Ons is baie opgewonde om Henry en Nerisé se troue in die Nuy Vallei met julle te deel op Mooi Troues. Die pragtige paartjie het getrou by Leipzig Country House & Conference Centre, tussen Worcester en Robertson. Hierdie besonderse trou venue, wat voorheen ʼn ou wynkelder was, is geleë op ʼn werkende plaas omring deur prentjie mooi plaas landskappe en berge. Die ideale trou bestemming vir paartjies opsoek na ʼn trou venue met verblyf. Hul het akkommodasie vir 46 gaste beskikbaar by die plaas.
Nerisé en Henry se trou dekor is besonders mooi. Skakerings van aarde kleure op die spierwit tafeldoeke is só mooi. Die rottang ligskerms wat bo die twee lang trou tafels hang trek mens se aandag en gee die trou lokaal ʼn gesellige warm gevoel. Hulle blom ontwerpe is eenvoudig gehou, maar tog só mooi! Die gebruik van gedroogde en vars blomme op die tafels en ook hier en daar vanuit die dak is pragtig. Kerse maak seker daardie romantiese gevoel word geskep.
Die foto’s van hul fotosessie is iets om te sien. Met die sagte sonlig wat op die paartjie skyn en die prentjiemooi plattelandse agtergrond is dit net perfek. Die Nuy Vallei is bekend vir mooi landskappe en die pragtige berg uitsigte wat die bestemming het.
Nerisé se klassieke trourok styl en mooi hand ruiker het perfek gepas by die hele gevoel wat hul vir hul troue gehad het. Haar strooimeisies het ook mooi gelyk in hulle sagte pienk kleurige rokke. Henry het ʼn formele swart pak en wit hemp aangehad.
Rol af om meer te lees oor Henry en Nerisé se troue in die Nuy Vallei en ook hulle liefdesreis as paartjie.
Paartjie se Liefdesreis:
Van vreemdelinge met dieselfde vriende en jare in die selfde straat bly. So het ons uiteindelik liefdes paaie gekruis. Ons is gekuis by die uitsigpunt van Franschhoek se mooi berge en lekker wyn. Hier het ons beloof om mekaar so lief soos die Kaap te hê.
Ons het 4 jaar saam ons storie geskryf en is op 1 Augustus 2020 verloof. Hy het my vroegoggend uit die kooi uit gesleep om boeremark toe te gaan en seker gemaak ek kry kos voor enige vrae die dag gevra kan word. Hy het my laat dink ons ry om ʼn nuwe geweer te koop, waar ek self ʼn skoot moes skiet.
Toe ek aanlê was daar ʼn teikenbord met die woorde “Sal jy met my trou?”. Ek moes skiet na watter antwoord ek kies en het my kolskoot JA antwoord gegee. Die dag was my maag en my hart propvol!
Die Verlowing Tydperk:
Vir 1 jaar en 8 maande was ons verloof toe ons trou. Ons het nie ʼn troubeplanner gehad nie, alhoewel Creative Nook my hande sterk gemaak het deur ons trou blomme en dekor te voorsien. Sy het ook die huur van items en benodighede in haar eie hande geneem. Ek en my Ma het baie van die beplanning, dekor huur, skryfbehoeftes en afronding self beplan en gedoen.
Trou Begroting:
Die begroting was R150,000 om alles te doen. Ons het 74 gaste, insluitend 6 diensverskaffers, op die troue gehad. Al ons trou gaste kom van Pretoria af en het almal gereis om by die troue uit te kom. Daarom was ons uitdagings oor finansies baie moeiliker en moes ons bitter fyn beplan.
Ons wou al ons naastes die week voor die troue in die Kaap kry en met elkeen ons tyd, liefde en natuurlik wyn deel! Gelukkig het ons met baie minder as ons begroting klaar gekom op die einde van die dag.
My advies aan toekomstige bruide sal wees om te kyk watter dekor hulle kan huur wat dubbel gebruik kan word. Dinge soos ʼn boog in die kerk wat geskuif kan word na agter die bruidstafel.
Dit is duur om jou eie neonligte te laat maak en is werklik beter om dit te huur, tensy jy dit weer iewers sal gebruik. Markies letters is baie goedkoper as feetjie ligte en maak BAIE meer lig.
Begin vroegtydig die klein goed van jou lys af te tik en betaal op die einde van die dag vreet dit baie vinniger jou begroting as wat mens besef. Moet nie voel dat jy alles vir almal moet betaal nie. Jy betaal reeds baie en trou is maar net duur. Daar is goedkoper maniere om detail aan jou troue te gee. Gebruik Pinterest, vra rond en laat mense hulle gedagtes met jou deel.
Dit bly nogsteeds julle dag so dit hoef werklik net alles te wees waarvoor julle gehoop het en nie waarvoor mense/gaste gehoop het nie. Moet nie laat teleurstellings julle dag belemmer nie, want daar gaan iets verkeerd loop of nie soos beplan nie. Dit is regtig, Okay!
Die Besluitnemingsproses:
Ek en Henry het alle besluite saam geneem. Dit is normaal dat die vrou meeste van die beplanning in haar hande neem en haar smaak volg met die troue, maar alle gedagtes/idees wat ek gehad het rakende die troue het ek met Henry bespreek.
Dit gee vir hulle geleentheid om ook bietjie hulle gedagtes te laat hol en met eie idees op te kom en ook te voel hulle is deel. Vriende was geensins betrokke by die troue nie. Baie van ons idees en besluite het ons met ons ouers gedeel en raad gevra waar nodig.
Ons is bevoorreg met ondersteunende ouers. My ma was my regterhand deur die troubeplanning. Sy het my met byna alles gehelp en het werklik my hande sterk gemaak sonder haar en Henry was die troue nie ʼn sukses nie.
Spesiale Tradisies:
Ons het dit goed gedink om ʼn nuwe tradisie te stig met ons troue om eer te gee aan die wat nog lewend is by ons troue. Dit was vir ons groot hartseer om te dink dat ek geen oumas of oupas by die troue gaan hê nie.
Henry het slegs sy ouma oor en daarom het ons eer gebied aan al ons naaste ouer generasie. Ons het vir elke strooijonker ʼn oumatjie gegee om mee in te stap.
Hulle het op Etta James se At Last ingestap saam die strooijonkers waar Henry saam met sy pa na die ouer generasie en strooijonkers ingestap het. Dit het dadelik ʼn atmosfeer in die kerk gemaak en die emosies het hoog geloop.
Paartjie se styl:
Ek en Henry is nie mense vir tierlantyntjies nie. Ons het beide besluit ons gaan vir ʼn aardse, klassieke, simplistiese voorkoms gaan. Met my en Henry se soektog na ʼn trourok en pak het ons beide vir baie klassieke style gegaan. Ek het gevoel ek wil my rok dra en nie my rok vir my nie, daarom het ek ʼn eenvoudige ivoor kleur trourok met klein details met nate en bandjies gekies.
Henry het vir ʼn klassieke swart pak gegaan wat ʼn tekstuur en effe satyn kraag gehad het.
My trouring bestaan uit ʼn diamant pandjie met ʼn versteekte halo saam met my steen wat ʼn solitaire is. Henry het ʼn eenvoudige ongepolitoerd swart tungsten ring met ʼn ingekerfde rand wat die ring afrond. Ons hou van goed wat tydloos is en mens kan nooit fout gaan met klassiek nie.
Merkwaardigste Oomblikke:
Een:
Die oomblik toe ek en my Pa by die kerk se deur kom en stop om vir mekaar te kyk het die wind my sluier in die lig opgewaai en die son het deur die wolke gebreek en dit soos ʼn wit glans agter ons gemaak. Dit was ʼn oomblik wat baie gaste ons van vertel het en was só mooi simboliek vir toe my Pa my oorgee.
Twee:
Ons het vreeslike bewolkte en winderige weer gehad. Met my en Henry se fotosessie het ons ʼn halfuur se son gehad wat deur die wolke en berge gebreek. In daai halfuur het ek en Henry so gelag en gespeel tydens ons foto’s. Dit het nie eers gevoel mense was om ons nie. Dit het die mooiste foto’s gemaak.
Drie:
My Pa en ek is vreeslik lief vir country en as kind het my Pa ʼn egte Stetson cowboy hoed vanaf Texas gehad. Dit was ʼn groot droom van my om my eie Stetson hoed te hê. My Pa het self ons liedjies gekies waarop ons dans en ek mag van niks geweet het nie. My Pa het spesiaal vanaf Amerika vir my, my eie wit Stetson hoed laat invoer.
Hy het tydens ons dans sy hoed op gesit en so rukkie later myne op my kop gesit. Ek was uit die veld uit geslaan. Ons het gedans op Alan Jackson se You’ll always be my baby wat na die eerste koor gestop het en verander het na Cody Johnson se Dance Her Home. Dié oomblik kon nie meer kosbaar gewees het nie.
Vier:
Henry het ook sy toespraak fyn beplan. Hy het geweet dat die mans hom moeilikheid sou gee en halfpad deur die gesukkel het hy vir ons platejoggie ʼn teken gegee en daar het ʼn opname begin speel wat hy vir my gemaak het. Dit is iets baie spesiaal gewees, want ek kon eintlik sonder onderbrekings hoor wat Henry vir my wou sê op ons spesiale dag en dit is iets wat mens koester na die troue.
Die ‘nie so perfekte’ oomblikke:
Sjoe! Ons is eintlik baie dankbaar dat ons slegs een ding gehad het wat fout gegaan het. Die oggend van die troue besef ons dat die bruidsmeisies se aantrek pakkies in Beaufort Wes vergeet het by ons akkommodasie.
Ons het vir naby vriende van ons gevra om na Worcester se Winkelsentrum toe te ry en enige mooi pajama pakkies wat hulle kon kry te koop. Gelukkig kon ons vinnig ʼn plan maak en vir almal van buite af het alles seepglad verloop.
Die meisies het nogsteeds baie mooi gelyk in hulle pakkies en was iets lekker om oor te lag …. na die tyd!
Venue & Dekor:
Ons venue soek was uitdagend weens ons in Covid moes soek na ʼn trou venue. Ons wou baie graag in die Kaap trou, wat dit nog meer uitdagend gemaak het. Ek het baie navorsing gedoen en het op ons trou venue Leipzig Country House and Winery af gekom.
Hulle het ons deur die venue gevat te danke aan video oproep en het ons dadelik tuis, gemaklik en welkom laat voel in hulle plattelandse trou venue. Dit was vir ons belangrik dat die venue baie lekker kos moet voorsien en Leipzig het verseker in die kos afdeling oor presteer!
Ons het dadelik verlief geraak op die spierwit venue wat aan die berg se voete lê. Die troudekor was geïnspireer deur my gunsteling blom wat ʼn orgidee is.
Ons wou vir ʼn skoon aardse gevoel gaan, wat nogsteeds warm en romanties voel. So het ons besluit op wit, goud en pienk/pers/gebrande kleurskema. Ons het rottang en baie warm ligte ingebring saam met blomme van neutrale/aardse kleure. Die venue was van self só mooi mens kon nie anders as om die natuur, berge en klein dorpie gevoel mis te kyk nie.
Gunsteling Diensverskaffers:
Sjoe! Ek weet nie hoeveel bruide bevoorreg genoeg is om te sê dat al hulle diensverskaffers hulle voete onder hulle uitgeslaan het nie. Ons venue was so akkommoderend gewees, hulle kos was puik en venue/verblyf uit die boonste rakke. Nie eers gepraat van hulle lekker wyn nie.
Ons fotograaf het uit hulle pad uit gegaan met die mooiste foto’s, vooraf plekke te kry om foto’s te neem en net inisiatief te neem.
Ons Bloemis CreativeNook en dekor verskaffer het herhaaldelik moeite gedoen om verskillende plekke te kontak om seker te maak ons kry die items waarvoor ons gevra het vir die troue. Sy het meer blomme gegee as wat ons voor betaal het en was beter as enige Pinterest prentjie!
Ons platejoggie het die mooiste geaardheid gehad en het so noukeurig die dag se verloop beplan. Hy het Henry gehelp met sy opnames en was behulpsaam en deeglik met sy werk. Nie eers gepraat van watter lekker musiek hy gespeel het nie.
My grimeerkunstenaar, Mikhara Ford, het my verwagtinge oortref en het alles wat ek vir gehoop het ʼn werklikheid gemaak.
Ons bekers het werklik oorgeloop!
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Aan die bruide:
- Wees okay met alles wat nie okay gaan loop nie.
- Vertrou wat jy in die jou hart voel is reg en die beste vir julle troue.
- Mense gaan julle teleurstel, jy moet kies hoeveel krag gee jy vir daardie mense om julle dag te versier.
- Gaan soen skelm vir 5 min en neem net in wat gebeur het.
- Gaan stap saam jou man deur julle trou lokaal voordat almal instap. Jare se beplanning is nou tot ʼn einde.
- Neem elke oomblik in, want dit gaan regtig baie vinnig verby!
Aan die bruidegom:
- Huil en huil, en huil sommer weer. Jy mag!
- Moet nie voel jy moet jou emosies wegsteek nie, dit is ʼn grootdag neem alles in.
- Maak reg vir baie foto’s neem. Jy kan dit ongelukkig nie vermy nie. Gee jou beste glimlag.
- Vat tyd en gaan neem in dat jy vandag in jou sterf as ʼn enkellopend en neem in dat jy op daardie dag die hoof van jou huis word en neem daardie rol in. Jy is hand gekies deur jou vrou. Sy glo in jou!
Eerste Dans:
Eerste dans se liedjie was seker die maklikste ding om onder die knieg in te kry. Van vroeg af in ons verhouding het ons ʼn liedjie gehad wat na aan ons hart was en daarom het ons besluit om te dans op Theuns Jordaan By jou.
Ons het nie vir gegaan vir dansklasse of spesiale roetines nie. Albei van ons het gevoel dit moet natuurlik wees en gemaklik lyk en voel. Ons al twee wou vasgevang word in die oomblik en nie nodig hê om te stres oor danspassies en tree nie.
- Venue: Leipzig Country House & Conference Centre
- Paartjie se verblyf: Leipzig Country House & Conference Centre
- Spyseniering: Leipzig Country House & Conference Centre
- Tente: Leipzig Country House & Conference Centre
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in SuidAfrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: LORA Photography
- Blomme + Dekor + Huurdienste: CreativeNook
- Bruidegompak: Eurosuit van Bride and co
- Gaste Geskenke: Heuning self geoes.
- Grimering + Hare: Mikhara Ford Make Up Artistry
- Huweliksbevestiger: Johan Botha
- Juweliersware: Lovisa
- Kroegdiens: Saggy Stone Brewing Co
- Platejoggie: LJ Audio
- Strooijonkers bykomstighede: Woolworths
- Skoene: Woolworths
- Skryfbehoeftes: Self gedoen en ontwerp.
- Strooimeisierokke: Forever new
- Trourok: BBB Exclusive Boutique
- Trouring: Poggenpoel
- Videograaf: Grootdors produksie