Sheldon & Jenna se Tydlose Troue in Mpumalanga

Ons deel met soveel opgewondenheid Sheldon en Jenna se tydlose troue in Mpumalanga met julle op Mooi Troues.  Hierdie aantreklike paartjie het by Whispering Thorns getrou, ʼn pragtige trou venue in die Noord-Oostelike deel van Mpumalanga.  Hierdie lieflike plaas word omring deur van die mooiste natuurskoon in die Laeveld.  Perfek vir ʼn prentjie mooi troudag.

Sheldon en Jenna het vir ʼn klassieke styl gegaan wat perfek werk by die hele gevoel van hulle troue.  Jenna en Sheldon se trou dekor was eenvoudig en modern met tikseltjies groenigheid.  Dit pas perfek by die moderne gevoel van hul trou venue.   Omring deur die mooiste natuurtonele wat jy kan sien vanuit die trou venue se groot glas vensters.

Die span by Whispering Thorns is so talentvol en is altyd bereid om paartjies die beste moontlike trou ervaring te gee.  Hulle het tot die paartjie se dekor en blom ontwerpe gedoen vir hulle troudag.

Die prentjie mooi natuurskoon wat hierdie pragtige plaas omring is besonders.  Paartjies hoef nie te stres oor foto geleenthede nie, hier is tonne foto geleenthede opsies om van te kies.  Die groot doring bome en groen versorgde grasperke maak die perfekte agtergrond vir trou foto’s.

Jenna en Sheldon se troue was ʼn gesellige kuier saam met familie en vriende.  Heerlike kos en musiek het gaste gereed gemaak vir ʼn lekker makietie.  Gelukkig hoef die paartjie nie te ver te gery het nie, want hulle het sommer oornag in Whispering Thorns se romantiese wittebrood suite.

Rol af om meer te lees oor Sheldon en Jenna se tydlose troue in Mpumalanga en ook hul liefdesreis as paartjie.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar 7 jaar terug ontmoet deur ʼn Hoërskool braai by Sheldon se vriende se huis.  Ek was die skaam, leergierig graad 9 meisie, Sheldon, die gewilde, graad 11, aantreklike bekoorster.  Die aantrekkingskrag was daar onmiddellik en ons het aangegaan soos ‘n house on fire.

Van daar af ons omtrent vir ʼn jaar oor die telefoon gesels omdat ons in verskillende dorpe gebly het.

Eerste afspraak:

Die vonke het gespat! Ons het ure lank gesels met geen ongemaklike stiltes nie. Dit was vreemd hoe eenders ons doelwitte en ambisies was. Ons wou albei hê dit moet werk al het ons in verskillende dorpe gebly.  Sheldon, het letterlik halfpad Kriel toe gery op sy BMX (nie ʼn BMW nie), net om by my te wees.  Ek het toe geweet hy is ‘n keeper.

Ons albei hou daarvan om te reis en op die 19de Augustus 2016 het ons reis saam begin.  Nou is dit op die punt om ʼn volle sirkel te kom en ons is gereed om ons reis as lewensmaats voort te sit.  Na omtrent ʼn jaar het ons begin uitgaan en 6 jaar later het ons verloof geraak.

Die groot vraag:

Sheldon het my gevra om te trou, ek het dit glad nie verwag nie.  Ons het in April 2022 op ʼn bootvaart gegaan.  Hy het op die laaste aand van die vakansie die groot vraag gevra.  Ons was almal aangetrek vir die formele aandete op ons laaste aand.  Ons het besluit om net voor ete aan die agterkant van die boot te gaan foto’s neem.  Daar was ʼn absoluut asemrowende sonsondergang.

Ons het ons kamera se aftel funksie opgestel en geposeer vir ʼn paar foto’s.  Intussen toe Sheldon die laaste foto se aftel stel, het hy ʼn video opgeneem en die vraag gevra.  Ek was in my element en só gelukkig, maar ek het dit regtig glad nie verwag nie.  Dit was ʼn betowerende oomblik en die res van die aand was só spesiaal aangesien ons geen sein gehad het nie, so ons het die oomblik ingeneem en daarna ʼn wonderlike aandete geniet.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was 4 maande verloof van die dag wat Sheldon my gevra het, tot die dag van ons troue.  Die venue, Whispering Thorns waar ons getrou het, het vir ons ʼn lys van verskaffers gestuur en dit het baie gehelp omdat daar baie betroubare opsies was om van te kies, so ons het daarvan af die trou beplan.  Hulle het al ons vrae beantwoord.  Ons kan nie genoeg nie vir hul dankie sê nie, hulle was absoluut ongelooflik en baie behulpsaam.

Trou Begroting:


Ons begroting was omtrent R130 000, maar ek sou sê wat ookal jul begroting is moet jul 10% – 20% by plus, omdat alles bietjie duurder is as waarvoor jul beplan. Om by die begroting te hou het ons kostes probeer sny op blomme, asook meer rond gesoek vir ʼn trou rok en -pak en nie net die eerste en duurste opsie geneem nie.  Almal wat by die lokaal se verbly die aand van die troue geslaap het, het ook vir hulle eie verblyf betaal wat ook bietjie gehelp het. 

Dit is eintlik ʼn goeie idee om ʼn kort verlowing te hê, dit dwing jou om op die belangrike dinge te fokus. Ek persoonlik dink hoe langer die verlowing, hoe meer klein dingetjies wil jy byvoeg wat beteken dat jy uiteindelik meer geld spandeer.

Ons het altesaam 80 gaste gehad, met ons diensverskaffers ingesluit.

Die Besluitnemingsproses:


Die bruid het die meeste van die finale besluite geneem.  Ek dink dit is elke meisie se droom om ʼn pragtige troudag te hê.  Ons was baie oop vir idees en inspirasie van my strooimeisies en familie. Ek het almal se idees baie waardeer, want ek is baie besluiteloos, maar ek en Sheldon het die finale besluite gehad aangesien ons self vir die troue betaal het.

Paartjie se styl:


Ons wou hê dit moet tydloos wees. Ek het ʼn moderne wit trou rok gedra en Sheldon ‘n tradisionele Tuxedo.  Persoonlik hou ons al twee van die tradisionele trou kleure omdat mense ander kleur rokke en pakke by baie ander funksies deur jou lewe kan dra, maar op jou trou dag is dit amper al waar ʼn vrou ʼn wit rok dra en ʼn man ʼn swart pak dra.

Merkwaardigste Oomblikke:


Jenna:

Die merkwaardigste deel vir my was tydens die onthaal toe ons by ons tafel gesit het en alles ingeneem het.  Ons het net al die gaste waargeneem (hoe almal hulself geniet) en ons het die dekor bewonder en net soveel ingeneem wat ons kon.  Ons het so geliefd en tevrede gevoel.  Die dag het waarlik liefde en eenheid gesimboliseer.  Dit was ʼn perfekte dag om die begin van ons getroude lewe saam te vier.  Dit was ongelooflik hoe al ons beplanning die aand perfek uitgevoer het.  Toe al die formaliteite verby was het ons besef alles is die moeite werd en dat ons werklik vir mekaar bedoel is.  Dit was die beste dag van ons lewe.

Sheldon:

My gunsteling deel van die dag was toe ek in die kerk staan en wag vir Jenna.  Dit was só ongelooflik toe ek besef ons gaan nou trou en die groot dag is hier, veral toe ek omdraai en sien hoe mooi Jenna lyk.  Die emosie was hoog, maar dit was ʼn oomblik wat ek nooit sal vergeet nie!

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Niks het verkeerd geloop op ons troudag nie, dit was werklik perfek.  Ons het ʼn besluit geneem dat as daar iets uit plek was, ons net die beste dag van ons lewens gaan hê, maak nie saak wat nie en dit is ʼn goeie ingesteldheid om te hê.  Moet nie oor die klein goed stres nie.

Vermaak:


Ons het ʼn platejoggie gehad van die begin van die dag tot die einde van die aand.

Venue & Dekor:


Whispering Thorns was altyd vir ons ʼn besonderse venue.  Ons was mal daaroor dat dit só modern was, maar tog was dit in die middel van die natuur.  Die glas kapel is wat ons gelok het.  Dit voel of jy buite is.  Jy kan al die pragtige natuurskoon sien, maar die glas rond dit pragtig af.  Jy het nie baie dekor in die kapel nodig nie, want die natuur is die fokus.

Dit is ʼn baie moderne venue.  Ons dekor en blomme was baie eenvoudig, dog klassiek en tydloos.  Ons het gegaan vir baie neutrale natuurlike kleure.

Gunsteling Diensverskaffers:


Al die diensverskaffers wat ons gebruik het, het hulle uitstekend van hul taak gekwyt, maar ons fotograaf en videograaf sal ons vir enige iemand aanbeveel!

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Jenna:

Fokus op die belangrike dinge, moenie ekstra goed probeer byvoeg wat onnodig sal wees nie. Onthou altyd daardie hele betekenis van jou troudag. Dit is bloot ʼn viering van liefde.  Geniet elke oomblik van die beplanningsproses.  Die troudag self sal seker die beste dag van jou hele lewe wees, maar dit gaan baie vinnig verby.  Geniet dus elke oomblik en neem soveel in as wat jy kan.

Sheldon:

As jy ʼn begroting het, maak seker jy plus ten minste 20% by.  Jy moet ook maar 90% van die tyd saam stem met jou bruid se idees en opinies oor die troue, om die vrede te bewaar!

Eerste Dans:


Die liedjie was Soul deur Lee Brice.  Ons het gegaan vir ʼn baie opgewekte en vrolike styl vir ʼn openingsdans.  Ons het dansklasse by CJ Els dans ateljee in Secunda bygewoon.  Hy het vir ons ʼn dans roetine op die liedjie uitgewerk.

Ons wou ʼn liedjie hê wat ons simboliseer, maar ons wou ook die dansvloer met ʼn bang oopmaak.  Ons wou hê almal moet saam met ons op die dansvloer kom.

‘n Bietjie later daardie aand het ons op ʼn stadige romantiese liedjie gedans.

Wittebrood:


Sheldon het ons wittebrood beplan. Ons het besluit om Turkye toe te gaan aangesien dit altyd op ons bucketlist van reis plekke was.  Dit is die perfekte bestemming aangesien dit die beste van twee wêrelde het.

Ons het eers na Istanbul gevlieg en die stad vir 3 dae verken, daarna het ons vir 8 dae Oludeniz toe gevlieg wat baie tropies was met die Mediterreense oseaan en pragtige plekke om te sien in die area. Daarna het ons vir 3 dae na Kappadosië gevlieg en al die wonderlike historiese terreine verken, ons het ʼn bucketlist item afgemerk deur in ʼn lugballon daar te vlieg, waar 150 warmlugballonne elke oggend loods.

Dit het gevoel asof ons in ʼn droom was!  Vir ʼn internasionale vakansie is dit ʼn baie goeie opsie aangesien dit maklik is om aansoek te doen vir aanlyn visums en hul geldeenheid se waarde is baie soortgelyk aan Suid-Afrikaanse Rand.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: