys en besluit dan wie genooi moet word en wie nie.  Dit kan stresvol wees, maar dit is ook belangrik om te onthou dat julle nie almal gelukkig kan hou nie.

Stuur julle verlowing bekendstelling uit:


Stuur ʼn verlowing bekendstelling kaartjie uit na julle familie en vriende om hulle te laat weet jy is verloof en dat julle besig is om julle troue te beplan.  Dit is amper soos ʼn spaar-die-datum kaartjie, maar net minder formeel.  Julle hoef ook nie ʼn formele kaartjie te hê nie.  Dit is julle eie besluit hoe julle jul verlowing wil bekendstel.  Deesdae sal paartjies sommer net ʼn WhatsApp boodskap aan almal stuur of net op sosiale media ʼn pos maak.

Gee genoeg kennis aan gaste in die buiteland:


Gaste wat van ver af moet reis om jul troue by te woon moet reëlings maak om jul troudag by te woon.  Dit sluit in reëlings soos verlof, vliegtuig kaartjies, huur motor en verblyf bespreek vir die tydperk in Suid Afrika ensovoorts.  Dit neem tyd om alles te beplan en is ook ʼn groot uitgawe vir jul trou gaste.  So, maak seker julle laat weet jul gaste oorsee vroegtydig.  Moet nie wag dat die gedrukte uitnodiging hul eendag bereik nie.

Begin ʼn visie bord:


Maak ʼn aanlyn visie bord waar julle alles wat jul van hou kan stoor.  Volg Mooi Troues op Pinterest vir tonne trou idees.  Pinterest is maklik plek om ʼn visie bord te maak.  Mooi Troues is propvol trou inspirasie wat julle kan gebruik vir jul troudag.  Maak vir jouself ʼn Google Drive lêer oop waar jy al jou trou inspirasie, idees, advies en begrotings kan stoor.  Begin kyk na verskillende trou diensverskaffers en hou die besonderhede van die trou diensverskaffers waarvan julle hou, sodat julle hulle kan kontak indien nodig.

Artikel Krediet:

  • Advies geskryf deur: Mooi Troues