Morné & Johané se Troue in Wolmaransstad

Ons deel met opgewondenheid Morné en Johané se troue in Wolmaransstad in die Noordwes provinsie met ons lesers in die inskrywing.  Hulle het by die bekende Bona Bona Game Lodge getrou, met die pragtige wildsplaas bosveld landskappe as die agtergrond vir hul troudag.  Bona Bona Game Lodge is die perfekte trou bestemming vir paartjies wat opsoek is na ʼn heerlike wildsplaas troue. Omring deur prentjie mooi landskappe en die wilde diere wat oral op die wildsplaas rondloop.  Bona Bona Game Lodge is perfek vir ʼn lekker naweek troue saam met familie en vriende.  Hulle het oorgenoeg verblyf opsies beskikbaar vir julle trou gaste.  So kan almal ontspan en die gasvryheid van hierdie pragtige wildsplaas geniet.

Johané en Morné se trou dekor is minimalisties en stylvol wat die opgeknapte bosveld trou venue goed gekomplimenteer.  Die dekor elemente soos die koper blompotte-, kersstaanders en die wynrooi en wit blom ontwerpe staan so mooi uit op die hout tafels.  Deurskynende tafelnommers trek jou aandag en gee die trou dekor ʼn moderne gevoel.  ʼn Lekker groot dansvloer het seker gemaak gaste het ʼn lekker makietie.

Rol af om meer te lees oor Morné en Johané se troue in Wolmaransstad en hul liefdesreis as paartjie.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het op universiteit ontmoet (ons het saam klas gehad).  In 2020 het ons besluit om ʼn welverdiende vakansie te vat na ʼn ongelooflike emosionele uitputtende jaar.  Ons is baie lief vir die buitelug en het besluit om ʼn mal perd op te saal – ons wil die hele Wildtuin verken, van Noord tot Suid binne 7 dae.

Dit was ʼn heerlike week vol avontuur en uitdagings, maar teen die einde van die week was ons ‘boffins’ as dit kom by tent opslaan.  Ons het die vakansie behoorlik afgesluit en een aand by Ndhula Luxury Tented Lodge in Witrivier bespreek.  Ek en Morné was die enigste twee gaste daardie middag tydens skemerkelkies. Die uitsig vanaf die uitkykpunt was asemrowend en ek moes natuurlik foto’s neem. Toe ek omdraai, sien ek Morné op een knieg staan. Die res is redelik vaag vir my – ek het heeltemal uitgeboë. Maar ek weet darem ek het ‘ja’ gesê.

Die Verlowing Tydperk:


16 Maande (Desember 2020 – April 2022).  Ons het die troue self beplan met die hulp van baie bekwame en bevoegde trou diensverskaffers. Dit het baie gehelp om ʼn aftiklys te gebruik en al die dokumentasie in ʼn lêer bymekaar te hou. Op hierdie wyse kon ons kwotasies vergelyk en tred hou met betalings.

Trou Begroting:


Ons begroting was R80,000 en ons was baie gelukkig om binne ons begroting te bly met die 65 gaste wat ons onthaal het.

Sodra daar sprake is van verloof raak en julle is verseker julle gaan met mekaar trou, begin spaar.  Moet nie onnodig geld spandeer op klein, onnodige uitgawes nie (bv. naamkaartjies, geskenkies vir mekaar op die dag en ʼn gasteboek of register).  Probeer soveel as moontlik kwotasies by verskillende diensverskaffers kry.  Moet nie die eerste opsie/kwotasie aanvaar nie; doen bietjie navorsing oor die diensverskaffer en kyk wat was ander se ervarings met hierdie verskaffer.

Spesiale Tradisies:


Ons het mekaar se voete gewas tydens die kerkdiens.  Ons families het ook aan die einde van die diens om ons kom staan terwyl ons pastoor ʼn seën oor ons uitgespreek het.

Merkwaardigste Oomblikke:


Johané:

Toe my Ma my by die paadjie afgestap het – dit was ʼn spesiale, kosbare oomblik wat ek altyd sal koester.

Morné:

Tydens die seremonie toe ons aan ons tafel gaan sit het om te eet, het ek vir ʼn oomblik my gedagtes gefokus op die spesiale geleentheid en alles om my in geneem.  Ek het in daardie oomblik net weer besef hoe baie waardeer ek al die mense in my lewe en hoe geseënd ons werklik is.

Nadat ons foto’s geneem het, het ons so 30 minute vir onsself gehad.  Ons het in die kapel gesit, oor die watergat uitgekyk en net werklik ingeneem wat sopas gebeur het.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het van die begin af ʼn spesifieke idee gehad oor hoe ons die dag wil hê, so ons het saam die meerderheid van die besluite self geneem en ontwerpe goedgekeur.

Paartjie se styl:


Ons sal ons styl as minimalistiese sjiek beskryf.

Trourok:

A-lyn met strikkies en baie fyn detail

Troupak:

Olyfgroen met egte leer bykomstighede.

Morné se Ring:

Hammered Whiskey Barrel & Deer Antler.  Morné het ʼn baie groot passie vir jag en die bosveld. Dit is wonderlik dat ek hierdie spesifieke ontwerp en ring kon kry wat sy passie en persoonlikheid so mooi uitbeeld en vasvang.

Johané se Ring:

Roosgoud Halo verloofring en gedraaide Roosgoud pant met steentjies.

Gunsteling Diensverskaffers:


Hetta’s Decor and Flowers wat die blomme en dekor gedoen het en Motion Memory wat ons fotograwe en videograwe was.  Ons sal hierdie twee spesifieke diensverskaffers vir enigiemand aanbeveel.

Venue & Dekor:


Venue:

Ons het in 2017 ons internskap vir Honneurs by Bona Bona Game Lodge gedoen en dadelik van die lodge gehou, minwetend dat ons vyf jaar later daar sou trou.

In 2020, tydens die grendeltydperk, het die lodge ʼn hele “oordoen” ondergaan en die fasiliteite is nou in ʼn uitmuntende toestand.

Dekor:

Ons wou minimalisties, maar steeds stylvolle dekor gehad het.  Henriëtte van der Merwe, eienaar van Hetta’s Decor and Flowers, het ons as paartjie perfek vasgevang met hierdie twee elemente van ons spesiale dag.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Aan die toekomstige bruidjie:

Geniet die trou beplanning soveel as moontlik, alhoewel dit moeilik is om nie gespanne te raak oor alles nie.  Bly getrou aan wie jy is in alle fasette van die beplanning en voorbereiding.  Moet nie wie julle is verloor tydens hierdie hele proses, bloot omdat jy ander wil tevrede stel – onthou dat hierdie dag oor julle as ʼn paartjie gaan. Onthou ook dat vriende en familie daar is om te help en ondersteun in baie opsigte (veral jou gevolg).  Koester en neem elke oomblik in tydens hierdie proses en veral op julle spesiale dag.  Dit is waar wat almal sê – die dag gaan hopeloos te vinnig verby.

Aan die toekomstige bruidegom:

Indien daar ʼn moeilike besluit is wat julle moet neem, neem leiding en bly by die besluit wat julle geneem het.  Wanneer julle worstel met die besluit of julle kinders by julle troue wil hê of nie, baseer die besluit alleenlik op wat julle as paartjie verkies.  Moet nie toelaat dat familie en vriende julle besluit beïnvloed nie; al is daar ongelukkigheid.  Gee vir jou hoof strooijonker ʼn idee van wat, waar en wanneer jy jou “bachelors” wil doen.  Jy as die bruidegom moet tog jou eie “bachelors” saam met die manne geniet!

Wittebrood:


Ons het nog nie kans gehad om met wittebrood te gaan nie, maar dit is beslis in ons planne vir volgende jaar.  Dalk sommer ʼn eerste huweliksherdenking en wittebrood in een.

Eerste Dans:


Toe ons die onthaal binnekom, het ons sommer dadelik die dansvloer geopen met ons eerste dans.  Ons wou ʼn liedjie gehad het wat ons nog die by ander troues gehoor het nie (en ek dink ons het beslis geslaag).  Die liedjie is Josh Ansley – The Best Thing.  Gelukkig is ons al twee mal oor dans, so ons het nie lesse nodig gehad nie.

    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

    [endsection]