Pieter & Cynthia se Troue in die Vrystaat

Ons deel graag Pieter en Cynthia se troue in die Vrystaat met julle op Mooi Troues.  Hierdie paartjie het by The Nutcracker Country Venue, buitekant Parys in die Vrystaat getrou.

Hulle seremonie was die pragtige Marokkaanse styl kapel by die trou venue wat geleë is reg langs die Vaalrivier.  Omring deur die versorgde groen tuine met baie bome.  Die ideale ligging vir ʼn prentjie mooi troues soos die van Pieter en Cynthia.  The Nutcracker Country Venue is enige paartjie se droom trou bestemming.  Hulle bied nie net ʼn pragtige kapel, trou venue en heerlike kos nie, maar ook die mooiste landskappe vir paartjie se trou foto’s.

Die onthaal lokaal self het ʼn lekker plattelandse gevoel tot dit en is ʼn moderne trou venue in kontras met die plaas landskappe wat jou omring.  Ons is verlief op die paartjie se trou dekor!  Dit is ʼn kombinasie van modern, rustiek, en sjiek.  Alles pas net so mooi in by mekaar.  Skakerings van pienke en die kleur van perskes staan so mooi uit op die rou hout tafels.  Elke tafel en stoel in die trou venue is anders en dit skep ʼn interessante gevoel tot die paartjie se trou dekor. Die gaste geskenkies op die tafels is handgemaak en vorm ook sommer deel van die tafel dekor.

Cynthia het beeldskoon gelyk in haar pragtige trourok.  Haar strooimeisies het verskillende rokke aangehad, die een ʼn gebrande oranje en die ander een ʼn donker olyfgroen.  Pieter en sy strooijonkers het ʼn deftige swart park met ʼn wit hemp aangehad, wat ʼn formele voorkoms geskep het.

As jy meer wil sien van Pieter en Cynthia se troue in die Vrystaat en ook hul liefdesreis as paartjie, rol gerus af om meer te lees.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar die moderne manier oor sosiale media ontmoet.  Dis ʼn baie gekompliseerde liefdesverhaal.  My vriendin het so te sê ʼn blinde afspraak vir my gereël, sy’t die nommer van die persoon vir my gestuur om net te gesels en te kyk of ons kliek.

Na sy die nommer gestuur het oor Whatsapp met die naam, het ek soos enige nuuskierige mens, bietjie gaan soek vir die man op Facebook.  So natuurlik kies ek toe maar die een wat vir my die aantreklikste is en vermoed dis nou maar dieselfde man as die een van Whatsapp, baie oppervlakkig ek weet.  Sonder om twee keer te dink gesels ek toe maar op Messenger met Pieter en ons kliek toe onmiddelik.  Na ʼn paar dae van 24 uur gesels vra ek baie onskuldig “so hoe ken jy my vriendin, Simone?” waarna hy baie verward vra “Simone wie?”.  Nou ja, soos die gesegde gaan, die res is geskiedenis.

Ons het verloof geraak op 10 Maart 2018 by een van my gunsteling plekke, Walkhaven Hondepark.  Ons geliefde gewese hondjie, Mutley, het ʼn bordjie om sy nek gehad wat gesê het “Sal jy met Pieter trou?”, hoe perfek is dit nie, in die natuur, tussen ʼn klomp opgewonde, baljarende honde saam met my en Pieter se gesinne ons Muttlebutt en natuurlik my dierbare MAN.

Pieter het my gevra.  Na hy op een knieg afgegaan het en die groot vraag gevra het was my eerste woorde “Het jy my pa gevra?” na my sussie geskree het vanuit naby riete “JA HY HET!” het ek met oorgawe ja gesê.

Die Verlowing Tydperk:


Vir sowat 3 jaar.  Vanaf 2018 – 2021.

Ons het ons troue meestal self beplan.  Alhoewel ons ʼn trou koördineerder gehad het (wat die venue aangestel het) wat ook baie bygedra het.  Ons blomme en dekor verskaffer was fantasties en het ook regtigwaar tot ʼn groot gedeelte van die beplanning bygedra.

Trou Begroting:


Ons trou begroting was R100 000.  Ons het oor ons begroting gegaan, baie bykomende en onvoorsiene uitgawes.

Aan ander paartjies:

Pieter: Besluit op ʼn beraamde bedrag en las omtrent 30% by vir onvoorsiene kostes

Cynthia: Beperk die nodige mense wat julle nooi na die troue, dit hou nie net kostes laag nie maar dit maak die troue baie intiem en spesiaal.

 

Die Besluitnemingsproses:


Ons albei het, ons was baie geheimsinnig teenoor familie en vriende (behalwe my sussie) oor ons besluite omdat ons dit as ʼn verrassing vir almal wou hou vir almal tot op die dag.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ek het my sluier vergeet in my kamer voor die seremonie.  Toe ek voor die kapel se deur staan het ek eers besef hys nie op nie, toe het my bruidsmeisies en hoof strooimeisie reeds ingestap.  My hart was vreeslik seer daaroor, want my Tannie en Ma het so hard gewerk om die pragtigste sluier vir my te maak.

Spesiale Tradisies:


My ma en sussie het so skelm verrassing gehad na die seremonie, ons (die bruid se familie) is van Nederlandse afkoms, so ek is ʼn volbloed Nederlander en hulle het hand-klokkies gemaak wat almal moes skud saam met die konfetti toe ons by die kapel uitstap.  lokke is ʼn groot ding in Nederland, as dit nie kerkklokke is nie, is dit hand-klokkies, as dit nie hand-klokkies is nie, is dit koei-klokke en so gaan dit voort.

Ek wou ook spesifiek oranje in ons troue in bring wat ʼn tradisionele kleur is in Nederland.

Paartjie se styl:


Ek sou sê dis ʼn kombinasie van ʼn klomp style.  Dit was “artsy”, ʼn bietjie rustiek, ʼn bietjie klassiek – letterlik ʼn bietjie van alles.  Ek het maar net gegaan met waarvan ek hou.

Merkwaardigste Oomblikke:


Vir Pieter:

Al die detail, hoe mooi Cynthia gelyk het(sy is en lyk altyd mooi), maar ek het haar nog nooit so gesien nie.  ‘n Groot deel vir ek dink albei van ons was toe ons mekaar oomblikke voor die seremonie om die hoek aan die hand gevat het sonder om mekaar te sien en net saam gebid het, dit was baie gerusstellend maar het alles net meer van ‘n werklikheid gemaak en my maak besef “Oh my word, dis regtig en ek trou vandag met die mens wat die meeste vir my beteken in die lewe”.  Ek sal definitief die oomblik veral onthou toe sy saam met haar pa by die kapel ingestap het en ek myself net bymekaar moes hou aangesien dit baie emosies uitgebring het.

Vir Cynthia:

Sjoe, daar is só baie, maar ek gaan nou net ʼn paar noem.  Iets wat dalk simpel mag klink, maar so bitterlik spesiaal vir my is, daar was ʼn oomblik wat my ma haar oogwimpers teen myne gesit het, sy het dit gedoen toe ek ʼn kind was en dit het soveel vreugde in my ontwaak.

Die oomblik wat ek en Pieter saam gebid het voor die seremonie was een van die pragtigste en mees emosionele oomblikke wat ek al ooit ervaar het.

Ek kan nie dans om my lewe te red nie, so van die merkwaardigste oomblikke van die dag en die aand voor die tyd, was die tye wat dans behels het.  Die aand voor die tyd het my skoonpa ons lekker geleer dans, dit was die beste!  So lekker gedans lag en tyd saam spandeer.  Ek en Pieter se eerste dans was in alle werklikheid ons heel eerste dans en dit was regtig baie spesiaal.  Die pa en dogter dans was net ongelooflik, die vreugde in my pa se gesig sal ek nooit vergeet nie, dis so moeilik om in woorde te sit hoe gelukkig my hart in die oomblikke was.

Die oomblik toe my sussie die blomme gevang het en toe ons saam gedans het.  Ons familie, vriende en my dierbare man is merkwaardig en daarom was ons hele dag eintlik merkwaardig.

Gunsteling Diensverskaffers:


Al ons diensverskaffers was uitstekend.

Trou dekor en blomme:

Sam van Wedding Flowers en Decor was net ongelooflik.  Julle, ek kan nie in genoeg woorde sê hoe ongelooflik die vrou is nie.  Sy het soveel tyd, aandag en liefde in elke liewe detail in gesit.  Sy het die grootste las van my skouers afgehaal.  Buiten dit is sy een van die dierbaarste mense ooit.

Trou fotograaf:

Mari van Tales of Light – Die beste fotograaf waarvoor ons kon vrae.  Ek is bitterlik ongemaklik voor ʼn kamera en sy het my werklik so op my gemak laat voel.  Sy is die lieflikste mens! Ons fotos is verby stunning, sy het werklik ʼn God gegewe talent.  Elke belangrike oomblik het sy vasgevang in die pragtigste fotos.

Trourok:

Lizette van Fynbos Bridal Boutique.  Dierbaar, dierbaar, dierbaar.  Elke dag wat ek weggestap het by Lizette was my dag sommer 100 keer beter.  Sy is die sonskyn vanself, baie behulpsaam en gaaf.  Sy kan ʼn mens laat mooi voel al staan jy daar in ʼn plastieksak, ek sweer.  Tot lank na die troue het sy steeds ʼn boodskappie gestuur net om te hoor hoe gaan dit.  Sy’s werklik ʼn hartsmens.

Bruid grimering en hare:

Chantelle en haar assistent van Stay Make Up and Beauty.  Die twee dames is so lieflik.  Hulle het my, my mammas, my ouma en my twee sussies so ongelooflik mooi laat lyk en voel!  Ons het so lekker gelag en hulle het werklik soos familie gevoel.  Werklik talentvolle mense.

Trouvenue:

Grant en Samantha van The Nutcracker Country Venue was so hulpvaardig en dierbaar.  Elke epos, boodskap en foon oproep was met soveel geduld beantwoord.  Ons was permanent in kontak en hulle het ons nooit vir een sekonde laat stres oor enige iets wat hulle gehandhaaf het nie.  Hulle was net ongelooflik!  Ons spyseniering was ook gedoen deur die venue en goeie genade het ons lekker geëet.  Die kok was uitmuntend.

Ek klink seker soos ʼn gebreekte rekord, maar ons het seker die dierbaarste en uitstekende diensverskaffers gehad.  Ons is so dankbaar vir hulle!

Venue & Dekor:


Ons was mal oor hoe eksentriek The Nutcracker Country Venue is.  Elke area het ʼn ander storie met die mooiste detail van verskillende lande af.

Byvoorbeeld: Die Kapel het die pragtigste Marokkaanse deure, die restaurant se kroeg is gemaak uit ʼn bootjie uit Thailand, elke tafel in die onthaal is uniek asook elke stoel, die venue was voorheen ʼn klein plaas skooltjie ens. soveel verhale vasgevang in ʼn venue.  Die eienaars is ook vreeslik passievol en trots op hulle pragtige stukkie grond en dit is wel verdiend.  Dit lê ook reg langs die Vaalrivier wat ʼn rustige atmosfeer skep.

Vermaak:


Ons het verwelkomingsdrankies gehad wat die venue aangebied het.  Ons het ook ‘Lawn Games’ gehad wat die mense besig gehou het tydens ons uit was vir ons fotosessie.

Alwyn Oberholster was nie net ons ongelooflike seremoniemeester nie, maar ook ons platejoggie.  Hy weet net hoe om die mense op die dansvloer te kry en te hou.  Hy weet presies hoe om ʼn aand lekker jolig te maak!  Alwyn het ook vir ons gesing en dit was bitter spesiaal. Hy’s ʼn ongelooflike mens met soveel talent en passie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Van die Bruidegom:

Maak seker julle maak steeds tyd vir julle as ‘n paartjie en dat die troue nie al is waarmee julle besig is nie.  Op die dag, maak seker julle eet en vat alles in, want die dag gaan verby in ‘n oogwink.  Maak seker om jou ander helfte te komplimenteer en laat weet hoe spesiaal sy werklik is.

Van die Bruid:

Neem elke liewe sekonde in, kyk na mense se gesigte, lag baie en geniet dit ten volle.  Moenie bekommer oor die klein goedjies wat skeef loop nie, as iets skeef loop is dit ʼn storie wat jy kan vertel en iets unieks wat jy vir ewig sal onthou.  Raak verlore in die mooi oomblikke.

Eerste Dans:


Ons het gedans op L-O-V-E van Nat King Cole, ons wou gaan met ʼn golden oldie.  Ons het maar net improviseer en laat die musiek ons lei.  Die aand voor dit het my skoonpa ons geleer dans in die venue se sitkamer – nie net vir my en Pieter nie, maar vir my en my Pa ook.  Dit was só lekker!  Ek sal dit nooit vergeet nie.

Wittebrood:


Ek (Pieter) het op my eie die wittebrood gereël.  Ons was albei al regoor Suid-Afrika met vakansie, maar nie een van ons was al in die Weskus nie.  Daarom het ek toe besluit om vir ons ‘n oulike plekkie te kry in Jacobsbaai, dit was baie rustig en die beste plek om net mekaar te geniet waar niemand jou pla nie.  Natuurlik was dit alles ʼn lekker padreis, ons het vir die laaste tyd deurgery Clarens toe.  Ons het lekker tyd spandeer in die omgewing, die Golden Gate park het baie lekker stap roetes aangesien ons albei dit baie geniet om in die natuur te wees.

Toe ons in die Weskus was op Kersdag, het ek besluit om Cynthia te bederf deur soos ʼn ninja uit die bed te sluip en ʼn vol Kersvader pak aan te trek.  Daarna het ek weer saggies langs haar ingekruip met die pak aan, gewag dat sy wakker word.  Toe sy wakker word het was ek in karakter as Kersvader en het ʼn hele storie opgemaak van Kersvader wat nog die res van sy geskenke moet aflewer en dat hy nou langs die “verkeerde vrou” gaan slaap het.  Cynthia het die “vertoning” baie geniet.  Ek het toe uiteindelik haar geskenk vir haar gegee en ‘n lekker kers-ontbyt gemaak.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: