Hendrik & Rienette se Troue in Riebeek-Wes

Ons is baie opgewonde om Hendrik en Rienette se troue in Riebeek-Wes met julle te deel op Mooi Troues.  Hierdie paartjie se troue is een wat jy nie moet mis nie.  Die Riebeek Vallei is ʼn populêre trou bestemming vir paartjies opsoek na ʼn gesellige plattelandse troue.

Trou fotograaf:

Rienette en Hendrik het die talentvolle Gustav Klotz Photography gehuur as hulle trou fotograaf.  Hy het elke oomblik van die paartjie se troue so mooi vasgevang in visuele herinneringe wat hulle vir altyd sal by bly.  Gustav is ʼn kenner in die trou fotografie bedryf en sal jou spesiale dag in die mooiste foto’s vasvang.

Trou venue en Dekor:

Die paartjie het by Groenrivier Function Centre in Riebeek-Wes getrou.  ʼn Pragtige trou venue wat spierwit aan die binnekant is en paartjies heeltemal kan ontskep in hul droom trou venue, presies soos die van Hendrik en Rienette.  Dit is die perfekte plattelandse trou venue, slegs so oor ʼn uur se ry vanaf Kaapstad.  Die prentjie mooi ligging van hierdie trou venue is waarom dit so ʼn populêre keuse is vir paartjies wat in die Riebeek Vallei wil trou.

Die paartjie se dekor is so mooi!  Ons is absoluut gek oor die neutrale kleurpalet van die paartjie se trou dekor.  Die blom ontwerpe het bestaan uit ʼn kombinasie van gedroogde en vars blomme.  Met die rottang lig skerms wat oor die bruidstafel hang, skep dit ʼn interessante gevoel aan die hele gevoel van die trou venue.

Ons hou van die idee dat die vars fyn blomme op die gaste tafels gebruik was en die grootte blom ontwerpe bo die bruidstafel was.  Dit trek die aandag na die paartjie toe en dit is tog waar die gaste meeste gaan fokus.   Die wit tafeldoeke en tikseltjies swart van die kerse skep ʼn mooi kontras en die gebruik van die deurskynende stoele alles gee ʼn moderne element aan die paartjie se trou dekor.

Hendrik het vir hom en Rienette ʼn heerlike wittebrood gereël na die mooie Zanzibar.  Rol af om meer te lees oor hierdie pragtige paartjie se liefdesreis en hulle Troue in Riebeek-Wes.

Paartjie se Liefdesreis:


In Graad 10 het Hendrik ingeskryf as ʼn nuwe leerder in my hoërskool.  Hy was ʼn gewilde man en eers later daardie jaar in September het ons amptelik begin uitgaan.  Dolverlief het ons saam ons hoërskoolloopbaan voltooi en die matriekafskeid geniet.  Na skool het ons paaie egter geskei toe ons na verskeie universiteite in verskillende provinsies gegaan het.

Toe ek in my 2de jaar van onderwys studeer het, het ons paaie gelukkig weer gekruis.  So het ons besef ons is oneindig lief vir mekaar en behoort saam.  Ons vul mekaar so goed aan en kan lekker saam lag en huil.

Jaarliks kamp ons al vir jare in Jongensfontein en dit is ʼn spesiale plek na aan my hart.  Op 21 Desember 2019 het Hendrik ʼn mandjie gepak met glase en vonkelwyn en gesê ons gaan op die wandelpaadjie afstap en op die rotse gaan piekniek hou vir my verjaarsdag wat die vorige week was en ons nie bymekaar was nie, want hy het nog gewerk.  Min wetend dat die familie reeds vooruit is om foto’s te neem van die oomblik het ek heeltyd gesoek vir ʼn leidraad, maar niks gesien nie.

Toe staan ons op om ʼn foto te neem en toe ek omdraai het Hendrik op sy knie afgesak en om eerlik te wees onthou mens nie wat in daardie tydperk gesê word nie, al wat jy kan onthou is die Ja.  Die familie het agter die wandelpaadjie se bome weggekruip en die oomblik vasgevang.

Die Verlowing Tydperk:


Ons het in 2019 verloof geraak en toe nog nie eers geweet van die COVID-19 virus nie.  Ons het besluit om eers ʼn jaar verloof te wees en dan die troue in Maart 2021 te hou.  Met die rowwe jaar wat ons in 2020 gehad het met die grendeltydperk en almal wat hul troues moes kanselleer, het ons maar vroegtydig ons troue uitgestel na nog ʼn jaar – 19 Maart 2022.  Eers het ons seker gemaak ons venue is nog beskikbaar en ons fotograaf en toe maak ons die groot skuif.

Ek het gesê ek sal eerder nog langer wag, maar ʼn groot en “normale” troue sal ons hê.  Ons het self die troue beplan en my Ma het ook baie leiding gegee en herinner aan dinge wat ons dalk kon vergeet het.

Brenda van La Joy het al ons dekor en blomme en koördinering gedoen en het ook aan alles gedink op die troudag.  Sy het ons so op ons gemak gehad en ons het net die Vrydagmiddag voor die troue ingestap in die saal en alles was klaar op hul plek danksy haar harde werk.

Trou Begroting:


Dit is nie maklik om ʼn trou begroting op te stel nie, maar beslis nodig.  Ons het ʼn begroting gehad, maar het effens oor die begroting gegaan.  Die laaste maand voor die troue voel dit of daar nog ʼn lang lys is van goed wat moet betaal word en dan voel alles ewe skielik duur.

Ons het 88 gaste gehad op die troue.  Doen goeie navorsing en soek vir die beste prys.  Verskaffers wil altyd die duurste opsie aan jou probeer verkoop en hul pryse skiet die dak in sodra hul troue hoor.  Soek plaaslike mense om jou trou koek te bak en waterbottels te maak.  Spandeer jou meeste geld aan jou fotograaf, trourok en dekor.

Heroorweeg ʼn videograaf as jy moet kostes bespaar.  Jou foto’s is die meeste waarna mense nog jare kyk.  Ons het nie dankie-geskenkies gehad nie en niemand het dit gemis nie. Kyk vir uitverkopings veral soos Black Friday om groot afslag op meeste goed vir die troue te kry.

ʼn Gasteboek word ingesluit by party fotohokkies, so dan hoef jy nie nog een te koop ook nie.

Maak seker jou kroeg is ook oop tydens skemerkelkies en sit net paar skemerkelkies verversings uit sodat mense by die kroeg ook kan koop, anders raak dit ook ʼn duur afdeling.

Merkwaardigste Oomblikke:


Vir Hendrik, die bruidegom was die merkwaardigste oomblik toe hy sy bruid die eerste keer sien in die kerk se paadjie afstap.  Vir die bruid was die afstap in die paadjie ook die merkwaardigste oomblik om dit te deel met my peetpa, omdat my pa het 7 jaar terug verongeluk.

Daar was ʼn klein sleutelhouer met ʼn foto van hom om my ruiker en hy was heeldag saam my op die troue.  Toe my sluier gelig word en my bruidegom my sien en sy glimlag was ʼn spesiale oomblik.

Die Besluitnemingsproses:


Albei die bruid en bruidegom het saam besluite geneem.  Die bruid het grotendeels die dekor voorgelê aan Brenda en in gesprek getree om nog idees by te voeg.  Ons naby familie, my ma en suster het baie gehelp met die besluitneming ook.

Ek het self my trourok gaan laat maak en niemand het geweet hoe dit gaan lyk nie.  My Ma en ek het saam met Hendrik gegaan om sy pak te kry.  Vriendinne het ook gehelp kies aan hul rokke.  My sussie het baie gehelp met die dekor idees ook.

Paartjie se styl:


Die styl waarvoor ons wou gaan is klassiek, elegant en stylvol.  My trourok wou ek baie klassiek, eenvoudig hê, maar dit moes duursaam lyk en treffend.  My rok was in vol Italiaanse satyn met ʼn A-lyn.  Die bruidegom het ʼn swart pak gedra wat soos ʼn handskoen gepas het.

Ons het baie gehou van die swart styl met die mans se pakke en die strooimeisies se rokke.  Die strooimeisies se ruikers was wit rose.  Met die sterk kontras tussen swart en wit was vir ons belangrik om die elegante styl te volg.

Die bruid se verloofring is gemaak deur Carlo Hayes van C.H Diamonds en hy het ook die troupand ontwerp wat pas by die verloofring.  Rienette het ʼn half “eternity” styl met bietjie breër diamante troupand gehad wat die verloofring so goed aangevul het.  Die bruidegom het ʼn dowwe titanium breër trouring.  Ons ringe het ook by die elegante en stylvolle styl ingepas.

Gunsteling Diensverskaffers:


Brenda van La Joy Flowers.  Sy doen letterlik ALLES!

Daar loop absoluut niks verkeerd op jou troudag met haar aan jou sy nie.  Indien daar iets verkeerd loop weet jy nie daarvan nie, want sy is net so goed.  Sy was eerste by die kerk ook om die manne rustig te kry en seker te maak hul lyk netjies, daarna het sy die bruid vergesel tot binne die kerk en seker gemaak al die strooimeisies is ook rustig en rokke en hare is reg na ʼn windjie deur die hare.  Sy was die hele aand in die agtergrond en seker gemaak alles verloop goed.

Van die Donderdag wat die saal al opgemaak is het sy foto’s gestuur en gevra is dit reg hier en daar en die maklikste werk wat ons gehad het was om terug te sit en te sien hoe vlot sy alles laat verloop.  Maande voor die troue het sy orals gaan soek na spesifieke tafeldoeke, borde en blomme laat invoer na ons keuse.  Indien sy nie iets gekry het nie, het sy gesê gee my nog net kans ek is nog nie klaar gesoek na die regte ding wat ons soek nie.  Sy het ons styl en idee gesien en verstaan nog voor ons groot dag.

Vermaak:


Ons het ʼn platejoggie gehad wat ook musiek gespeel het by die verwelkomingsdrankies.  Ons het ʼn fotohokkie gehad by die verwelkomingsdrankies wat die foto’s druk en gaste kon dit plak in die gasteboek.

Venue & Dekor:


Die dorpie Riebeek Kasteel is vir my baie spesiaal.  Ek het altyd gesê ek gaan daar trou.  My sussie is daar getroud en ook in die NG Kerk Riebeek Kasteel.  My vriendin en strooimeisie was die jaar voor ons ook daar getroud.  Dit was ook altyd my droom om in die kerk te trou.

Ons het ook na trou venues gekyk spesifiek in die dorp en omliggende areas.  Ons was opsoek na ʼn spierwit trou lokaal om weereens by die styl te pas.  Groenrivier is spierwit binne en die dak ook. Daar is rye deure na die eenkant van die saal.

Ons het nie fisies die venue besoek nie, aangesien ons in daardie tyd in die Noord-Kaap gebly het.  Die bruid se ma het die venue besoek na ons na vele gesoek en bestudeer het op die internet het ons besluit om na 3 verskillende venues te gaan kyk.  Ons het deur middel van video’s wat my Ma vir my geneem het, besluit ek is gek oor die venue en ek kon sien hoe dit sal werk by ons styl.  Die inspirasie vir dekor was wit en swart met boho-tema.

Ons kleurskema was roomkleur, terracotta en swart en wit.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Daar is nie iets wat verkeerd geloop het nie.  Ek sou nie mense wat in vaste verhoudings is met metgeselle nooi nie.  Jy ken nie die metgesel nie en hul pas nie in nie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruid:

Maak seker julle eet van die kos by verwelkomingsdrankies en eet poeding, want ek het nie een van die 6 soorte gehad nie.

Moenie by die eerste plek waar jy rokke aanpas voel jy moet daar iets kies nie, daar is soveel ander plekke en ander mense se insette wat jou kan help.  Ek het altyd gesê ek sal nooit ʼn rok laat maak nie, en toe het ek en dit was die beste besluit ook.

Daar is ʼn opsie maak-om-te-huur.  Jy het nie die bekommernis om na die tyd die rok te verkoop nie.

Kry ʼn goeie grimeerkunstenaar, dit doen wonders.  Gaan vir ‘n spraytan as jy in die herfs of winter trou, dit lyk baie mooi.

Jou fotograaf is baie baie belangrik.  Moenie ʼn goedkoop opsie vat nie, want jou foto’s is al wat jy oor het van jou spesiale dag.

Moenie te veel strooimeisies kies nie, ek het al gesien hoe kan dit kopsere veroorsaak.

Bruidegom:

Gaan met die bruid se keuses van dekor en kos, want hul het tog goeie smaak.  Dit is nie nodig om ʼn pak te laat maak nie, daar is kettingwinkels wat baie mooi pakke het en jy kan in een dag al jou bykomstighede kry sonder om ʼn groot storie daarvan te maak.

Wittebrood:


Ons was Zanzibar toe vir ʼn week.  Die bruidegom het die wittebrood beplan.  Hy het na verskillende eilande se pakkette gaan kyk en gesien Zanzibar bied soveel opsies vir ʼn meer billike prys as van die ander eilande.

Ons het die “alles ingesluit” pakket gehad en dit was ʼn baie goeie opsie.  Albei van ons wou baie graag oorsee gaan omdat dit ons albei se eerste keer was.  Ons was ook mal oor die idee om na ʼn eiland te gaan omdat mens kan ontspan en steeds aktiwiteite doen.  Ons het die geleentheid gehad om saam dolfyne te swem.  Die see se water is ook besonders ligblou en deurskynend in Zanzibar en dis ook hoekom ons na die eiland wou gaan.

Wanneer jou drankies en etes ingesluit is, eet en drink jy soveel soos jy wil net wanneer jy wil.  Dit kan egter gevaarlik wees wanneer dit vroegdag al 35 grade is en jy langs die swembad lê en drankies drink.  Maak seker jy wissel die skemerkelkies af met bottel water en koeldrank.  Die eerste dag eet jy ALLES! oggend is ontbyt, 11 uur is verversings by die swembad, 1 uur is middagete, 4 uur is weer verversings by die swembad en 7 uur is aandete.

Die eerste dag eet jy elke keer as daar etes is en die tweede dag besef jy dat jy eintlik nie so baie kan eet nie, want jy kan nie eers meer dryf in die swembad nie.

Spesiale Tradisies:


Nie spesiale tradisies nie, maar die kousband was nie gegooi nie.  Enkel lopende mans het kardoes sakke oor hul koppe gehad en hul moes dans sonder om die ander te sien.  Bruid het die sakke een vir een afgehaal tot die laaste man oorbly.  Die laaste man het die kousband gekry.  Ek het my hand ruiker gegooi in die skare van enkel lopende dames.  Wanneer die bruidegom sy toespraak lewer, kom skuif al die mans hul stoele nader en spuit hom met string-sprei en watergewere.  Hulle onderbreek sy toespraak deur liedjies te sing en sê-goed te herhaal.

Eerste Dans:


Die eerste dans gedans op Jay – Lê bietjie langer. Een aand het ons deur al ons gunsteling liedjies gegaan en gedans.  Ons wou nie ʼn stadige en rustige liedjie gehad het nie.  Toe ons hierdie liedjie hoor het ons al twee herinneringe gehad, omdat as hierdie liedjie speel het ons altyd mekaar gaan soek en gedans.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: