Erich & Gerhaldine se Stylvolle Troue in Pretoria

In hierdie inskrywing deel ons Erich en Gerhaldine se stylvolle troue in Pretoria met Mooi Troues se lesers.  Die paartjie het by die populêre trou venue, Casablanca Manor in die Ooste van Pretoria getrou.

Hulle het hul seremonie gehad in die mooi moderne kapel geleë op die 8 hektaar van die trou venue, wat dit lekker gemaklik maak vir trou gaste om tussen die seremonie en trou venue te beweeg.

Die trou venue is enige paartjie wat opsoek is na ʼn trou venue in Pretoria-Oos se droom.  Omring deur indrukwekkende doringbome, bosveld en prentjie mooi versorgde tuine, maak dit die perfekte agtergrond vir paartjies se trou foto’s.

Daar was twee lang tafels met groenigheid op en tikseltjies wit tussen die blom ontwerpe.  Ou wynbottels was herwin en gebruik as kersstaanders op die paartjie se tafels.  Die dekor elemente was eenvoudig gehou om dit ʼn meer klassieke gevoel te gee.

Nie net is die trou venue mooi nie, maar hulle spyseniering is lip lek lekker.  Erich en Gerhaldine se trou gaste het ʼn lekker gesellige kuier gehad saam met die paartjie.

Erich het ʼn eenvoudige grys troupak aangehad met ʼn bruin leer das en bruin skoene.  Dit is altyd ʼn wen kleur kombinasie vir bruidegomme.  Ons is dol verlief op Gerhaldine se mooi trourok.  Die fyn detail langs die kante en bokant van haar trourok se bors is besonders mooi.

Rol af om meer te lees oor die paartjie se liefdesreis en hulle stylvolle troue in Pretoria.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek en Erich het in 2019 ontmoet by Middelburg Hoërskool.

Ons het in 2021 verloof geraak in Knysna op die strand.  Erich het vir ʼn kort tydperk Jeffreysbaai toe verhuis.  Ek het gereeld by hom gaan kuier.

Hy het die een naweek vir my gesê ons gaan bietjie Knysna toe ry en dan het ons later ʼn fotosessie op die strand.  Ek het gedink dis super romanties, min wetend dat hy my daar en dan gaan vra om te trou.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was 11 maande verloof gewees.   Ons het ons eie troue beplan met die behulp van Kobus by Casablanca Manor.

Trou Begroting:


Die begroting vir die troue was R150,000. Ons het tussen 85 en 90 gaste onthaal.

Dit is moeilik om in jou begroting te bly as jy soveel idees het.  Wat vir ons die beste gewerk het was om eers te besluit wat alles op ons troue MOET wees en op wat kan ons spaar.

Ons het besluit wat is die belangrikste wat ons op ons troudag wil hê en eers geld daaraan spandeer.  Ons het meer as twee kwotasies gekry vir enige iets wat ons wou doen. Jou eerste kwotasie is gewoonlik die duurste.

Merkwaardigste Oomblikke:


Die merkwaardigste oomblik op ons troue vir my was definitief toe die kapel se deure oop gaan en al die oë is gefokus op my en ek net besef dat vandag word ek en Erich een.

Gunsteling Diensverskaffers:


DEFINITIEF ons Fotograaf.  Ons fotograaf wen met los hande.  Nie net lyk ons foto’s pragtig nie, maar hulle voel soos ou vriende.  Ons het gesels deur die foto’s soos mense wat mekaar al jare ken.  Dit is baie belangrik om gemaklik te voel voor jou fotograaf en met Michael Hockey is dit nie moeilik nie.

Vermaak:


Ons het verwelkomingsdrankies gehad.  Daar was ʼn speletjie gespeel met Erich in die onthaal waar mense geld uithaal en hy 1min het om die geld by die mense te gaan haal.  Hy mag slegs een noot op ʼn slag gevat het en dit op my skoot kom bêre het voor hy die volgende noot mag gaan haal het.

Die Besluitnemingsproses:


Ek as die bruid het definitief meer besluite geneem.  Wanneer ek wel iets vir Erich gevra het, het hy my net geantwoord “ Sjoe ek weet nie, wat dink jy liefie?”  So ek het baie vinnig geleer om meeste van die besluite self te neem, anders het ons vandag nog aan die troue beplan.

Beide ons ouers was betrokke by die besluitnemings, nie regtig besluite gemaak nie, maar goeie raad en insig gegee. Dit bly jou troue so jy en jou bruidegom moet elke finale besluit neem.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Alles het vlot verloop op ons trou dag, behalwe toe ek besef my toespraak op Erich is nie meer in die koevert waarin hy was nie, en ek het hom by die huis vergeet.

Gelukkig was hy ook op my foon en kon ons hom baie vinnig laat druk.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruid:

Maak ʼn lys van wat belangrik is vir jou en wat ʼn MOET is vir jou troue.  Kies jou venue volgens jou lysie, so ook jou trou rok en al die ander besluite wat jy moet maak.

Begin vroeg aan jou troue beplan, dan is dit nie so gejaag nader aan die einde nie.

Onthou net een ding, jy hoef nie altyd die duurste van alles te hê nie.

Venue & Dekor:


Ons het na ʼn trou venue gaan kyk een Saterdag en was baie teleurgesteld.  Dit was die enigste venue afspraak wat ons gehad het vir daardie dag.

Na die afspraak het ek en Erich vir mekaar gesit en kyk en gevra nou wat nou.

Ek het vinnig begin Google na trou venues om ons en op Casablanca Manor afgekom.  Ek het hulle geskakel en gevra wat is die kans dat ons vinnig kan kom loer.  Baie vriendelik het hulle gesê ons kan oor so half uur kom.

Dit was die perfekte venue vir ons troue wat al ons boksies getik het.

Wittebrood:


Ons wittebrood was in Mauritius.  Erich was al ʼn paar keer oorsee maar ek nog nooit.  Ek droom al van kleins af om Mauritius toe te gaan, en Erich het gesorg dat my droom waar word.

Eerste Dans:


Ons eerste dans wat op Whole Life – Marissa & Tommy Docherty.  Dié liedjie is meer soos ʼn brief wat gesing word, en dit is ʼn brief wat ons gevoelens teenoor mekaar verduidelik.   In dié liedjie se hulle hoe hulle daar is vir mekaar wanneer dit sleg gaan, en dit beskryf eintlik ʼn huwelik só mooi.

Ons het nie gegaan vir dans klasse nie.  Ons het baie rustig vas gedans op hierdie liedjie.


    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

    [endsection]