In dié inskrywing deel ons André en Kayleen se prentjiemooi strand troue in Mosselbaai met julle op Mooi Troues. Hierdie paartjie het gegaan vir ʼn meer elegante uitkyk op ʼn strand troue, en ons is dol verlief daarop. Die gebruik van neutrale kleure as deel van hulle hele troue lê die klem op elegansie, romanse en ook die pragtige uitsigte vanuit die trou venue.
Kayleen het beeldskoon gelyk in haar trourok en met haar spierwit orgideë handruiker. Haar strooimeisies het die mooiste bottel groen strooimeisierokke aangehad wat die hele kleurskema van die troue só mooi gekomplimenteer het. André se ligte sandkleur pak was die perfekte keuse.
By Mooi Troues is ons groot aanhangers van die minder-is-meer tendens en dié paartjie se trou dekor is die perfekte balans. Die ligte tafel dekor, met die spierwit servette, goue eetgerei en die simplistiese spyskaart, is net genoeg om jou aandag te trek.
Orals is daar groot blom ontwerpe wat vanuit die dak bo die tafels hang. So gee dit meer spasie op die tafels wat bedek is met spierwit kerse. Ter selfde tyd gee dit meer spasie om met mekaar te gesels. Sonder om wegkruipertjie te speel agter massiewe blom ontwerpe en dekor items op die tafels self. Die kerse op die tafels gee dit ook ʼn baie romantiese atmosfeer aan die onthaal lokaal. Alles is altyd moontlik as jy die perfekte span trou diensverskaffers het.
André het Kayleen verras met ʼn droom wittebrood na Griekeland. Hulle kon die pragtige Griekse Eilande kon verken en ook net volkome ontspan. Rol af om meer te lees oor André en Kayleen se prentjiemooi strand troue in Mosselbaai en hul liefdesreis saam.
Paartjie se Liefdesreis:
Ek en André het vier jaar terug vlugtig ontmoet, maar was toe nog op verskillende plekke in ons lewens. Vier jaar later het dié man se naam weer by my op geduik en het ek geweet dat ek hom weer móét raak loop. Nou ʼn vrou kan die saadjie plant maar kan nie ook die jagter wees nie … So het ek André gevolg op Instagram en Facebook en gehoop ek plant die saadjie wat nuuskierigheid by hom sal kweek. Drie maande later (já, hy het sy tyd gevat) het ek ʼn ʼn boodskap gekry vir ʼn pizza en wyn date en soos hulle sê, the rest is history.
André het my gevra om te trou.
Met die gejaag van Desember hier in Mosselbaai het ons beplan om uit te ry Hoekwil toe en die bekende kaaskoek te gaan eet. Ons het my pa se BMW motorfiets geleen en deur die plaas paaie gery. André het stilgehou om “te kyk wie hom bel” en af geklim om in sy sak te kyk. Terwyl ek vir die berge staan en kyk het hy vir my iets gevra. Ek het om gedraai om hom te antwoord en toe ek omdraai in hy op sy knieg.
Ek het nog met my helmet op my kop gestaan en kon nie glo dat dít dié oomblik is nie.
Ons het gelag en in die veld gesit en die oomblik in neem.
André het gereël vir ʼn piekniek en blomme langs die dam by Botlierskop. Ons het deur gery om daar die oomblik werklik in te neem en met ons vriende en familie te deel.
Die Verlowing Tydperk:
Ons was 9 maande verloof en het ʼn troubeplanner gehad.
Ek is self in die trou industrie en het vir my ouers en André genoem dat ek graag iemand wil kry om ons troue te reël. Ek sien soveel troues en werk elke dag met bruide. Vir my sal dit lekker wees dat ek heeltemal kan oorgee en nie in beheer is van my eie troue nie. Dit is die beste besluit wat ons kon neem.
Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:
My in-loop liedjie was die verkeerde weergawe as dit wat ek met die platejoggie bespreek het.
In volle gereedheid staan ek voor die kerk se deur, bruidsmeisies is reeds in die kerk, minute voor die deure oop maak, begin my liedjie speel en ek kyk vir Hannes [KRAAK] en sê dit is die verkeerde liedjie. Hannes het my stip in die oë gekyk, rustig laat voel en sonder woorde vir my gese: “Daar is nie omdraai of oor begin nie.”
As jy ʼn spesifieke weergawe van ʼn liedjie gebruik, gee dit op iTunes of ʼn stokkie vir jou platejoggie.
Trou Begroting:
Die begroting sonder koördinering en beplanning was R550,000. Ons het daarby gehou en ons beplanners het met ons begroting gewerk. Daar was 120 gaste onthaal.
Advies:
- Om “ja” te sê vir een ding beteken soms jy sê nee vir ʼn ander.
- Dit is okay om nie ja te kan sê vir alles nie.
- Kies ʼn paar goedjies en doen dit uitsonderlik, eerder as alles half-pad.
Merkwaardigste Oomblikke:
Bruid:
My merkwaardigste oomblik was die Vrydag voor die troue. Ons het ʼn familie langtafel ete gehou op die plaas in ʼn pragtige skuur. Ons het teen die familie en vriende braai besluit en eerder ʼn familie fees gehou.
Ek en André het besluit om die familie fees te hou vir ons ouers, want hulle het reeds so baie vir ons gedoen. Hierdie aand was vir hulle. Ons het dit beplan, mooi gemaak en self betaal.
Ons het gevoel dat daar ongelukkig druk op troues geplaas word om toesprake kort te hou, dat die mense nie verveeld raak nie en kan begin kuier. Die toesprake wou ons hê en ons mense eer vir wie hulle is en wat hulle vir ons beteken. Byvoorbeeld, ek wou my ouers bedank en vir my man iets sê. Maar die dag van jou troue is nie altyd die regte tyd vir sulke intieme toesprake nie. Daarom het ons dit die Vrydag gedoen en was dit vir my ʼn uitstaan oomblik.
Ons het gelag en gehuil en die emosionele wolk wat op gebou het met die week se aanloop tot die trou het gebars. Dit het ʼn ongelooflike rustigheid en vreugde gebring op die dag van ons troue.
Op die dag was die hoeveelheid mense wat ons bystaan, lief het en vier die merkwaardigste. Die geluk wat almal saam met ons deel.
Bruidegom:
Die oomblik toe ek met Kayleen gedans het vir die eerste keer en besef het sy is nou my vrou.
Paartjie se styl:
Bruid se rok:
Ons venue het my geïnspireer. My styl is sag en vroulik, maar ek het geweet dat my rok saam my overall look moet pas van die venue en die prentjie wat ons wou skep.
Twee maande na ons verlowing het ek twee rokke gepas en my trourok gekry, deposito betaal en met ʼn rustige hart terug gery van die Kaap af. Drie maande later het ek goed gedink om op te volg met die produksie van my rok en uitgevind dat hulle nie my rok kan maak nie, a.g.v. die oorlog wat op daardie stadium net uitgebreek het in Oekraïne … Maar ek kan uithou tot einde Augustus om te kyk of hulle weer kan begin met produksie. Hou in gedagte dat ons 17 September sou trou. Needless to say het ek my rok gekanselleer, op ʼn vlug gespring Johannesburg toe en droomrok 2.0 gaan soek.
My rok was nie my eerste keuse nie, maar vandag was dit die regte keuse. Ek is nie ʼn dag spyt dat dinge uitgewerk het soos dit het nie.
Bruidegom se pak:
Van dag een af het ek geweet André gaan in ʼn ligte pak trou. Ons wou beach-formal lyk en met sy lengte was dit net bestem dat hy in linne gaan trou. Dit het ʼn sagte, maar stylvolle gevoel gegee. Dit was vir my belangrik dat André ook die lekkerte van pak koop beleef, soos wat ons vrouens se ervaring is met rok koop. Ek het by Kale & Co ʼn afspraak gemaak waar ons met Americanos verwelkom is. André kon elke deel van sy pak se detail self kies. Die kleur van die knoop tot die styl van die sak en baadjie se materiaal binne.
Bruid se ring:
André het my gevra om te trou met ʼn enkel steen ovaal ring. Na ons verlowing het ons begin gesels oor trou pandjies. Ek het vir André genoem dat ek nie mal is oor ʼn klomp pandjies aan my hand nie. My ring is ook baie laag geset wat beteken dat ʼn pantjie nie tot teen aan my ring kan gaan nie. My keuse was ʼn baie mooi troupantjie of om twee stene by te sit.
Ek het vir André gevra of ek twee stene mag by sit en eerder nie ʼn troupant dra nie. Ek het begin soek na inspirasie vir my ring. Op Instagram het ek op ʼn ontwerp af gekom wat die twee stene en bietjie vintage kombineer – hierdie was die een. Ek het my ring terug gestuur na die juwelier toe en een maand voor ons troue het ek gekry presies waarvoor ek gevra het. André het elk geval vir my ʼn haarfyn plein goue pandjie gekoop. Ons hou van die tradisie van ʼn pandjie wat wys dat ons wel nie meer net verloof is nie.
André se ring:
Nee wat, in geloop en uitgeloop. Hy het presies geweet wat hy wil hê en het hier vas gestaan. Medium dikte en donker. Aanvanklik wou hy ʼn baie donkerder ring gehad het, maar toe hy die ligter grys ring aan sit toe lyk dit vir hom mooier en dit was die slotsom van sy ring koop.
Die Besluitnemingsproses:
Ons is baie gelukkig dat ons geen familie druk gehad het met ons besluitneming nie.
Wanneer ons vriende en familie betrokke was met besluitneming was dit omdat ons werklik uitgereik het vir nog ʼn opinie of uitkyk.
Ek (Kayleen) het ʼn redelike idee gehad vir die konsep van die troue se blomme en drapering. Saam het ek en André neer geskryf wat ons “gevoel” is wat ons wil bereik by die troue. “Wat is die atmosfeer wat ons wil skep”, is wat ons bespreek het en ons besluite het daaruit gevloei. Ons het ons konsep vir KRAAK gegee en terug gestaan dat hulle doen wat hulle goed doen.
Dit het soveel druk van my af gehaal dat ek nie hoef te kies tussen ʼn roos of ʼn peonie nie. Ek het alles in hulle hande oorgelaat en net die konsepte waarvan ek hou deur gegee. Ons het werklik nie geweet hoe enige iets gaan lyk, watse blomme dit gaan wees of watse dekor in die saal kom nie.
Ek het myself vrygespreek van daardie druk en besluite neem omdat ek geweet het wat ookal KRAAK vir my gee, beter gaan wees as wat ek ooit sou kon uit dink.
Groot besluite het ons saam geneem; spyseniering, fotograaf en videograaf. André het die finale besluit geneem wanneer ek in twee geskeer is. Ek het die kleiner besluite geneem wat ek weet nie deel vorm van André se top drie trou prioriteite nie.
My hoof strooimeisie het seker gevoel of sy weer trou, sy was my klankbord vir al my besluite en sou ek sonder haar nie helfte kon neem wat ek het nie.
Venue & Dekor:
Aanvanklik wou ons nie by die see trou nie, en het ons behoorlik venue hopping en shopping gaan doen. Nadat ons ʼn paar venues besoek het, het ons net weer besef dat geen venue die gemaklike atmosfeer gekombineer met elegante styl bied nie. Ons het ʼn gemaklike atmosfeer vir ons gaste gesoek, maar nie ʼn plaas troue nie. Ons het stylvolle elegansie gesoek, maar nie ʼn stad of wingerd troue nie.
Inspirasie – Vra vir KRAAK en Heike hehe, hulle het die dekor en visie laat gebeur.
Die inspirasie agter ons konsep foto’s en idees wat ons deur gestuur het, was bloot dat ek kers verslaaf is. Ek het geweet het dit is wat ek hoofsaaklik op my tafels wil hê. Ek het ʼn foto op Instagram gesien van ʼn vorige troue met wolke jip in die dak en verlief geraak op hoe mooi dit was. Met die venue se hoë dak en oop kappe het ek geweet dit sal mooi lyk, maar dit wat vir ons deur KRAAK en Heike gedoen is het my verbeelding oortref.
Die venue se gevoel is lig en Mediterreens. Wit mure met sandsteen afwerkings, ʼn 180° see uitsig en Lavender in die tuine; die kleurpalet van rome en witte is daardeur geïnspireer.
Gunsteling Diensverskaffers:
Seeplaas – Die venue opsigself het ons troue gemaak wat dit was. Die venue is splinter nuut gebou, ons was die eerste troue in dié nuwe venue en kapel.
As dit toelaatbaar is vir nog een of twee – is daar natuurlik ook KRAAK wat vir ons beplan en gekoördineer het en John Joseph se spysenering gereël het, ook die ongelooflike Heike laat kom het vir ons blomme. Wat ʼn ongelooflike span om die saal te omskep in ons droom troue.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Bruidegom:
Probeer jou bruid so veel as moontlik ondersteun met die aanloop tot die troue, selfs al maak die blomme se kleur nie aan jou saak nie, 😉 Luister en ooh-en-aah saam haar. Probeer so veel as moontlik oorgee aan ander mense om te doen op die dag van die troue, dat jy nie self op die dag goed hoef te doen nie.
Bruid:
Gee jou bruidegom ʼn “break“, dit is okay as hy nie regtig omgee oor die kleur van die blomme nie. 😉 Moet nie die plesier uit die proses haal nie. Ek en André het heel eerste ons elkeen se top drie “deal breakers” neergeskryf. Dit wat regtig vir ons belangrik was vir ons troue – as iets op geduik het wat ons uitdaag, het ons onsself gevra of dit een van ons drie se top 3 belange was vir die troue, as dit nie was nie – het ons nie ons koppe daaroor gebreek nie. Só het ek geweet wat vir André belangrik is en hom deel gemaak van daardié reëlings, maar so het hy ook begrip vir my top drie gehad en my ondersteun wanneer ek graag met hom daaroor wil gesels en idees uitruil.
Laastens – Onthou, almal is aan jou kant, veral op die dag van jou troue – gee oor en laat gaan. Mense gaan jou teleurstel, ietsie gaan skeef loop, maar net jy is in beheer van hoe jy kies om dit te hanteer.
Vermaak:
Canape’s – Gerry Liberty
Nadat die dansvloer geopen is en ons gaste reeds lekker kuier, het ons ʼn Saksofoon speler en platejoggie gehad wat vir ons opgetree het
Net voor 23:00 het ek vir André verras met vuurwerke van die strand af.
Eerste Dans:
Ons het ʼn eerste dans gehad. Ons het nie vir lesse gegaan nie, die lekkerste deel van ons dans was die oefen voor die tyd.
Ek dink daar kom ʼn oomblik waar elke paartjie oorweeg om ʼn dans roetine uit te werk en aan te pak. So het ek en André ook daai oomblik gehad en besluit op die “two step“. Na 4 ure van Youtube video lessies oor-en-oor oefen in die winter in die leef vertrek voor ʼn kaggel, het ons geknak en het besluit om sommer net onsself te wees. Natuurlik het ons in die lokaal gaan oefen twee weke voor die troue. My ma en pa (bruid) was ook daar sodat ons kon oefen wanneer my pa in sny by André – en hierdie is wat uitstaan van ons dans. Ons dans was perfek geoefen na daardie aand!
Op die aand van ons troue, het ons liedjie begin. Ek en André het vir mekaar gekyk en geweet ons kan nie een onthou wat ons geoefen het nie, en was toe weer, sommer net onsself. Goeie ding ons het nie met die two step gegaan nie.
Ons liedjie – Isak Danielson – Always
Die lirieke sê vertel die storie; ons pak lewe aan, saam-altyd-deur alles.
So say we’ll be always, always
Say it will be you and me ’til the old days Let us be always, always Through the highs and the lows, we’ll be always We will be always (always), always (always) Say it will be you and me ’til the old days We will be always (always), always (always) Through the highs and the lows, we’ll be alwaysThrough the highs and the lows
We keep together you and me ’til we’re old I am ready for the highs and lows I am ready for the highs and lows For the highs and lows
Wittebrood:
My bruidegom het my in die donker gehou van die begin af! Hy het selfs deur die moeite gegaan om ons visa aansoeke te doen vir ʼn land in Europa en daarna ons besprekings verander om my van sy spoor af te gooi. Hy het my verras met ʼn wittebrood op die Griekse eilande – Mykonos, Paros en Santorini en huis toe van Milan af.
André het op Griekeland besluit omdat ek hou van ʼn aktiwiteits-vakansie en hy hou van ʼn “lê-by-die-see-vakansie”. Die Griekse eilande was die perfekte kombinasie vir deur straatjies loop, op poegies die eiland verken, die lekkerste kosse eet, wyn drink en vir die see kyk – maar ook op die strand lê en volkome ontspan vir ʼn paar dae.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Anina Harmse
- Venue: Seeplaas
- Blomme: Fleur Le Cordeur
- Bruidegom-pak: Kale & Co
- Dekor: KRAAK
- Grimering: Flawless Make Up by Bianca
- Hare: Salon Samantha
- Koördineerder: Kraak
- Kroegdiens: Seeplaas
- Musiek: Gerry Liberty
- Platejoggie: Brilliant Events
- Paartjie se verblyf: Botlierskop Villas
- Skoene: Fochini
- Spyseniering: Johnny Hamman – John Joseph – The Anatomy Of Food
- Strooimeisie-rokke: Besters’ Bridal Boutique
- Trourok: Besters’ Bridal Boutique
- Trouring: Franchan Diamonds
- Troukoek: Because Cake
- Videograaf: White Motion Films