Dinge wat paartjies dikwels oor spyt is na hulle troue

In dié inskrywings gesels ons oor dinge wat paartjies dikwels oor spyt is na hulle troue.  Soos die gesegde gaan, “spyt kom te laat”, wel nie vir paartjies wat hierdie artikel lees nie.  By Mooi Troues kry ons gereeld terugvoering vanaf paartjies oor hulle troudag en dinge wat hulle wens hul anders gedoen het.  Ons het van hierdie terugvoering bymekaar gesit in ʼn kort en kragtige artikel hieronder.

Om ʼn troue te beplan is klaar stresvol vir sommige paartjies en om nog daarna spyt te wees oor dinge is nie nodig nie.  ʼn Troue bestaan uit honderde verskillende klein elemente en nie almal maak gebruik van ʼn trou koördineerder nie en beplan self hulle troue.

As julle verloof is en opsoek is na fantastiese trou diensverskaffers, besoek gerus Mooi Troues se aanlyn Trougids. In ons aanlyn trougids sal jy fantastiese trou diensverskaffers vind vir julle troue. Professionele trou diensverskaffers sal baie van julle probleme oplos nog voor julle troue.  Rol af om meer te lees oor dinge wat paartjies dikwels oor spyt is na hulle troue.

Dat hul nie ʼn trou koördineerder gehuur het nie.


Baie paartjies is spyt dat hulle nie eerder ʼn trou koördineerder gehuur het om hulle te help met die trou beplanning nie.  Dit klink idillies om jou troue self te beplan en dit kan mos nie só moeilik wees nie?  Dit is korrek, dit kan maklik wees as jy die regte konneksies het of bietjie ervaring in trou beplanning het.  Maar as jy iemand is wat glad nie enige ervaring het en of nog nooit ʼn funksie gerëel het nie, mag dit bietjie moeiliker wees as wat mens dink.  Dit kan baie stresvol raak om al jou trou diensverskaffers te bestuur voor en op die troue en self rond te hardloop vir alles.

Trou koördineerders het ook verskillende opsies beskikbaar, so maak seker julle verstaan die opsies en wat hulle dienste vir julle bied. Besoek ons trougids vir fantastiese trou koördineerders as julle opsoek is na een om julle te help.

Foto’s is nie wat hulle verwag het nie


Ai, hierdie is altyd baie hartseer om te hoor, omrede die foto’s een van daardie belangrike elemente is by ʼn troue. ʼn Professionele trou fotograaf is van kardinale belang, maar paartjies dink ʼn hoër prys gaan gepaard met professionaliteit.  Dit is nie altyd die geval nie.  Ons sê nie dat jy vir die duurste fotograaf moet gaan nie, maar met een wat die nodige ervaring het.

Meeste trou fotograwe se werk is fantasties, maar dit is net nie die styl wat die paartjie wou hê nie.  Maak seker wanneer julle besluit op ʼn trou fotograaf dat jy ʼn paar van hulle aanlyn albums kyk van ʼn paar volledige troues.  Dit sal julle ʼn beter idee gee van hulle werk van die begin tot die einde van ʼn troue.  Kyk of dit regtig die styl is waarvan julle hou.  Indien julle twyfel, wag eerder en soek nog ʼn bietjie rond.

Hulle het nie ʼn videograaf gehuur nie


Videograwe is daar om oomblikke vastevang in ʼn video wat julle vir jare sal by bly.  Mens kan nie glo wat ʼn groot impak beweging het as mens na ʼn video kyk nie.  Videograwe vang ander gebeurtenisse vas wat trou fotografie dalk mag miskyk.  Dan is daar ook die toesprake en meer waar die klank só ʼn belangrike rol speel.  Om net weer iemand se stem te hoor is só spesiaal en bring baie herinneringe terug na paartjies.

Wanneer julle ʼn trou videograaf huur, maak seker die persoon is professioneel en het ervaring daarin om troues af te neem.  Daar is ʼn groot verskil in ʼn trou videograaf en iemand wat byvoorbeeld net onderhoud video’s verfilm.  Maak seker die persoon wat julle kies het genoeg ondervinding in troues en kyk ook na volledige trou video’s van die videograaf vir ʼn beter gevoel van die persoon se werk.

 Peuselhappies na die seremonie en vir die fotosessie:


Oh aarde!  Hierdie is iets waaroor baie paartjies spyt is.  Mens dink omdat die seremonie die begin van die troue is, is peuselhappies en ietsie om te drink nie belangrik nie.  Dit is nou net hier waar dinge nie lekker gaan nie.  Onthou julle trou gaste het self reggemaak vir jul troue.  Heel moontlik nog nie geëet vir die afgelope paar uur nie, want hulle was bang hul mors op hul klere.

Nou sit julle trou gaste nog ʼn uur in die seremonie en raak honger en dors.  Net na die seremonie begin die paartjie met familie foto’s en hulle fotosessie wat dalk nog ʼn uur of so duur.  Teen die tyd is julle gaste al oor honger en moontlik dors.  Maak seker julle het peuselhappies om gaste nie oor honger te laat word nie.  So sal almal gelukkig bly en ook besig bly gedurende julle fotosessie.

Onthou om ook peuselhappies en koeldrank of water saam te neem vir julle fotosessie. Glo ons, paartjies raak gewoonlik bietjie honger en dors, so sal julle energievlakke ook lekker hoog bly en niemand flou raak nie.

Die liedjie vir die eerste dans


Elke paartjie het daardie een spesiale liedjie wat vir hulle iets beteken.  Moet nie stres oor wat julle gaste van jul lied keuse dink nie, dit is julle troudag en julle besluit.  Dit help nie julle  speel ʼn liedjie waarvan al jou gaste hou, maar het geen betekenis vir julle nie.  Maak ʼn kortlys van julle spesiale liedjies en besluit op een vir die eerste dans.

Oop kroeg rekening


Paartjies dink hul is baie oulik as hul ʼn vaste begroting vir die kroeg neer lê.  So kan die gaste eers op hul begrotings kan kuier voordat die gaste moet begin betaal vir drankies. Dit kan ʼn gemors afgee, want party gaste sal die duurste drankies eers bestel en die begrotings vinnig uitput. Stel eerder seker wyne, biere, sterk drank en koeldranke beskikbaar.  Die drinkgoed wat nie op die lys is nie, is vir die gaste se eie rekening.

Te min familie foto’s


Familie foto’s is belangrik by ʼn troue.  Dit is belangrik dat julle iemand kry van elke kant van die familie wat almal redelik goed ken om julle te help daarmee op die dag van die troue.  Maak voor die troue ʼn lys van verskillende groepies familie wat julle afgeneem wil hê.  Dink die lys goed deur en maak seker julle het almal daarop.  Laat druk die lys en gee dit vir die fotograaf se assistent, asook die persone wat die mense bymekaar sal kry.  Onthou, die fotograaf ken nie julle trou gaste nie en dit is nie die fotograaf se verantwoordelikheid om mense bymekaar te kry nie.

Maak seker almal op die lysie is afgetik vir familie foto’s sodat julle kan aan beweeg.  Probeer dit so gou moontlik na die seremonie doen voordat almal hulle eie pad gaan en dan sukkel mens om almal bymekaar te kry.  Vra die seremoniemeester om aan te kondig dat dit nou familie foto tyd is.

Te veel geld spandeer aan gaste geskenke


Paartjies spandeer te veel geld aan gaste geskenke.  Deur die jare het ons baie terugvoering gekry vanaf paartjies en die meeste van dit was dat hulle eerder die gaste geskenke heeltemal sal los of goedkoper geskenke gekoop het.  Omrede gaste nie die geskenke saam neem nie en dit vergeet wanneer hulle huis toe gaan.  Spandeer eerder hierdie geld op ander items in julle trou begroting.

Gefokus op hoe die troukoek lyk en nie op hoe dit proe nie


Dit is belangrik om seker te wees julle troukoek proe so lekker soos dit lyk.  Daar is soveel pragtige troukoeke beskikbaar deesdae en dit is eerlikwaar ʼn kuns om ʼn troukoek só mooi te laat lyk.  Alhoewel die estetika van die troukoek belangrik is, is eintlike koek se smaak net só belangrik.  Maak seker julle weet watter koek julle graag wil hê en hoe dit moet proe.  As julle gelukkig is met die smaak van die troukoek, dan kan julle besluit oor die versiering daarvan.  Nie alle versiering werk met alle tipe koeke nie, so hou dit ook ingedagte.

Artikel Krediet: