In hierdie inskrywing deel ons PJ en Monique se troue by die see met Mooi Troues se lesers. Hierdie pragtige paartjie het só ʼn mooi strand troue gehad in Groot Brakrivier, naby Mosselbaai, by ʼn trou venue met die mooiste see uitsigte.
Monique se trourok is só mooi! Ons is totaal en al dol verlief daarop. Die blink fyn detail op die trourok trek onmiddellik ons aandag. Haar elegante trourok pas ook so mooi in by die kleurskema van die paartjie se troue. ʼn Pragtige handruiker gemaak uit slegs rose is só stylvol en pas só mooi by haar trourok. PJ het self baie dapper gelyk in sy mooi donker bruin pak. Sy donker bruin troupak het Monique se trourok perfek gekomplimenteer.
Monique en PJ het ʼn pragtige buitelug seremonie gehad met die see as hul agtergrond. ʼn Kombinasie van gedroogte en vars blomme was gebruik vir die mooiste blom ontwerpe tydens die seremonie.
Hulle trou dekor was ʼn neutrale kleurpalet met sagte skakerings van wit en aardse kleure en baie kerse. Al die kerse in die middel van die gaste tafels skep ʼn baie romantiese en warm atmosfeer aan die trou venue. Die rou baksteen muur in die trou lokaal en hout tafels skep die perfekte kontras teen die sagte trou dekor elemente.
Hulle het besluit om ʼn paar lande in Europa te besoek vir hulle wittebrood. Elke paartjie se droom om ʼn wittebrood in Europa te hê. Rol af om meer te lees oor PJ en Monique se liefdesreis en hul prentjie mooi troue by die see.
Paartjie se Liefdesreis:
Ons het 7 jaar terug in Bloemfontein ontmoet deur vriende en het verloof geraak in Pretoria. Ons wou baie graag na kroeg op ʼn dak gaan, maar ongelukkig het dit begin reën. PJ moes toe vinnig aan ʼn ander plan dink. Ons het toe by Menlyn Maine uitgeklim om “foto’s te neem” en toe ek omdraai staan hy op sy knie met my droom ring.
Die Verlowing Tydperk:
Op 5 Maart 2022 het ons verloof geraak. Ons was so bietjie meer as 5 maande verloof en het alles self beplan.
Trou Begroting:
Ons was bevoorreg om ouers te hê wat ons troue betaal het. In totaal het ons 80 gaste gehad en die begroting was om en by R240,000.
Advies:
-
- Kry kwotasies van al jou droom verskaffers ens. vergelyk dan pryse. Goedkoop koop is dikwels duur koop.
- Ons het ook goed uitgesny wat vir ons onnodig was. Dinge soos ʼn welkom bord, koek en duur gaste geskenke.
- Ons het ʼn lekker nagereg gehad wat almal geëet het in plaas van ʼn hele koek wat gemors word. Daar was macaroons vir ons gaste gegee met hul name op en dit dan ook as tafel plasings gebruik.
- Gebruik dit wat ingesluit is by jou venue en moenie onnodig ekstra spandeer nie.
Merkwaardigste Oomblikke:
Behalwe die feit dat ons na amper 7 jaar uiteindelik getroud is was al ons naaste familie en vriende daar, om daardie dag saam met hulle te deel was definitief ʼn baie spesiale oomblik. Asook die walvisse en dolfyne wat ʼn lekker show gegee het tydens ons seremonie.
Die Besluitnemingsproses:
Monique het meeste van die besluite geneem. PJ, asook sy een strooijonker, het wel baie gehelp met die musiek vir die onthaal. Verder het die bruid se ma gehelp met alle reëlings.
Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:
Gelukkig vir ons het ons nie geweet van enige probleme nie. Die bruid se ma en strooimeisies het seker gemaak daarvan. Hulle het alles wat dalk skeef geloop het dadelik hanteer sodat ons van niks hoef te geweet het nie. Maar daar het darem niks ernstig gebeur nie.
Paartjie se styl:
Ons albei se styl is baie minimaal. Albei van ons hou van neutrale, aardse kleure en dus was die kleure van die troue alles wit en skakerings van aarde kleure.
Ons het in plaas van ʼn tradisionele swart pak ʼn mooi donker bruin pak vir PJ gekies, wat perfek gepas het by die res van die dekor. Die rok was ʼn 2-in-1 rok, omdat ek iets besonders en anders as die gewone wou hê.
Ons albei hou meer van geel goud en daarom het ons dit gekies. My een trouring was my pa sin gewees en die ander my ouma sin. Vir PJ het ons iets klassiek gekies maar wat nogsteeds uniek is.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Doen wat jy en jou verloofde wil doen. Moenie dat enigiemand jou voorskryf of sê hoe iets moet lyk of wees nie. Dames, kies die rok wat JY wil hê. As jy soos ʼn prinses daar in voel sal niemand se opinie saak maak nie. Nooi net mense wat regtig iets in jou lewe beteken.
En laastens kies slegs strooimeisies wat jou dag gaan makliker en lekkerder maak. Maak nie saak of dit slegs 1 is nie. Ek het 3 strooimeisies gehad wat die wêreld vir my beteken. Die 4de het se baba het net voor my troue gekom en sy kon dit nie meer maak nie, maar was net so groot deel van my dag soos die res.
Al was dit op Facetime. Kuier saam met jou vriende en geniet net die hele dag. Moenie dat klein goedjies jou dag omkrap nie. Niemand anders weet hoe die prentjie in jou kop lyk nie, so as alles nie perfek is nie is dit nie die einde van die wêreld nie.
Raad vanaf PJ aan die mans … sê net ja!
Gunsteling Diensverskaffers:
As ek ʼn paar mense moet uitsonder sal dit ons fotograaf wees. Sy het soveel moeite gedoen van die verlowingsessie af. Ons bly ver en moes dus iemand kies sonder dat ons hul ken. Maar haar werk en persoonlikheid het dit ʼn baie maklike keuse gemaak. Ons het heeltyd gemaklik gevoel en soveel pret gehad saam met haar.
Ek sal ook definitief die spyseniering verskaffer voorstel. Ons wou nie die tradisionele buffet hê nie en sy het ons volle beheer oor ons spyskaart gegee. Sy het toe haar professionele opinie gegee en ons gaste praat nogsteeds oor hoe lekker hulle geëet het.
En dan natuurlik die venue, Kayleen en Reghardt van Seeplaas is só hulpvaardig en geen versoek is moeite nie.
Venue & Dekor:
Ek het groot geword deur elke Desember vanaf ek kan onthou in die Tuinroete vakansie te hou. Dit is my gunsteling plek en het ons dadelik besluit om dit daar te doen.
Ek self is ʼn grimeerkunstenaar wat by troues werk en het geweet ek wil nie by ʼn venue trou waar ek altyd werk nie.
Ons het Seeplaas gevind en dadelik verlief geraak op die uitsig. Die venue se span was ook uitstekend en baie hulpvaardig. Ons het besluit om nie baie blomme te hê nie, omdat dit nie iets is wat ons self van hou nie. Albei van ons is nie tradisionele mense nie en het dus gegaan met net kerse op die tafels. Die gedroogde plante en blomme het baie mooi gepas by die neutrale kleure wat ons wou gebruik.
Vermaak:
Ons het ʼn platejoggie gehad wat heelaand ons gunsteling musiek van ons skooldae gespeel het. Dit was so lekker vir ons vriende groep om te kuier en te dans op daardie musiek. Ons het ook PJ se jonger sussie gevra om vir ons ʼn worship liedjie te sing by die seremonie en dit was baie spesiaal.
Wittebrood:
Ons wittebrood vind eers volgende jaar plaas as gevolg van werk. Ons gaan na ʼn paar lande in Europa. Albei van ons hou meer van die stad, as om op ʼn eiland te wees en daarom het ons gekies om eerder dit te doen.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Sharyn Hodges Photography
- Venue: Seeplaas
- Blomme: Fancy Functions
- Dekor: Fancy Functions + Elite Hire +Vanbi
- Gaste Geskenke: Simply in Season
- Grimering: Monique van Niekerk Artistry
- Hare: Jeakita Bodenstein Permanent Makeup Artist
- Juweliersware: The Jewellery Shoppe
- Koördineerder: Kayleen Maloney – Seeplaas
- Paartjie se verblyf: Seeplaas
- Skoene: Superbalist + Nike
- Skryfbehoeftes: S J E N E L
- Spyseniering: The Catering Collective
- Trourok: Sade Jansen Fashion Designer