Gert & Gaby se Elegante Troue in Franschhoek

Ons is omtrent baie opgewonde om Gert en Gaby se elegante troue in Franschhoek met julle te deel.  Die Franschhoek vallei is een van die mooiste valleie in Suid-Afrika, omring deur bekroonde wynplase, fynproewer restaurante en luukse wegbreek bestemmings.

Gabby het só beeldskoon gelyk in haar simplistiese, maar baie stylvolle trourok.  Die oop skouers gee net ʼn ekstra moderne gevoel aan die trourok.  Gert het net só dapper gelyk in ʼn heeltemal swart troupak en ʼn strikdas in kontras met sy wit hemp.  Die paartjie se gevolg het ook almal swart aangehad, wat perfek ingepas het by die gevoel van hulle troudag.

ʼn Buite seremonie in die versorgde tuine van hulle Franschhoek trou venue is iets besonders.  ʼn Dek wat oor die potblou swembad strek is waar die paartjie tydens hul seremonie gestaan het.  Majestueuse berg uitsigte was die agtergrond van hulle seremonie.

Die paartjie se onthaal lokaal was in die tuin in ʼn moderne glaskas trou venue.  Met die sonlig wat so mooi skitter in die kandelare se glans gee dit ʼn elegante en tydlose gevoel aan die paartjie se troue.  Rou hout tafels skep die kontras teen die wit dekor elemente wat gebruik is.  Die skakerings van wit rose en tikseltjies groenigheid pas só mooi by die tikseltjies goue elemente wat deel vorm van die paartjie se trou tafel dekor.  Hulle het dekor items gehuur van Wilgenhof Estate, ʼn professionele huur maatskappy in die Paarl gebied.

DJ Pepe was hul platejoggie en het seker gemaak hulle gaste word vermaak deur fantastiese musiek.

Hulle het hul wittebrood in die Maldives geniet sonder enige stres!  Rol af om meer te lees oor Gert en Gabby se liefdesreis as paartjie en ook die mooiste foto’s van hulle elegante troue in Franschhoek te sien.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein ontmoet.  Ons albei het Medies geswot.

Ek het Gert het wel albei ons studies op ander plekke begin.  Gert sou ingenieurswese op Potchefstroom studeer en ek sou BSC Genetika op Stellenbosch studeer.  Ons albei is in die eerste 2 weke vandat klasse begin het gebel en laat weet ons het Mediese keuring op Bloemfontein.  Ons albei het toe soontoe getrek.  Dit was lekker om terug te kyk en die Here se hand in jou lewe raak te sien.

Gert was derdejaar en ek tweedejaar toe ons begin uitgaan het.  Laataand leer sessies en mekaar dra deur ʼn moeilike paar jaar se studeer het ons verhouding sterker-en-sterker gemaak.  Ons was toe al mekaar se beste vriende en nommer een ondersteuners.

Ons moes vir ʼn jaar lank ons verhouding langafstand aan die gang hou.  Gert is in Pietermaritzburg geplaas vir internskap na sy studies en ek het in Bloemfontein gebly vir my finale jaar.  Nie te min, ken ons die 6,5uur pad tussen die twee stede nou baie goed!

Gert het my gevra om te trou net voor my eindeksamen.  Dit was by Zimbali Gholf Club in Ballito.  Ek was onder die indruk ons gaan soontoe vir ʼn familie byeenkoms- toe flous hulle almal my! Daar was oral blomme, en dit het die aand gereën, ons is papnat in ons foto’s- baie romanties.

Met die Here se genade is ek toe ook die volgende jaar in Pietermaritzburg geplaas vir internskap.  Ons het April getrou.

Die Verlowing Tydperk:


Ons het in Oktober verloof geraak en April getrou.  Ek het wel eers my eindeksamen klaar gemaak einde Desember voor ek begin beplan het aan die troue.  Ek en my Ma was Desember Kaap toe en het sommer daar al my trourok en trou venue gevind!   Ons het later in Desember ʼn trou beplanner gevind vir die res van die reëlings.

Trou Begroting:


Ons begroting was R300 000, ons het wel bietjie oor-begroting gegaan op die ou einde.

Wenke:
  • Deur geld te spaar op die venue, kan jy GROOT gaan met dekor/blomme/ligte.  Dit maak sommer enige plein venue ongelooflik mooi en ek dink dis ‘n lekker manier om geld te spaar
  • Probeer ʼn venue vind waar tafels/eetgerei ens. ingesluit is.  Dit spaar baie uitgawes.
  • Begroot volgens wat vir JOU belangrik is.  Ons het nie die nood gesien om ʼn open bar en onbeperkte filet steaks vir ons gaste die aand te gee nie.  Dit was vir my belangriker om mooi foto’s/video/musiek/blomme ens. te hê.  Moet nie gedruk voel om jou gaste te beïndruk nie, geniet jy net jou eie troue!
  • Ek het dat al my strooimeisies hulle eie swart rokke dra.  Dit was só mooi!  Elkeen het gemaklik gevoel in die rok en ʼn rok gehad wat hulle weer sal kan dra!  Dit het ook geld gespaar aan my kant om vir elkeen ʼn rok te koop.
  • Gebruik jou trou-koek as nagereg!  Mens kort nie nagereg EN troukoek nie.  So maak mens ook seker die koek word darem op die aand geëet!  Ons gaste het ons koek as ʼn laat aand eet happie ook geniet.

Merkwaardigste Oomblikke:


Gaby:

Om by die trou gaan na die kansel af te stap. Ek onthou nog hoe ek gebewe het en hoe ek my pa se arm styf vasgehou het. Ek het SO baie emosies gevoel.  My Pa het my heeltyd herinner om stadiger te loop, ek het omtrent gehardloop.  Ek kon nie wag om die man van my drome te trou nie.

Gert:

ʼn Oomblik wat ek nooit sal vergeet nie is toe ek vir Gaby sien by die padjie afstap, sy het ongelooflik gelyk.  Ek onthou ek het by myself gedink sy is die mooiste bruid in die hele wêreld.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het in die begin al ons idees en prentjies van Pinterest met ons trou beplanner gedeel.  Sy het toe groot gegaan en kwotasies vir alles gekry.  Ons kon toe stelselmatig kies en keur en besluit waarop ons geld wil spandeer en waarop nie.  Mens het geen idee wat byvoorbeeld tafels/eetgerei/skryfbehoeftes/vloer/ligte en kos tot jy dit als bymekaar sien nie!

Ek en Gert het baie saam besluit oor die troue.  Ons was nie te kieskeurig nie – mooi venue, swart pakke, wit blomme, lekker partytjie.  Die res kon die trou beplanner vir ons besluit.  Ons ouers het bygedra tot ons troue en hulle opinie was ook vir ons belangrik.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons platejoggie, DJ Pepe, was amazing!  Hy het die gehoor só mooi gelees en die aand ʼn lekker jol gemaak.

Ons fotograaf en videograaf, Die Geldenhuys’ is ons ook nie ʼn dag oor spyt nie!  Op die einde van die dag is die video en foto’s al wat mens oor het.

 

Spesiale Tradisies:


Albei my en Gert se oumas is oorlede en ons albei wens met alles hulle kon daar wees.  Ons het besluit om hulle twee se gunsteling blomme in my ruiker te sit.  Wit Protea vir my Ouma en Wit St Jospeh Lilly vir sy Ouma.  Dit was spesiaal om ʼn stukkie van hulle by ons te hê.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruide:

Die troue gaan oor JOU en JOU MAN!  Spandeer geld op die dinge wat vir jou belangrik is, nooi wie jy wil en kry soveel blomme soos jy wil.  Jy mag jou begroting gebruik nes jy wil – besluit vooraf wat vir jou belangrik is en hou daarby.  Probeer ʼn tydjie maak om by jou Canapés en gaste uit te kom.  Foto’s is baie belangrik, maar sit 30 minute op sy om ook gesellig te wees met gaste voor die ontvangs.

Bruidegomme:

Wees teenwoordig.  Die dag gaan baie vinnig verby – herinner jouself gereeld om in te neem wat om jou aangaan.  Moenie teveel druk voel om met almal te gesels nie.  Geniet jou aand saam met jou bruid. Die feesviering gaan oor julle nie die gaste nie!

Paartjie se styl:


Ons hoop ons het goeie styl!  Haha.

Ons beskryf ons styl as “eenvoudige elegansie”.  Om mooi te lyk sonder om teveel te probeer.  Ons voel ons troue het dit ook weerspieël.

Gert het net een wens vir die troue gehad: Alle mans dra swart pakke.  Hy LIEF ʼn swart pak.  Hy het een gedra op die troudag met ‘n swart strikdas.

Ek is ʼn Plain Jane as dit by rokke kom en is nie een vir krale/pêrels/blink nie.  Ek het my rok GELIEF.  Dit was eenvoudig, elegant, en tog ook modern.  Beste van als – GEMAKLIK.

My verloofring is ʼn 2 karaat solitaire op ʼn eenvoudige dun silwer bandjie.  Gert het die ring geteken en vir die juwelier gegee om te maak presies soos sy tekening.  Gert het die “van Wyk” familiewapen op ‘n goue seëlring as sy trouring- baie spesiaal.

Vermaak:


Ons het ʼn regstreekse orkes gehad met die canapé ‘s wat ‘n lekker atmosfeer geskep het.  DJ Pepe was ons aandvermaak en het die kuier aan die gang gehou.

Venue & Dekor:


Met 4 maande om ʼn troue in die Kaap te beplan het my nie baie opsies gegee vir beskikbaar trou venues nie!  Ons moes mooi soek!  Ons het van Sandstone House gehoor toevallig by vriende van ons familie.  Dié venue het ons datum oop gehad.  Toe ek die venue besoek het ek geweet dis perfek!  Iets uniek, anders en wat vir ons gaste ook ʼn verrassing sal wees om te sien!

Dit het soos ʼn kasteel gevoel- en wie wil nou nie in ʼn kasteel trou op haar troudag nie?

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ons is so gelukkig dat alles goed verloop het met ons troue!  Ons het oor die weer gestres, maar dit het toe nie eers gereën soos die weer voorspel het nie!

As ek een ding kon verander sou dit wees om die troue vroeër te begin as 16:00.  Dis dié EEN dag wat mens het om te vier – hoe langer hoe beter!  Dis een dag wat baie vinnig verby gaan.

Wittebrood:


Ons gunsteling oord is Club Med.  Dis ʼn alles-insluitende oord met liggings oral in die wêreld.   Ons wou nog altyd Maldives toe – Club Med Kani was toe perfek!  Ons wou nie daardie week oor geld of enige iets anders stres nie, die alles-insluitende pakket was só lekker en stresvry!

Eerste Dans:


Gert lief dit om musiek in die huis te speel en om na ʼn lang dag se werk my te gryp en te dans op ‘n liedjie.  Eendag het “Love you Still” deur Tyler Shaw gespeel.  Die woorde is presies hoe ons oor mekaar voel.  Ons het dadelik geweet dis DIE liedjie.

Mooi Troues Diensverskaffers

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]