Advies vir ʼn stedelike trou fotosessie

In hierdie inskrywing gee fotograaf, Etienne Botha advies vir ʼn stedelike trou fotosessie.  Baie paartjies droom daarvan om ʼn mooi stedelike fotosessie te hê, met die stad se lewendige lewenstyl en skitterende liggies as hul trou foto’s se agtergrond.  Of dit nou ʼn verlowing fotosessie is of vir jul troudag, die prinsiep is dieselfde.

ʼn Stedelike fotosessie is altyd ʼn wenner.  Daardie kontras van die geboue tenoor die perfekte trou uitrustings van die paartjie is só mooi.  Met ʼn stedelike fotosessie is daar ook soveel agtergrond om van te kies.  Geboue, interessante strate, bome, winkels en vele meer.

Dit is wel altyd belangrik as jy by ʼn winkel foto’s neem om net altyd seker te maak dat julle wel die korrekte toestemming het.  Vir fotosessies in die stad self kort jy ʼn permit vanaf CTFPO in die Wes-Kaap en GFC vir Gauteng.  Klik hier om meer te lees oor die permit proses en wie ʼn permit benodig om ʼn fotosessie in die stad Kaapstad te doen.

Etienne Botha, ʼn professionele trou fotograaf wat gereeld stedelike fotosessies doen in die Wes-Kaap, en ook die Vrystaat.  Hy het ʼn paar punte bymekaar gesit vir die perfekte stedelike trou fotosessie.  Rol af om Etienne se advies vir ʼn stedelike trou fotosessie hieronder te lees.

Wat maak ʼn fotosessie in die stad anders as ander liggings?


Daar is soveel elemente wat mens mee kan werk wat jy nie gewoonlik sien in ʼn trou fotosessie nie.  Dinge soos die ligte van die stad, al die beweging van verkeer en voetgangers, die hoë geboue met die verskillende style argitektuur.  Dit skep ʼn unieke atmosfeer deur die sag teen die hard af te speel.

Om die vinnige lewenstyl en beweging teen in ʼn oomblik vasgevang in tyd.  Fotosessies kan ook beplan word rondom plekke wat vir die paartjie betekenis het.  Soos byvoorbeeld eerste romantiese aand, gunsteling koffie plek, of plek waar hulle ontmoet het ensovoorts.

Hoekom paartjies ʼn stedelike fotosessie moet hê:


Buiten die feit dat jy unieke foto’s gaan kry, loop ʼn stedelike fotosessie hand aan hand met baie aandag! Omdat trou fotosessies nie elke dag in die stad gebeur nie, toet meeste karre wat verby ry en word jy deur honderde vreemdelinge geluk gewens. Dit is ʼn opsie vir die bruid en bruidegom wat nie hou van die gewone nie en iets meer uitdagend of ʼn avontuur soek.  Die ligging is meer onvoorspelbaar en kan ʼn element van opwinding skep

Watter advies kan jy vir paartjies gee wat hulle trou foto’s in die stad wil neem?


Doen dit!!  Veral as jou trou venue in die stad is!  Dit maak vir onvergeetlike foto’s wat gaan pas by die dag.  Doen navorsing oor die area waar jy wil neem en maak seker dat die fotograaf wat jy kies ondervinding het met foto’s in die stad neem.

Perfekte tyd vir stedelike foto’s:


Normaalweg is die laaste uur van die dag die beste lig vir romantiese foto’s.  Alhoewel dit ook waar is van ‘n stad fotosessie moet mens in ag neem dat die geboue die sonlig baie keer blok en dat mens baie mooi foto’s ook kan neem as die stad se ligte begin aangaan.

Waar mens nie altyd fotosessie in die middel van die dag kan doen nie, want mens benodig sagte lig, kan mens wel in die stad die sessies doen as mens in die geboue se skaduwee neem.

Veiligheid en waarvoor om uit te kyk na:


Veiligheid is maar ongelukkig altyd ʼn probleem deesdae, omdat daar met duur toerusting rondgeloop word.  Solank die fotograaf en die paartjie net oplettend is, dan behoort daar nie ʼn probleem te wees nie.  Ek verkies maar altyd om ʼn assistent saam te vat wat net ʼn ekstra ogie kan hou.

Wees ook maar net meer paraat as foto’s in die aand geneem word.  Kyk eers ʼn area mooi uit voor mens daar foto’s begin neem. Dit is baie belangrik dat die paartjie en die fotograaf altyd veilig voel in hulle ligging.  Nie net vir fisiese veiligheid nie maar ook omdat foto’s waar mense ongemaklik is kom nooit mooi en natuurlik uit nie.

Gebruik die stedelike elemente as deel van jul trou foto’s:


Daar is ʼn tegniek wat ek in van my foto’s gebruik waar mens die kamera op ʼn driepoot sit en dan die sluiter effens langer oop hou.  Deur dit te doen word alles wat beweeg in die foto uit fokus en gee dit ʼn mooi effek.  So word die fokus op die paartjie gehou.

Met kreatiewe posering van die paartjie kan mens ook met baie weg kom in ʼn besige omgewing.  So kan mens dit laat lyk of die paartjie die enigste mense daar was.

Photoshop is ook ʼn wonderlike program wat mens na die fotosessie kan gebruik om elemente uit te haal wat mens nie in die foto soek nie.  Hoor by jou trou fotograaf of dit wel ʼn diens is wat hulle bied.  Want nie alle fotograwe bied dié diens nie.

Aan die ander kant is motors deel van die unieke stad se ligging, die regte motor op die regte plek, op die regte tyd kan iets byvoeg tot die foto wat mens nie in ʼn landelike ligging noodwendig kan kry nie.

Ek hou van spontane foto’s wat nie altyd vooraf tot op die fynste detail beplan is nie.  Afhangende van die paartjie se smaak, kan dit ook ʼn fantastiese foto maak.

Artikel Krediet:

Fotograaf:  Etienne Botha