Morné & Lindi se Helder Kleurige Troue

Ons is baie opgewonde om Morné en Lindi se helder kleurige troue met Mooi Troues se lesers te deel.  Hierdie paartjie se troudag is só mooi en het soveel pragtige elemente.

Lindi het beeldskoon gelyk en ons is totaal en al verlief op haar en haar strooimeisies se handruikers.  Soveel kleur met elemente van geel, rooi, oranje en groene.  Dit het perfek ingepas by die strooimeisies se pragtige groen strooimeisierokke.

Hulle het by die pragtige trou venue, Murasie Wedding Venue getrou, tussen Gansbaai en Baardskeerdersbos in die Overberg.  Dit is enige paartjie se droom trou venue.  Geleë op ʼn werkende plaas met die mooiste uitsigte vanuit die onthaal lokaal wat omvou is met meestal glas deure.  Die dam voor die trou venue, maak dit ʼn prentjie mooi ligging, perfek vir foto’s.  Nie net is Murasie Wedding Venue ʼn populêre trou bestemming met rede nie, maar hulle bied ook ʼn verskeidenheid verblyf opsies vir van jul trou gaste.

Ons is heeltemal verlief op hul trou dekor.  Die rottang plekmatjies, met die groen bordjies, mosterd servette en kleurvolle blomme en kerse het so ʼn pragtige kontras teen die hout tafels gegee. ʼn Ronde groen blomme ontwerp agter die paartjie se tafel eindig die dekor elemente so mooi af en trek die aandag na die paartjie toe.

DJ Wico het seker gemaak hulle trou gaste word vermaak met lekker musiek, sodat hulle die aand kan weg dans.  Nie net vir musiek nie, maar ook hoë gehalte klank, sodat al hulle trou gaste die toesprake mooi en duidelik kan hoor.

Morné en Lindi het na Mauritius gereis vir hulle wittebrood, ʼn baie populêre bestemming vir Suid Afrikaanse paartjies.  Die perfekte plek vir ʼn rustige eiland wittebrood.  Rol af om meer te lees oor helder kleurige troue en hul liefdesreis as paartjie.

Paartjie se Liefdesreis:


In 2019 het ons mekaar ontmoet by ʼn braai.  ʼn Stewige fondament vir ons huwelik is gelê deur ʼn baie goeie vriendskap wat ontstaan het.  Hierdie vriendskap het gegroei in liefde en die wete dat ons mekaar se “mens” is.  Morné het my verras met die groot vraag bo-op die dak van die Radison Red Hotel in Kaapstad.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was presies 11 maande en 3 weke verloof.  As ons nog een week met die troue gewag het dan sou ons 1 jaar verloof gewees het.  Ons het nie gebruik gemaak van ʼn trou beplanner nie.  Gelukkig is ek en my ma baie georganiseerd en meeste van die tyd van Pinterest gebruik gemaak.

Trou Begroting:


Die trou begroting was op die ou end R 200 000.  Ons het dit goed gedink om eerder te veel te begroot as te min en het baie goed by die begroting gehou. Ons het darem nie al die geld gebruik nie, en het probeer spaar waar ons kon.

Daar was 110 gaste genooi en op die dag van die troue het ons 95 gaste onthaal.

My raad aan ʼn toekomstige bruid is om eers soveel as moontlik navorsing te doen voor enige belangrike besluite geneem moet word.  Kry meer as een kwotasie van ʼn verskaffer en neem ʼn besluit waarmee jy as ʼn bruid gemaklik is.  Jy hoef nie vir die goedkoopste opsie te gaan nie.  Doen eerder navorsing op Instagram en gaan kyk wat vorige bruide gesê het oor die verskaffers se dienste.
As jy ook die tyd en kennis het, probeer soveel as moontlik self doen voor die tyd om seker te maak jou spesiale dag loop vlot.

Die Besluitnemingsproses:


Ek en my bruidegom het meeste van die besluite geneem, maar tog ook ons ouers se wense gerespekteer.  Die feit dat van my vriendinne voor my getrou het, het ons gehelp om baie slaggate te vermy danksy hulle goeie raad.

Paartjie se styl:


Ons het probeer gaan vir ʼn boho/rustiek styl. Die kleurskema van die troue was mosterd, maroen en bottelgroen.

Ek is ʼn tipe mens wat floreer in ʼn jumpsuit.  Ek werk in dit, kuier daarin en voel op my gemaklikste daarin.  So ek het van die begin af geweet ek wil in ʼn jumpsuit trou.  Natuurlik het ek besef dit sal nie geskik wees vir die seremonie nie, so ek moes ʼn ontwerper kry wat kans gesien het vir die uitdaging.  Ons het verskeie ontwerpers gaan sien en ek het baie trourokke aangepas om te kyk wat werk vir my en wat werk nie.  Ek het toe op die ou einde aanklank gevind by Elizabeth Stockenström.  Sy het kans gesien om ʼn jumpsuit van nuuts af te ontwerp met ʼn gepaste romp om bo-oor dit te bind.  Sy het my persoonlikheid só mooi opgesom en elke liewe detail met my bespreek.

Omdat ons kleurskema bottelgroen in gehad het, het ons dit goed gedink om die bruidegom se pak groen te maak.  Ons het by ʼn paar winkels ander kleure aangepas, maar hy wou ʼn groen pak hê. Ons het toe by ʼn ontwerper naby Cape Gate op geëindig wat die bruidegom se pak presies volgens sy mates gemaak het.

My verloofring was presies wat ek wou gehad het.  Toe dit by die ontwerp van my trouring kom het ek baie idees en voorstelle gehad.  My man se voorwaarde was net dat die troupant nie die “shine” van my verloofring af vat nie.  My man het presies geweet wat hy wou gehad het vir ʼn trouring.  Die twee elemente waarvan dit gemaak is (goud en hout) is albei aardse elemente.  Dit som my man presies op, ʼn aardse persoon.

Vermaak:


ʼn Gesellige kuier met die heerlikste versnaperinge en agtergrond musiek onder Murasie se markiestent het meer as vermaak besorg.

DJ Wico het sommer van die begin af gesorg vir die regte atmosfeer om ʼn onvergeetlike lekker onthaal te skep.

Venue & Dekor:


Ons het spesifiek vir ʼn venue gesoek wat verblyf het vir meeste van die gaste en wat ons toelaat om die Vrydagaand al ʼn braai byeenkoms te hou.  Ons het na twee ander plekke gaan kyk voor ons finaal besluit het op Murasie.  Alles van Murasie was net perfek vir ons.  Van die kliëntediens, tot die uitsig en die akkommodasie.

My gunsteling blom is ʼn sonneblom.  Ons wou graag net sonneblomme in die troue gehad het, maar nadat ek gesien het watter ander blomme komplimenteer dit so mooi, het ons besluit om met ʼn wyer verskeidenheid te gaan.  Ek het meeste van die idees van Pinterest gekry en San-Mari van Creative Nook het ook baie gehelp met haar idees en voorstelle.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Vir ʼn toekomstige bruid, moenie alles oordink nie.  Al is dit die belangrikste dag van jou lewe moet jy onthou dit is ʼn feesviering van julle liefde vir mekaar en nie om ander mense te beïndruk nie.

Vir ʼn toekomstige bruidegom, gaan slaap vroeg die vorige aand sodat jy die volgende oggend vars en gereed is vir die grootdag wat voorlê.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons was geseën met net die beste verskaffers, dit is onmoontlik om onderskeid te tref. Coba Fotografie, DJ Wico, Creative Nook, Murasie en Peaberry Catering sal ons met die grootste vrymoedigheid vir enige paartjie aan beveel.

Eerste Dans:


Ons het die dansbaan sommer met ons aankoms geopen met “Maybe my Baby” van Dozi.  Dit was nie nodig vir danslesse nie, aangesien ons mekaar goed verstaan op die dansvloer.

Merkwaardigste Oomblikke:


Die dag van die troue het ons albei vir mekaar geskenkies gegee voor die tyd.  Ons het nie mekaar gesien nie, maar te danke aan ons gevolg kon ons geskenkies uitruil.  Dit gaan nie so baie oor die geskenke nie, maar die boodskap wat daarmee gekom het.  Vir my as ʼn bruid het my bruidegom se brief vir my baie beteken.  Dit het vir my versekering gegee dat ek die regte man vir my trou en dat hy onvoorwaardelik vir my lief is.

My niggie het vir ons skelm ʼn “flash mob” gereël. Sy het maande voor die troue verskeie gaste op WhatsApp gekontak en stap-vir-stap dans bewegings vir hulle aangeleer.  Op die dag van ons troue, net nadat ons al die toesprake klaar gemaak het, het die platejoggie “What a man gotta do” van die Jonas Brothers begin speel en verskeie gaste het begin opstaan en ons totaal verras met die “flash mob“.  Dit was vir ons ongelooflik om te sien hoe baie gaste tyd en moeite ingesit het om die dans passies te leer.

En dan die laaste gedeelte wat rerig ʼn merkwaardige gedeelte van ons spesiaal dag was, was my verrassing aan die bruidegom.  Ek sal meer uitbrei in die volgende vraag.  Maar ek het ʼn jumpsuit as ʼn trourok gehad met ʼn romp bo-oor.  Terwyl ons die dansvloer geopen het, het ek in sy oor gefluister dat hy aan die strik moet vashou en my dan draai.  Hy het glad nie verwag dat ek ʼn jumpsuit onder die romp gaan aanhê nie en al ons gaste was ook baie verras.

Wittebrood:


Omdat ons verloof geraak het by die Radison Red het my man dit goed gedink om ons wittebrood by die Radison Blu in Mauritius te spandeer.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: