Liam & Loné se intieme troue in die Robertson Vallei

In dié inskrywing deel ons Liam en Loné se intieme troue in die Robertson Vallei met julle.  Robertson in die omliggende areas is só ʼn pragtige vallei en ʼn populêre trou en wittebrood bestemming vir paartjies.  Ons het self ʼn groot liefde vir die pragtige vallei en het ʼn hele paar trou venues in ons Trougids wat in die area geleë is.  So as julle opsoek is na ʼn trou venue of wittebrood wegbreek, besoek gerus Mooi Troues se Trougids.

Loné het beeldskoon gelyk op haar troudag.  Ons hou van die oop rug van haar trourok en die details wat vanuit haar oop rug deel van haar trourok af gaan in die vloeiende deel van haar trourok. Liam het gegaan vir ʼn formele swart pak en swart das by ʼn wit hemp.  ʼn Swart pak vir ʼn bruidegom is altyd ʼn wenner.

Hulle trou dekor elemente was alles in ʼn tipe van aardse kleurskema met bruine, geroeste oranje en dan hier en daar ʼn tikseltjie goud en swart soos die kersstaanders.  Die gedroogde bossies het só mooi gewerk by die hout tafels en die baksteen mure.  Die trou venue waar hulle getrou het se onthaal lokaal het ʼn binne/buite gevoel, so hulle dansvloer was sommer onder die sterre in die buitelug.

Loné en Liam se troue was ʼn lekker gesêllige kuier saam met familie en vriende, omring met die pragtige natuurskoon van die Robertson Vallei.  Die paartjie het ook ʼn lieflike wittebrood op ʼn wynplaas in McGregor gehad.  Rol af om meer te lees oor Liam en Loné se troue asook hulle liefdesreis as paartjie.

Paartjie se Liefdesreis:


Dit is altyd só lekker om vir iemand te kan vertel hoe ons ontmoet het en uiteindelik saam opgeëindig het, maar die kort ek kragtige weergawe is dat ons het mekaar by ’n petrol stasie ontmoet nadat ons resies gejaag het, en die res was geskiedenis.  Liam het my gevra om te trou op ons twee jaar en vyf maande “anniversary”. Dit was ’n doodnormale aand in ons huishouding, toe hy besluit het, dis nou of nooit!

Die Verlowing Tydperk:


Ons was twee jaar en elf maande verloof in totaal.  Einde April 2022 het ons ’n besluit geneem om 12 November te trou.  Ons het ’n goeie idee gehad wat ons graag sal wel hê en ek het ’n portfolio begin saam stel.  Dit wat ek self kon doen en bymekaar sit , het ek self gedoen en Atila Trust Farm het die res deur gevoer.

Trou Begroting:


Ons het ’n klein intieme troue gehad.  In totaal was 28 volwassenes en 2 kinders (2jaar oud en 6 jaar oud).  Ek is eerlik, op hierdie stadium het ons nie regtig ’n begroting gehad nie, ons wou net graag wettig man en vrou wees en ons hoofdoel was om nie trou skuld na die troue te hê nie, waarin ons darem kon slaag.

Ons advies sal wees, maak ’n lys van ʼn “need to have” en ʼn “nice to have”.  Kyk wat jy self kan doen en waarvoor jy verskaffers nodig het.  Kry soveel moontlik kwotasies.  Kies dan die beste pryse en daarna van wie se werk jy die meeste hou.  Wanneer jou “need to have” gedek is, kyk dan of jy van jou “nice to have” kan in werk.

Merkwaardigste Oomblikke:


Vir my dink ek was elke oomblik merkwaardig.  Om my ouers deel te kon hê van my spesiale dag, asook die oomblik toe ek op die stoep staan waar ons onthaal gehou was en sien hoe ongelooflik mooi alles lyk en besef ons dag waarvoor ons al so lank wag en oor gedroom het, het aangebreek en alles was net perfek.  Ons eerste dans was ook baie spesiaal vir my.

Vir Liam die feit dat my sielsgenoot, my beste vriendin uiteindelik my wettige vrou geword het.  Net om te weet dat voorentoe stap ons twee saam die pad en dat ek die beste persoon langs my sy het vir die res van my lewe.

Spesiale Tradisies:


Tydens die seremonie het ons ʼn “unity candle” gehad om aan te steek.  Ons het ook by die onthaal kerse aangesteek, spesiaal vir die mense wat ’n belangrike rol in ons lewe gespeel het en nou in die Hemel is.  Ons kulturele tradisie was dat ons, ons troukoek saam gesny het.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het saam besluit.  Ek het alles saam gestel en twee of drie keuses bymekaar gesit oor wat ek gedink het sal werk en Liam het dan uit daardie keuses gekies en dit was dan waarmee ons gegaan het.  Ons het maar redelik ons eie kop gevolg.  Bitterweinnig het ek ʼn tweede opinie gevra en dit was maar gewoonlik dan vir my Ma.

Paartjie se styl:


Ons wou graag alles eenvoudig hê, maar steeds stylvol.

My verloofring is oorspronklik roosgoud met morganite en ek het van die begin af gesê dat my verloofring is ook my trouring, so ons het dit goed gedink om net ’n plein roosgoud band by te sit.

Vir Liam se ring wou ons graag ook roosgoud in bring en daarom het sy ring ’n roosgoud lyn in.  Liam het besluit dat ’n swart pak die beste by hom sal werk en ek wou graag ’n rok hê wat goed my liggaam pas en lig is omdat ek my trourok die hele aand wou dra.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Beplanning en ’n tydlyn is baie belangrik en maak sonder twyfel gebruik van ’n kontrolelys. Dit help om georganiseerd te wees.  Nóg ’n wenk, gee vir jou fotograaf vooraf ’n lys van foto’s wat jy graag wil hê en die groepe, vra somer die strooinooie of seremoniemeester om almal bymekaar te kry vooraf om tyd te spaar.

Liam se staan jou toekomstige vrou by, wees betrokke.  Moet nie van jou toekomstige vrou verwag om alles alleen te beplan nie.  Neem dalk die leisels wanneer dit by die bruidegom en sy strooijonkers se ditjies-en datjies-kom.  Onthou julle vorm ’n eenheid, dis nou nie meer elke man vir hom self nie

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


As ons iets kon verander sou dit seker wees om meer tyd te hê.  Dit is regtig waar wat al die ou getroudes sê, mens beplan só lank en hard aan jou spesiale dag en wanneer daardie dag aanbreek dan gaan die tyd só ongelooflik vinnig.  Koester regtig waar elke oomblik.

Venue & Dekor:


In die tyd wat ons verloof was, het ons al na ’n paar plekke gaan kyk maar niks gekry wat ons opgewonde gehad het nie.  Ek volg Atila Trust Farm al lank en het gereeld vir Liam fotos gewys.  Nadat hulle eendag weer ’n promosie gedeel het, het ons besluit om te gaan kyk na die venue.  Ons was werklikwaar vas gevang vanaf die begin tot die einde.  Dié venue is só ongelooflik dat die dekor eenvoudig kon wees , maar steeds stylvol, nes ons dit graag wou hê.  Dit was natuurlik ’n bonus dat ons almal daar kon oornag en sommer lekker familie-tyd ook kon hê.

Gunsteling Diensverskaffers:


Dit is regtig moeilik om net een gunsteling keuse te maak, want die hele span was werklikwaar mind blowing.

  • Atila Trust Farm het hulle eie span wat bestaan het uit die spyseniering, platejoggie, blommerangskikking en koördineerders.  ʼn Mens kan regtigwaar nie verkeerd gaan met hulle nie. Die span stap die pad saam jou van die begin tot einde.
  • Ons foto- en videograaf span was Flying Swan Media. Hulle laat mens voel soos goeie vriende en nie of jy net nog ’n kliënt is, hulle goeie werk is vir ons bonus.  Ek deel graag ons fotos met baie trots.
  • Lieséri van Lovely by L het so ’n rustigheid oor haar en ons was baie gemaklik in haar teenwoordigheid.  Sy is beslis ’n mooi mens van binne en buite.

Vermaak:


Ons het geen spesifieke vermaak gehad op ons troudag, behalwe vir die platejoggie en op ’n stadium was elke liewe een op die dansvloer.  Ons seremoniemeester het die “Shoe Game” met ons gespeel wat lekker ysbreker was en beslis gesorg het vir vermaak.

Eerste Dans:


Ons het ʼn eerste dans gehad en dit was spesiaal.  Ek is mal oor dans, maar Liam dans glad nie.  Hy sal my partymaal in die kombuis draai en swaai, maar dit is die naaste wat ek aan dans kom saam hom.  Ek was gelukkig genoeg dat hy bereid was om in te stem vir die eerste dans.  Ek was te vrede met ’n normale wieg solank ons daardie oomblik vir ons-self het.  Ons het so twee dae voor die troue net ’n idee gekry oor die oomblik.  Ons het gedans op That’s what love is van Alexandra Kay.  Die liedjie le baie na aan ons hart omdat dit so eg is na ons padjie wat ons gestap het.

Wittebrood:


Ons het ’n mini wittebrood gehad by Tanagra Private Cellar in McGregor, die Hill Cottage.  Die tyd was bietjie beperk, so ons het dit goed gedink om na ’n plekkie te gaan naby aan waar ons reeds was.  Ons is oorspronklik van Saldanha, maar ons venue was in Robertson en McGregor is naby aan Robertson.  Ons het ook ’n plek gesoek waar ons in die natuur kon wees, privaat en met ʼn hottub en hulle het al ons boksies gemerk en ons het ’n ongelooflike tyd gehad.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: