Philip & Jolandi se Troue in Wellington

Met baie opgewondenheid deel ons Philip en Jolandi se troue in Wellington met julle in dié inskrywing.  Die paartjie het by die pragtige moderne trou venue, Bakenhof Winelands Venue net buitekant Wellington getrou.  Hierdie pragtige glaskas trou venue is presies wat die paartjie wou hê vir hulle troue.

Bakenhof Winelands Venue is die ideale trou venue vir paartjies wat opsoek is na ʼn trou venue in die Boland, tussen Paarl en Wellington.  Met professionele en vriendelike diens sal jy baie welkom voel by hierdie pragtige trou venue.  Omring deur die mooiste landskappe van ʼn werkende plaas asook berge in die verte.

Die paartjie se trou dekor is só mooi.  Sagte pienk blom ontwerpe op die tafels met ʼn kombinasie van kort en lang kerse.  Die tafel se uitleg is eenvoudig gehou, wat die romantiese element inbring en só mooi pas by die trou venue se hele gevoel.  Die groot glas ruite van die trou venue reflekteer die kerse, wat so ʼn prentjiemooi effek is.  Ons hou ook van die mooi blom ontwerp wat oor die dansvloer hang.  Die paartjie se 180 trou gaste het gesellig gekuier en hul troudag saam met hulle gevier.

Jolandi het die mooiste simplistiese trourok aangehad, ons hou veral van die oop skouers en rug.  Die sluier was lank en het aandag getrek.  Philip het ʼn donkerblou pak aangehad wat Jolandi se trourok baie mooi gekomplimenteer het.  Jolandi se trouring is ontwerp deur Viljoen Juweliers, ʼn kenner in die juweliers bedryf.

 Rol af om meer te lees oor Philip en Jolandi se troue in Wellington en hul liefdesreis as paartjie.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons was altwee genooi na ʼn vriendin se braai.  Ek (Jolandi) het nuut in die buurt ingetrek, en kort na my verhuising het ek verjaar.  Aangesien ek nog nie baie mense geken het nie, het die vriendin toe haar vriende aan my voorgestel deur ʼn braai te reël vir my verjaarsdag.  Ons was lank goeie vriende gewees, maar eers 17 maande na die ontmoeting vir die eerste keer ogies gemaak vir mekaar. En 2.5 jaar na die ontmoeting het ons vriendskap verander na ʼn verhouding.

Philip het een Donderdagmiddag na sy werksdag vir my gevra of ek saam met hom wil stap na ʼn bankie op die plaas – in die berg.  Ons het die mooi uitsig gekyk, Philip het gesê hoe lief hy is vir my en toe op sy knieë gegaan.  My verloofring was ʼn hout ring wat hy self gemaak het – alles was perfek.

Die Verlowing Tydperk:


Ons het verloof geraak 13 Januarie 2022 en getrou op 28 Mei 2022.  Beide van ons het nog altyd geweet ons wil nie lank verloof wees nie.

Ons het hoofsaaklik die troue self beplan, maar sonder die bruid se Ma – sou dit eintlik onmoontlik gewees het.

Annabelle van Bakenhof het ons ongelooflik baie gehelp met verwysings, asook leiding en ondersteuning bied met tydlyn van die dag.  ACreate het ons weer baie leiding in die dekor gegee.

Trou Begroting:


Ons het van die begin van die verlowing saam met die familie gesels rakende onkostes van die troue en saam besluit waaroor is elkeen sentimenteel in die troue.  Ons het dan probeer geld spaar op goed wat nie van sentimentele waarde was vir een van ons nie.  Byvoorbeeld het ons nie ʼn troukoek gehad nie.  Die naamplaatjies het die doel gedien as geskenk vir die gaste ook, dit was ʼn koekie met hul naam op.

Daar was 180 gaste gewees.

Merkwaardigste Oomblikke:


Philip:

Die hele troue in geheel.  Maar spesifieke oomblikke is toe Jolandi met haar pa aangestap kom.  Ook hoe haar pa haar toe oorgee aan my, was spesiaal.  Dit was ook merkwaardig hoe al die gaste heel aand die dansvloer vol gehou het.  Vir my was ons eerste dans ook besonders en spesiaal gewees.  Dit het vir my uitgestaan ook hoe almal se toesprake my aangespreek het, asook was daar familie van Jolandi uit Nederland wat ek kon ontmoet het.

Jolandi:

Teen die einde van die aand het ek stil gestaan en gekyk na alles om my.  Toe besef ek dat die hele aand lank was daar heeltyd mense op die dansvloer.  Dit was ook ʼn reënerige dag gewees, en toe ons twee gegaan het vir fotos het dit vir oomblik nogal begin hard reën.  Ons het alles nog steeds só geniet en gelag in die reën.  Daai oomblikke net ons twee was vir my bitter spesiaal.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Die liedjie waarop die bruid ingestap het is op die dag self verander na ʼn korter weergawe.  Nooit besef dat daar gedeelte toe nie plaasvind in hierdie weergawe nie.  Ek het toe gestaan en wag om in te stap – so lank dat die bruidegom begin sweet het of ek nou gaan kom of nie.

Ook was daar die mooiste mandjies met blomme uitgesit vir die blommemeisies om te strooi, maar ons het vergeet daarvan.

Daar is absoluut niks wat ons sal wil verander nie.  Selfs die reën was ʼn seëning.

Paartjie se styl:


Ons wou ʼn elegante styl hê, maar waar ons gemaklik en onsself voel.  Die bruidsmeisies kon almal hulle eie rokke kies, dit moes net swart wees.  Ek het gehou van die eenvoud van my trourok terwyl dit tydloos bly.  Die sleep van die rok was lank en vir my die “statement”.

Ek het verloof geraak met ʼn baie mooi houtring wat Philip self gemaak het.  Daar was drie strepies in wat gestaan het vir ons twee met God in die middel.  My trouring was toe op die ou einde drie diamante langs mekaar.

Bruidegom:

Ek wou net netjies lyk en soos myself voel.

Spesiale Tradisies:


Philip is die laaste neef wat trou van sy Naudé familie.  Hulle het ʼn tradisie vanaf die eerste kleinkind se troue waar hulle oupa se stelletjie messe en vurke aangestuur word vir die nuwe getroude paartjie.  Hierdie messe en vurke is versamel deur hulle oupa uit vliegtuig reise in die vroeë jare – en op die aand is dit oorhandig aan ons.

My ma en tannie het saam met my strooimeisies en broer se vriendin ʼn dans gedoen.  Hulle het eie dans uitgewerk met klomp liedjies gemeng.

Die Besluitnemingsproses:


Die bruidegom het finale besluite geneem oor die strooijonkers asook sy eie pak.  Ook het hy sy ring gekies en die wittebrood beplan.  Met besluite rakende die seremonie, dekor en temas het hy geluister en saam gedink – maar die bruid vertrou om die beste besluit te neem.

Ons families was baie betrokke in die besluitneming.  Die bruid se familie wat oorsee woon, insluitend haar ouers vir ʼn periode, het selfs van vêr af reëlings getref.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruid:

Geniet die hele fase van verlowing en dan die dag self.  Maak die dag oor jou en jou toekomstige man en nie oor of alles perfek gaan wees nie.  As iets fout gaan is die kanse baie groot dat niemand dit gaan weet behalwe jy nie.  Dit is só ʼn spesiale en unieke tyd en geen stres is die moeite werd om dit te versuur nie.  Dit is oukei as alles nie 100% verloop nie.  Solank jy, jou bruidegom en geliefdes saam is om julle nuwe avontuur saam te vier.

Bruidegom:

Neem die hele dag in, vanaf die oggend al.  Dit klink soos ʼn cliché – maar die dag gaan vinnig verby.  Wees ook rustig en nie te veel bekommer oor goed soos jou toespraak nie.  Alles werk altyd uit. Mens gaan nie kan help om bietjie te stres nie, maar probeer om so min as moontlik te stres – alles gaan goed verloop.  Kies ook vir jou strooijonkers wat die dag vir jou gaan lekker maak en dit saam met jou gaan geniet.  Moet nie mense kies omdat jy verplig voel nie.

Venue & Dekor:


Ek het nog altyd geweet ek wil graag ʼn venue hê wat baie groot vensters het.  En dit is presies Bakenhof.  Ek het al fotos gesien op sosiale media en dadelik hulle gekontak vir datums.  Ons het altwee saam met my gesin die venue gaan kyk – en onmiddellik besluit dit is die perfekste ek vir ons.

Aangesien die venue al klaar so ʼn statement is, wou ons die dekor laat inpas op ʼn elegante wyse.  Liggies, kerse, pienk en blomme in die dak was op my wens lysie.  Ek het met wens lysie aan ACreate gestuur en hulle het my los gedagtes gevat en alles presies soos ek gedroom het bymekaar gesit.

Gunsteling Diensverskaffers:


Dit is definitief onmoontlik om ʼn keuse te maak.  Bakenhof en ACreate het ons sprokiesdag laat lyk en verloop soos ons net kon droom het.  Ons het prentjies en versoeke gestuur en hulle laat alles net so gebeur.  Hulle het gemaak dat die bruid en haar ma se stresvlakke redelik laag was.

Die platejoggie het dit reg gekry om almal op die dansvloer te hou en die fotograaf asook videograaf het beide van ons gemaklik laat voel en die dag (reën en al) ongelooflik vasgevang.

Eerste Dans:


Die eerste dans het ons gehad direk toe ons in die saal in stap.  Ons wou gehad het dat die mense sommer vroegaand al kon begin dans.

Die liedjie was “Buy Dirt” van Jordan Davis en Luke Bryan.  Country musiek is ons albei se gunsteling en was daarom maklik om te kies.  Ons woon ook op ʼn plaas so die hele lied het gepas gevoel.

Ons het geen danslesse geneem nie, sommer net paar keer in die kombuis gedans voor die troue om mekaar se ritmes beter te leer ken.

Vermaak:


Ons platejoggie het vir ons regdeur die dag musiek gespeel.  Die musiek was heeltyd gepas vir die afmosfeer gewees.

Wittebrood:


Philip het leiding geneem van wittebrood.  Sy droom was nog altyd om ʼn winter wittebrood in die sneeu te hou en gaan snowboard.  Ons het egter nie in die regte seisoen vir dit getrou nie, en wou ook nie wittebrood uitstel na later nie.

Sy tweede droom was dan ʼn eiland vakansie.  Ons hou ook baie van avontuurlustige goed doen en het dit met die begroting in ag geneem.  Het navorsing gaan doen en Mauritius was toe perfek vir ons.  Ons het gesnorkel, op catamaran gevaar, waterski en die dorp verken.


    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: